Posts Tagged ‘The Savage God’

Nini Bennet. Eindnotas

Monday, April 20th, 2020

 

 

 

In ’n artikel op Literary Hub vra Dustin Illingworth of die selfmoordbriewe van groot skrywers as ’n literêre subgenre geklassifiseer kan word. “Everything has gone for me but the certainty of your goodness. I can’t go on spoiling your life any longer. I don’t think two people could have been happier than we have been”. Só eindig Virginia Woolf haar aangrypende selfmoordbrief, gerig aan haar man, Leonard Woolf.

Dit is met ’n morbiede fassinasie wat mense selfmoordbriewe lees: dis immers die finale geskrewe woorde van ’n bekende skrywer. Die swanesang. Dalk bestaan daar ’n geloof dat ’n skrywer, wat oor ’n buitengewone verhouding met taal beskik, ’n glimps van die nalewe mag gee – of dalk die transmigratoriese vlam van hoop in die duisternis kan verwoord. Skrywers se selfmoordbriewe kan gelees word as egodokumente, as subteks tot ’n historiese tydvak of as die addendum van eksistensiële angs wat die geskiedenis onderlê. Maar dan is daar ook diegene wat ’n etiese probleem met die lees en klassifikasie van hierdie briewe het: dit is intens persoonlik en dis bloot voyeurisme om ’n skrywer se laaste oomblikke te belig, want ná alles beliggaam die briewe ’n groot tragedie. ’n Selfmoorbrief beklemtoon die onvoltooidheid van ’n lewe. Dan weer: Elke boek is immers ook ’n dood in die kleine, die tekstualisering van persoonlike transformasie en begrensing.

Die advokate, ten gunste van die selfmoordbrief as literêre genre, vra: Waarom kan gallows literature geag word as letterkunde, en die intieme, laaste woorde van ’n skrywer nié? Gallows literature dui op die laaste toespraak, biografiese beskrywing of verse van ’n persoon voor hy tereg gestel is. ’n Voorbeeld hiervan is die toespraak van die Amerikaner, John Brown, kampvegter teen die afskaffing van slawerny, wat in 1859 gehang is. In ’n sekere sin kan Nelson Mandela se “I am prepared to die”-toespraak tydens die Rivonia-verhoor ook as voorbeeld genoem word, aangesien die beskuldigde ten tye van sy toespraak oortuig was dat hy die doodstraf opgelê sou word.

’n Selfmoordbrief kan vertroostend, onthutsend, snaaks, of poëties wees. En só tipe brief behels veel meer as net ’n dokument; dit kan ook die gedaante van kassette, video’s of klankgrepe aanneem.

Die magistrale The savage god deur Al Alvarez besin oor die selfdood van skrywers en filosowe. Sylvia Plath se selfmoordnota lui: “Please call dr Horder”, vergesel van die telefoonnommer. Het sy verwag om betyds gered te word? Ons sal nooit weet nie. En hoeveel lesers soek nie antwoorde of ‘leidrade’ rondom Ingrid Jonker se selfdood in “Ontvlugting” nie?

.

Uit hierdie Valkenburg het ek ontvlug

en dink my nou in Gordonsbaai terug:

.

Ek speel met paddavisse in ‘n stroom

en kerf swastikas in ‘n rooikransboom

.

Ek is die hond wat op die strande draf

en dom-allenig teen die aandwind blaf

.

Ek is die seevoël wat verhongerd daal

en dooie nagte opdis as ‘n maal

 

Die god wat jou geskep het uit die wind

sodat my smart in jou volmaaktheid vind:

.

My lyk lê uitgespoel in wier en gras

op al die plekke waar ons eenmaal was.

.

In die versamelbundel verhale en essays, Wreed en mooi is die dood, lig Willem Landman die sluier op sy e-poskommunikasie met Karel Schoeman en die periode wat sy bestanddood / selfdood voorafgegaan het.

