Posts Tagged ‘Thys Nywerheid’

Andries Bezuidenhout. Enigiets solank dit Frans klink

Sunday, December 9th, 2012

Ek luister deesdae gereeld na Thys Nywerheid se “Fear and loathing in Menlyn Mall”, die tweede snit van hul plaat Husse met lang messe (2008, One F Music). Vir diegene wat onbekend is met Menlyn Mall, wel… hoe sal mens dit beskryf? Dis ʼn groot winkelsentrum aan Pretoria se oostekant. Uit die liriek:

Zimbabwe vergaan, maar die son skyn, die son skyn.
Daar’s kak op die rak, maar die son skyn, die son skyn.

Dis nou as ek reg hoor.

Daar’s deesdae goeie musiek wat uit Pretoria kom. Benewens Thys Nywerheid en Die See is daar Bittereinder.

Nietemin, een karaktertrek van Pretoria is die dorp se obsessie met Franse name. Daar is byvoorbeeld ʼn voorstad met die naam La Montagne – dis waar my ma woon. Ook woonstelblokke met name soos Le Bourg, Mont Rouge en Chambord. Of só iets. Waar in Pretoria wil jy woon, hartjie? Enige plek, skat, solank dis Frans klink.

Ek vertrek vanaand Kopenhagen toe, waar dit sneeu. Vir ʼn laaste bietjie sonskyn en ʼn Sondagrit kom ek en Irma toe op die volgende toneel af:

Van nader besigtig:

Ek dink ek weet nou hoe om die Boere se weersin in Pretoria se naamsverandering te bowe te kom. Noem dit bloot: Le Tshwane.

As bonus, hier is Thys Nywerheid se weergawe van Bernoldus Niemand se “Snor City”.