Posts Tagged ‘TT Cloete’

Heilna du Plooy. Waar die poësie ‘n digter gaan haal

Wednesday, June 29th, 2011

Waar die poësie ‘n digter gaan haal

Deel I

Jasper van Zyl

Jasper van Zyl

Die titel van Jasper van Zyl se bundel Die lewe tussen pikkewyne kom uit ‘n gedig “dit is nes jy daar sê, ja” (p. 20). In die gedig is ‘n spreker en ‘n “jy” saam in ‘n bootjie en hulle trek “silwer vissies” uit die see. Die gedig begin met die volgende gedagte: “soms is dit só dat een mens/ deur ‘n ander kan praat”.  Die leser besef dat die “jy” in die gedig waarskynlik verwys na ‘n alter ego of ‘n ander persona van die self wat die boot met die spreker deel. Die boot is eers staties, rustend, “in utero”, maar die “jy” wat die “taal van meeue” praat, droom dat hulle strand. Die boot bots dan ook onverwags teen ‘n ysberg en die spreker en die “jy” moet op die ys verder lewe. Die verloop van die boottog is nie beplan nie, dit gebeur asof dit so bestem is buite die bootvaarder self om. Die stranding op die ys is egter wel duidelik onvermydelik en ontkombaar. Die lewe word in nuwe omstandighede voortgesit en hierdie lewe word uiteindelik ‘n manier van bestaan, ‘n yslewe tussen pikkewyne. Die “jy” wat ook soos ‘n geliefde uitgebeeld word, is “pragtig” en “yslik mooi”, lieflik en koud, maar ook groot, vir my dus onder meer ook in die sin van ysingwekkend. Die buikspreektaal van die geliefde is geheimsinnig en versluierend soos vaal rook.

Dit is vir my ‘n poëtikale gedig wat verwys na die onvermydelikheid van die poëtiese aktiwiteit, van die digterskap wat sigself soos ‘n ysberg aanmeld, wat aandring en sigself selfs opdring, wat alles in ‘n ander rigting stuur: iets wat pragtig is, maar ook ietwat skrikwekkend en waarteen die digter styf slaap totdat die koue warm word.

Pablo Neruda

Pablo Neruda

Nou het Antjie Krog ook al gepraat van die “snode ys” van die poësie, maar die gedig het ook by my ander gedigte opgeroep wat gaan oor die onontkombaarheid van die digterskap en die digtersaktiwiteit. In Van Zyl se gedig is daar twee gedagtes wat hier ter sake is. Die eerste is dat die digterskap nie gekies word nie, maar soos ‘n ysberg aanmeld, dat dit iets is wat in die digter se weg kom staan. Die ander gedagte het te make daarmee dat die digterskap, die poëtiese aktiwiteit of dalk ook die gedig self, intimiderend, bedreigend of koud is, maar ook vreugde bring, dat dit ‘n ander manier van lewe is wat die digter dan aanvaar.  Die idee dat die digter nie sy rol as digter kies nie, maar as ‘t ware gekies word, dat die digterskap die digter kon roep of kom haal en dat die digter dit opvolg ten spyte van alles, kom dan ook meermale in gedigte van bekende digters na vore. Ek gaan hier net enkeles noem wat vir my besonder mooi is. Die eerste is die gedig “Poetry” van Pablo Neruda, waarin die digter vertel hoe die poësie hom kom haal het en hom aan die wind oorgelewer het op die mees bevrydende manier.

Poetry
          – Pablo Neruda
And it was at that age … Poetry arrived
in search of me. I don’t know, I don’t know where
it came from, from winter or a river.
I don’t know how or when,
no they were not voices, they were not
words, nor silence,
but from a street I was summoned,
from the branches of night,
abruptly from the others,
among violent fires
or returning alone,
there I was without a face
and it touched me.

I did not know what to say, my mouth
had no way
with names,
my eyes were blind,
and something started in my soul,
fever or forgotten wings,
and I made my own way,
deciphering
that fire,
and I wrote the first faint line,
faint, without substance, pure
nonsense,
pure wisdom
of someone who knows nothing,
and suddenly I saw
the heavens
unfastened
and open,
planets,
palpitating plantations,
shadow perforated,
riddled
with arrows, fire and flowers,
the winding night, the universe.

And I, infinitesimal being,
drunk with the great starry
void,
likeness, image of
mystery,
felt myself a pure part
of the abyss,
I wheeled with the stars,
my heart broke loose on the wind.

Dit bly net eenvoudig ‘n gedig om weer en weer te lees en vreugde te hê aan die vloei van gedagtes, die ritmiese oorgange wat ikonies is van die vloeiende aard van liriese denke. Wat my ook bly opval, is dat dit nie net gaan om liefde vir woorde nie, ook nie oor gedagtes nie, maar oor ‘n lewenswyse: die poësie self is iets onbenoembaar wat ontbrand in die binneste en dan ontsyfer moet word. En terwyl Neruda praat van die intuïtiewe aard van sy eerste pogings, is die gedig self wel deeglik samehangend, lieflik in sy eie logika. Oor hierdie gedig moet daar dan ook inderdaad nie veel meer gesê word as net om iemand aan te moedig om dit weer te lees nie.

‘n Ander gedig wat die gedagte aanbied dat die poësie voor die digter kom staan, hom in ‘n ander rigting dwing, is “Earthy Anecdote” van Wallace Stevens. Nou is dit so dat Stevens self geen kommentaar wou lewer op die poëtikale interpretasie van die gedig nie en bloot net gesê het dat te veel interpretasie die pret van die gedig as sodanig bederf. Hoewel die gedig natuurlik as ‘n soort allegorie op baie verskillende sake van toepassing gemaak kan word, het Stevens nie die poëtikale interpretasie ontken nie.

 

Earthy Anecdote

                   Wallace Stevens

 

Every time the buck went clattering
Over Oklahoma
A firecat bristled in the way.

Wherever they went,
They went clattering,
Until they swerved
In a swift, circular line
To the right,
Because of the firecat.

Or until they swerved
In a swift, circular line
To the left,
Because of the firecat.

The buck clattered
The firecat went leaping,
To the right, to the left,
And
Bristled in the way.

Later, the firecat closed his bright eyes
And slept.

In hierdie gedig word die misterie van die “firecat” (die volksnaam vir die bergleeu), wat so “bristle” en daarmee die bokke wat reguit wil hardloop, dwing om van koers te verander, op geen manier nader toegelig nie. Stevens bly hier getrou aan sy uitspraak: “Poetry must resist the intelligence almost successfully”. Nogtans, net soos by Neruda, is die poëtiese kwaliteit van die segging buite tyd en ruimte uitsonderlik goed. Edmund Wilson het van Wallace Stevens se werk gesê: “Even when you do not know what he is saying, you know that he is saying it well.”

TT Cloete
TT Cloete

‘n Ander merkwaardige poëtikale gedig is T.T.Cloete se “penkop hoor meer as een stem” waarin die digter sy digterskap as ‘n soort roeping sien. Dit is nie vir hom maklik nie, hy voel homself onwaardig en te swak, nie taai genoeg nie, nie weerbaar genoeg nie, maar hy moet voortgaan. Tog word die digterlike werk ook ‘n troosmiddel, ‘n verweer, ‘n tuiste op sigself.

 

 

 

 

penkop hoor meer as een stem

          T.T.Cloete

Hy wat my gemaak het, weet alte goed
ek is dun van vel, sonder harnas, gebukkel.
Ek vlug swaar, loop met groot gesukkel,
skraal, klein van moed.

Ek is geen goeie soldaat
en geen wenner nie, nie kordaat
of dapper nie, swak is my gelaatstrekke
en my hele lyf is vol teer oop achillesplekke.

Tog is ek – deur Wie nou weer? – aangesê:

Ek wil juis jóú liggaam in die slagveld hê.
Skryf op,
Ek hou jou dop.

Hulle sal jou op albei wange slaan
en op jou mond, maar hou aan.
Loop heel voor en loop regop.
Daar is ook vreugde en geluk
maar ook dáárvoor sal jy rondgepluk
en gestamp word. Kom sukkelaar, kom penkop.

Oefen goed om te koets.
Dè, hier is jou stewels, slaapsak en pauliniese tent.
Leef soos Godsjakkalse bloot. Slaap orent.
Gaan ongewapen en barrevoets
en leer om te hol. Wees paraat…

Hoe? Dit is eenvoudig:
in die blote gedig.
(maklik gepraat)

“Waaroor mag ek skryf en hoe,
wat is toegelaat en wat is taboe?”

“Vra hulle wat weet wat God alleen weet.” Tjoepstil
is Hy oor wat Hy met my wil.

Soek antwoorde
uit die ongehoorde…

… snags hou ek my hande ongetroos
uitgestrek. al my nadink bring net vrae,
hou my slapeloos.
Ek dink my verslae.

 

 

En, o ja, om van honoreer te praat –
dit is doelbewus nagelaat.
Om net aan die kaktus te vat
is voldoende, tydelik… gaan daarop prat.

Jy moet op pynlik vreemde maniere leer
om waardeloos te waardeer.

So word jy kerngesond
gereed gemaak vir die ergste wond.

Steeds neem die dinge in ons vorm aan,
steeds is daar in ons nuwe onstaan

as jy kaalhande skryf-skryf
die dorings van die turksvy afvryf.

Hierdie slotmetafoor is een van dié wat ‘n mens nie maklik weer vergeet nie: die dorings van die turksvy word skryf-skryf afgevryf.

Die poësie is dus koud en blootstellend. Jy kan dit egter tot warmte slaap, dit kan die turksvydorings help wegskryf en dit is die bron van voortdurende vernuwing. Nogtans dwing die poësie die potensiële digter en selfs die gevestigde digter tot stilstand teen die ysberg of voor die “firecat” se grimas en trillende pels. Uiteindelik gee die poësie die digter vleuels wat hom, in Neruda se woorde, dra op die wind.

 

Deel II

 

Nou weet ek ook van ‘n ander geval, van iemand in ‘n ander lewe soos in ‘n ander land. Hy het altyd graag stories vertel en het dit later ook begin neerskryf. Op ‘n keer stuur hy ‘n storie vir ‘n (nogal!) literêre tydskrif. Die verhaal het inderdaad verskyn en hy het dit geniet om sy woorde in druk te sien. Sommer so in sy eie stilligheid want die verhaal is gepubliseer onder ‘n skuilnaam.

‘n Tyd later skryf hy weer ‘n verhaal en stuur dit na dieselfde tydskrif. Die verhaal is ook aanvaar en gepubliseer maar wel onder sy eie naam. Dit het hom geïnspireer en hy het ook ander verhale geskryf waarin hy probeer het om op subtiele maniere die kwesbaarheid van mense uit ‘n ongewone hoek te benader.

Op ‘n dag kry hy uit die bloute ‘n brief van ‘n redakteur wat by ‘n uitgewer werk. Sy het geskryf dat sy die verhaal in die tydskrif gelees het. Sy het dit baie geniet omdat dit oorspronklik en vol lewe was en sy het gevra of hy nie nog sulke verhale het nie.

Die man (hy was geen skrywer nie en het homself ook nie so gesien nie) gaan krap toe in sy laai en soek ‘n stuk of ses verhale uit, onder meer ook die een wat die positiewe kommentaar uitgelok het. Hy stuur dit na die uitgewer, hou sy hart so ‘n bietjie vas maar gaan tog gewoon aan met sy lewe wat op sigself heeltemal vol genoeg was.

Na ‘n taamlike verloop van tyd (hy het in elk geval geen idee gehad van hoe lank sulke dinge sou kon neem nie en het ook glad nie heeltyd daaraan gedink nie), kry hy die pakkie verhale terug met ‘n verslag daarby. Tot sy totale verstomming is die verhale uiters negatief ontvang en wel deur dieselfde redakteur.

