Posts Tagged ‘Thomas Tranströmer’

De Waal Venter. Paleis

Monday, November 18th, 2019

Vir steg in, En enda väldig sal,

tyst och tom, där golvets yta låg

(“Palastet”, Tomas Tranströmer)

 

Ons stap in. ’n Yslike groot saal,

stil en leeg, waar die vloeroppervlak

uitstrek soos ’n verlate skaatsbaan.

Al die deure is toe. Die lug is grys.

 

Skilderye teen die mure. Ons sien tonele,

leweloos saamgedring: skilde, weegskale

visse, vegtende gestaltes in ’n

doofstom wêreld aan die anderkant.

 

’n Beeld is geplaas in die leegte:

eensaam in die middel van die saal ’n perd,

maar eers merk ons hom nie op nie

want ons is oorweldig deur al die leegheid.

 

Sagter as asemhaling in ’n dop

is geluide en stemme hoorbaar uit die stad

malend in die verlate ruimte,

murmelend en soekend na mag.

 

Ook iets anders. Iets duisters

verskyn op die drempels van ons vyf

sintuie sonder om daar oor te gaan.

Sand loop in al die stil glase.

 

Dit het tyd geword om te roer. Ons loop

na die perd. Hy is yslik,

swart soos yster. ’n Beeld van mag self

wat oorgebly het toe die vorste weggegaan het.

 

Die perd sê: “Ek is die Enigste.

Die leegte wat op my gery het, het ek afgegooi.

Dit is my stal. Ek groei stadig.

En ek eet die stilte hierbinne.”

 

De Waal Venter. Verdiep in Tranströmer

Monday, November 18th, 2019

Hierdie gedig bestaan hoofsaaklik uit aangepaste aanhalings uit verskeie van Tomas Tranströmer se gedigte en een uit ’n gedig van Van Wyk Louw.

 

Ek het verdiep geraak

in die boek met gedigte.

Op die voorblad

is die gesig van die digter.

 

Ek het gevoel hoe ek insak,

dieper, tot by die eerste gedig.

In die nag.

Die motor se kopligte

laat huise verskrik opkyk.

 

Nog dieper: Dit is ’n groot leë saal.

In die middel staan ’n perd.

Sy hoewe stommel

op die mosaïekvloer.

 

Dieper en dieper.

Die pil los op in die glas water,

vou oop soos ’n valskerm

wat boontoe val, dieper.

 

Die klavier staan in die lig

wat skeef uit die lamp val

en neurie sag vir homself.

Dit kan nogal

’n Schubert-melodie wees.

 

Dieper die nag in

waar die sneeu aanhoudend val

soos ’n knaende gewete.

’n Uil vlieg geluidloos

oor die donker stilte

van die woud.

 

Ek volg die uil,

dieper die verlate landskap in,

tot by die reënkoue see

wat die geankerde skepe

ligweg aan die slaap probeer sus.

 

Ek dink ek het iemand

by ’n deur sien inloop,

daar was vir ’n oomblik lig

agter die deur

voor dit weer toegemaak is.

Ek dink dit is ek.