Korona-gedigte
ingeperk
[in gesprek met Breyten Breytenbach]
dis so plesierig as jy hoed laat waai –
en tout á toi – jy die ingeperkte hermiet – dagsê vir die dag :
soos koeloe-koeloe bont kalkoen se roep
net voor kamele, druk-druk boggelrug
knipoog deur die naald wil beur
[o die bitter seer]
en sonrooi rooi tamatierooi oor jou rib
se hortjies rank
maar daar’s ‘n brandby agter elke turksvybos
waar jou longdrop skewebek so staan-staan wag :
ek sien jou sien ek hoor jou druk
ek deel verbeelding as jy op die longdrop sit
– so ingeperk –
en luister hoe ‘n bosduif roekekoe
en swartkraai soek na ‘n eliaboom
– jou wonderboom –
waar bloukopkoggelmanders wiplyf sit en profeteer
van reën en pap en vleis
hieriekant en douriekant jou blinksit mooi laat blom
jy poets jou droom :
koerantpapier verfrommeld
‘n turksvybos by lank-se-sit-fontein :
stekels teen die blou van onse hemel
waar gebeentes óúboklywe word
en vrot visse langs galsterige damme lê en wag
vir kraaie om snawels grate weg te sluk
ek sien jou kieriekromgedraaide lyf van ouderdom
op die lank se sit : jy huil die groot besef
hoe het die longdrop dan jóú pyn geword –
jy : geheel die uwe jy hermiet
jou arms engelvlerke hoog gelig om oor tamatiesonne
heen te vlieg en véraf áf te kyk
na kamele van die nag wat deur die knipoog
van ‘n naald wil beur
en son ‘n rooi tamatie oor jou lyf se hortjies rol :
ek hoor jou as jy so pompeus snik
en hoe het jy stuifmeel gelag
toe amandelbome langs die huis begin te blom
so vroemôre toe die son nog rooilyf agter golwe biggel
so op sy rug so abba-abba op sy rug
so in jou baksteendroom van ingeperk
jóú amandelbloeisels vroe se môrevreug
die agterplaas was stil soos ingeperk
maar daar’t viool gespeel waar lenteblomme wals
miskien die kalfiewals?
so baldadig in die wind o, jou wind jou wind se kind
ou tant sien van die bordienghuis het vensters oopgeskuif
en korreloog gekoekeloer
hare uitgebesem hier en daar se haar se stywe haar
sý die eens verspotte lentebloeisel
in die tuin van groot genot nou ingeperk tot sukkelsit
weggeteer tot klein-klein koggel-mander-lyf
eens het sy ronde rooibors sonne uit haar keel gelag
en duisend blinkgebleste mane in haar oë laat tol
toe wipgat klein kalbassies nog soos dassies
oor die steilte van haar lyf kon skarrel
en die swaaispog van haar lyf
– ‘n shetland ponie –
ou-ou herders van die skape
hul staf laat neerlê op háár mirrebed
o bed van gril genot : háár mirrebed
maar die soeke het verstok tot af-
gebreekte stompies van ‘n verdraaide witgatboom
en net in drome grou sy nog na uintjies van vermei
soms onthou sy nog :
die ou man op die stoep van die bordienghuis
probeer met knoetserige vingers
probeer met knoetsige hande
oor haar bontbegrysde hare streel
en verpulpte borste begin soos rose
stekelrig te rank :
doringprikkies groei oor die ou man se hande
maar die lyf bly toktokkie : sonder lyf
vir haar het hy ‘n boepens bottel wyn gebring
met ‘n prent van ‘n kopstaan nar daarop
en toe hy die wyn wou skink
het sy so bontbegrys hardop gelag
en die nar van die glas geskeur
het sy die bottel óópgebeur
toe bars haar horison met skuimborrels middeldeur
waarom was jy so kwaad, vrou met die verpulpte lyf?
