Posts Tagged ‘Tom Waits’

Andries Bezuidenhout. Gedig of liriek, liriek of gedig?

Thursday, January 20th, 2011

Soms sukkel ek om te besluit of ʼn idee ʼn gedig of ʼn liriek moet word. Soms is dit eers die een en word later die ander. ʼn Baie goeie liriek sou ʼn gedig ook kon wees, maar met my is dit selde die geval, hoofsaaklik dalk omdat kwatryne met paarrym nogal oordadig kan wees. Die volgende is die eerste weergawe van die gedig van hierdie spesifieke idee, wat uit Tom Waits se “Soldier’s Things” gebore is, maar dit heeltemal wysig met ʼn ander konteks en ʼn besliste storielyn:

TESTAMENT
(Lees saam met Soldier’s Things van Tom Waits)

Bokse, koeverte, albums, leggers –
op jou instruksies hier laat aflaai.
Maak oop, pak uit, sorteer.
Ons wat met ʼn lewe se skrapnel
honger waters bootsmanloos navigeer
(ekskuseer die rym en melodrama, vriend).

Jy’s twee of drie op die strand,
Violet of Anna hou dop,
jou in die een oog, in die ander die see.
Skoolrapporte. Beste vordering, selde afwesig.
Ja, sure. In liggaam. Anders in gees.
Nou afwesig, vir altyd, vir goed.
Jikwit tennisspan, jy voor in die middel,
septer ʼn raket.
Tweede rugbyspan, melkbaarde hou aan balle vas.
Pro Patria-medalje, ongebeitsde stewels, baret,
pelotonfoto in Langa of Khayelitsha,
skote uit Ondangwa, pips, boshoed.
Ou identiteitsboek, nommer wat uitmond in 00 0,
staatsdiensgroen, pienk stempel, dié oorblufte portret
het in die 92-referendum gestem.
Varsitydas. Koshuispet.
T-hemp met the doors of culture and learning
wat somewhere over the rainbow sou oopgrendel.
Gradeplegtigheid in Bat Man-mondering.
Sjampanjeprop, spyskaart van een of ander dinee,
draft vir ʼn liefdesbrief,
dalk ʼn poging tot liriek of gedig.
Verseëlde maar verstreke government issue kondoom.
Vriende, óns, Marius, dis óns en jy
wat vir Vic Falls se sproei so lag,
oë wat op wha’ever by Voëlvry wag.

Dít alles, Marius, het jy vir ons nagelaat
en instruksies om dit ter aarde te bestel
by hierdie genommerde erf langs ander Van Wyks,
brandwagsipresse buite Wellington, Wes-Kaap, Afrika.
Wat de fok moet ons beitel in graniet,
“Hier rust Marius van Wyk niet”?
Anyway, jou testament beweer
jy’t vooruit vir die gat betaal.

Iemand laat uit Brisbane weet
die ooswind het jou as kom haal.

Ek het toe besluit om dit om te skakel in ʼn liriek vir die Brixton Moord & Roof Orkes, want my kop draai op die oomblik om nuwe lirieke vir ons volgende album. Na ʼn ernstige paneelklopsessie het dit in die volgende verander (Die stomme, wyle Marius se van moes ook sommer verander, ter wille van die ritme):

WAAR MARIUS VAN DER MERWE RUS

Koeverte, albums, leggers, ʼn boks –
op jou instruksies hier gelos.
Maak oop, pak uit, sif, sorteer,
ons wat deur jou skrapnel navigeer.

Hier’s jy twee of drie op die strand,
nog vas aan Violet of Anna se hand.
Skoolrapporte sê: Altyd daar gewees.
Ja, sure. In liggaam. Anders in gees.

Refrein:
Skerwe en flarde, wat bly oor
as jou borskas besluit om jou longe te versmoor,
foto’s, papiere, ʼn muntstuk vir die reis,
vir die gemantelde bootsman om rigting te wys?

Tweede rugbyspan hou balle vas,
melkbaarde, truie skoon gewas.
Jikwit tennisspan, jy heel voor –
die jaar toe jy jou bybel verloor.

Gradeplegtigheid, koshuispet,
Pro Patria-medalje, stewels, baret,
pelotonfoto in Khayelitsha of Langa,
boshoed, dear Johnny, skote uit Ondangwa.