En van die selfmoordbrief met ’n literêre inslag na die uitdrukking van selfdood in die Internettkultuur. As deel van ’n groter distopiese wêrelduitkyk kom hierdie fenomeen dikwels voor; daar is onder meer die toonsetting van selfmoordbriewe, ook dié van Woolf. En dan is daar musiekgroepe, soos byvoorbeeld die van die Goth-subkultuur of dié wat suicide pop of suicide cabaret beoefen, byvoorbeeld Spiritual front, Anathema, of Dairy of dreams. Die distopiese wêrelduitkyk waarna ek verwys, het reeds voor C-19 beslag gekry – en ’n mens kan inderdaad wonder wat die toekoms verder mag oplewer.

Die populêre kultuur se uitdrukking rondom selfdood is egter veel meer onthutsend as sy estetiese eweknieë. Baie lesers en kykers is waarskynlik bekend met die minireeks, Thirteen reasons why, wat op Netflix stroom. Dié reeks, wat tieners sowel as volwassenes interesseer, handel oor die selfmoord van die 17-jarige leerder, Clay Jensen en die kassette wat sy nagelaat het nadat haar pyn as gevolg van boeliegedrag en seksuele aanranding ondraaglik geraak het. Die roman, Thirteen reasons why (2007) deur Jay Asher het die reeks geïnspireer. Maar die verhaal van Amanda Todd (1996-2012) is ongelukkig nie fiksie nie en toon onrusbarende ooreenkomste met die reeks. Todd, ’n 16-jarige Kanadese leerder en slagoffer van kuberteistering het haarself gehang, maar voor die finale daad het sy haar tragiese verhaal in ’n YouTube-video vertel. Todd het nie gepraat nie; slegs flitskaarte gebruik om haar traumatiese ervaring met haar kykers te deel. Na haar afsterwe het die berugte video egter viraal gegaan en dit is miljoene male gekyk – maar dit was te laat. En of dit nou Thirteen reasons why of Amanda Todd se video is, daar is spekulasies dat tieners se selfmoorddenke of gedrag beïnvloed word deur die tendense van die dag, soos dit in die populêre media bly sirkuleer.

 

Die jisei as doodsgedig

Daar bestaan wel iets soos ’n ‘sefmoordgenre’.  Japan het ’n lang geskiedenis van die jisei, oftewel doodsgedig. Die jisei signalleer ’n afskeidsgedig aan die lewe. Een van die oudste rekords van dié digvorm dateer uit 686 v.C. met die afsterwe van Prins Otsu, ’n digter en seun van keiser Temmu. Otsu het selfmoord gepleeg nadat vals klagtes, dat hy ’n rebellie wou begin, teen hom gefabriseer is.

Jisei word geskryf in kanshu, waka en hakoe. In die Japannese taal word verskillende maniere van sterf beskryf: sjinju (selfmoord as gevolg van ’n liefdesteleurstelling); junshi (’n kryger wat sy lewe gee vir sy heer of owerheid); en roshi (die sterfproses as gevolg van hoë ouderdom).

Sommige jisei is donker getint; ander, weer, is hoopvol. Elke vers poog om die digter se laaste oomblikke so helder moontlik aan die leser oor te dra. Aanvaarding is ’n sleutelelemant in die poësie wat verband hou met die Zen-siening om die lewe – en onafskeidbaar daarmee, die dood – te aanvaar.

Enkele voorbeelde van hierdie doodsgedigte is die volgende:

.

I wish to die

in spring, beneath

the cherry blossoms,

while the springtime moon

is full.

.

– Saigyo (1190)

.

Frost on a summer day:

all I leave behind is water

that has washed my brush.

.

– Shutei

.

On a journy, ill:

my dream goes wandering

over withered fields.

.

– Basho

.

Soos uit die Japannees vertaal deur Yoel Hoffmann.

.

Verwysings:

Jisei: the Japanese Death Poem

The Suicide Note as Literary Genre

Gisela Ullyatt. Oor dagboeke, kartonbokse en Sylvia Plath.

Monday, October 6th, 2014

’n Week of twee terug ontdek ek ’n gros dagboeke waarvan ek lankal vergeet het. Ek was genoop om weer eens uit te sorteer, iets wat voor ’n trek en tydens ’n trek nie anders kan nie, behalwe as jy ryk genoeg is om alles net so op te pak en na jou nuwe ruimte te verplaas. Jy moet na die gedwonge ritmes van die trek se datums dans. Later begin jy skuifel, en teen D-Dag is jy op en kapot.