Selfs die verhaal wat aanvanklik die aandag van die redakteur getrek het, was nou vir haar glad nie goed nie.

Nou moet daar seker bygesê word dat dié dinge gebeur het in ‘n tyd wat daar in dié bepaalde letterkunde ‘n paar opspraakwekkende boeke verskyn het, boeke wat alles oopruk en seks en politiek eksplisiet en direk en lekker sappig uitbeeld. Mens kan dit ook verstaan dat sulke boeke ‘n uitgewer se droom is, dat verkoopsyfers ‘n onbetwyfelbare troos is in enige uitgewersbedryf. Besigheid is immers besigheid en nie liefdadigheid nie.

Die redakteur se verslag was inderdaad min of meer in dieselfde trant geskryf: dat die markplek bepaal wat gepubliseer kan word en dat dit nou die tyd is om oop te maak en uit te ruk. Daarna vat sy toe elke storie en tot die man se verbasing (en ontnugtering, het hy later ook teenoor homself erken) was haar beswaar teen elke storie presies gerig teen dit wat in die bedremmelde skrywende mens se oë die kern van die spesifieke verhaal was.

As ‘n onervare skrywer en baie bewus van sy gebrek aan ervaring en kennis in die praktyk van skryf, het hy gedink hy moet dit dus aanvaar dat sy verhale oor onderwerpe handel waaroor niemand wil lees nie. Hy het in elk geval ook vermoed en aanvaar dat die verhale nie goed genoeg geskryf was nie, want anders sou dit immers ‘n beter impak moes hê. Wat hom wel verbaas het, was dat die verhaal wat aanvanklik die redakteur se aandag getrek het, so sleg daarvan afgekom het. Op die hele manuskrip self was lang strepe getrek en die geheelindruk van die verslag en die kwaai strepe was dat die stories die redakteur geïrriteer het. Hy was nogal geskok oor dié duidelike irritasie. Later het hy wel gedink dat hy dalk te sensitief was. Dit is inderdaad ook moontlik dat hy hom misgis het oor die irritasie wat hy raakgelees het in die verslag. Maar, meer as duidelik het die man die boodskap gekry! Want dom was hy nogal nie en selfs ‘n onnosele sou dit nie kon misverstaan nie. Hy het geweet dat sy geskriffies gebêre moes word, so spoedig en so stilletjies as moontlik as hy met enige waardigheid nog vir homself in die spieël wou kyk oor die skeerseep heen.

Desnieteenstaande het hy selfondersoek begin doen en besluit sy belangstelling in die lewe gaan oor die agterkante van die bestaan, oor dit wat agter dinge lê, dit wat van die onderkant af die oppervlak beïnvloed. Hy het ook begryp dat hy meer geboei word deur wat dinge beteken as deur die feit dat dinge gebeur. Hy het ook besef dat hy lewe in ‘n tyd wat vra vir aksie en direktheid, beslis “showing” en nie “telling” nie, en nog minder bespiegeling oor vertel en oor die verhaal. Dit is net vir die groot skrywers beskore en dit sou hy immers nooit wees nie. Hy het besef hy sou op sy beste ‘n gewone skrywer kon wees, maar dat hy dalk ‘n bietjie van ‘n anachronisme was. Hy het ook gewonder of hy dalk leef in ‘n tyd met ander oordele as dié waarmee hy van nature geprogrammeer was. Hy het aanvaar dat hy nie in staat sou wees om ‘n storie te skryf, ‘n kortverhaal of ‘n roman, waarin sy belangstelling in onderliggende filosofiese kwessies goed genoeg verhaalmatig ingewerk sou wees dat mense dit interessant sou vind nie.

Sy lessenaar by sy huis het aan die een kant laaie en aan die kant ‘n deurtjie met twee rakke gehad wat deurloop tot aan die ander kant van die lessenaar. Dit was dus regtig diep rakke en daar het hy die pakkie stories tot teen die agterste houtwand ingeskuif. Dit was nogal ‘n bevryding want hy het besef dat as hy met die storieskrywery sou wou aanhou, dit hoër eise aan hom sou stel en dat hy homself daarvoor nie opgewasse gevoel het nie. En, het hy besluit, wie wil nou sy mislukkings of onvermoë openbaar maak as dit nie nodig is nie. Waarom sou ‘n mens jou blootstel met iets waarin jy kennelik nie goed genoeg is nie? Dit is buitendien geen ramp of skade van formaat nie. Dit raak hom en niemand anders nie. ‘n Mens se saak is immers jóú saak. Hy het so half lig gevoel asof hy ‘n las afgelê het. Daarmee was die verhaalskrywery op ‘n einde.

Met verloop van tyd kom hy toe agter dat hy wel steeds soms behoefte het daaraan om met woorde te werk. Hy begin toe sulke los aantekeninkies maak, kort sinnetjies en frases en hy begin dit baie geniet om met die subtiliteite van die taal te speel. Dan bêre hy dit in die rak voor die hopie stories en vergeet dit. Dit was vir ‘n lang tyd sy geheim, ‘n heerlike speletjie waarvan niemand weet nie. Die persoonlike erns daarvan was sy saak alleen en die gebedskraal stringetjies woorde was aan geen toetsing behalwe van homself onderworpe nie.

Maar op ‘n aand sien hy dat van die skryfseltjies ander patrone begin maak, sinstrukture of klanke wat herhaal en ‘n gedagte wat gestel en omgedop kan word. Hy kon ook sien hoe hulle bymekaar aansluit, hoe daar klein kettings gevorm word. Later het hy ook agtergekom hoe iets so broos soos ‘n ritmiese patroon wat herhaal ‘n lang gedagtegang kan saambind. Hy kon by die vrae wat hom interesseer uitkom sonder om dit in ‘n storie uit te weef en kon dit direkter aan die hand van metafore doen.

En op ‘n dag het hy gesien dat hy byna sonder om dit te besef en gewis sonder dat hy dit beplan het, reeds ‘n gedig geskryf het. Nie juis ‘n goeie gedig nie, maar nogtans ‘n gedig. So gewoon en onvoorsien het dit gebeur.

Jare later het hy geweet dat dit vir hom ‘n kosbare besit geword het, hierdie gedigte wat hy geskryf het sonder om dit te wil of te beplan, hierdie woordkettings en -konstruksies wat so vanself na hom toe gekom het in die plek van die mislukte verhale. Hy het iets afgelê sonder om aan plaasvervanging te dink en tog het daar iets opgedaag, soos ‘n toegif. Dit was vir hom meer as ‘n geskenk, dit was, ja werklik, ‘n toegif, iets ekstra en bykomend, wat hy ten spyte van enige tekortkominge daarin nooit sou wou bevraagteken nie en ook nooit sal wil aflê nie.

So het die poësie ook hierdie klein en onbekende digtertjie kom haal, maar die gedig daaroor moet hy nog skryf.

Uit die wit lig van my land gesny. Vir Anna.

Wednesday, April 20th, 2011

Uit die wit lig van my land gesny.  Vir Anna.  `n Versamelbundel. TT Cloete.

Pooka Uitgewers. ISBN 978-0-620-49815-9. Prys: R180. 115 bladsye. Hardeband.

 

Resensent: Zandra Bezuidenhout

 

 

Omslag

Omslag

`n Aangename verrassing vir poësieliefhebbers was die onlangse verskyning van twee bundels deur die veelbekroonde TT Cloete – deur baie beskou as ons grootste lewende Afrikaanse digter. Onversadig (2011) is voorafgegaan deur Uit die wit lig van my land gesny: vir Anna (2010), laasgenoemde `n versameling verse waardeur die digter hulde bring aan sy eggenote wat hom in 2007 ontval het. In sy insiggewende inleiding noem Cloete dat die bibliofiele uitgawe van slegs 150 eksemplare tydens die vrystelling by Aardklop 2010 uitverkoop is, wat `n herdruk in gewone formaat genoodsaak het.

Soos dit uit die inhoudsopgawe blyk, het die digter nie gewag tot ná die dood van Anna om aan haar `n prominente posisie in sy poësie toe te ken nie. Vanaf sy vroegste bundels teken hy reeds die profiel van sy geliefde, en met haar afsterwe in 2007 word dit voorlopig in die slotafdeling van hierdie versamelbundel volvoer.

Die gedigte gaan egter nie slegs oor Anna as persoon nie, hoewel haar klein afbeelding op die voorplat tesame met die opdragwoorde daardie indruk mag skep. Dit is eerder `n bundel oor die wonder van `n verbintenis; die deelwees en opgaan van liefdesgenote in mekaar. Aansluitend hierby word die geborgenheid van huis en tuin, asook van die gesinsverband, beklemtoon. Vir die spreker is dit binne hierdie koesterende ruimte dat die mens sy sterflikheid en stoflikheid deur die liefde oorwin. Terselfdertyd is daar die bewustheid dat die aardse binding eindig is, want hoewel ons saam verkeer in die net van liefde, vreet die spinnekop van die dood ons “een vir een eensaam tot harde leë beentjies en windligte dop” (“ons almal”, 65). Die aanbod van die bundel is gevarieerd, en gedigtitels wat wissel van “griekse beelde louvre” en “Vroue van Vermeer” tot “Reis na Namakwaland” en “Seepbelsondagoggend” verraai die spreker se ingesteldheid op die skoonheid in al haar vorme.

Anna word nietemin die oerbeeld van die ewige minnares, die een wat `n leeftyd lank bemin word: liggaamlik, geestelik, verstandelik en meer. Haar “profiel” (uitgesny, soos die bundeltitel suggereer) vorm weliswaar die hart van die bundel, en haar voorkoms word op verskeie plekke in fyn besonderhede besing. En tog is dié portrettering maar `n spoor na haar innerlike en haar magiese teenwoordigheid vir die spreker. Die profiel verkry hier `n ruimer tekenwaarde en verwys na die wese van die liefdesgenoot as aardmoeder, gewer, muse en maat. Uiteindelik kan dit gelees word as `n metafoor vir die vroulike komponent in elke diep bevredigende man-vrouverhouding.

Cloete gebruik as een van sy bundelmotto’s (en ook as titel vir die slotafdeling) die woorde van Dante uit sy Goddelike Komedie: “Die Liefde wat die son beweeg en die ander sterre.” So `n liefde, sê die spreker in die gedig “gratis 1” (83), “ontsnap uit die grepe van die taal” en “het behoefte/ aan `n gans en al ander naam”, terwyl die suiwer lyflike wel in “lippetaal” omskryf en besing kan word. Nogtans vind Cloete in sy persoonlike tekenleer die woorde om iets van die grootsheid van `n allesomvattende liefde uit te beeld.

Die digter skram nie weg van liggaamlike detail nie, maar vermy banaliteit. Hoe raak verbeeld hy nie Anna se jeugdigheid in haar “jongmeisie-regop haarveergang/ met die klein ferm sampioene malvasag” nie, gevolg deur “hoe jy oor die 100 tree-hekkies gly/ met die skoot oop en die dye” (“skering en inslag”, 78). Elders transponeer hy die sinchronie van die liggaamlike liefde na die intieme samespel van musiekinstrumente (“konsert van die verliefdes”, 54, en “klankkoïtus”, 55). Waar die vleeslike oorstyg word, raak die gedig aan die sublieme, om daardeur `n flits van die onsienlike te gee.