Refrein

Ou ID boek wat eindig in 00 0,
staatsdiensgroen, die stempel onthul
jy’t in die laaste wit referendum gestem.
ʼn R5 noot en ʼn Parker pen.

T-hemp met the doors of culture and learning
wat over the rainbow lig sou bring.
Sjampanjeprop, spyskaart van ʼn pompous dinee,
draft vir ʼn liefdesbrief, ʼn gedig of twee.

Refrein

Verseëlde, verstreke government kondoom,
ʼn blaartjie gepars van jou daggaboom.
Vriende, óns, wat by Vic Falls lag,
oë wat op wha’ever by Voëlvry wag.

Jou testament wat in swart op wit bepaal
jy’t anyway vooruit vir die gat betaal.
Wat de fok moet ons beitel in graniet,
“Hier rust Marius van der Merwe niet”?

Op refrein se melodie:
Dít alles toe ons jou kratte oopmaak
en instruksies om dit hier ter aarde te laat
onder brandwagsipresse buite Pretoria
in ʼn genommerde erf langs jou ma en pa.

Maatskaplike werker stuur uit Brisbane nuus
vir jou as het die wind die rivier gekies.

Die melodie wat ek daarvoor geskryf het, is ʼn buierige drietyd, wat meestal tussen B mineur en G wissel, soms E mineur, my gunstelingakkoord. ʼn Lekker tranetrekker. As ons van Phoenix of Nashville was, sou dit ʼn uitstekende country tune kon maak. Ek sal dit hierdie week aan die band voorlê om te sien wat hulle daarmee wil aanvang. Baie keer maak ons veranderinge nadat ons dit ʼn paar keer tussen trom en baskitaar rondegemoker het. Die borskas wat die longe versmoor is dalk bietjie too much vir ʼn refrein.

ʼn Volgende stap sou natuurlik kon wees om van die ergste rymdwang ontslae te raak en dit weer in ʼn gedig te verander. Die liriek se einde werk vir my beter as die gedig s’n.

Die band se volgende gig, saam met Die See

Desmond Painter. November se ruiter in swart

Monday, November 1st, 2010
Barney Hoskyns se biografie van Tom Waits

Barney Hoskyns se biografie van Tom Waits

Dis al weer November. Sowat ‘n jaar gelede het ek Tony Hoagland se gedig ‘Reasons to Survive November’ op hierdie blog geplaas; gaan lees dit gerus weer, dit is ‘n fantastiese gedig! Laasjaar het ek rede gehad om so te voel: ‘November like a train wreck – / as if a locomotive made of cold / had hurtled out of Canada / and crashed into a million trees, / flaming the leaves, setting the woods on fire.’

Hierdie jaar is dinge darem ‘n bietjie rustiger… En tog kan ek nie help om op 1 November saam met Tom Waits te neurie nie (oftewel, saam met hom te grom en tjank nie):

 

no shadow no stars
no moon no cars
November
it only believes
in a pile of dead leaves
and a moon
that’s the color of bone
no prayers for November
to linger longer
stick your spoon in the wall
we’ll slaughter them all
November has tied me
to an old dead tree
get word to April
to rescue me
November’s cold chain

made of wet boots and rain
and shiny black ravens
on chimney smoke lanes
November seems odd
you’re my firing squad
November

with my hair slicked back
with carrion shellac
with the blood from a pheasant
and the bone from a hare
tied to the branches
of a roebuck stag
left to wave in the timber
like a buck shot flag

go away you rainsnout
go away blow your brains out
November

 

‘November’ het op Waits se CD ‘The Black Rider’ verskyn. Dit is ‘n wonderlike, waansinnige album, ‘n reeks ateljeeopnames deur Waits van musiek wat hy oorspronklik in 1990 in samewerking met Robert Wilson (veral bekend as regisseur van Philip Glass se ‘Einstein on the Beach’) en William Burroughs vir ‘n verhoogproduksie geskryf het. Jy kan ‘n fantastiese lewendige opname (tydens sy onlangse ‘Glitter & Doom’ toer opgeneem) van Waits se ‘November’ hier op Youtube hoor.

