Posts Tagged ‘Thomas Deacon In Memoriam’

In memoriam: Thomas Deacon (4 Februarie 1942 – 21 Januarie 2022)

Sunday, January 23rd, 2022

 

 

 

Die bekende en geliefde kontreidigter en -skrywer, Thomas Johannes Mathys Deacon is op 4 Februarie 1942 op Upington in die Noord-Kaap gebore. In 1959 matrikuleer hy aan die Hoërskool Upington, waarna hy diens aanvaar aan die Kaapse Onderwysdepartement as klerk. Twee jaar later word hy die Skoolraadsekretaris op Griekwastad en is hy werksaam as Sekretaris op verskeie dorpe in die Kaap. In 1974 verlaat hy die Skoolraadsdiens en word aangestel as Hospitaalsekretaris te Burgersdorp, ’n betrekking wat hy opvolg met ’n aanstelling as Klerk van die Raad by die Afdelingsraad van Kenhardt. Hierna aanvaar hy ’n pos in die Kredietafdeling van Edgars en ná interne kredietopleiding neem hy waar as kredietbestuurder van die Noord-Kaap. Hy was getroud met Stienie en twee seuns, James en Stephen is uit die huwelik gebore.

Die gesin was lank op Kuruman woonagtig, waar hy ’n hegte vriendskap met sy dorpsgenoot en digter, Donald Riekert, gesmee het. Deacon het in 1997 afgetree en verhuis na Upington, waar hy en sy seun James saam ’n kitskosrestaurant bestuur het. Die afgetrede staatsdiensman, ouditeur en gewese forensiese ondersoekbeampte het nou voltyds sy passie as digter, dramaturg, prosaïs, liedjieskrywer en sanger uitgeleef. Deacon en sy vrou het in die laaste jare by hul seun James (Jimmy) in Port Elizabeth ingewoon. Hy is na ’n kort siekbed oorlede.

Alhoewel Deacon reeds van skooldae af skryf, neem hy eers in die tagtigerjare sy skryfwerk ernstig op nadat hy van ’n hartaanval herstel. Weens die aard van sy werk het hy baie gereis – invloede van die landskappe en hulle mense wat neerslag sou vind in sy oeuvre. Baie van sy werk word dan in die taal en idioom van die Griekwas weergegee. Sy debuutdigbundel, Sand uit die son (1989), is getint in streekstaal en berig oor die wêreld van die Noordweste. Deacon dig oorskouend oor die streek se liefde, boerdery, gesegdes en anekdotes. ’n Tweede bundel getitel Die predikasies van Jacob Oerson (1993) bied ’n ruim register van temas en sentreer onder meer rondom Oud-Testamentiese simboliek. Jacob Oerson is ’n prototipe van Moses wat geroep is om sy Griekwa-volk uit hulle ellende na die gebied oorkant die Oranjerivier te lei. ’n Viertal preke van Jacob Oerson word deur middel van die volksidioom gekommunikeer en Griekwa-plesiertjies vind uitdrukking in volksryme en -liedjies.

In 1995 maak Deacon sy romandebuut met Rooigrond, die verhaal van ’n swart man se lewe wat in Sotho-Afrikaans geskryf is. Alfred Mokgotsi probeer ontkom aan die lewenslange mishandeling van sy vader en sy omswerwinge lei hom uiteindelik na Kuruman, waar hy sterf en weer (simbolies) stof of rooigrond word. Deacon verras voorts met twee kontreikortverhaalbundels, Anderkant die Troe-Troe (1999) en Deuskant die Groot Gariep (2009). Maagmeisie (2003), op sy beurt, is ’n epiese gedig geskryf in Griekwa-Afrikaans vir verskeie sprekers of stemme; dis ’n vers wat handel oor die belewenisse van ’n Griekwa-meisie ná haar inisiasie. Deacon se voortgesette laatwerk betrek Duifiedorings (2019), ’n bundel kontreipoësie, asook Swartslang (2020), ’n spanningsverhaal. Die digter se swanesang, Minjonet en Bitterbos (poësie, 2021) het onlangs by Naledi verskyn. Deacon word ook onthou vir sy bydrae tot skooltoneel: Die herontmoeting vorm ’n tweespraak wat in 2015 deur sy kleindogter, Lucinda Deacon, opgevoer is by die Hoërskool Duineveld op Upington. Die produksie het dubbelgoud verower en is uitgenooi vir opvoering by die Klawer Kunstefees.