In haar toestand van aftakeling besit die vrouefiguur vir die spreker `n delikate maar wrange skoonheid: “los lê sy in haar vel. in haar skil/ lê sy nartjie. geel en deurskynende lig/ lê satynsag op haar sweetgesig” (“siek vrou”, 75). Meermale is daar sprake van die lig wat haar omgeef, ook wanneer hy haar beeld op `n vroeëre foto oproep: “geprofileer in `n diep leunstoel, bene gekruis,/ […] by die venster in die lig/ van die blink see en geel wasige donsson/ dromerig mymerend en byna deursigtig// skimmig geskryf met lig” (“foto van vrou by die see 1966”, 95). Maar die motief van siekte en aftakeling gaan ook gepaard met skrik, want in “roffelkonsert” (80) is die spreker bedag op die laaste slag van die hart: “na énige slag kan die timpaan/ oorslaan toeslaan”. Daarby is `n noodkreet hoorbaar in “ambraal-woordeboek” (86) waar alle moontlike middele van heling aangeroep word om die pyn te haal uit die wrede speletjie met iemand vir wie die spreker “ongeneeslik liefhet”. Selfs die weersinwekkende detail van die siekte word vir die gedig sinvol benut in “goeie helder Saterdag” (97) as teken dat die aarde weer van ons terugeis wat ons daagliks inneem: “vir ons self afstootlik. herinner sy ons aan ons aardsheid// sy doen dit langsaam tot sy ons self vat”. In kontras daarmee, en ter relativering, staan die voortgang van daaglikse aktiwiteite as “die lewe wat skreeu en gil/ en in die hande klap”.

Een van die winste van die bundel is dat die gevaar van sentimentaliteit, wat dikwels in gedigte van hierdie aard op die loer lê,  knaphandig uit die verse geweer word. Daar is geen oormatige “soetheid” nie; eerder `n nugtere, dog gevoelige verwondering, en in daardie paradoks lê die trefkrag. Slegs groot digters kan dit vermag, en deur Cloete se kunstenaarsblik, aanvoeling en geoefende hand fnuik hy die lokval van oordrewe verering en omskrywing. Daarom is sy verse tegelyk eg, oortuigend en ontroerend. Wat die leser veral bybly, is die teerheid en respek – en `n bewustheid van die heiligheid van huweliksgeluk. Dit verbaas dus nie dat die verwondering van die spreker soms  kosmiese proporsies aanneem nie, soos in “vrouson” (82):

 

die lig kry sy krag uit die hare

van `n vrou   die son is hare

sy was haar hare in supernova-blou lig   sy gooi

haar kop wielend agteroor sy strooi hoepelstierte rooi

superprominensies uit   sy skud orkane los

parabole deur die groot ooptes van die kosmos

sy   my sonvrou   uit haar turkoois harebos[.]

 

Daar is reeds uitvoerig geskryf oor Cloete se vorige bundels waaruit gedigte vir hierdie versameling gekies is. Dit sou dus herhalend wees om weer in te gaan op die verstegniese middele wat deur die digter hanteer word, waarna daar onder meer in my resensie oor Heilige nuuskierigheid  (2007) in Tydskrif vir Letterkunde 44(1) verwys is. Opsommenderwys kan daar genoem word dat lesers in hierdie versamelbundel weereens (en met ewe groot genot) sal kennis maak met Cloete se vindingryke en vernuwende taalgebruik, sy sensitiwiteit vir die natuur en sy besondere belesenheid. Sy verse word verryk met name, byname, en die benoeming van dinge en plekke. `n Mens hoef maar net weer “ambraal-woordeboek” (86) en die vyfdelige “roetes op soek na jou” (101) te lees om onder die indruk van hierdie digter se verstegniek te kom.

Cloete was uit die staanspoor `n gerekende digter, en van die vroeër verse wat in hierdie versameling opgeneem is, maak `n ewe sterk indruk as die nuwe toevoegings. Van die treffendste reëls in die versamelbundel kom voor in “Seepbelsondagoggend” (66) wat reeds in die bundel Driepas (1989) verskyn het:

 

[…] Daar kom `n moment delikaat

en só heel dat `n enkele uur die waarde

van `n ganse bestaan het, met `n oordaad

so gelade, so volmaak, dat die mees bedaarde

lispel dit rinkelend gaan stukkend praat.”

 

Die gedig “Anna”, uit dieselfde bundel, en waarvan een versreël as titel vir die versamelbundel gekies is, kan in die geheel uitgesonder word as een van die hoogtepunte. Die twee slotstrofes lui as volg:

 

Kyk ek sonder jou, is daar skille

oor my diep oogkasse, ek

kyk sonder pupille.

Ek soek jou in die omtrek om my getrek,

ek soek jou in die appel van my oog.

 

Kyk ek na die melkweg, in die gras,

in die water, na die boog

van die aarde, altyd iewers is jy ingepas.

 

`n Aantal van Cloete se kenmerkende stylgrepe werk saam om van hierdie gedig iets onvergeetliks te maak. Daar is egter vele ander gedigte wat op die onderskeiding van die “beste” huldigingsgedig kan aanspraak maak, soos die kompakte maar veelseggende “vrou” (77), die vermaaklike en tegelyk roerende “rokke” (88), of die byna aanvoelbare “kamerjas op die divan” (90).

Dit behoort aan lesers groot genoegdoening verskaf om Cloete se verse rondom `n bepaalde tema, en dan die liefde as die grootste (en seker die mees uitdagende) van almal, in een uitgawe ter hand te neem. Daar is `n veelheid van gesigspunte, en die bekende Cloete-knipoog wissel die weemoed af. Tydens vanjaar se Woordfees op Stellenbosch het die digter genoem dat hy sy werk met ywer voortsit – voorwaar iets om oor nuuskierig te raak, te mete aan die dubbele Hertzogpryswenner se indrukwekkende oeuvre.

 

 

 

Marlies Taljaard. Beeld en Teks 1: Achilles se skild – T.T. Cloete

Monday, April 18th, 2011

 

Voorstelling van Achilles se skild

Voorstelling van Achilles se skild

In T.T. Cloete se nuutste bundel, onversadig (2011) verskyn op p. 82 die gedig “Achilles se skild”. Hierdie gedig vertel die verhaal van Hefaistos, die god van vuur, wat Achilles se skild in sy smidswinkel maak: “vyf lae diep lê hy laag op laag / vir die smee van die reliëfs diep genoeg / vir ruimte om die helfte weg te steek // van die onverklaarbare geheimsinnige mens / en die gebeure, om hulle wesensgetrou te maak”. Die verhaal wat hier in poëtiese vorm weergegee word, kom oorspronklik uit die agttiende en twee-en-twintigste boeke van Homerus se Ilias. Homerus se beskrywing van die smee van Achilles se skild word allerweë beskou as die oudste voorbeeld van ekphrasme en stel die voorbeeld vir latere gebruik van dié tegniek in die Griekse letterkunde. Maar ook in die moderne letterkunde is die ekphrastiese of beeldgedig ‘n bekende poëtiese vorm – dink maar aan Keats se “Ode to a Grecian Urn”.

 

Ekphrasme is ‘n retoriese middel wat behels dat een kunsvorm deur middel van die genrereëls van ‘n ander kunsvorm geïnterpreteer word. Waar dit in die poësie voorkom, behels dit byvoorbeeld dat ‘n visuele kunswerk deur middel van retoriese (stilistiese) middele beskryf (en dus geïnterpreteer) word. Hierdie praktyk is altyd intertekstueel en bevestig die gedurige hersirkulasie en gelaagdheid van tekste (ook visuele, musiek- en ander kunstekste) en stel altyd ten minste twee kunswerke in jukstaposisie teenoor mekaar.

 

Interpretasie van ‘n visuele kunswerk deur van retoriese middele gebruik te maak, veronderstel natuurlik ook dat representasie geskied volgens ‘n nuwe stel reëls, want dit wat deur middel van beeldende kuns gerepresenteer kan word, kan byvoorbeeld nie noodwendig deur middel van die retorika gerepresenteer word nie, en andersom. Die digter wat van ekphrasme gebruik maak, lê dus doelbewus ‘n addisionele betekenislaag bo-oor die oorspronklike teks wat, soos in die geval van Cloete wat hierbo aangehaal word, dikwels ook reeds op ‘n ander teks gebaseer is.

 

Die skild van Achilles speel ‘n belangrike rol in die Ilias omdat die mikrokosmos van Homerus se verhaal, waarvan die Trojaanse Oorlog ‘n belangrike faset uitmaak, daarop uitgebeeld word. Op verskeie plekke in die teks word na die skild verwys. Of die skild egter werklik bestaan het, is vandag nie meer bekend nie. Cloete het vir sy herdigting die verwysings in Boek 18 en Boek 22 uitgesoek.

 

Lê ‘n mens die bronteks en Cloete se teks langs mekaar, lyk dit aanvanklik asof Cloete Homerus se teks redelik getrou omgedig het. Soos Homerus, beskryf hy die proses van vuurmaak, die smelt van die metale koper, tin, goud en silwer en die smee van die skild wat uit vyf lae bestaan. Daarna word die verskillende reliëfs geskep wat in besonderhede beskryf word. Ten slote beskryf hy die stryd tussen Achilles en Hektor uit Boek 22.

 

By ‘n meer diepgaande lees van beide tekste, blyk dit egter dat Cloete se teks op betekenisvolle wyse van die bronteks afwyk. Alhoewel die afwykings gering lyk, plaas dit egter die antieke teks binne ‘n nuwe paradigma deurdat die moderne digter bepaalde dele van die antieke teks beklemtoon, onderbeklemtoon en weglaat, asook deur interpretasie van sekere teksdele.

 

Cloete se gedig begin met ‘n agtergrond wat die Ilias-teks vir die moderne leser binne konteks plaas en wat nie in die bronteks verskyn nie. Die eerste reël verwys na “die hinkende horrelvoet Hefaistos” wat die opdrag ontvang om vir Achilles wapens te maak. Die antieke Griekse leser sou hoogs waarskynlik geweet het dat Hefaistos mank is en daarom word dié aspek van die vuurgod nie deur Homerus beskryf nie. Cloete lê egter doelbewus klem op Hefaistos se gebreklikheid, want hy verwys by herhaling daarna. In die tweede strofe staan daar “die krom kreupele wat die onderdanige is / van die elegante en rats atleet”. Enkele reëls verder word gesê: “hy staan op sy tenger hoepelbene” en wanneer hy vir oulaas die skild bewonder: “Hefaistos tree hinkend ver terug”. Hierdie klemplasing op onvolmaaktheid en gebreklikheid is een van die temas wat by herhaling in Cloete se oeuvre voorkom. Dink byvoorbeeld aan die gedig Eiewysheid uit die bundel Jukstaposisie waarin die skrywende ek sê: “ek groei aarde toe krom ek hel lewendig skuins hoe meer jare ek haal (…) ek moet my vertikaal // handhaaf (…) om koppig uit te hou // en te beweeg krapskeef / en aaphinkende …”

 

Benewens verwysings na Hefaistos, kom in “Achilles se skild” ook ander verwysings voor na die kwesbaarheid en onvolmaaktheid van die mens as sodanig. Wanneer die twee stede wat op die skild uitgebeeld word, beskryf word, staan daar: “dan maak hy / die saamleefplekke vir die weerlose mense / vir hulle wat eensaamheid en alleenheid vrees”. Hierdie interpretering van die kunswerk kom nêrens in die Ilias voor nie, maar vorm die basis van Cloete se interpretasie van die reliëfs op die skild, naamlik dat die mens in sy weerloosheid en in sy gespletenheid daarop uitgebeeld word.