waarom was daar ‘n skeur in die horison van jou verguiste hart?
dis die nag se verdriet van verlange na die ou man
na toktokkie-toktokkie-se-klop
maar die ou man bly doodhouertjie styf
eens het visioene soos rooigewangde appels
aan haar liefdesboom gehang
sy ‘n witgebeende eva wat uit oerbeen wakker word
het langs sý ribverwoeste lyf kom lê
sy lispel met ‘n addertong en reik met albei hande
na die appels van sy lyf
hoor hoe word die klapklank van haar tong
klein-klein happies wat verby die sterre spoel
en planete uit hul baan laat tol
om toi-toi weg te dans : nag van blou genot
as die sterre bokant boorde
hortende blinkblits uitskiet in die swart
sal ‘n engel kiewietvlerke klap en pollie ons gaan pêrel toe
op sy trompie t!goem
sal haar adam uit sy slaap ontwaak
en saamspeel hande klap en voete stamp
vir sy groengeblaarde lispelvrou wat pollie ons gaan pêrel toe
vir appelboorde sing?
[want wat hang mooier as rooiwangappels langs die pêrelpad
en wat proe soeter as ‘n blinkgebleste appel
uit songebleste boorde?]
hang jou harp aan die droë tak van ‘n witgatboom
en stort verdrietbloed uit jou hart
want ‘n appel rol soms vér : verby die verste wegblyster
oor haar se papgeworde lyf spoel verlangesweet
van vergange riviere
maar stokstokkielyf sonder lyf lê die ou man
gekruisigde bene verdor en die ure tik-tik-
toktokkietik oor haar lyf
jy : jou pa het die koerant se letters neergesmyt
berig : die lyk van ‘n slodderjoggie is by die asgate gevind :
‘n deurgetrapte skoen en ‘n geruite skotse pet
skrapsgelapte broek en chinageel beskryfde frokkie
waarop vredevingers boëntoe blits :
die kind : ‘n papgedrukte soetlemoen
bloeiend in die sand
maaiers speel checkers op ‘n skotse pet
en kraaie skarrel tussen vrotgeworde kentucky –
ghoenie-ghoenie met die seun : die soetlemoen
[daardie môre : duiwe wat koer bokant plastiek
en karton en blikplaat roesrumoer
hoe het hy gelag en gespeel in strate
waar riool sý landskap óórverspoel
en papkan verdrinktes soos gewonde soldate
oor slagvelde heen en weer marsjeer
terwyl predikers : flap-flap verminkte duiwe
vredesboodskappe koer
sing hosanna : verlossing is naby]
voor die bloemistery sit ‘n vrou met ‘n verlepte
manjonet in die hand
waar verbystappers op uitgetrapte trottoirs
maak of hul nie hoor
hoe windharpe háár treurlied akkompanjeer
vir hóm wat nou slampamper vér van wit papier
en swartpunt pen
die vissies in die sementdammetjie
is seker nog daar rondomswembaljaar
koi-koi kleur-vir-kleur-vermeng
en rampie in die buitekamer
seker nou net withaar rampie in die agterkamer
so verweer van gras se sny
groen-groen gras maar hare wit soos wol
‘n engel uit die agterkamp van ingeperk
nog steeds so fluks maar ópgedaan gewerk
toe hy nog ‘n rammetjie tussen baldadige ooie was
kon hy met ‘n jonggeblomde lyf
skoorsoekerige stormrammetjies ontkoppel
maar hedendaags is sy meertandige vurk
deur ouderdom en roes verstomp
hoe smag hy na dae van botterblom en sporrie
lentereëns en perdebos wat geel-geel sterre teen die rante los
waar sy hart soos kokerbome kliplangs blom
en wildeperdehoek se pas
draai vir draai voor hom uitverkwyn :
tot by haar soet fontein
sal sy weer soos sleepmis volspeen
oor die kamiesberg se spitse kom
om hom in witsheid van haar melklyf toe te blom
en sal hy weer die draaipad na haar lyf vergaffel :
wildeperdehoek se pas verken?