Andries Bezuidenhout. Amy Winehouse se digterlike stem

Tuesday, May 11th, 2010

Gister ʼn kopie van Agaat gaan soek (Michiel Heyns se vertaling), as afskeidsgeskenk vir ʼn Amerikaanse kollega wat na ʼn besoek van drie maande terugkeer Berkeley toe. Vind dit eers by die vierde boekwinkel, teen hierdie tyd al in Rosebank. Maak ʼn draai by die CD-winkel langsaan en koop ʼn kombinasie van opnames deur Arnold Schoenberg, Tom Waits en Amy Winehouse. Hoekom is ek opgewonde oor Amy Winehouse? Dalk omdat sy musikale substansie teruggesit het in pop. Dalk maar net haar verruklike beehive.

Luister gisteraand by die huis Schoenberg en onthou verlangs dat Milan Kundera al iets of wat oor hom kwytgeraak het. Vind The art of the novel op die rak en lees ʼn onderhoud met Kundera oor die musikale vorm in die roman, spesifiek polifoniese struktuur.

Ek wroeg die afgelope tyd oor stem (“voice”) in gedigte. ʼn Digterlike stem oefen jy soos ʼn sanger sy/haar stem oefen. Tom Waits het sy stem drasties verander. Amy Winehouse het die stem van ʼn vyftigjarige African American Motown-sangeres, maar die lirieke van die verdwaalde twintigerjarige wat sy is.

Kan ʼn mens, soos Pessoa, met verskillende stemme skryf? Kan jou stem soms grom, soos Tom Waits, of melodieus uit die maag trompetter, soos Amy Winehouse?

Is ʼn digterlike stem aangebore? Of kan jy dit soos ʼn instrument verfyn deur tegniek? En wat maak ʼn stem uniek?

Ek voel soos ʼn buikspreker. Dalk kan ʼn digbundel uit stemme bestaan wat mekaar polifonies weerspreek.

Andries Bezuidenhout. Tom Waits en die onderkant van die straat

Tuesday, March 16th, 2010
Barney Hoskyns se biografie van Tom Waits

Barney Hoskyns se biografie van Tom Waits

Gisteraand Crazy Heart gaan kyk, die fliek waarvoor Jeff Bridges die Oscar gewen het (dink ek, dis soms moeilik om op hoogte te bly as jy nie ʼn TV besit nie). Ek kan dit aanbeveel, veral as ʼn mens ʼn belangstelling in countrymusiek het. Na die tyd die laaste hoofstuk van Barney Hoskyns se biografie van Tom Waits gelees – Lowside of the Road: A life of Tom Waits. Ek kan dit aanbeveel. Ek het die dele oor die wisselwerking tussen poësie/letterkunde en musiek natuurlik interessant gevind. Waits het inspirasie uit die Beat movement van die 50s geput, iets vreemd in die konteks van die 70s toe hy begin optree het. Aanvanklik het baie van sy karakters geklink soos mense op Kerouac se bladsye. In die 90s het hy selfs saam met Burroughs aan projekte gewerk. Waar hy in die 70s ʼn anakronistiese lounge sanger uit die 50s was, het hy in die 80s en 90s nuwe klanke uit post-punk en hip hop omhels, deel gemaak van sy repertoire.

Die interessantste deel van die boek is egter Hoskyns se chirurgiese ontleding van hoe Tom Waits sy openbare persona konstrueer en die kere wanneer sy privaatlewe daarmee bots.

Hier’s ʼn link na Waits wat “Chocolate Jesus” opvoer op YouTube en ʼn uittreksel uit die liriek:

Don’t go to church on Sunday
Don’t get on my knees to pray
Don’t memorize the books of the Bible
I got my own special way
I know Jesus loves me
Maybe just a little bit more
I fall down on my knees every Sunday
At Zerelda Lee’s candy store
Well it’s got to be a chocolate Jesus
Make me feel good inside
Got to be a chocolate Jesus
Keep me satisfied…

Paul Riekert en Anton L’amour het al ‘n baie mooi cover daarvan gedoen.

Desmond Painter. Maak hiervan ‘n liedjie, Tom!

