Posts Tagged ‘Theodor Roethke’

Desmond Painter. Maak hiervan ‘n liedjie, Tom!

Monday, November 16th, 2009

Lees jy ooit ‘n gedig en dink: híérdie een moet gesing word? Sommige digters se verse leen hulle tot musiek. Ander s’n, soos dié van Ingrid Jonker, sméék as’t ware om gesing te word. Soms, as jy so ‘n gedig raaklees, het jy dalk selfs ‘n sanger en musikale styl in gedagte. Jy kan die lied al amper hoor. Tydens ‘n voordrag op Stellenbosch in 1994 het Hennie Aucamp byvoorbeeld in redelike detail verduidelik hoe hy Eugene Marais se ‘Skoppensboer’ gesing sou wou hoor; en as ek reg onthou, het hy gesuggereer wie volgens hom ‘n goeie vertolker sou wees.

Die gedig wat ek miskien meer as enige ander as ‘n lied wil hoor (wat ek eintlik alreeds kán hoor) is die Amerikaanse digter, Theodore Roethke, se ‘My papa’s waltz’. Terloops, ek moet noem dat ek hierdie gedig (of ‘n deel daarvan) die eerste keer raakgeloop het in ‘n wonderlike outobiografiese werk, Ernst van Heerden se Die ligtende trein; dit is myns insiens ‘n afgeskeepte boek in Afrikaans en beslis die moeite werd om te lees! Van Heerden skryf oor sy grootwordjare, sy reise, sy jare by Wits, die traumatiese verlies van sy bene en, les bes, enkele ontmoetings met Amerikaanse digters soos Roethke en ook e.e. cummings. ‘n Pragtige boek; lees dit gerus (weer). 

Hier is Roethke se gedig:

My Papa’s Waltz 

The whiskey on your breath
Could make a small boy dizzy;
But I hung on like death:
Such waltzing was not easy.

We romped until the pans
Slid from the kitchen shelf;
My mother’s countenance
Could not unfrown itself.

The hand that held my wrist
Was battered on one knuckle;
At every step you missed
My right ear scraped a buckle.

You beat time on my head
With a palm caked hard by dirt,
Then waltzed me off to bed
Still clinging to your shirt.
 

Roethke word veral bewonder vir sy natuurgedigte, maar wat ‘n wonderlike vers is hierdie nie! En watter aangrypende lied sou dit nie maak nie… Maar dan moet dit klink soos in my gedagtes. Niemand minder nie as Tom Waits is aan die stuur van sake, met sy geroeste stem wat aanleun teen ‘n lendelam klavier. Iewers in die agtergrond is daar dalk ‘n draaiorreltjie; of dalk ‘n temerige akkordion. Die perkussie is tuisgemaak: spykers in ‘n bottel, dronkerige stewels op ‘n houtvloer; so iets. Ja, jy moet hulle kan hoor wáls, vader en seun, terwyl die hele huis wankel.  

  •