Dis egter die “forced post-removal” wat deur jou kom fluit soos ’n dwaalkoeël en iewers kom inburger in jou borskas: van voor af moet jy weer uitsorteer, plek maak; kortom, jouself met die nuwe, onverbiddelike situasie en ruimte begin versoen.

Voor ons vorige “Groot Trek” moes ons bykans vyftig bokse met boeke in my ouers se buitekamer stoor. Ek het alles gekatalogiseer en die inhoud op A4-eksamenblokbladsye gelys. Elke boek. Lêers vol akademiese artikels. In sewe jaar het my pa se Doom Fogger egter die plastiekomhulsels wat die blaaie moes beskerm, smerig gelaat. Ook het tyd, daai ewige ou bogger, die pienk ink van baie van die bladsye byna uitgewis (waarom ek ’n pienk pen gebruik het ontgaan my nou geheel en al). Die buitekamer het begin dreig soos ’n slegte gewete of sluimerende kanker. Jy weet jy moet dit uitsorteer, dit op een of ander manier probeer genees, maar jou brein skop vas teen die groterwordende nagmerrie.

Reeds voor die Groot Episode het ons honderde boeke moes skenk en weggee. Maar ten einde niet. Wat maak ’n mens met akademiese boeke soos meer as ’n dosyn Abnormal Psychology-handboeke; boeke wat jy nie kan verkoop of weggee nie omdat nuwe uitgawes beskikbaar is? En wat van die moet-weer-lees romans soos Extremely loud & incredibly close, of ’n magdom kunsboeke? Schiele, Klimt, Hopper. Digbundels in Afrikaans, Engels, Duits, Spaans, Frans. Ingeborg Bachmann se Malina en Das dreißigste Jahr (dis juis in die jaar wat ek dertig geword het wat al die boeke in hul maai geboks is). Wie het deesdae die spasie om soveel boeke aan te hou? En dit help nie om te sê: moenie weer ’n boek koop nie. Want dit is tog die lewensaar vir akademici, skrywers, en digters. Jy kan onmoontlik nie skryf sonder om te lees nie. Dus: stoor. En: sorteer uit. Weer eens. Vir altyd. Elke kartonboks het soos ’n doodskis begin voel.

Party kartonbokse het ook erg skeefgetrek onder jare se gewig van ander bokse wat daarop gepak was. Veral die Simba Chips-bokse. Vrugtebokse of appelbokse hou goed, is solied en sterk. Die gewig kan vir jare gedra word. En maklik glip die deksel uit die kartonskede om die inhoud daarvan te bestudeer. Die ander bokse moes met ’n Stanley-mes oopgesny word. Ek het al ’n paar kepe op die vingers gekry as gevolg van oor-entoesiastiese oopsnyery. ’n Mens voel byna soos ’n chirurg; terselfdertyd wéét jy en weet jy ook nie wat jy binne-in gaan aantref nie. Veral nou as daardie pienk ink op die papiertjie verdof het.

So tussendeur die stof wat almaardeur neersif, my hande wat bruiner en taaier word en die half-skemerte van die buitekamer, kom ek af op ’n boks vol ou dagboeke. Baie van hulle is droomdagboeke wat so ver as 1999 dateer. Ook is daar ’n dagboek uit my standerd nege-jaar wat baie Kerkorrel-lirieke bevat, en selfs hoop vir die toekoms. Dit was immers 1994. Een van die boeke wat ek vir die English book report (is daar tog nog so ’n verskynsel?) gekies het, is André P. Brink se Dry White Season. Ek het ’n paar notas vir myself neergeskryf wat ek aan die English miss moes rapporteer. Twee jaar later kry ek dieselfde boek as geskenk van ’n vriendin wat saam met my Frans studeer en wat glad nie beïndruk was deur die politiek van die boek nie. Ook nie die skryfstyl nie. Ek was heel gretig om dit in die oorspronklike taal te kon besit. Dit bly een van Brink se beste romans; ek het die oubaas (die karakter Melanie se pa) wonderlik amusant gevind met sy filosofeerdery en (on)gedurige gepoep. Hopenlik het Brink nie te outobiografies met dié karakter omgegaan nie…

Behalwe dat ek ’n hele spul van die dagboeke wat ek gevind het vernietig het, omdat die inhoud daarvan my grensloos geïrriteer het (wat is erger as ’n mens se eie geteem?) het ek darem ook ’n paar dagboeke ontdek wat ek wou hou omdat hulle goeie aanhalings het. Hier tref ek dan ’n hele paar Sylvia Plath-aanhalings aan wat ek neergegriffel het tydens my tweede jaar van BA Tale. Een van hulle is:

In the marketplace they are piling the dry sticks.