 

Reeds in die tweede strofe van “Achilles se skild” word die teenstelling tussen die kreupel Hefaistos en die elegante en rats atleet aan die orde gestel. Dié teenstelling lê, soos gesê, aan die wortel van Cloete se omdigting van die Ilias-teks. Hoewel Homerus ook dikwels van beskrywende woorde gebruik maak, is die doel daarvan meestal verhelderend van aard. By Cloete is dit egter dikwels daarop gemik om klem te plaas op “ons ontglippende dubbele menslikheid” en op “die onverklaarbare geheimsinnige mens”; die mens wat (soos die skikgodinne bepaal) soms ‘n volmaakte en soms ‘n gebreklike liggaam het; wat soms in vrede saamleef en soms in felle stryd met mekaar gewikkel is; soms oorvloed het en soms gebrek ly. Die rol van die noodlot wat die lewensomstandighede van die individu bepaal, speel ‘n belangrike rol in hoe die mens op aarde gesitueerd is:

 

groter as mensgrootte helder glansend

in die lug bo die stad hang Hefaistos

twee gode, Ares en Pallas Athene

wat kant kies soos die mense dit doen

een vir die plunderaars een vir die verweerders

 

            dit is die groter geveg tussen al die mooi dinge

            op die skild in die tweede kring van die nes

            van konsentriese sirkels wat in mekaar pas

            netjies soos die kringe in ‘n versteurde waterplas”[.]

 

Wat baie interessant is, is dat Cloete die gedeelte uit die Illias weglaat waarin die oorlog tussen die twee stede in grusame besonderhede vertel word. Heel waarskynlik kan dié feit onder andere geïnterpreteer word as deel van die digter se strategie om nie ‘n spesifieke historiese gebeurtenis te beskryf nie, maar om die klem doelbewus te plaas op universele menslike problematiek.

 

Waar Homerus dus die maak van Achilles se skild gefokus beskryf sonder om van die handeling af te wyk en met die doel om aan die leser ‘n lewensgetroue weergawe van die verskillende reliëfs te verskaf wat op die skild voorkom, is dié beskrywing vir die moderne digter slegs ‘n vertrekpunt van waar hy sin probeer maak uit dit wat uitgebeeld word. Vir Cloete is die reliëfs die versinnebeelding van die menslike kondisie en die mens se bestaan op aarde: ‘n bestaan wat gekenmerk word deur verskeurdheid, teenstelling en weerloosheid aan die een kant, en vreugde en blymoedigheid aan die ander kant. Hierdie fasette van menslikheid “pas netjies soos kringe in ‘n versteurde waterplas” inmekaar, soos dit op die skild uitgebeeld word; dit is ingebed in mekaar en word gekenmerk deur gelaagdheid soos ons dit vind in die vyf lae wat Hefaistos maak, waarna in die inleiding verwys word.

Amanda Lourens. Die krieketbal en sy skaduwee

Friday, April 8th, 2011

 Sedert Cloete se debuut met Angelliera in 1980 is die saamdigting van disparate dinge een van die uitstaande kenmerke van sy digterskap.  Sy intellektuele aanslag en vermoë om beskouend terug te staan en met deurgaanse beheer oor sy onderwerp te skryf, maak van hom ’n besonder sterk en herkenbare stem in die Afrikaanse poësie.

 In ‘n onderhoud met Joan Hambidge beskryf Cloete die gedig as “wakkermaker”, onder andere ook vanweë die gedig se vermoë om te dien as koppelvlak met die verskeie fasette van die lewe, wat ook die dood insluit.  Cloete sê dan ook self: “Wie intens bewus is van die dood, kry die lewe lief en leef intens”, sodat ons in sy poësie ’n saambestaan van lewe en dood, en ook dood as singewende deel van die menslike bestaan kan verwag.

 In Onversadig wat onlangs verskyn het, is daar ’n hele paar verse oor sy gestorwe vrou, haar siekte en sy ervaring van die sterwensproses.  Vir Cloete is die dood deel van die lewe; iets waaroor eerlik geskryf moet word en waardeur die waarnemer verryk kan word.

 Vir ons as moderne Westerlinge is die dood nie juis deel van ons daaglikse lewens nie, alhoewel ons in koerante daarvan lees en dit as fiksie in rolprente beleef.  Vir die Middeleeuse mens egter, was die dood ’n sigbare teenwoordigheid en ’n onmiddellikheid, soos versinnebeeld in ou afbeeldings van die danse macabre – die dood as dansende figuur in die midde van die lewendes.  Sonder antibiotika en die ander wondere van die moderne medisyne was memento mori ’n immer teenwoordige refrein en die meeste mense het geleef met intieme kennis van siekte en dood.

  

Wetenskaplike vooruitgang en die institusionalisering van gesondheidsorg het siekte en dood egter toenemend uit die samelewing verwyder, sodat die beeld van die grynslaggende dood vervang is deur eietydse mediabeelde van jeugdige liggaamlike perfeksie.  In hierdie konteks verteenwoordig die terminaal siek liggaam volslae abjeksie, en word dus waar moontlik uit die openbare oog gehou waar dit die waarnemer met afgryse mag vervul.Dit sorg wel soms vir vulgêre sensasie en hou sirkulasiesyfers hoog wanneer daar ’n tekort aan skandale onder die glansrykes is (“Het jy gesien hoe lyk X?,” as die foto van ’n terminaal siek Hollywoodster in Huisgenoot verskyn).

Afbeelding van die danse macabre

Afbeelding van die danse macabre

 

 

 Die eietydse liggaam wat deur die media as ideaal aangebied word, is een wat aan die eis van perfeksie moet voldoen, al moet dit kunsmatig vermag word.Kyk gerus na die verskille tussen die filmsterre van die tagtigerjare en vandag – toe is skewe tande en selfs plooie nog geduld, maar vandag word die liggaam deur tegnologiese ingrepe getransformeer tot plastiek-perfeksie; word die illusie geskep dat die liggaam selfgenoegsaam, intak en veral onaantasbaar is deur iets so natuurlik soos ouderdom, wat nog te sê siekte.

 Hiermee saam gaan die mitevorming van skuld: normale veroudering word verwring as jou eie nalatigheid omdat jy nie eet en oefen en Botoxbehandelings ondergaan soos die ghoeroes voorskryf nie.  Jy “laat gaan” jou liggaam en die gevolge is sigbaar vir dese en gene: skande, skande. Siekte word ook binne die skuld-mite gesitueer, soos Susan Sontag in Illness as metaphor (1978) en AIDS and its metaphors (1988) aangetoon het.  Veral in die twintigste eeu is ’n siekte soos kanker toenemend gefiksionaliseer as die “skuld” van die slagoffer: “[C]ancer is regarded as a disease to which the psychically defeated, the inexpressive, the repressed – especially those who have repressed anger or sexual feelings – are particularly prone, as tuberculosis was regarded throughout the nineteenth and twentieth centuries (indeed, until it was discovered how to cure it) as a disease apt to strike the hypersensitive, the talented, the passionate” (Sontag 1991:98).

 Uiteindelik maak ons perfeksie-gedrewe samelewing van die siek liggaam die uiterste ongewenste; word siekte die vergestalting van die “onnatuurlike”, soos Sontag aangetoon het. Siekte – wat soos gesondheid deel van die lewe is – word ontkoppel van ons konstruk van “lewe” en word verban na areas agter geslote deure, verkieslik inrigtings wat siekte met die minimum morsigheid kan hanteer. “Dood” as romantiese gedagte is tradisioneel dikwels in die kunste geïdealiseer, maar uitbeeldings van siekte en die fisiese realiteit van siekteprosesse dikwels dié wat lesers laat terugdeins.  (Ek herinner my in dié verband hoe mense destyds gekla het oor die uitbeelding van die siekte- en sterfproses in Ek stamel ek sterwe as “onsmaaklik” en “grillerig”.  Ek sien wel dat onlangse webkommentare dit as “chilling” maar “baie goed” bestempel.)

 Sontag koppel ons aversie teenoor siekte aan ons vrees vir die aftakeling en verlies aan waardigheid wat dit inhou. Om hierdie rede word siektes soos kanker of vigs meer gevrees en byvoorbeeld ’n hartaanval, omdat laasgenoemde gesien word as ’n “maklike” of “vinnige” dood (Sontag 1991:124). Die negentiende eeuse romantisering van tuberkulose berus byvoorbeeld grootliks op die inhoudsgewing daaraan as ’n “sagte” sterwe. Deur die ontkenning van die pynlike realiteit van tuberkulose is ’n mite daarvan opgebou as ’n aandoening van veral kreatiewe en boheemse persoonlikhede (Keats, Shelley en D.H. Lawrence was almal tuberkuloselyers). Hierdie persepsie het natuurlik die ruimte geskep vir brose, eteriese heldinne soos Marguerite, Violetta en Mimi. (Dit sal natuurlik interessant wees om die stigmatisering van tuberkulose in die twintigste eeu na te gaan, toe die siekte met arm gemeenskappe geassosieer geraak en sy romantiese kleur begin verloor het.)  Maar siektes met sigbare en aftakelende simptome – veral wanneer liggaamlike uitwerpingsprosesse ter sprake kom – sal waarskynlik vandag nog veel eerder in die doofpot gestop word. 

 Juis teen hierdie agtergrond is Cloete se gedig “helder Saterdag” een wat my opgeval het. 

Helder Saterdag

 

hoe wonderlik is hierdie dag

 

haar eerste dialise word gedoen vroegdag

en Adcock Ingram se glukose word getap

slopemmers vol

 

vannag het die osmose goed presteer

dit weeg 12 kilogram

“dit is ’n goeie oes”

 

Johannes stort die aftreksel plek-plek

uit oor die tuin

 

mog dit die blomme goed laat was

die komas daarmee saam wegspoel

die kanker in die nier die klomp poliepe

en die spasme in die kolon

 

die nagsuster vertrek ’n uur ná sonop

 

hom maak hy vermoeid dig toe

diep in die uitskopstoel vlak langs haar bed

en slaap sy kort vermoeide slaap

 

haar voete is geswel en blou

waar sy haar toon gestamp het

 

die ribbes wat gekraak is

en die skaambeen ná haar val

genees langsaam maar dit genees

 

haar huid jeuk steeds en is ’n fyn

deursigtige vliesdun membraan

 

teetyd gee Kobus haar fisio

 

daar’s bloed in haar urine

 

die peristalsis móét vandag saamwerk

 

dit wat ons daagliks uit die aarde inneem

dit eis sy daagliks weer van ons terug

 

vir ons self afstootlik

herinner sy ons aan ons aardsheid

 

sy doen dit langsaam tot sy ons self vat

 

die warfarin maak beettuin onder haar huid

 

sag aan haar roomgeel vel vat hy

streel oor die pers bloedvlinders

 

geboortevlekke van die dood

 

hy streel sag oor haar buik

wat bult asof sy swanger is

 

haar dun skene haar breekbaar dun polse

betas hy goties slank

soos op ’n skildery van Jan van Eyck

 

vroeg in die dag is sy doodmoeg

 

tog het sy goed geslaap vannag

 

sy word benoud en bleek

 

haar pols tik flou           die bloedsuiker is 6.1

sy mag vandag agurkies eet as toegif

en jellietots suig vir die bitter mond

 

die vispastei vir middagete gooi sy op

 

die mooiste woord uit haar langsame mond

op hulle middaguitstappies met die Honda is mooi

 

mooi laatmiddagson      mooi grasvlaktes

mooi kwikkies in die tuin

 

hulle is porselein wat maklik kraak

poreus vir die insypel en klad van pyn

 

die kinders bel gereeld en sien na hulle om

daagliks kom hulle kuier en troos liefdevol

deur net die name in hulle monde vas te hou

 

saam sit die twee en kyk krieket

sy slaap in van vermoeienis       die skare

se gejuig as iemand uitgeboul word

laat haar opskrik

 

daar is ’n bal en ’n tweede bal

’n rooie en ’n swarte wat die son

grondlangs maak wat onfeilbaar begelei

 

vandag is sy helder

sy weet hoe laat dit is en watter dag

 

’n onaardse dag waarin bont mense

stampvol luilekker op paviljoene sit

of skuins lê onder reënboogsambrele

op hellings groen gras en kyk

hoe speel atlete in lakenwit klere krieket

met die lewe wat skreeu en gil

en in die hande klap

  In die gedig is die voulike liggaam sentraal, maar dan hoegenaamd nie die glansryke, jeugdige liggaam van die massamedia nie. Hier word die ernstig siek vroulike liggaam sentraal gestel, met ’n deernisvolle waarnemer wat egter nie terugdeins voor die realiteit van die siekte nie. Interessant genoeg toon die waarneming van die siek liggaam ooreenkomste met die populêre uitbeelding van die vroulike liggaam – spesifiek deur die gefragmenteerde blik op die liggaam. Mediabeelde, en veral die advertensiebedryf, maak dikwels gebruik van geïsoleerde vroulike liggaamsdele: oë, ’n mond, bene of rug, wat dikwels vertolk word as die objektivering van die vroulike liggaam in diens van ’n bepaalde produk.

