Nini Bennett. Openbare vervoer as teater van sosiale protes.
Monday, November 30th, 2015In 2012 word ek genader om ’n kort boekoorsig oor Imraan Coovadia se roman, The Institute for Taxi Poetry vir ’n vrouetydskrif te doen. Die verhaal handel oor fiktiewe taxi-digters in Kaapstad, en hoe die pendelaars sin probeer maak uit hulle alledaagse bestaan deur die skryf van poësie: die werkersklas se lief en leef en protes vind gestalte in digterlike vlugskrifte. Die volgende raak beskrywing val my op: The taxi poet, according to Adam, is “a chimera, part politician, part social worker, part navigator and banker, nurse and first responder. His function is to record “all the shifting sensations, impressions, and moving feelings,” some of which are so enigmatic that they can only be inserted into public memory by the poet. Implicit in these definitions of the characteristics of a taxi poet is the textualisation of contemporary concerns via the medium of poetry by an “everyman” figure. It may thus be inferred that the taxi poet is located in the nexus between public and private memory. Die volledige resensie deur Thando Njovane is hier. (http://www.litnet.co.za/a-national-treasure-imraan-coovadias-the-institute-for-taxi-poetry/).
Ek open ’n nuwe dokument op my rekenaar met die hofie: Openbare vervoer as teater van sosiale protes.
Op 1 Desember word daar wêreldwyd hulde gebring aan die menseregte-aktivis, Rosa Parks. In 1955 is Parks gearresteer nadat sy geweier het om haar sitplek in ’n bus af te staan aan ’n wit persoon, aangesien die wit gedeelte van die bus reeds beset was. Op 5 Desember 1955 is Parks skuldig bevind aan ‘n oortreding van rasseskeidingswetgewing. Menseregteleiers soos Martin Luther King jr en ED Nixon het die Montgomery-busboikot die dag van Parks se verhoor gelei, wat om die beurt aanleiding gegee het tot verskeie hervormings in die VSA. Die 1987-Pulitzer-pryswenner en digter, Rita Dove, bring só hulde aan Parks:
Rosa
How she sat there,
the time right inside a place
so wrong it was ready.
That trim name with
its dream of a bench
to rest on. Her sensible coat.
Doing nothing was the doing:
the clean flame of her gaze
carved by a camera flash.
How she stood up
when they bent down to retrieve
her purse. That courtesy.
In Adam Small se bundel, Kitaar my kruis, word ’n Kaapse rasse-insident op ’n bus beskryf. Die gedig Vryheid toon merkwaardige ooreenkomste met Parks se verhaal. Vervolgens enkele gedeeltes uit hierdie lang gedig:
die leuen kry gestalte
toe ons die bus na Wynberg haal terug
die middag by die 15de bushalte
ons klim die trap, die bus is agter vol
oorvol
agter waar ons, die bruines sit, mág sit
[…]
deel van die droewe hel van hierdie rit
agt sitplekke is oop voorin die bus
vir blankes net
en ’n swanger vrou moet staan, sy’s bruin, nie wit
[…]
ek vra die kondukteur mag sy maar sit
hy skud sy kop
en wys die vinger na die bord, die welbekende bord:
vir blankes net –
vir nie-blankes word vreugde opgeskort
steeds deur die bord
en ’n vrou ses maande swanger mag nie sit
[…]
sy staan vir ses, vir sewe myl, sy staan
ons almal staan, staan meer as ses en meer as sewe myl,
staan vir ’n hele lewe
en agt sitplekke oop, maar sy moet staan
o God, u hoogste proef is nie die vuur maar die vernedering!
Ek skep nog ’n hofie: Sosiale protes. Busse. Dan dwaal my geestesoog na die Groot Verseboek, en JC Steyn se bekende gedig wat berig oor die busramp waarin 23 skoolkinders op 28 Januarie 1970 gesterf het, verskyn voor my.
Spooroorwegramp by Henley-on-Klip
Henley-on-Klip
stasienaam by Vereeniging:
onwerklike vereniging –
oerengelse samestelling
op Afrikaanse klipbodem.
Henley-on-Klip
skoolbus by spooroorweg
in slaggat gestol
(bloed stol op klip)
’n sneltrein snel voort,
dóód-betyds, dóód
Henley-on-Klip
Hansie-op-gruis
Helena-aan-gras
23 van gras
drié-en-twintig
wat die wolke en die veld,
die sonlig en die weerlig
nooit weer sal belewe nie,
vir wie mamma nooit meer
’n toebroodtjie sal smeer nie,
wat vir pa nie half vererg
oor nuwe wiskunde sal terg nie.
Tussen bleek hande en groen sakdoeke,
honde vol manewales in rooi prenteboeke,
blaaie met aftrek- en deelsomme,
ontlede sinne, aardes, sonne,
en ’n Bybel wat vertel van sonde,
tussen die vlees en die gras
soek ’n seun in bloed en glas…
“Waar’s my sussie, ek dink sy was…”
Wie huil so hartverskeurend
as ’n seun by ’n verskeurde
hals oor kop tot tone?
Of is moeders se trane egter,
of die klein weggedroogde trane
van die laaste oomblikke
angs voor die slag
by Henley-on-Klip
trane-op-klip.
Ledemate-onder-sakke
hande onder allerhande
bewysstukke vir lykskouings,
aanklagte van heinde,
huldigings van verre
(’n monument vir die held Johan
wat gesterf het om drie maats te red).
