Posts Tagged ‘The Loneliness of the Military Historian’

Andries Bezuidenhout. Eensaamheid van die oorlogsgeskiedkundige

Friday, July 1st, 2011

(vertaling van Margaret Atwood se “The Loneliness of the Military Historian”)

Bieg: dis my nering
wat jou ontstem.
Die rede vir seldsame uitnodigings vir aandete,
die Here weet, ek gaan nie uit my pad om vreesaanjaend te wees nie.
Ek dra rokke van dienlike snit
en onopvallende roomkleure,
ek ruik na laventel en gaan haarkapper toe:
geen doemprofeetboskasie hier,
met slange wat kinders sal bangmaak nie.
As ek my oë rol en brom,
my hart vasgryp en angsgille gee
soos ʼn derderangse aktrise wat ʼn mal toneel afkou,
doen ek dit in privaat en niemand sien dit nie
behalwe die badkamerspieël.

In breë trekke mag ek met jou saamstem:
vroue behoort oorlog nie te deurdink nie,
behoort taktiek nie onpartydig op te weeg nie,
of die woord “vyand” te vermy nie,
of beide kante, sonder oordeel, in te sien nie.
Vroue moet vir vrede protesteer,
of wit vere uitdeel om heldhaftigheid uit te lok,
hulself op bajonette te spit
om hul babas te beskerm,
wie se skedels in elk geval in twee gesplit sal word,
of, na herhaalde verkragting,
hulself aan hul eie hare op te hang.
Sulke dade verskaf algemene troos.
D
í
t, of die brei van sokkies vir troepies
en ʼn tipe morele voorsang.
Ook: rou vir die dooies.
Seuns, minnaars, en so meer.
Al die vermoorde kinders.

In plaas van dít, vertel ek
wat ek hoop sal deurgaan vir die waarheid.
Iets stomps, nie aanskoulik nie.
Die waarheid word selde verwelkom,
veral met aandete,
alhoewel ek goed is met dit wat ek doen.
Ek dryf in waagmoed en gruwels handel.
Ek bestudeer dit en verdoem nie.
Ek noteer dinge soos dit gebeur het,
of so goed as wat onthou kan word.
Ek vra nie “hoekom” nie, want dis meestal dieselfde.
Oorlog breek uit want diegene wat dit verklaar
dink hulle kan wen.

Soms wel swier in my drome.
Die Vikings verlaat hul landerye
elke jaar vir ʼn paar maande se moord en plunder,
amper soos seuns wat gaan jag.
In werklikheid was hulle boere.
Met skatte keer hulle terug.
Die Arabiere vaar teen Kruisvaarders uit
met lemme wat sy
in die lug kan sny.
ʼn Vinnige kap na die perd se nek
en ʼn pantserkolos tuimel
soos ʼn toring. Vuur teen metaal.
ʼn Digter mag beweer: romanse teenoor banale.
As ek wakker is, weet ek van beter.

Propaganda ten spyt, is daar nie monsters nie,
of geen wat beslissend begrawe kan word nie.
Speel met een klaar en omstandighede
en die radio baar ʼn volgende.
Glo my: ganse laers het toegewy
voor God bely en dit bedoel
en is desnieteenstaande afgeslag.
Wreedheid kry gereeld die oorhand
en die groter geheel die gevolge van die uitvinding
van meganiese toestelle, soos radar.
Toegegee, heldhaftigheid tel soms iets,
soos by Thermopilae. Soms word om reg te wees –
alhoewel die hoogste deug, deur tradisie besleg,
deur die oorwinnaar bepaal.

By tye werp mans hulself op granate
en bars soos papiersakke vol derms oop
om hul kamerade te red.
Dit kan ek bewonder.
Maar rotte en cholera het menige oorlog gewen.
D
í
t, en ertappels,
of die gebrek daaraan.
Nutteloos om al daai medaljes
aan dooies se borskaste vas te steek.
Indrukwekkend, maar ek weet te veel.
Grandiose togte maak my depressief.

Ter wille van navorsing
het ek velerlei slagvelde bewandel,
eens sat van verpulpte
mansliggame en besaai met opgeblaaste
doppe en versplinterde bene.
Elkeen reeds weer groen
met my aankoms.
Elkeen inspirasie vir ʼn paar goeie aanhalings.
Hartseer marmer-engele broei soos henne
oor grasneste waar niks uitbroei nie.
(Die engele kon netsowel “vulgêr”,
of “genadeloos” wees, afhangende van die kamerahoek.)
Die woord “glorie” figureer op vele poorte.
Ek pluk natuurlik ʼn blom of twee
by elk, pars dit in die Hotelbybel
as aandenking.
Ek’s net so menslik soos jy.

Nutteloos om ʼn laaste stelling van my te vra.
Soos ek s
ê, ek werk met taktiek.
En statistiek:
Vir elke jaar van vrede was daar tog
vierhonderd jaar oorlog.

  •