 Verskillende fragmente van die liggaam word dan hier waargeneem en beskryf, waaronder die voete, ribbes, skaambeen, huid, buik, skene en polse. Telkens val die fokus op die aantasting van die betrokke liggaamsdeel, hetsy die geswelde en gekneusde voet, die gekraakte beendere, die bloed in die urine of die onderhuidse bloedings.  Daarmee saam word verskillende liggaamlike prosesse en mediese aspekte ook fragmentaries belig: die dialiseproses, fisioterapie, uitskeiding, middelnewe-effekte, polsslag, bloedsuikervlak, dieet, braking. Die keuse om juis gefragmenteerde beelde te gebruik om die siek liggaam uit te beeld, kan die leser laat met die vraag of die gedig nie die siek liggaam reduseer tot bepaalde simptome en aantastings nie, wat dit nie veel anders maak as die gekritiseerde mediabeelde nie.  Die leser sal voorts ook oplet dat daar oorwegend na die “laer” liggaamsdele verwys word en dat die vrou se gesig aanvanklik glad nie betrek word nie.  Ook dit is skynbaar in ooreenstemming met die objektivering of verontmensliking van die vroulike liggaam.  Of slaag die gedig daarin om meer te wees; om ’n sintese van lewe en dood teweeg te bring?  En dan boonop een wat eerlik na siekte kyk, sonder romantiese pretensies? 

 Die gedig bevat twee elemente wat my lei om die gedig as méér te sien.  Die eerste hiervan is beelde wat met swangerskap en geboorte verband hou, maar terselfdertyd die band tussen lewe en dood aandui: “[…] die pers bloedvlinders / geboortevlekke van die dood” asook “[…] haar buik / wat bult asof sy swanger is”.  Hierdie beelde suggereer moontlik die kreatiewe of verrykende aard van die sterwensproses, overgesetsynde, sterfte as ’n ander vorm van geboorte. Ook dui dit moontlik op die empatiese blik van die waarnemer wat die siek vrou steeds in haar volle vrouwees erken, eerder as wat die waarneming ’n element van die groteske verkry . 

 As tweede element kom die vrou se mond te sprake – oënskynlik weer eens ’n fragment van haar liggaam, maar by nadere ondersoek blyk “mond” om ’n metonimiese aanduiding van haar spraakvermoë te wees.  Meer nog is dit haar interaksie met haar omgewing wat hierdeur aangedui word, maar dan as die brose uitings van die ernstig siek persoon.  So lees ek die “hulle is porselein wat maklik kraak / poreus vir die insypel en klad van die pyn” as juis haar talige uitings wat, soos haar liggaam, kwesbaar geraak het.  Eerder dus as ’n objektivering van ’n siek liggaam, word die leser gekonfronteer met die beeld van die totale vrou wie se uitreik na haar omgewing afhanklik is van haar liggaamlike toestand – dan juis ’n afwysing van dualisme? 

 Hiermee saam kan ons dan die reëls lees wat met die gedigtitel skakel: “vandag is sy helder / sy weet hoe laat dit is en watter dag”.  Ook hier is die vrou se bewussyn afhanklik van haar fisiese toestand, met die “helder(heid)” waarskynlik die direkte gevolg van die dialise.

 Deur dit alles ervaar ons hoe die siek persoon as volledig mens uitgebeeld word; word beklemtoon dat die gees steeds afhanklik is van die liggaam, maar dat die fisiek siek persoon steeds volledig mens is; tot aan die einde in staat om die objek én sy skadu waar te neem (“daar is ’n bal en ’n tweede bal / ’n rooie en ’n swarte […]).  Op dieselfde wyse aanskou ons as lesers hier lewe en sy skadukant siekte, wat ook deur Sontag (1991:3) “the  night-side of life” genoem word. 

 

Bronne:

Sontag, S. 1991. Illness as metaphor and AIDS and its metaphors. Londen: Penguin.

Joan Hambidge en Heilna du Plooy bring hulde aan TT Cloete by US Woordfees [Internet]. 2011. Beskikbaar:  http://nb.book.co.za/blog/2011/03/10/joan-hambidge-en-heilna-du-plooy-bring-hulde-aan-tt-cloete-by-us-woordfees/. [2011, 8 April].

T.T. Cloete in Poëziekrant

Wednesday, March 9th, 2011
TT Cloete

TT Cloete

Ai, watter plesier is dit nie om onverwags iets oor Afrikaanse digters in buitelandse publikasies raak te lees nie; veral in hierdie tye waar dit gebiedend noodsaaklik geword het om die profiel en prominensie van ons plaaslike digters internasionaal te vestig nie. So vind ek tot my vreugde in die nuutste uitgawe van die Poëziekrant, wat ek verlede week ontvang het, ‘n sewetal van T.T. Cloete se gedigte wat skitterend deur Carina van der Walt en Geno Spoormans vertaal is.

Net so treffend is die oorsigartikel waarmee die vertalings ingelei word: “T.T. Cloete heeft de naam een academische dichter te zijn. Dat is in het licht van zijn loopbaan niet zo vergezocht. Op het eerste gezicht doen ook de titels van zijn bundels een beroep op belezenheid: Jukstaposisie (1982), Allotroop (1985), Idiolek (1986), to name a few. Zijn referentiekader is klassiek Europees. Iets wat in het van taalpolitiek en ‘selfbeheptheid’ (fixatie op zichzelf) doortrokken Zuid-Afrika niet per se gewaardeerd wordt. Poëzie is in dit land in hoge mate politiek. En T.T. Cloete heeft zich daar niet in betrokken met zijn werk. Geen geëngageerde poëzie en ook geen landschaps- en identiteitslyriek. Dat maakt T.T. Cloete tot een witte raaf. Toch is zijn werk niet strikt intellectualistisch te noemen. In een gedicht als ‘Silhouet van Beatrice‘ tekent hij met zijn pen het profiel van Dantes muze in woorden, heel eenvoudig en direct. Als zo vaak in zijn werk laat hij zich verleiden door lichamen, fysieke gewaarwordingen en voorstellingen. In zijn gedichten wordt met grote gulzigheid gekeken, tot op het voyeuristische af. T.T. Cloete is een dichter van de vertraagde blik. Hij lijkt de tijd stil te willen zetten om hem uit te breiden. Van terloopsheid maakt hij een strategie. Uit alle lichamelijkheid, verval en sensualiteit lijkt steevast een gedachte te verschijnen die nog een tijdje naglanst als het gedicht al uit is.”

Inderdaad ‘n besonderse huldeblyk aan ‘n besonderse digter.

En, indien jy nog nie kennis geneem het daarvan nie, kan jy gerus die onderhoud lees wat Joan Hambidge met die digter gevoer het ten tye van die verskyning van sy mees onlangse bundel, Onversadig. Uit dié bundel volg die vers “Seën” onder aan vanoggend se Nuuswekker vir jou leesplesier.

***

Sedert gister het daar heelwat nuwe bydraes bygekom. Aan die blogkant van sake skryf Desmond Painter oor David Briggs en sy improvisasies; Amanda Lourens werp ‘n teoreties-besinnende kyk op die dwingende debat van ‘n Nasionale Boekeredakteur en by Wisselkaarten het Roel Richelieu van Londersele ‘n interessante stuk geplaas oor Rense Sinkgrave, ‘n slamdigter van Groningen. Dan is daar ook ‘n nuwe gedig in Johann Lodewyk Marais se verskamer om te lees.

Ten slotte fokus ek jou aandag op Bernard Odendaal se resensie van Mari Grobler se nuutste bundel Toe dit nog vroeg was wat gister geplaas is.

Lekker lees en geniet die vele poësie-items op die Woordfees vandag.

Mooi bly.

LE

 

seën

 

hulle wil alles inpas

in ‘n begrypbare en afdoende plan

die minuskule, ‘n goggatjie,

‘n mosterdsaadjie,

die grootse massiewe heelal

maar die glibberige visse

van die smart en liefde swem los

deur die gate van die seën

wat hang in ‘n rivier

wat bokspring op ons afkom

 

© TT Cloete (Uit: Onversadig, 2011: Tafelberg Uitgewers)

 

Onderhoud met T.T. Cloete

Saturday, March 5th, 2011

Die gedig as wakkermaker

T.T. Cloete in gesprek met Joan Hambidge

 

TT Cloete

TT Cloete

T.T. Cloete is op 31 Mei 1924 op Vredefort gebore. Hy matrikuleer in 1941 aan die Hoërskool Monument op Krugersdorp en studeer daarna aan die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van Suid-Afrika en die Potchefstroomse Universiteit. Van 1949 tot 1953 studeer hy aan die Gemeentelike Universiteit Amsterdam. Hy doseer Afrikaans en Nederlands aan die Potchefstroomse Universiteit en word in 1965 as hoogleraar aan die Universiteit van Port Elizabeth aangestel. Sedert 1970 is hy hoogleraar in Afrikaans-Nederlands en Algemene Literatuurwetenskap aan die Potchefstroomse Universiteit en bly na sy aftrede in 1983 aan as buitengewone professor. Cloete ontvang in 1976 die Gustav Preller-prys en in 2002 die N.P. van Wyk Louw-medalje vir sy literatuurwetenskaplike publikasies.

Hy debuteer in 1981 as digter en het tot dusver agt digbundels, ‘n drama en twee bundels kortverhale gepubliseer. Vir sy poësie het Cloete die Ingrid Jonker-prys, die W.A. Hofmeyr-prys, die Louis-Luyt-prys, die CNA-prys, die Rapport-prys en die Hertzogprys ontvang. Cloete se herdigting van die Psalms in Afrikaans het wye erkenning ontvang.

T.T. Cloete se negende bundel, Onversadig, verskyn in Februarie 2011 by Tafelberg Uitgewers.

 

 

Hartlik geluk met u jongste bundel Onversadig. Dit is ʼn groot opgesette bundel. As Opperman u eerste as “koningskos” beskryf het, dink ek hierdie bundel is ʼn feesmaal waarna die leser by herhaling kan terugkeer. Die liefhebber van gedigte kan nie gou hiervan versadig raak nie.

U skryf:

 dit is my basis

hier in ‘n huis met blomme vol gedigte

hier in ‘n straat met naam en nommer

hier waar ek alles kan skandeer

net vir die sommer

En hieruit volg my vraag: waarom dig u?