Langsamerhand verloor
egter trane teen egte klip;
leed raak gou vergeet.
Die nuwe uitwiskunde word gewis
doodgewoon gewoonweg dóód.
Joan Hambidge onthou die Henley-on-Klip-busramp se tragiese tweeling, die Westdene-busramp op 27 Maart 1985 soos volg.
Westdene
Gelukkig is julle
wat slaap
hermeties verseël
’n toe vuis.
Nooit sal pyn
se perforasie
(stigmata op
die polse) wys.
’n Bus verpas,
’n sinnelose
reis, nie weer.
Nimmermeer
die wagwoord
tussen mense
verleer. Nee.
Die ontoereikendheid
van ouers vergeef.
Slaap rustig,
slaap soet. Kinders
moet gehoor, nie
gevoel word.
Ook Andries Bezuidenhout bring hulde aan die slagoffers in ’n gedig op Versindaba. (https://versindaba.co.za/2009/08/04/stillewe-nuwe-gedig/). Ek voeg ’n nuwe hofie by die bestaandes in my dokument: Busrampe. Digkuns as maatskaplike bewussyn.
’n Paar weke gelede wys my geliefde vir my ’n video wat handel oor train surfing. Dit is ’n waaghalsige sport of kunsvorm wat reeds sedert die vyftigerjare gewild is onder die jeug van Suid-Afrika. Werkloosheid, armoede, uitsigloosheid en verveling is van die oorsake (www.youtube.com/watch?v=seBkEutvnQU). Ek skryf verder: Maatskaplike onrus. Treine. Daar is iets poëties en aangrypend aan die doodsveragtende reis na niks. Om bo-op ’n bewegende trein se dak te dans, om te deel in die noodlotskans: óf die lewe, óf die dood. Om te heers oor die werkersklas en die apartheidsgeskiedenis van shunting – en binne ’n splytsekond wég te duik van elektriese kabels. Al die train surfers droom daarvan om beroemde Hollywoord-waaghalse te word. Hoe ironies: die choreografie van die dood bied jou niks behalwe die vlugvoetigheid van oorlewing. My internetsoektog na digkuns oor train surfing lewer nie veel op nie; dit is immers ’n donker en geslote sub-kultuur. Ek vind wel ’n paar lirieke en kletsrym van angry young men, en ’n belowende gedig op ’n aanlyndigblad van die Bokkeveld-kontreidigter, Andy Paulse, wat volgende jaar met die bundel Ôs debuteer.
Van treine gepraat: iewers in 2013 ontvang ek Clinton V du Plessis se bundel, Rangeer in die pos. (Dis tog vreemd wat ’n mens onthou: as jy ’n digbundel geskenk kry, nooi die omslagontwerp jou dadelik binne. My hart het vinniger geklop; ook dat ek Kitaar my kruis se ryk sepia-ontwerp sedert my twaalfde verjaardag iewers in die jeugargief van herinnering gebêre het). Die temas en motiewe rondom treine, stasies en sosiale protes lê kruis en dwars in Rangeer, ’n mooi bundel wat sinvol deurgekomponeer is. Dit is veral die bittersoet herinnering aan apartheid wat tref. Vervolgens strofes 1, 2, 7 en 11-12 uit dié lang gedig.
Vrypas
Pa, onthou jy ons in die derde klas
(met die harderige banke,
of soms in die oop rywa, bombela)
die swart passasiers met
die gevlegte rietmandjies
op die heel boonste laairak
hoe gasvry hulle die tuisgebraaide werfhoender,
bakbrood en koffie uit ’n fles
eerste vir ons aangebied het, my kinderskoeneles
in ubuntu
[…]
Pa, die dood is ’n boemeltrein wat niemand kan verpas nie
Here Pa, ons mis jou,
hiér op die toegegroeide sylyne van die lewe.
Dit is Vrydagaand. In die agtergrond begin die maandelikse motorrenne soos reuse muskiete neul. Dit is betaaldag vir sommige. Betaaldag – en die dobbelsteen word gewerp. Ek trek ’n ou notaboek nader en maak ’n nota: Clinton V du Plessis se nuwe bundel, Aantekeninge teen die skemeruur verskyn volgende jaar. Tussen huishoudelike lysies, berekeninge, aantekeninge en gedigte met deurgehaalde reëls soos dwarslêers skryf ek verder. Ek onderstreep die volgende sin: Of die spreker verwys na taxi’s, busse of treine – openbare vervoergebruik bied ’n kleurryke matrys waarbinne ’n digter se protes versny in persoonlike en openbare ruimtes.
In die veraf stilte hoor ek ’n ambulans. Dit beweeg dringend nader. Dan buig die sirene om die hoek voor die klank atonaal breek en wegsterf.
Bibliografie
Du Plessis, Cinton V. 2013. Rangeer. Cradock: Ama-coloured Sloguns.
Opperman, DJ. 1980. Groot Verseboek. Kaapstad: Tafelberg.
Small, A. 1987. Kitaar my kruis. Pretoria: HAUM-Literêr.
http://www.webpages.uidaho.edu/cae_core/Links/RitaDovePoems.htm
(Besoek 27 November 2015).
http://joanhambidge.blogspot.co.za/2015/03/joan-hambidge-jou-storie-is-nooit-weer.html
(Besoek 27 November 2015).