Monday, November 16th, 2009

Lees jy ooit ‘n gedig en dink: híérdie een moet gesing word? Sommige digters se verse leen hulle tot musiek. Ander s’n, soos dié van Ingrid Jonker, sméék as’t ware om gesing te word. Soms, as jy so ‘n gedig raaklees, het jy dalk selfs ‘n sanger en musikale styl in gedagte. Jy kan die lied al amper hoor. Tydens ‘n voordrag op Stellenbosch in 1994 het Hennie Aucamp byvoorbeeld in redelike detail verduidelik hoe hy Eugene Marais se ‘Skoppensboer’ gesing sou wou hoor; en as ek reg onthou, het hy gesuggereer wie volgens hom ‘n goeie vertolker sou wees.

Die gedig wat ek miskien meer as enige ander as ‘n lied wil hoor (wat ek eintlik alreeds kán hoor) is die Amerikaanse digter, Theodore Roethke, se ‘My papa’s waltz’. Terloops, ek moet noem dat ek hierdie gedig (of ‘n deel daarvan) die eerste keer raakgeloop het in ‘n wonderlike outobiografiese werk, Ernst van Heerden se Die ligtende trein; dit is myns insiens ‘n afgeskeepte boek in Afrikaans en beslis die moeite werd om te lees! Van Heerden skryf oor sy grootwordjare, sy reise, sy jare by Wits, die traumatiese verlies van sy bene en, les bes, enkele ontmoetings met Amerikaanse digters soos Roethke en ook e.e. cummings. ‘n Pragtige boek; lees dit gerus (weer). 

Hier is Roethke se gedig:

My Papa’s Waltz 

The whiskey on your breath
Could make a small boy dizzy;
But I hung on like death:
Such waltzing was not easy.

We romped until the pans
Slid from the kitchen shelf;
My mother’s countenance
Could not unfrown itself.

The hand that held my wrist
Was battered on one knuckle;
At every step you missed
My right ear scraped a buckle.

You beat time on my head
With a palm caked hard by dirt,
Then waltzed me off to bed
Still clinging to your shirt.
 

Roethke word veral bewonder vir sy natuurgedigte, maar wat ‘n wonderlike vers is hierdie nie! En watter aangrypende lied sou dit nie maak nie… Maar dan moet dit klink soos in my gedagtes. Niemand minder nie as Tom Waits is aan die stuur van sake, met sy geroeste stem wat aanleun teen ‘n lendelam klavier. Iewers in die agtergrond is daar dalk ‘n draaiorreltjie; of dalk ‘n temerige akkordion. Die perkussie is tuisgemaak: spykers in ‘n bottel, dronkerige stewels op ‘n houtvloer; so iets. Ja, jy moet hulle kan hoor wáls, vader en seun, terwyl die hele huis wankel.  

Andries Bezuidenhout. ʼn Stukkie Tom Waits vir die depressiejare

Tuesday, June 9th, 2009

Ek het Saterdag ʼn trui gaan soek in Eastgate, maar kon nie een vind nie. Daar is nie meer gewone blou jeans of truie sonder zips en frille en brands nie. Ek dink ek word oud. Ek het wel opgelet dat die modeontwerpers teruggryp na temas uit die 1930s. Miskien sê dit iets oor die resessie – dalk binnekort ʼn depressie?

Tom Waits bly darem ʼn ongelooflike liriekskrywer. Hierdie kom uit “Yesterday is here” van sy plaat Frank’s Wild Years. Waits het dit saam met Kathleen Brennan geskryf. Ons het dit verlede Sondagaand op die Unhappy Hour gespeel. Ek hou van die manier hoe dit tydlyne koek en knoop.

If you want money in your pocket
and a top hat on your head
a hot meal on your table
and a blanket on your bed
well today is grey skies
tomorrow is tears
you’ll have to wait til yesterday is here

[…]

If you want to go
where the rainbows end
you’ll have to say goodbye
all our dreams come true
baby up ahead
and it’s out where your memories lie
well the road’s out before me
and the moon is shining bright
what I want you to remember
as I disappear tonight
today is grey skies
tomorrow’s tears
you’ll have to wait til yesterday is here

Soms wonder ek of ek soveel daarvan sou hou sonder die wysie. Ek sou dit dan waarskynlik nie opgemerk het nie. Die verwerking is eenvoudig, met net Waits se stem, kitaar, baskitaar en ‘n tamboeryn.

  •