A thicket of shadows is a poor coat. I inhabit

The wax image of myself, a doll’s body.

Sickness begins here: I am a dartboard for witches.

Only the devil can eat the devil out.

Die volgende reël onderstreep ek: “In the month of red leaves I climb to a bed of fire”.

Ek was duidelik besiel deur Plath – veral daardie jaar – en een van die redes was dalk omdat die Engelse sillabus so dralend vervelig was. Ek het hard probeer om Chaucer te ontsyfer; die politieke dramas van Shakespeare het nie tot my gespreek nie, en die metafisiese digters was … té metafisies. Ek kan nie onthou hoe ek op Plath afgekom het nie; dit is moontlik dat ek ’n aanhaling van een van haar gedigte gelees het wat as motto in iemand anders se gedig gedien het. Ek het soms weinig verstaan waaroor sy geskryf het: “can nothingness be so prodigal?” of “The air is a mill of hooks”. Tog was ek begogel deur haar taalgebruik, jukstaposisie van beelde en die ongenaakbare emosie agter elke vers.

Tien kartonbokse later (ons weet steeds nie wat om waar te sit nie) en sinchronisiteit stort homself uit: ’n boks met Crossing the Water; The Colossus; Anne Stevenson se Bitter fame, en Karen K. Kukil se The Journals of Sylvia Plath (1950-1962). My kopie van The Colossus het waterskade en ruik na tweedehandse rook. Iemand (’n student?) het morsige notas gemaak by ’n paar van die gedigte soos by “Moonrise”: “Its fan-tail’s white” (feather: symbol of cowardice, en “White: it is a complexion of the mind.” (reflecting colour/No absorption). Dalk moet ’n mens jouself maar troos met die feit dat studente destyds darem nog notas gemaak het.

Ook in die boks is Al Alvarez se The savage God (2002, eerste uitgawe 1971). Dié boek ondersoek die verband tussen selfdood, filosofie, kuns, literatuur asook kulturele wanbegrippe en –opvattings rondom die kreatiewe suicidaire. Aangrypend is veral die gedeelte wat Alvarez vertel oor sy vriendskap met Plath, min of meer in die laaste twee jaar van haar lewe. Alvarez is genooi na Ted Huges en Sylvia se donker woonstel; sy eerste indruk van haar was “friendly only in that rather formal, shallow, transatlantic way that keeps you at your distance” (23). Aan die einde van hierdie besoek, met Ted Hughes tydelik in ’n ander kamer, sê Plath aan Alvarez: “I’m so glad you picked that poem […] It’s one of my favourites but no one else seemed to like it” (23). Nodeloos om te sê, het Alvarez nie die vaagste benul gehad waarvan sy gepraat het nie totdat sy hom daaraan herinner het dat hy dit ’n jaar tevore in die Observer gepubliseer het. Toe eers onthou hy die gedig sonder naam, die enigste van die gerf gedigte wat sy op daardie stadium gestuur het wat hy vir publikasie aanvaar het. Dit verskyn later as “Night shiftt” in The Colossus; Alvarez haal die eerste drie strofes aan:

 

It was not a heart, beating,

That muted boom, that clangour

Far off, not blood in the ears

Drumming up any fever

 

To impose on the evening.

The noise came from the outside:

A metal detonating

Native, evidently, to

 

These stilled suburbs: nobody

Startled at it, though the sound

Shook the ground it hits pounding.

