Andries Bezuidenhout. Die digter – vertaling van ʼn gedig deur Ko Un
Sunday, September 8th, 2013Nog altyd was hy ʼn digter.
Kinders
het na hom as ʼn digter verwys
en vroue ook.
Hy was beslis ʼn digter,
meer as enigiemand anders wat ek ken.
As hulle hom teëkom
het selfs otte en bosvarke digter gegrom.
Hy’s dood toe hy terugkeer van ʼn epiese reis.
Geen digterlike woord in sy kamer nie.
Was hy dan ʼn digter wat nie skryf nie?
Toe skryf ʼn digter maar namens hom ʼn vers
en toe dit voltooi is,
swiep die wind dit weg.
Al die gedigte van die Ooste en die Weste waai weg, oud en nuut,
fladder, fladder weg,
die laaste een daarmee heen.
Na Clare You en Richard Silberg se vertaling “The Poet” uit: Ko Un, The Three Way Tavern: Selected Poems (2006, University of California Press), p. 53.