Posts Tagged ‘Trienke Laurie gedig’

Trienke Laurie. Coalbrook Mynramp

Tuesday, March 22nd, 2022

 

Coalbrook Mynramp

21 Januarie 1960

 

Vinger wys, vinger wys agterna –

daartoe is ons geneig

en dan sal ons ook vrae vra.

Waarom het niemand die eerste storting

van Desember 1959

aan die inspekteur uitgewys nie?

Waarom is daar geswyg?

 

Tweedegraadse steenkool

is weer gemyn in die hoër strata.

Dit laat ‘n opening

tussen die dak en die stutpilare.

 

Hier by die eksperiment

ʼn maand later, by die Clydesdaleskag

tuimel die dak in

Die lugreëlaar is kapot

en giftige gas bedreig die werkers:

koolstof monoksied  en metaan!

 

Soos miere peul hulle dadelik uit

word waarlik dreigend teruggestuur.

Twee waag dit om te weier.

Van die duisend ondergronds

sterf amper die helfte.

Die res kon vlug deur die hellingskag.

Net die hysbakman bly lewe.

Die res is lewend begrawe

het versmoor en is vermorsel.

 

ʼn Kaskade van 900 pilare kalwer in

ʼn domino-effek.

 

Die drilboor stop op doloriet.

Toe word geluister

met mikrofone soos ‘n stetoskoop:

net ‘n gedrup drup van water.

Geen hartklop.

Geen hart het toe geklop.

 

Net die Salvation Army gee sop

 

© Trienke Laurie, 2022

 

Trienke Laurie. Trustee Jordaan

Sunday, March 20th, 2022

 

Trustee Jordaan

 

Trustee wat die bruinmense bedien

het geleer as suster en was geëer.

Volgens haar man het sy – deugdelike mens –

Hoegenaamd niks deur die vloed verloor nie,

Alles en almal keer na haar terug

almal wie aan haar behoort, is ongedeerd.

 

Die duif vind die regte karavaan

maar fladder nog effens verward,

totdat die Doberman, Wagter, terugkeer,

bly blaf en blaf vir twee uur lank

dan val hy in, begin koer en koor –

die swart duif, die Homer.

 

© Trienke Laurie, 2022

 

Trienke Laurie. Mevrou Klara Jacobs

Sunday, March 20th, 2022

 

Mevrou Klara Jacobs

 

Ons het nog bly bid

terwyl ons – voete in die water –

op die dakrand sit.

 

Windpompe breek soos vuurhoutjies op.

Die lug was pikswart oor die Moordenaarskaroo

tog na die noorde trek dit tydelik oop

wys ʼn reënboog en gee ons hoop.

 

Soos Elia met die kraaie en die brood:

stroom by ons verby:

suur appels en ʼn blik Nespray.

 

My seun Maarten en sy vriende

gebruik ‘n leer wat dien as hangbrug

en help ons na Gods aarde terug.

 

* * * * * * * *

 

Iewers vang ʼn kamera-oog

ʼn Bybel oopgespoel

by Noag, die ark en die reënboog?

 

© Trienke Laurie, 2022

 

Trienke Laurie. Andries van Wyk

Sunday, March 20th, 2022

 

Andries van Wyk

 

Andries van Wyk vertel:

Dit was soos om ʼn fliek te kyk;

ek kon nie glo ek is deel daarvan.

Iewers vandaan herinner ek my:

Ek is ʼn opdrifsel

– deel van die lewenstroom?

 

Saam met my dryf letterlik:

mense katte honde meubels kratte –

die rivier se etter.

 

As iemand my nou sou vra:

Hoe gaan dit met jou?

En die antwoord is:

Dit gaan goed; ek lewe nog,

dan dra dit soveel meer gewig.

 

© Trienke Laurie, 2022

 

Trienke Laurie. Flip van der Westhuizen

Saturday, March 19th, 2022

 

Flip van der Westhuizen

 

Ek sien die vloedfliek van die brug.

As spoorwegman sê hulle my aan:

“Keer weg die treine,

rangeer hulle uit die dorp.”

Daardie rampdag sien ek

die treinbrug keer vereers die watervloed;

die brug word ʼn damwal.

 

Laingsburg is sowaar gebou

reg in die rivier se pad.

Ander kere het seuns met skuite afgeroei

in die strate parallel met die rivier.

Hierdie keer het hulle sy stootkrag onderskat.

Op die rampdag vloei saam met die Buffel

ook die Wilger -en die Baviaans-.

 

Teen vyfuur krom die Buffel sy skof

met ‘n drukte van tonne water per sekonde

en ʼn oorverdowende gebulk,

gaan dit rof, voel ek om te vlug!

Die opvulwalle kalwer weg, gee mee

en die rivier maak see.

Toe die treinbrug  knak,  het ‘n wolk pikswart

oor Laingsburg kom hang.

Die breekspul het ‘n suigaksie laat ontstaan.

Mense was op dakke vasgekeer

maar toe word kleihuise meegesleur,

val dak na dak na dak en,

wanneer die huis val

ontplof dit in ʼn wolk stof.

Hier onder my is alles leeg- weggeveeg!

Nie eers die beste swemmer sou oorleef.

 

Net ‘n effense reën en ek onthou –

veral ook die aand dit was ‘n donkermaan…

Ek gaan haal my vrou waar sy werk in die hotel

maar ek raak vir my eie hande bang,

terwyl geen maantjie hang.

By ‘n huis gly ʼn vrou uit

op die water          uit dieselfde huis,

ook ʼn reuseteddiebeer op ʼn sponsmatras.

Jy sien die dinge gebeur, is magteloos,

geen mens kan gaan help nie.

Stemme roep uit, word stil…

 

Wie sou kon dink hoe swaar en wreed

ʼn reën kon wees, so wreed

dat ek nie meer oor reën kan juig nie

maar bang word as dit mot.

 

© Trienke Laurie, 2022

 

Trienke Laurie. Terwyl ek skryf

Saturday, March 19th, 2022

 

Terwyl ek skryf

 

Terwyl ek skryf, my inleef in die Laingsburgvloed

stamp ek per ongeluk my waterglas

verdrink: rekeninge aandenkings foto’s

en my kamtige notas…

Nou kan jy herskep, word gered

as jy iets weet uit so ʼn vloed

jou kruk – jou konka gassilinder vlot

die wagwoord, die wagwoord

 

Jy verhuis van die nou

en ontvlug in die onthou:

die oorvloed van materie,

ook van geestelike inligting en boeke

jy is be-in-vloed

gebreinspoel?  Oorrompel onderdompel

Wanneer word jy weggeraap?

Is daar olie in jou kruik;

Nou gelouterde water in jou glas?

 

© Trienke Laurie, 2022