maar onder sý verkrimpte vyeboom
is alles dood en lê daar net ‘n uitgedorde korsie brood
jy : daar staan jy soos ‘n bliksoldaatjie
en wag vir ma se soen
o, bloedlemoen o, soen se soen se bloedlemoen : judaskus?
afgeskil tot op die wit se witsel sonder swart
daar’s ‘n present vir jou ma
‘n hand vol rose iewers agterkerks afgepluk
en vir jou pa ‘n dikleesboek en gladlensbril
jy het jou kinders vroe-vroe mooi verwoord
nou staan hul agter jou ma en lag hul buitelands
blinkgebleste hare witlyf sonder son
jou pa het seker nog die geweer wat jou oupa weggesteek het
toe die britte blitse oor die werf geblaas het
[jy ook uit jou voorgeslag miskien ‘n deel gehad het]
nou ingeperk in buitekamers van onthou
die wingerd verswanger van trosse rooi en groen
jou pa se lyf nou weggesnoei uit die lewe oud en afgerem
bruin soos wyn : so pers
soos droëlandstokke voor die reën se seën
net die amandelbome staan bloeiend in die blom en wag vir jou
om t’rug te kom
miskien wag roebel ook op jou met sy slawekoor
– ai, hoe lank gelede het jy hom verloor –
roebel wat kon speel en sing tot almal huil
as woorde uit sy koor se monde kwyl
maar toe was hý nog ingeperk : jy die
onaangetaste
jy hoor vir siebies blaf
kom ruik hier aan jou broek se pyp en blaf
sy vreugde oor die werf jou mankbeen siebies
miskien moet jy vir elvis huur
om vir jou ma en pa te sing van jailhouse rock
en blue suede shoes of love me tender
of green green grass of home
die seep het lankal glad geword van stort tot stort
uit jou hand geglip so buk jy af al laer af
om die lyf te red van ewiglik se diépgatgly
die dekor staan nog styf gespan oral waar jy reis
al is daar wurms in die vlees bly die lewe steeds
‘n glipglyfees
so sal jou voete water trap vanúít die stort tot in die pad
so kom jy om so kom jy om ingeperk tot wegvat kom
jou ma se hand vol rose het jy ingeplant hier teen die muur
gedog daar kom ‘n weersiens op
maar jy is ingeperk waar baksteenwoorde steen-
vir-steen afdrup teen die muur
daar’s deuntjies in jou kop four walls
five hundred miles away from home
love me tender
sal jy ooit ‘n skree laat gaan
verby sterre tot anderkant die universum
waar wolke druppels oor ‘n ander leefland stort?
hoor jy die heutjiehee wat óúnag na sy maat bly skree :
groot verlang die heutjiehee : augustusmaand
se heutjiehee?
hoe lank sal jy nog hier kan sit en droom
langs ‘n verpotte wingerdstok of verdroogte vyeboom
waar oë nie meer kan opkyk na die berge
en mis soos witwol oor die boggels stort?
[oorryp druiwe gis mos aan die stok
en winter met sy lang sambok verjaag die drome
soos dassies weg van sonplanete
tot in die dieptes van ‘n gravitasiekolk]
o die kolk, die dolksteek van die lewe?
op ‘n mierhoop tussen ghwarriebos en witgatbome
sit koggelmanders wipkop klopgalop
en slurp aan somersonne
ag, hoe gryp en klou jy vinger toon en ingedorde lyf
voordat jy soos koggelmanderlyf
ontsê van rondgeronde pram en lou-lou heuning
agter ghwarriebos en witgatbome ingegriffel word
maar jy is ingeperk waar baksteenwoorde steen-
vir-steen afdrup teen die muur
four walls
five hundred miles away from home
love me tender
© Thomas Deacon, 2020