Ek wens ek het geweet. Daar is waarskynlik nie een verklaring daarvoor nie. Niks is klaar afgerond nie, selfs nie die kosmos nie, en die digter probeer aanvul, of oop plekke invul. Veral dink ek dit gaan daarom dat die gedig die mens moet afleer om bloot te biologeer soos ʼn vis of donkie. Die gedig is ʼn opwekker of wakkermaker, ʼn slaapversteuring, ʼn openbaarmaking of bewusmaking van die wondere van die lewe in sy geheel (die natuur, die liggaam, die sosiale mens, alles mensliks, ad infinitum), ʼn bewusmaking met name van die vele gedaantes van die liefde en selfs van die mysterium tremendum, die dood. Wie intens bewus is van die dood, kry die lewe lief en leef intens.

Die volgende parodie van “Heimwee“, daardie lied waaraan Mimi Coertse ikoniese status verleen het, klink so:

 

Heimwee?

 Wie verlang vir langer as ‘n uitstappie

na die stilte van die wye wuiwende veld?

Waar lewe tier, is doefdoefmusiek en stadsgeluide

en my bank se vriendelik klinkende klank van geld.

Ek is keelvol vir die storie van die rustelose lewe

van mense wat kwansuis kom en wat gaan.

En ek sukkel om iets van die vrye ruimte

waar ‘n siel in woon (verbeel jou) te verstaan.

O ja, ek ken die clichés: die son op die velde

en die kamtige ewige blou daarbo.

Hoe skiet ‘n hart vol watse heimwee?

Kan drome swem? En hóé, in ‘n ou se oë?

‘n Anonieme digter, en Celliers, en Toon het allerlei

ylblou gesien, Wyk ook en Kleinjan, op die westerkim.

Hoe loop weemoed? Het dit voete en bene?

Hoe kan dit sag uit nostalgiese liedere klim?

Ek verlang na die stad se ligte

wat ná sononder onder die aandster begin skyn,

na die ligte van Berlyn, Harare,

Phnom Penh, Ieper en die Rooiplein

 

U oeuvre tree van meet af in gesprek met ouer digters. Ek dink onder andere aan die gedig oor Leipoldt, die gesprekke met Nijhoff. Hoe sien u so ʼn soort parodiese gesprek?

Die poëties-ongevoelige mens van vandag word in hierdie gedig gesatiriseer, die mens wat al minder natuurmens en digterlike mens is. Om in gesprek met ouer digters te gaan, is om verder te help voltooi, aan te pas, aan te vul, te wysig na die geleentheid van ʼn veranderlike tyd-ruimte.

Die wetenskap en die samehang en sin van alle dinge loop ook regdeur hierdie bundel:

Die eiertjies en die semenpaddavissies,

die vorm, bloed en vlees van die harte is presies

eenders.  (p.55)

Vanwaar die wetenskaplike belangstelling oor teleskope en diere?

Ek wil hiermee sê dat alle mense presies eenders is, en ons is ook verwant aan die diere, selfs aan die vrugtevlieg. Vroeg voorgeboortelik lyk ons soos akkedisse. Die digter werk met dieselfde werklikheid as die wetenskaplike; die digter sien net onmiddellik en moeiteloos dromend in wat die ander een met navorsing moeitevol ontdek. Digters is savante. Wat die samehang betref, hou ek van Jan Smuts se Holisme. “In each of the parts there is something of all the other parts” (Henry James). “Er ligt in elk ding schuilend fijne essence van andr’re dingen” (Gorter). “How does an electron know that it’s an electron, that it should behave exactly like electrons on the other side of the universe?” (T. Ferris).

So praat u oor die “interdigterlike taal” en dat daar niks nuuts onder die son is nie. Veral in “swerwende verse” kom dit aan bod:

17 (Akhenaton: Hymn to Aton en Sint Franciscus:

Canticle of the Sun)

 

met geringskatting van die nasies word

onmerkbaar langsaam en sag

fluisteringe van die een dag in die ander dag

millennium ná millennium uitgestort

Achnaton en Franciscus is op ‘n interdigterlike plek

binne die fanakalo se poëtiese taal

skoon glansend bonasionaal

buite tydruimte…

 

U het onlangs in ʼn Boekmerk (in Beeld) gepraat oor oertekste wat oor en oor dieselfde boodskappe oordra. Wil u verder op hierdie fassinerende gesprek ingaan?

Niks is selfstandig, onafhanklik en in sigself voltooi nie, ook nie gedigte nie; maar binne die veranderlike is daar ʼn onveranderlike kern, daarom kom dieselfde versreëls voor by Achnaton, Dawid en Franciscus, wat eeue uit mekaar geleef het. Die hele lewe is een groot gedig vol refreine.

In die volgende gedig lewer u – soos ook in die vers oor sokker – kommentaar op die politieke werklikheid:

Op Toon se Hoëveld

The times they are a-changin’

– Bob Dylan

 

Op die Hoëveld, waar dit oop was, en die hemel ver daar bo,

waar kuddes waaigras gehuppel het oor die veld

kon jy die aarde ruik en aan ‘n bestemming glo.

Koolstofdioksied borrel nou uit skoorstene waar hulle erts smelt.

As ek in die spreekkamer van die pulmonoloog sit en droom

van winde wat die wolke deur die hemele ry,

dan hoor ek die geluide van bekstang, ruik ek saal en toom

soos toe ek gaan kyk het waar my beeste en my skape wei.

Op die Hoëveld, waar dit wyd was, waar jy baie ver kon sien,

(Celliers en Van Wyk Louw se ylblou het ‘n knop gebring in jou keel)

jol jakkalse in murasies. O, boereplaas, uitgemoor en uitgedien,

dis die plek waar ondervoede kinders nou tussen kaias speel.

As die slukderm kwaai wurg en ek hoor my larinks fluit,

dan sweef ek na die Hoëveld op ‘n tuimelende wind

en soek ek in die yl maanlig al die mooiste plekke uit

waar ek kleiosse gemaak het as ‘n kind.

 

Ek lees hierdie vers as ʼn nostalgiese verlange na ʼn ou wêreld. Hoe ervaar u hierdie nostalgiese verskeurdheid as digter?

Ek het iets in my van Jean Jacques Rousseau en Alexander The Supertramp (Chistopher McCandless), oor “the nature man”, maar ek het nie veel aan Nietzsche se Űbermensch nie. Ons leef vandag in ʼn hoogs getraumatiseerde wêreld van geweld, moord, verkragting, ons lewe agter lemmetjiesdraad en tralies, en ons drink slaappille, rook dagga om ons stres te verwerk, alles die gevolg van die Industriële en Tegniese Revolusie wat nog steeds aan die gang is. (My volgende gedig sal daaroor gaan). Ons is skisofrene wat maan toe vlieg, maar koolsuurgas inasem en ons water met ons eie uitwerpsels ondrinkbaar maak; ons bou luukse voorstede met naasaan krot-agterbuurtes. Ek dink die natuurmens soos die San byvoorbeeld was ver gelukkiger as ons moderne en post-moderne mense.

In die sterk vers oor Dakar skryf u ʼn satire.  Hoe sien u die rol van satire? Ek onthou destyds hoe ʼn kritikus die “kokkie en kokkie se maat” geïnspireer het met ʼn mis-lesing!

Die satiriese Dakargedig gaan weer oor ons skisofrenie: ons bestee miljarde aan sport, skend die natuur daarvoor, maar ons laat mense sterf van honger. Die satire is maar een van die baie maniere waarop die gedig  mense wil wakker maak, oë probeer oopmaak, die Klaas Vakies skrikmaak, verkeerde waardes ontmasker.

Die bundel bevat aangrypende verse oor u vrou wat u onlangs ontval het. U het per geleentheid opgemerk dat sy u eerste leser was van al werk en sinryke kommentaar gelewer het op u werk. So dig u oor haar:

foto van vrou by die see 1966

 

geprofileer in ‘n diep leunstoel, bene gekruis,

afgetrokke en diep agteroor in ‘n strandhuis

sit sy in die vliesdun emulsie op dun karton

in ‘n wit bloes en broekpak by die venster in die lig

van die glansende see en geel wasige donsson

mymerend en byna deursigtig.

toe was sy nog veilig. hoe

veilig was sy toe

sy sit aandoenlik ingedagte en sereen

met die weerkaatsing in haar agteroorgesig

van die see sit sy in een hand ‘n skuins glas

vingers aan die pols van die ander een

hang bo die teetafelkleed. die vingerpunte tas

effe aan die bokhaarmateriaal. sy kyk dromerig

na haar vingers. die sigbare

stilte swyg. die oureool in haar hare

gloei sag. gevoelige vingerpunte van haar hand

hang tastend af aan haar geknakte pols hoog

bo die skerp stut van haar elmboog.

elders, ver, baie ver veraf elders doenig

is die kanker met ‘n ander iemand

wat sit in die vliesdun emulsie op dun karton

in ‘n broekpak by die venster in die lig

van die blink see en geel wasige donsson

dromerig mymerend en byna deursigtig

skimmig geskryf met lig

 

Hierdie gedig, soos die ander aangrypende verse oor haar, bring ʼn nuwe perspektief op die tradisie van die funeraire gedig waar die oorsaak van die persoon se afsterwe dikwels nie vermeld word nie.  Wat is u gevoel hieroor?

Daar is te veel taboes oor die dood en oor die elegie. Die gedig moet ons ook vir die dood wakker maak. A.G.Visser het vir my gevoel al te fraai oor die gestorwe geliefde geskryf. Al te mooi! En Totius alte tingerig. Ek glo met Viktor Frankl, Kübler-Ross, Brand e.a. dat ʼn mens nie moet romantiseer oor die dood nie, maar ook nie daarvan moet wegskram en dit nie moet ontken nie. “Death is part of life.” Ons moet realisties en sonder eufemismes daaroor skryf. Ek kry so die indruk die Europeërs van vandag beskou dit as taboe om oor die dood te praat en skryf; in Hollywood is glo nie ʼn begraafplaas nie, net heldehalle vir filmsterre. Dis ʼn groot leuen. Dit mag vreemd klink, maar die wrede dood en langdurige afsterwe van my geliefde vrou, oor ʼn tydperk van vyf jaar, het my kyk op die lewe en liefde daarvoor verryk. Dit het my ryper gemaak. Kübler-Ross het gesê die sterwende mens moet ons leermeester (“teacher”) wees.

En kan ʼn gedig ʼn mens troos wanneer die geliefde jou ontval? U skryf immers dat die agtergelewene ook doodgaan.

Die skrywer is meer as een mens, hy is vol gaspersone. Daarom kan hy teenstrydige liedere (Ernst van Heerden se term) skryf. Hy kan die een keer iets liefhê, die ander keer dit haat. Daarom kan ek twee gedigte oor Monroe skryf wat gans verskillend is, twee heeltemal teenoorgesteldes. Jy kan in die een gedig saam met jou geliefde sterf, in die ander gedig opstaan en die lewe meer intensief as ooit tevore liefhê. Daardie doodgaan van die agtergeblewene moet ons verstaan soos Frankl dit beskryf het: “Usually death is compared with sleep. Actually, however, dying should be compared with being wakened.” Dit is die paradoks. Ek is nou al vyf jaar aan die sterwe, maar ek sterf al skrywende. Die lewe was vir my nooit wonderliker as juis nou nie. Die gedig oor die dood van die geliefde is terapie, pynlik, soos genesende fisioterapie dikwels pynlik is.

In ʼn lang opgesette vers “fragmente van die onvolledige gedig” meen u:

mense beslym gedigte in die smet

van hulle alledaagse gesprekke

hulle trap daarop en loop dit stukkend

met die wonders van hulle voete

die boer ploeg dit argeloos om

hy roei dit uit as plae

aan die grashalms en veldblomme

die slagter met die wit jas slag                             

dit in die vark vir die supermark

die stralende weerlig slaan mense daarmee dood

vuurspuwende berge spoeg dit uit

dit stroom af in riviere

en die mere van Afrika swem daarvan vol

dit is dit wat kersvlamme

boontoe laat brand

 

Dis ʼn siniese blik op die digkuns, meen ek. Hoekom dan enigsins verse publiseer?

