Posts Tagged ‘Trompsburg’

Andries Bezuidenhout. ʼn Lug sonder helder wolke

Wednesday, August 1st, 2012

Vir ʼn hele paar jaar was Molenstraat 3 in Trompsburg my tweede adres. Met ʼn oorslaap op die dorp tydens een van die Brixton Moord & Roof Orkes se rare toere Kaap toe het ek gaan stap. Op die dorp se soom, langs die tennisbaan, was ʼn pragtige huis met ʼn gewel uit die 20s, ʼn stoep en ʼn sonkamer op die hoek. Dit was leeg. Te koop. Met elke oorstop op die dorp het ek weer gaan kyk. Die “Te koop” voor die huis het op dun staalstelte bly staan. Dis dié dat ek toe plan maak. In ʼn land soos Suid-Afrika, waar miljoene mense sonder ʼn behoorlike dak oor die kop moet gaan slaap, is dit obseen as iemand twee huise besit. ʼn Paar morele akrobatiese toertjies later het ek dit saam met familielede gekoop. Die huis sou ʼn skryfplek word.

Vir ʼn tyd lank was dit wél die geval. ʼn Slag of wat het ek selfs vir Karel Schoeman in die winkel raakgeloop en hom nie gesteur nie, soos ek weet hy dit sou verkies. My digbundel is in Molenstraat 3 afgerond, asook koerantrubrieke wat op die vloer uitgepak is om een of ander struktuur vir ʼn bundel te vind.

Vir die grootste deel van die jaar het die huis egter leeg gestaan. Twee jaar gelede het ʼn bende besluit om daar in te trek en dit as basis te gebruik om die hele distrik te besteel. Hulle is deur ʼn buurman en die polisie betrap en sit nou in die tronk. Ek kon myself nie weer so ver kry om terug te gaan en daar te skryf nie. Vriende en familie het soms nog oopgesluit, uitgevee en afgestof om te kuier. Bacchus Nel se toergeselskap het byvoorbeeld onlangs daar oorgeslaap. Hulle was egter ook koeriers vir sleutels en ʼn koopkontrak.

Gister het ek vir die eerste keer in meer as twee jaar teruggekeer. Ek het alles in bokse gepak en die trekmaatskappy ingewag. Nie ʼn helder wolk in die lug nie.

Ronel Nel. Trompsburg se beskuit is die beste

Monday, September 21st, 2009

Ek en my geliefde en sy dogter Mia het onlangs vir twee weke weggeloop en in die kleindorpse katedraal van Trompsburg gaan skuil. Gaan skryf en wyndrink en kuier in die plaaslike hotel – die Midway, bekend aan vele Gautengse kunstenaars wat jaarliks afkoers KKNK toe. Daar het ons saam met die eienaars Joan en Alberto rugby gekyk en goedige bakleierye oor ons onderskeie provinsies uitgeryg. Hulle skree onderskeidelik vir die Cheetahs en die WP; ons skree onderskeidelik vir die Bulls en die Haaie. Nie dat die eintlik saak gemaak het nadat die Bokke sulke groot ore vir die All Blacks aangesit het nie…

 

Ons was knus weggesteek in vriende Andries en Irma se lieflike huis. Trompsburg is ‘n plek vol ruimte en windpompe, en sawens kan jy in die stilte die getjiertjierie van die pompe hoor, nou en dan onderbreek deur ’n uil se eensame, vraende whoo-hoo. Bo teen die bult in Molenstraat, reg langs die dorp se tennisbaan, waarheen die dorp se kinders middag na middag stroom om hul balvaardighede te kom slyp. (Trompsburg is bekend om sy tennis, en hul spanne wen jaar na jaar die streeksliga.)

 

Vrolike, laggende kinderstemme so laatmiddag bring ‘n groot gevoel van hoop. Iewers is daar nog gelukkige kinders. En so beteken dit dat alles nie grou en verlore is nie, al het ’n vorige palm psalm so geskimp…  (Skies, ek weet hy was reeds op die blog, maar nou maak dit veral sin.)

 

 

 

hond blaf, ons bluf/iewers klink die diep gesang/van die maan se swanger gang/en o, my lief, in ’n kleindorpse katedraal/is ons albei immense/en is ons albei verdwaal

 

Die grootste vreugde het egter van skuins oorkant ons gekom. Oom Klasie se vrou se beskuit. Ek ken nie haar naam nie, dink dis tannie Elsie. Sy maak anysbeskuit soos dit sekerlik in Bybelse tye ontwerp is. Mens wil gedigte skryf oor daardie beskuit. Ek het probeer, maar die woorde wou nog nie verby die anys stu nie. Dit is van daardie beskuit wat jy so in die koffie doop en dan vinnig moet hap voordat dit uitmekaar slons. En dan moet jy boonop nog ekstra koffie skink, want jou koppie is half leeg geslurp deur daardie beskuit. 

Kos kan soos woorde wees, het ons weer ontdek. Dit maak iets meer as net die maag vol. Jou hart raak ook betrokke. Ons het sakke vol teruggebring. Elke oggend as ons so die sakkie-koffie brou en in haar beskuit inhap, onthou ons weer die kinderstemme. Onthou ons die windpompe en die uile…

Beskuit is soos woorde. Miskien lê die gedig in daardie eenvoudige sin. Mens moet hom net gaan ontgin. 

 

  •