Posts Tagged ‘The Door’

Andries Bezuidenhout. Die laaste rasionele man: ʼn vertaling

Wednesday, April 21st, 2010

Verlede week staan ek in die National Union of Mineworkers (NUM) se kantoor in Port Elizabeth. Dis in ʼn hoë gebou naby die hawe, waar karre op die dokke in die son wag om Australië toe ontvoer te word. Ek wag vir die vakbond se streeksvoorsitter om op te daag. Buite hoor ek hoe sing mense, stap na die venster toe en kyk af na die optog van die South African Municipal Workers’ Union (SAMWU) onder in die straat.

Die werkers keer asblikke om so ver hulle gaan. In een van die asblikke is hompe vleis. Bloed loop in die straat af tot by ʼn stormwaterdrein. Dis eers rooi, maar word swarter soos die son daarop skyn, leksels vuilgeel aan die kante. Karre, vragmotors en minibustaxi’s ry oor die rommel in die strate. Kleure verdwyn en dit word ʼn grys pappery.

Van die Oos-Kaap af ry ons Vrystaat toe. In Welkom praat ek met mense oor die onwettige mynbouaktiwiteite wat daar plaasvind. Sommige beweer daar is meer onwettige myners onder die grond as mense wat vir mynmaatskappye werk.

Welkom is in 1948 gestig. Sir Ernest Oppenheimer het persoonlik ʼn ogie oor die beplanning en uitleg van die dorp gehou. Dis as ʼn garden suburb ontwerp. Verkeersirkels is as ʼn revolusionêre konsep in werking gestel.

Deesdae maak die mynskagte een vir een toe. Vandaar die probleem met die onwettige myners, of zama-zama’s, soos mense hulle noem.

Oral in Welkom ry mense in sirkels. Krieketvelde staan vol onkruid en die kiewiete verken lappies gras waar mense eens paaltjies geplant het. Klubhuise se vensters is gebreek en parkeerplekke staan leeg.

In die aand, in my hotelkamer, lees ek The Door van Margaret Atwood. “The Last Rational Man” tref my. Ek dink oor Julius Malema en Jacob Zuma. Banaal. Bizar. Selfs dalk vulgêr. Ek is nie seker watter woord om te kies om die tye waarin ons ons bevind te beskryf nie. Ek probeer om dit in Afrikaans te vertaal:

DIE LAASTE RASIONELE MAN

Tydens die bewind van Caligula

Die laaste rasionele man neem sy ou Senaatsitplek in.
Hy weet nie hoekom hy nog hier is nie.
Hy’s seker op een of ander lys.
Laasjaar was daar meer soos hy,
maar hulle het een-een “permanent verdwyn”.
Elke dag was hy homself, beoefen stadige asemhaling
en die leerstellings van die Stoïsyne.
Verloor jou kop, herhaal hy vir homself,
en jy sal alles verloor.
Hy word nogtans moeg.
Die inspanning om sy mond te hou mergel hom uit.
Die ander in hul rykmansklere
skerts versigtig, hou by onderwerpe
wat al hoe minder word; selfs die weer
is dryfsand; só ook die son,
want die Keiser beweer hy beheer die een
en hy ís die ander.

Hier kom hy nou, met sy kwetterende gevolg
van besoldigde gatkruipers vol wriemelende bonhomie;
in vrank smaak is hy verguld, blink soos ʼn strydwa,
pas terug van ʼn vars segetog.
Hy gryns en waai sy vetgesmeerde vinger:
mandjies skulpe stort op die vloer uit
en die vertrek stink van gevrekte molluske.
Kyk, sê die Keiser, die skatte!
Deur die onoortreflike krag van my heil
het ek die Koning van die See verslaan!
In sy oë die venynige glinstering
van ʼn kranksinnige leuenaar
wat wéét hy lieg, en teëstribbeling uit wil lok.

Die ander juig hom toe. Die laaste rasionele man
dwing homself om saam te juig.
Die Keiser se blik is ʼn balk
wat deur die saamgeperste lug reg in sy rigting boor.
Hulle lei die Keiser se perd nader,
soos ʼn pensdanser met kranse bekroon.
Ek stel hom as Senator aan,
tril die Keiser. Verwelkom jul nuwe broeder!

Die laaste rasionale man betrap homself reeds staande.
Soos hy sy mond oopmaak sien hy
die rooi badwater, sy polse gesny,
sy huis beroof, sy seuns onthoof.
Dis net ʼn perd, sê hy.
Hopeloos hang die woorde,
soos die vaandels van ʼn stad
wat reeds verower is, oorgelewer aan plunderaars.
Hoe, dink die laaste rasionale man,
kan ʼn mens beweer dat ʼn plek soos dié nog bestaan?

Om sy kop kristalliseer die stilte
soos ʼn stralekrans van ys.
Daar staan hy.
Niemand kyk na hom nie, behalwe die Keiser
wat vir hom glimlag, amper simpatiek.

  •