Dit is een van die twee bundeltitelgedigte. Ek sou eerder dink dit is “ʼn ontnugterende i.p.v. siniese gedig, wat dan juis weer meer gedigte vra. ʼn Mens hou aan met gedigte skryf, al gaan dit teen weerstande in, omdat die werklikheid en die menslikheid onversadig is. Mense leef in ʼn wêreld vol digterlikhede, maar herken dit nie as natuurlike gedigte nie en vernietig dit dan. As jy ʼn kersvlam doodblaas, blaas jy ʼn natuurlike gedig dood. Weet ons van die wonder waarom ʼn kersvlam regop staan en nie platval nie? So eenvoudig, so asembenemend. As die seun ʼn duif doodskiet, skiet hy ʼn natuurlike gedig (duif) dood met ʼn natuurlike gedig (die klipppie in sy kettie!). Jy moet aanhou gedigte skryf, omdat die gedig dit wat in onkunde vernietig word, tot die lewe herstel. Gedigte is genesend, terapie, aanvulling van die onvoltooide, die onversadigde, openbarend van die wonderlike. Jy moet aanhou gedigte skryf, as korrektief, as opwekker. Hierdie gedig wil verder sê dat alle digters van alle tye en tale saamwerk aan die Onversadigde Een Groot Gedig wat groter is as alle digters van alle tye en tale saam. Dit verstom my altyd dat daar in die literêre wêreld, waar daar samewerking moet wees, soveel venyn, nydigheid en toutrekkery is. Mea culpa, maar ek dink die dood van Anna, en die hoë lewensjare, het my in mindere of meerdere mate ‘ontsondig’ of verontskuldig.

U het met u Marilyn Monroe-verse ʼn geweldige gesprek in Afrikaans ontlok met gedigte wat terugpraat met die voortreflike verse oor die ikoon. Hoe beskou u die kwessie van invloed en beïnvloeding?

Gedigte maak gedigte. Van Achnaton af, via Dawid, Franciscus, Shakespeare, ens., skryf almal aan een gedig. Wat ons invloed noem, kan geweldig verrykend wees. In die huldigingsbundel wat uitgegee is vir Ina Gräbe met haar aftrede (World, [Wo]man, World) het ek daaroor geskryf hoe Van Wyk Louw se Die swart luiperd byna huid en haar ingegee is deur Goethe se Faust, met ver-rykende gevolge. In die artikel “Swerwende Verse” in Tydskrif vir Letterkunde (44[2] 2007: Lente) het ek ander gedigte betrek by hierdie soort ver-ryking: die Ilias en Mei (Gorter), Himne aan die son (Achnaton) en die Ilias; Mei en die Himne; die Himne en die Psalms; The Secret History of the Mongols, die Bybel en die Ilias … wat ʼn manjifieke poëtiese vlegwerk of inkladwerk.

Die werk as psalmberymer het kennelik ʼn invloed gehad op hierdie bundel. Ek weet u lees Frans, Italiaans en Hebreeus vlot. Hoe transponeer ʼn mens so ʼn oerteks na die moderne wêreld?

Ek weet party hou nie daarvan as ek daardie onderneming “superior amusement” noem nie, maar dit is wat dit vir my was: om ʼn antieke gedig in vandag se Afrikaans om te sit, en dan daarop te wys dat dit maar dieselfde mens is, toeka en tans s’n. Anthonie Donker het gesê daar is geen enkele menslike emosie wat nie in die Psalms voorkom nie. Depressie byvoorbeeld is nie ʼn hedendaagse verskynsel nie; gaan lees Ps. 6 en veral 88. Moses se gebed (Ps. 90) is elke mens van alle tye se biografie.

U het indertyd u doktorale studie oor Totius en Opperman voltooi. Het hulle steeds ʼn bepalende invloed op u digkuns?

Totius het klaarblyklik nie invloed op my gehad nie, Opperman wel. Ek kan my vereenselwig met sy siening van die digter se sewe selwe, soos ek my kan vereenselwig met Van Heerden se teenstrydige liedere. Die digter is ʼn verkleurmannetjie, eerder: ʼn agtpotige seekat. (Baie mense is verstom om te hoor seekatte verkleur vinniger en effektiewer as verkleurmannetjies.) Joernaal van Jorik is een van die heel grootste Afrikaanse gedigte, plus Opperman se groot siklusse soos Kroniek van Kristien en Brandaan. Hy was ʼn meester.

Die vermoë om oor emosionele sake on-emosioneel te dig, soos in “stilhuil“, is indrukwekkend. Hoe kry u dit reg om die poësie vas te vang in oënskynlik nie-digterlike momente? Om as’t ware die disparate saam te voeg?

stilhuil

 

stilhuil knyp die gapermosseloë tóé, knyp

vuur by die stram spleet van die ooglede uit. stilhuil ruk

‘n droë wurg af deur die kramp van jou sluk

af in jou strot. die huid huil gloeiend in stilhuil. dit gryp

jou onder die gesakte ken aan die keel.

dit swel die lippe tot ‘n bloederige dik

roes. dit kyk die bome, die telegraafpale skeel.

stilhuil suig ‘n brandende droë snik

binnetoe, dit laat die ooghare

soos die nat rooigras van die bulte in die reën swaar

grond toe hang, voel die toevou van ‘n donker hand

se palm en vingers om die son se brand.

in stilhuil huil die hele liggaam

bloederig saamgetrek in die neuspunt

stilhuil laat in die boom van jou are

deur jou lyf ragfyn strak

staande ‘n gloeiende gestolde weerlig vertak.

 

Ek weet eerlik nie hoe ek dit regkry nie. Soos maar met elke gedig. Ek weet net: Hierdie gedig is met ʼn wurgpyn in my keel afgedruk en geskryf op die begrafnisbrief in die kerk by die begrafnis van ʼn dierbare middeljarige man wat aan kanker gesterf het. Ek weet nou nog nie wat die predikant gesê het nie. Die gedig het in een worp ontstaan. Ek weet nie hoe nie. Ek weet net dit is ʼn slegte stukkie cliché om te sê jy huil of skryf met jou hart. Jy huil en skryf met jou hele liggaam, ʼn skok (of streling) wat deur al jou bloedvate, deur jou hele senustelsel trek.

In die gedig “die eenvoud van die eenvoudiges” maak u sterk filosofiese uitsprake wat nie die gedig ondermyn nie. Hoe kan ʼn digter filosofiese wyshede oordra sonder dat dit die gedig abstrak maak of verswak? (Die gedig is vanselfsprekend uiters ironies.) Vir my gevoel werk u sterk sintuiglik?

Dankie vir die sintuiglikheid! Weer eens: ironie is ʼn slaapversteurder, ʼn boetie van satire, en verlangs aangetroud hoort die siniese ook tot hierdie familie. Ek het dit in hierdie gedig teen mense (dalk die meeste mense) wat gewoon biologeer soos kakiebos of boetebossies … en gelukkig is! Eintlik beny ek (satiries) as geteisterde mens die mense wat dom-gelukkig in De Dapperstraat voortstap.

U skryf geweldig oor die klassieke: Orfeus, Priamos, Achilles – hierom dan die vers oor Theo Wassenaar?

foto van Theo Wassenaar

 

gedas in ‘n pak klere aan sy ou lyf

asof hy kantoor toe gaan by sy lessenaar

sit vroegdag al die bejaarde Theo Wassenaar

hy kyk na die Griekse teks   hy skryf

en laat Sofokles Afrikaans praat vertaal

is insout  Theo gaan haal

iets uit die vergeetboek    sy hand

met die pen hou voorlopig

sy eie boek van die dood op ‘n afstand

daar is tydelike duur in ‘n gedig

 

ʼn Saak van die gedig wat dit wat oud is, lewendig hou, en dan wel die digwerk wat nie net aan een taal gebonde is nie. Die gedig is lewe, selfs as dit oor die dood praat. Hierdie ou digter gee nuwe en langer lewe aan ʼn ou teks waarvan die skrywer al eeue gelede oorlede is! Nie ewig nie maar lank lewe die gedig!

U gee ook endnote. Dink u nie ons gaan deesdae oorboord met verklarings en erkennings aan die einde van bundels nie? Maak dit nie lesers lui nie?

Ek volg maar die mode. Ek sien Hollandse en ander Europese digters doen dit ook, en ons moenie vergeet nie: T.S. Eliot het dit ook gedoen. As ek nie verduidelik dat die woord “seën” ʼn trekvisnet beteken nie, gaan lesers glad nie verstaan wat ek bedoel nie. Dieselfde geld vir die woord “nes” soos waar waar een drinkglas in ʼn ander pas (“Achilles se skild“). Lesers gaan nie woordeboeke toe nie, want hulle gaan hulle vergis en dink hulle ken mos hierdie woorde!  Maar miskien het jy gelyk: ons bederf die lui lesers en maak hulle nog luier. Ek belowe om dit nie weer te doen nie.

Dankie vir die gesprek, professor Cloete. As verdere leesprikkel volg die gedig “identiteit” (p.54) hieronder.

 

identiteit

 

Tongues are separated by words,

The natures of persons as well;

And their skins are made different

So you can distinguish the peoples.

 

Praat is so menslik, maar vir mekaar

is ons soos die diere as ons praat

soms meer met die gebaar

as met die taal verstaanbaar.

 

Ons walg dikwels onderling.

 

Maar soos die voëls

kan ons almal sing.

 

Ons gesigte is haarloos, ons kruin

is sluik of korrelig bedek

blond of bruin.

 

Appelkoos of houtskool is ons huidskleur

met skakerings van lig

of skadu tussendeur.

 

Party kyk met amandels, party skreef

horisontaal, ander is soetskeel

of die oë lê soos die wolf s’n skeef.

 

Wat sê die oë? Dié wat blou lig

soos ‘n nuwe ster straal

of dié wat van buite onpeilbaar

geheimsinnig is en ondeursigtig?

 

Ons almal is aan die mossie verwant,

bipedies, jonk en orent

of met ‘n onvaste pikkewynwaggeltrant.

 

Duisende ander dinge onderskei

ons van mekaar. Tog weer, aan die ander kant,

op dieselfde manier berei

is almal se uitskot ‘n houtbruin brei

met dieselfde afstootlike skatoolgeur.

Deur die chemie van die nier

het almal se urine die kleur

van goed gebroude bier.

En dan veral, hoe die variasies ook varieer,

ons gryns as ons huil en treur

dieselfde sout en speeksel … Die variasies

varieer op die vals trots van die nasies …

 

Die eiertjies en die semenpaddavissies,

die vorm, bloed en vlees van die harte is presies

eenders.

                        Ons moet die nuwe boodskap aanvaar

al is dit met pyn almal gaan na dieselfde plek

slaaf, Skith, vryman en barbaar.

 

Dié winddun wasempie dan: identiteit,

ons raak dié glibberige

slymerige vis eenders kwyt.

Almal slaak dit met ‘n laaste sug

en stort dan in die oer-Een terug.

Haal ons die ideaal

!ke e: /xarra //ke

dan volmaak alleen

as ons ophou asemhaal?

