Posts Tagged ‘trekklavier’

Andries Bezuidenhout. Loftus, Lize en die sletterige trekklavier

Monday, October 5th, 2009

Dit het alles by Loftus Marais se gedig oor die trekklavier begin. Adriaan Brand, van Springbok Nude Girls-faam, wat gewoonlik sy trekklavier wurg as Loftus die gedig voorlees, kon dit nie maak nie. Dís hoe ons toe aan Lize Wiid dink, wat gewoonlik saam met die Radio Kalahari-orkes en Laurie Levin speel.

Rachelle Greeff het as Boeke-Rapport se redakteur ʼn poësieprogram vir Aardklop saamgestel. Dis nou al so half ʼn tradisie om die laaste Vrydagaand van die fees iets met gedigte en musiek by die Boeke-Oase te doen. Hierdie keer kon ek, Danie Marais, Johannes Prins (ook bekend as Jo Prins) en Loftus Marais op die ou end instem en die logistiek agtermekaar kry om gedigte voor te lees. Ek moes sommer ook as musikant double up. Die geleentheid is “Met woorde soos met manne” genoem.

Kyk, Lize Wiid laat vele manne se woorde soos ʼn kers met ʼn uitgebrande pit stotter. Nie net het sy ʼn fenomenale talent vir musiek nie, sy is beeldskoon, to say the least. (En enigiemand wat nou oor objektivering wil aangaan, kan gaan doppies blaas – vir watter een van die twee opsies hulle ook al sin het.)

Ons sit in die Gereformeerde Gemeente se tent, waar hulle kos en drank tydens die fees bedien. Rachelle gooi ‘n vinnige party met Lize en die vier manne om oor die geleentheid te gesels. Ek en Lize oefen van my songs wat ons wil opvoer, ek met my kitaar en sy met die trekklavier. Sy figure sommer vinnig uit wat ons moet doen. Selfs “Spoed”, ʼn rock song oor ʼn beduiwelde biker, word met die trekklavier opgespice.

Nietemin, Loftus is min of meer bestand teen die uitgebrande-pit-sindroom in Lize se teenwoordigheid en dis toe lekker om te hoor hoe die twee oor die gedig praat. Dis nogal lank, met verskillende luimveranderings.

“Wat wil jy hê moet ek doen?” wil Lize weet.

Loftus trek sy neus op ʼn plooi. “Van die dele is ernstig,” sê hy, “en ander dele is weer sletterig.”

Lize se wenkbroue lig so effentjies.

Loftus sit die gedig se teks voor haar neer en sy lees dit. Hulle gesels nog ʼn bietjie en dan stel Rachelle voor dat ons almal gaan rus. Sekere mense se rooi oë speel seker ‘n rol; ek het die vorige aand net ʼn uur geslaap weens ʼn verbete kuiersessie wat vele blikkies Red Bull behels het in die Snowflake, ʼn ou meelmeule wat as kuierplek en kunsgalery dien, en ʼn vroeë afspraak in Johannesburg waarvoor ek moes terug en toe kort voor sonsopkoms sonder vlerke iewers in Sebokeng en Orange Farm verdwaal het.

Vroeër die middag het ek ʼn disaster van ʼn optrede op ʼn oop verhoog op die “bult” gehad. Die “bult” is ʼn plat stuk grond naby die universiteit waar die meeste van die fees se minder kunstige doef-doef-doef en kou-kou-kou plaasvind. Ek kon slegs twee mense in ʼn redelike groot gehoor identifiseer wat ek nie heeltemal koud laat nie en het toe maar op hulle gekonsentreer. Ten spyte van dié twee se ondersteuning, het ek een song se akkoorde heeltemal vergeet en moes rooigesig in die middel ophou.

Dalk moes ek nie eers vieruur die oggend Johannesburg toe gery het nie.

Ten spyte van my slegte bui het “Met woorde soos met manne” toe heel goed uitgewerk. Danie, Loftus en Jo het wonderlike gedigte voorgelees – een van Danie se nuwe gedigte gaan oor swak gedigte. Hierdie gehoor was meer ontvanklik vir my ou liedjies en Lize se trekklavier het wondere vir die atmosfeer verrig. Ek het van die onderliggende humor gehou, veral toe Loftus met die titel van die geleentheid spot en uitwys dat hy die enigste een van ons vier is wat nie getroud is nie, twee wat boonop nog kinders ook het – hy as die token “mannin.”

Die hoogtepunt was egter toe die duet op die maat van Loftus se gedig oor die trekklavier. In die speelse dele speel Lize speels, in die gemaak ernstige dele speel sy dramaties, en toe Loftus die sletterige deel heel sletterig voorlees, speel sy ook heel gepas heel sletterig.

Dit was ʼn besige Aardklop. Ek het min tyd gekry om produksies by te woon of om kunsuitstallings te besigtig. Ek moes ʼn paar keer my kitaar instem en vir my supper sing, of by die Boeke-Oase met mense oor boeke gesels. Alles was nogal lekker, ten spyte van die gemors by die oop verhoog. Vir my was die hoogtepunt egter die twee poësiegeleenthede – “Met woorde soos met manne” en “Oopmond” (waaroor ek eerskomende Sondag in my Rapport-rubriek skryf). By laasgenoemde geleentheid was sowat seshonderd mense. En dít vir poësie.

Dis lekker as dinge soms net uitwerk. Dis lekker as jy daardie gevoel kry dat jy deel van iets moois was. En jý weet dit en álmal wat daar was weet dit en gaan sit sommer na die tyd om ʼn groot tafel en drink die Doppergemeente se wyn in hulle tent en hulle gee nie eers om dat Loftus ʼn fire resistant cat suit het vir die oordeelsdag nie, ook Steve Hofmeyr, wat onder ʼn pet agter een van die boekrakke geluister het en ek na die tyd kon onthou dat daar ʼn man met ʼn pet aan tafel was maar nooit eers herken het nie.

Súlke oomblikke besweer soms al daardie voorbehoude wat maak dat jy alles op ʼn ironiese afstand moet bejeën en kan jy onbeskaamd aan ʼn glas wyn uit ʼn bottel met die etiket van ʼn Doppergemeente slurp en voel dís hoe dit perdalks moet wees.

  •