It took root at my coming

 

Alvarez is ook nie bang om die gedig te kritiseer nie; as redakteur, kritikus en digter sou hy elke versreël met ’n valkoog bestudeer: “It had its moments of awkwardness – for example, the prissy, pausing flourish in the manner of Walace Stevens: “native, evidently, to …”

Tot sy verbasing daag sy ’n paar weke later ongenooid by sy woonstel op. Met nuwe gedigte. Sy weier egter dat hy daaraan raak; sy wil hulle uitsluitlik aan hom voorlees. Daar ontstaan dus ’n eienaardige vertrouensverhouding tussen Alvarez en Plath. Een van die gedigte wat sy op ’n latere welkome maar ontydige ‘geleentheid’ (die datum en tyd altyd onderworpe aan haar dringende luim) aan hom voorlees in haar “hard, slightly nasal accent” (31), is die volgende:

 

Gentleman, ladies

These are my hands

My knees.

I may be skin and bone,

I may be Japanese …

 

Sy reaksie as kritiese leser was “the things seemed to be not so much poetry as assault and battery […] As always, my defence was to nag her about details […] “Why Japanese?” I niggled away at her. “Do you just need the rhyme? Or are you trying to hitch an easy lift by dragging in the atomic victims?”” (33) Volgens Alvarez het Plath dié reël verbete verdedig, maar tog later verwyder.

Die drie maande voor haar self-vergassing het Sylvia byna elke dag manies geskryf:

These months were an amazingly creative period, comparable to the ‘marvellous year’ in which Keats produced nearly all the poetry on which his reputation finally rests […] Now, although she abandoned none of her hard-earned skills and discipline, and still wrote and rewrote, the poems flowed effortlessly until, at the end, she occasionally produced as many as three a day (36)

Alvarez reïtereer hierdie uiters kreatiewe fase wanneer hy beweer dat Sylvia nie werklik op daardie tydstip sou wou sterf nie, en as ’n paar dinge nie lelik verkeerd geloop het nie, sou iemand haar beslis kon red: “There were also the extraordinary creative powers she now unequivocally knew she possessed: the poems came daily, unbidden and unstoppable, and she was again working on a novel about which, at last, she had no reservations” (53).

Die waarheid mag dit dalk wees. Maar, soos Alvarez sekerlik self sou weet (hy het self vyf-en-veertig slaappille geneem, maar is gered), is dat selfdood gewoonlik kom tydens ’n tydperk waarin die depressiewe persoon verligting ervaar en juis dan die energie het om ’n selfdoodplan met dodelike presiesheid uit te voer. Familie en vriende word juis verbrysel deur selfdood, omdat hulle amper altyd die tekens nie betyds kon ontsyfer nie: die persoon blyk dan “beter” te wees, vroliker, amper selfs sosiaal te verkeer.

Dis juis die teenoorgestelde wat plaasvind: die kreatiewe selfdodenaar, soos Plath skryf (of in die geval van die kunste, verf) byna manies, want – en dis ironies – is daar ’n einde in sig. Hulle het niks meer om te verloor nie: geen kritiek van familie, vriende of werkgewer nie. Meer nog: die genadelose self-kritikus gaan finaal stilgemaak word.

Dit is dalk een van die redes waarom Plath juis so afstandelik oor haar eie dood kon skryf (‘Last Words’:63, Crossing the water):

 

I do not want a plain box, I want a sarcophagus

With tigery stripes, and a face on it

Round as the moon, to stare up.

 

Vir Sylvia Plath was die laaste drumpel haar dertigste jaar, byna een-en-dertigste jaar. Ingeborg Bachmann skryf dit ook oop, alhoewel sy op ’n tragiese wyse eers op ’n later ouderdom oorlede is.

Nog lank sal ek besin oor die kartonboks as sarkofaag en jou dertigerjare en as jy dié kan oorleef, jy dalk net jou veertigs kan binneloop met minder bagasie, met meer rakspasie; dalk net met ’n nuwe raklewe.

L.E. Sissman het immers die volgende roerende laaste reël in sy gedig genaamd “Love-making; April; Middle Age” geskryf:

We turn our thirties over like a page.

*

Bibliografie

Alvarez, A. 2002. The Savage God. Londen: Bloomsbury.

Plath, S. 1967. The Colossus. Londen: Faber and Faber.

Plath, S. 1971. Crossing the water. Londen: Faber and Faber.

Sissman, L.E. 1967. Dying: An Introduction. Boston: Atlantic-Little, Brown.

 

 

  •