Posts Tagged ‘The Wrong Rock Show’

Andries Bezuidenhout. Die digter as DJ

Thursday, August 2nd, 2012

Daar’s Loftus Marais se gedig “Die digter as rock star”. Deesdae is daar ook “Die digter as DJ”. Nie DJ soos in “DJ Opperman” nie. DJ soos in “disc jockey” – of platejoggie in Afrikaans.

Daar was ʼn tyd toe platejoggies iets van musiek moes weet. Ek het onlangs gehoor hoe ʼn platejoggie die Grammy toekennings moes aankondig en heel onskuldig noem dat hy nie weet wie Neil Young is nie. Wel, dis seker nie meer belangrik om te weet wie Neil Young is nie. Deesdae speel DJ’s musiek van speellyste af wat deur korporatiewe bestuurders en marknavorsers opgestel word. Soms speel “payola”, of meer sinies “playola”, ʼn rol in wie en wat oor die lug gespeel word – geld wat onder die tafel deur platemaatskappye aan diegene betaal word wat die speellyste opstel. Al vaardigheid wat platejoggies klaarblyklik deesdae moet hê, is om kontroversie aan te blaas.

In Kaapstad is daar egter ʼn gemeenskapsradiostasie genaamd Bush Radio (89.5FM), waar ʼn aantal DJ-digters self besluit wat om te speel. Op Sondagaande is die Unhappy Hour, waarby onder andere Toast Coetzer en Erns Grundling betrokke is. Hulle speel hartseer musiek uit die underground. Op Maandae van 22:00 tot middernag is daar die Wrong Rock Show, waarby Danie Marais (in die foto’s), saam met Botha W. Kruger, betrokke is. Ek het twee weke gelede vir Danie in die ateljee gaan kuier om te kyk wat die digter as DJ doen. Danie het my toegelaat om self ʼn paar nommers uit die platebiblioteek te kies.

Danksy die web, word die Wrong Rock Show deur mense in veel warmer en kouer plekke as Kaapstad geluister – van Jamaika tot Noorweë. Gesprekke is daarom meestal in Engels. Twee weke gelede het ons egter baie Afrikaanse musiek gespeel, meestal uit Johannesburg se underground: Koos!, Bernoldus Niemand, Trike, Battery 9, Brixton Barnard en dies meer; van elders in die land ʼn stukkie Fokofpolisiekar, The Buckfever Underground en Thys Nywerheid. Gaan luister gerus hier – twee ure van rock van die verkeerde kant van die markspoor.

  •