Thomas Deacon se verhale en poësie is in verskeie versamelbundels opgeneem waaronder Uit die kontreie vandaan, Die ding in die riete, Verneukkind en ander verhale, Groot Verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Die dye trek die dye aan en Verseboek vir seniors. Van sy verhale verskyn ook gereeld in Rapport-tydskrif.

Volgens ’n vriend van die ontslape digter, Marius de Vos, was Deacon ’n talentvolle sanger en liedjieskrywer wat twee amptelike country-CD’s uitgereik het: I won’t forget you: A tribute to Jim Reeves (2011) en Silver moon (2012). Drie van sy opnames het vir sukses gesorg op die amptelike SA Country Top 10.

Deacon word onthou as ’n aardse en nimlike mens en mentor wat oraloor gewild was.

 

baksteendrome

 

[na aanleiding van die gedig, Die hand vol vere

deur Breyten Breytenbach]

 

mamie :

hoe het ons twee gelag

toe die peerboom langs die huis

onverwags begin te blom        so vroemôre

toe die son nog water agter golwe skep

so op sy rug       so abba-abba    op sy rug

so in my baksteendroom

 

óns peerboombloeisels vroe se môremôrevreug

die agterplaas was stil soos ingeperk

maar daar’t viool          iewers viool gespeel

gespeel waar lenteblomme wals         miskien die kalfiewals?

baldadig in die wind        o, my wind my wind se kind

ou tant sien het vensters oopgeskuif

hare uitgebesem hier en daar se haar se stywe haar

sý die eens verspotte lentebloeisel

in die tuin van groot genot         nou ingeperk tot sukkelsit

het weggeteer tot klein-klein koggel-mander-lyf

bok bok staan styf : hoeveel vingers oor jóú lyf

 

pa het die koerant se letters neergesmyt

gekyk hoe mammie peerblomtrane stort

maar als is dig gegrendel         want ek is ingeperk

 

 

die vissies in die sementdammetjie

is seker nog daar          koi-koi rondomswembaljaar

koi-koi kleur-vir-kleur-vermeng

en adam in die buitekamer

seker nou net withaar adam in die buitekamer

so verweer van gras se sny

gras-gras groen gras maar hare wit soos wol

‘n engel uit die agterkamp van ingeperk

ek met my breëborspak

italiaanse skerppuntskoene en angelier in die knoop se gat

die vrou staan soos ‘n bliksoldaatjie      wag vir ma se soen

o, bloedlemoen  o, soen se soen se bloedlemoen : judaskus?

afgeskil tot op die wit se witsel sonder swart

daar’s ook ‘n present vir ma      ‘n hand vol veer se woorde

en vir pa ‘n dikleesboek en gladlensbril

 

ek het my kinders vroe-vroe boland verwoord

nou staan hul agter ma en lag  hul buitelands

blinkgebleste hare          witlyf sonder son

pa het seker nog die geweer wat oupa weggesteek het

toe die britte blitse oor die werf geblaas het

[ek ook uit my voorgeslag miskien ‘n deel gehad het]

nou ingeperk in die buitekamer van onthou

 

die wingerd hang swanger van trosse rooi en groen

pa se lyf nou weggesnoei uit die lewe oud en afgerem

bruin soos die wyn : so pers

soos droëlandstokke voor die reën se seën

net die amandelboom, my mammie

staan bloeiend in die blom en wag vir my om t’rug te kom

miskien wag abel ook op my met sy kersfeeskoor

[ai, hoe lank gelede het ek hom verloor]

abel wat kon speel en sing totdat ons huil

as woorde van sy koor so uit die monde kwyl

maar toe was hy nog ingeperk  :  ek die onaangetaste

 

ek hoor vir Wagter blaf

kom ruik hier aan my broek se pyp en blaf

blaf sy vreugde oor die werf      my blinde uitgebaster wagter

miskien moet ek vir elvis huur

om vir ma en pa te kom sing van jailhouse rock

en blue suede shoes of love me tender

 

ma se veertjie het ek ingeplant hier teen die muur

gedog daar kom ‘n hoender op

maar ek is ingeperk waar baksteenwoorde steen-

vir-steen afdrup teen die muur

 

© Thomas Deacon, Versindaba, 2020

 

–Nini Bennett