 

(c) T.T. Cloete (Uit: Onversadig, 2011: Tafelberg Uitgewers)

 

Digstring indeks

Thursday, February 10th, 2011

Hierdie inisiatief is na die voorbeeld van Brian Brodeur se hoogs suksesvolle weblog “How a poem happens“. Hiervolgens word op ‘n bepaalde gedig gefokus aan die hand van ‘n aantal standaardvrae aan die digter ten opsigte van die ontstaan van die betrokke vers. Ons glo dat gevestigde sowel as aspirant digters dié aaneenstring van digter en gedig leersaam (en hopelik inspirerend) sal vind.

Digstring

Digstring

Opgedateer tot en met 4 Oktober 2019 – Redaksie

Inhoud

A-B 

Andries Bezuidenhout. Taxi-rit ná die aand. Mei 2010

Andries  BezuidenhoutVeelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle” . Nov. 2014

Zandra Bezuidenhout. Moderne Psalm. Mei 2010

Emma Bekker. Nagvangs. Mei 2016

Nini Bennett. Da Capo. April 2016

René Bohnen. Brief aan Ebba. Mei 2012

Fourie Botha. My eerste Bybel. Augustus 2011

Aniel Botha. Rooikappie en die wolf. Mei 2012

Hendrik J. Botha. Breindood. April 2016

C, D, E

TT Cloete. Swerwende verse

Toast Coetzer. geluk

Marius Crous. Die ander man

Hans   du Plessis .Josef

Heilna du Plooy du Plooy. “Ouhoutfluit”

Anne-Ghrett ErasmusSkilder

Sydda Essop. Ek lewe in stilswye

Louis Esterhuizen. Melopee

F, G

Gilbert Gibson. Another roadside attraction

Melanie Grobler. Die Eerste Vrees Is Hier.

H, I, J

Joan Hambidge. “The drama of being a child”

Joan Hambidge. In die skadu van Machu Picchu. Mei 2010

Joan Hambidge. Parys

Daniel Hugo. Ontnugterde digter. Junie 2010

Pieter Hugo. Honde

Louis Jansen van Vuuren. “Passasie”

Marlise Joubert. waarskuwings. Mei 2010

K, L

Ronelda KamferStof. Junie 2010

Annie Klopper. ‘n Deurnagbraai in Oranjezicht

Martine Klopper. Kwatryn

Antjie Krog. Vier seisoenale waarnemings van Tafelberg/Winter. Mei 2010

Willem Krog.  “Vir pa”  Nov. 2014

Karen Kuhn. Taalles. Mei 2012

Kobus Lombard. Kameeldoring

M, N

Jannie   Malan. Watermerk” Nov. 2014

Johann Lodewyk Marais. Richard E. Leakey 

Lucie Möller. Kortstondige kalligrafie

Melt Myburgh. Toeval

Charl-Pierre Naudé. Twee diewe. Mei 2010

Charl-Pierre Naudé : “Eergister en môre, met visse”  Nov. 2014

Fransi Nieuwoudt. ” ‘n ontstaan “. Febr. 2017

Hennie Nortjé. Ons Land. Okt 2019

O, P, Q

Pieter Odendaal. die eerste steen.

Johannes Prins. Man diesel

R, S

Andries Samuel. All god’s children took their toll

Alfred Schaffer. “Droomstart”  Nov. 2014

Bibi Slippers. “En route: Suid Afrika”

Bibi Slippers. Yskas. Nov. 2017

Susan Smith. “By die soetdoring” . Febr. 2017

Hilda Smits. “Vir Primo Levi”

Carina Stander. Lima

Marius Swart. liefdes-e-pos. Mei 2010

T, U

Etienne Terblanche. Vir die Golden Gate-weduwee

V, W

Marlene van Niekerk. Poets van ons vaderland unite

Ilse van Staden. Fluistering

Ilse van Staden. Dertien kraaie. Febr. 2017

Jacobus van der Riet. Die Heilige Nikolai van Japan. April 2016

De Waal Venter. Die wetenskaplike en die fee. Okt. 2017

De Waal Venter. Die res is net seëlversameling, Okt, 2019

Cas Vos. Kersrook

Cas Vos. Uitkyk. Mei 2012

Cas Vos. Vaar-wel

Jelleke Wierenga. Reënboognasie: Fear dot com

 

 

 

Onderhoud met Melt Myburgh oor die komende Woordfees

Tuesday, February 1st, 2011

Elwe & Selwe – En kuier kán die spulletjie!

Louis Esterhuizen gesels met Melt Myburgh, Woordfees se Woordkunsprojekbestuurder

Melt Myburgh

Melt Myburgh

Melt Myburgh woon op Stellenbosch en werk by Woordfees as Woordkunsprojekbestuurder. Hy het langs die Oranjerivier op Karos naby Upington grootgeword.

Nadat hy in 1992 ‘n M.A.-graad in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het, was hy vir 15 jaar lank onderwyser in Afrikaans en Engels in skole regoor die land.

Van sy gedigte is in Nuwe Stemme 2 opgeneem. Hy skryf gereeld vir Rapport se boekeblad.

 

Sy debuurbundel, Oewerbestaan, het verlede jaar by Protea Boekhuis verskyn.

 

Melt, ten eerste veels geluk met ʼn uiters indrukwekkende program. Met die eerste deurkyk wil dit voorkom asof dié program meer omvangryk is en selfs nog meer verskeidenheid bied as wat dit in die verlede was. Is dit so?

Baie dankie, Louis. Die program is inderdaad omvangryker as verlede jaar omdat soveel nuwe uitgewers en belangegroepe met aanbiedings aangesluit het by die Woordfees. Om eerlik te wees, ons wou ʼn kleiner formaat aan feesgangers bied, maar die energie wat die Woordfees oor die afgelope paar jaar laat versnel het, is duidelik nog nie uitgewoed nie.

Hierdie is reeds die tweede Woordfees-program waarby jy betrokke is as Woordkunsprojekbestuurder. In welke mate voldoen vanjaar se fees aan die persoonlike doelwitte wat jy daarvoor in die vooruitsig gestel het?

Woordwerkers: Dorothea van Zyl & Melt Myburgh

Woordwerkers: Dorothea van Zyl & Melt Myburgh

My persoonlike doelwitte stem ooreen met die Woordfees sʼn; juis daarom bly my werk my passie. Ons streef daarna om ʼn platform vir woordkunstenaars te skep sodat die breë publiek kennis kan neem van hul werk en dit geniet. Vir my is dit belangrik dat skrywers en kunstenaars op ʼn fees soos hierdie geakkommodeer word met die respek wat hulle verdien. Daarom lê veral die profielaanbiedings, waar skrywers gehuldig word vir hul bydraes tot ons letterkunde, my na aan die hart.

Melt, ons fokus is uiteraard die teenwoordigheid van digkuns op die program. In dié opsig is daar die spesiale verering van TT Cloete wat vanjaar nie net 86 word nie, maar ons ook met ʼn magtige bundel, Onversadig, verras. Vertel ons ietsie meer oor dié spesifieke item wat op 9 Maart om 19:00 in die Sasol Kunsmuseum plaasvind?

TT Cloete

TT Cloete

Ons is baie gelukkig om vir TT Cloete in hierdie senior lewensjaar van hom vir die eerste keer by die Woordfees te ontvang. By die profielaanbieding lewer Joan Hambidge ʼn oorsig oor Cloete se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Heilna du Plooy praat oor Cloete as mens. André Strijdom het pragtige toonsettings van Cloete se verse gemaak en die sopraan Elizabeth Frandsen sal hiervan sing by die geleentheid. En natuurlik lewer Cloete ʼn wederwoord.

Vir my was dit tot dusver ʼn inspirerende ervaring om met Cloete te skakel om alles gereël te kry.

Nog ʼn besonderse item is die gesprek wat die twee Marais’s, Danie en Loftus, tydens ʼn noenmaal op 8 Maart by De Vette Mossel gaan voer oor die indringende vraag “Hoe vry is die vrye vers?” Wat vermoed jy kan ons van dié gesprek te wagte wees?

Danie en Loftus het ingestem om vanjaar se LitNet-skryfskool, wat moontlik gemaak word deur Sanlam, aan te bied. Tussen die skryfskool-sessies word daar by De Vette Mossel oor middagete gesprek gevoer oor die onderwerp “Hoe vry is die vrye vers?” Ek vermoed dit gaan ʼn baie interessante gesprek wees. Die kwessie van die praatvers, waaroor daar gereeld hier op Versindaba rede gevoer word, sal sekerlik aangeroer word.

Hopelik stik voorstanders van tradisionele vormvaste konstruksies darem nie in die heerlike seekosgeregte wat De Vette Mossel voorsit nie.

Joke van Leewen

Joke van Leewen

ʼn Groot verrassing op die program vanjaar, is die teenwoordigheid van Antwerpen se voormalige stadsdigter, Joke van Leeuwen. Waarom het julle juis op haar besluit en hoe moeilik (of maklik) was die onderhandelinge om haar in te voer Stellenbosch toe vir dié geleentheid?

Die Woordfees is baie bevoorreg om ʼn vennootskap te hê met organisasies wat skrywers uit die Lae Lande sekondeer vir optrede tydens die fees in Stellenbosch. Danksy die ondersteuning van die Nederlandse Taalunie, bemiddel deur die Kaapse Forum, kan ons vir Joke, ʼn uitstekende voordragkunstenaar, akkommodeer in die volgende program-items: Poësie: vyf van die beste op 10 Maart om 19:00 in die Sasol Kunsmuseum, Soete Groete op 11 Maart om 19:00 in die Bilton Wynlandgoed en by die Neerlandistiekdag op 12 Maart vanaf 09:00 tot 14:00 in die Lettere-gebou se Lokaal 693. 

Dorothea van Zyl het al ʼn optrede van Joke in Nederland meegemaak, en was baie beïndruk met haar. Die korrespondensie tussen die Woordfeeskantoor en Joke was tot dusver joviaal: in terme van toeganklikheid en professionaliteit is sy ʼn engel.

Wat ons die afgelope tyd opval, is dat Nederlandse skrywers ons al hoe meer kontak en aandui dat hulle graag by die Woordfees sou wou optree.

Soos altyd bied die Woordfees ook heelwat vir die jonger, meer avontuurlustige poësieliefhebber. Watter items het julle juis met hierdie oogmerk by die program ingesluit?

Dit is altyd heerlik om debuutdigters by die Woordfees te akkommodeer. Vanjaar bring NB-Uitgewers vir Martina Klopper (Nadoodse ondersoek) en Andries Samuel (wanpraktyk). Hulle tree op 8 Maart om 18:00 in die Erfurthuis in gesprek met Joan Hambidge.

Oopmonddigters

Oopmond, onder leiding van Ronel Nel, is ook weer op die program. Dié gewilde aanbieding het verlede jaar sy Woordfeesdebuut gemaak. Ek dink die name wat deelnemende digters toe-eien, sê alles oor die gewildheid van dié tradisionele geveg tussen vers-makers: D.J. Stotterman (Andries Bezuidenhout), Breyten Lykverdag, (Niel van Deventer), Joe Moer! (Jo Prins), Ingrid Dronker (Ronel Nel) en NP van Lykskou (Danie Marais). Hulle is op 10 Maart te sien in die nuwe Dorpstraat Teater net buite Stellenbosch.

Die Adam Tas Studentevereniging sorg vir ʼn heerlike opskop by Aan de Braak Teater op 11 Maart om 20:15 met Drink, dig, kuier! Hulle maak spesifiek voorsiening vir studentedigters. En soos jy weet, Louis, is hier baie talent onder die Maties. En kuier kán die spulletjie!

En natuurlik is daar ook heelwat items vir die meer besadigdes onder ons; soos byvoorbeeld Skemerverse (13 Maart, Botaniese Tuin, 18:00) waarmee die fees tradisioneel afsluit. Watter soortgelyke items is daar om na uit te sien?

Gert Vlok Nel

Gert Vlok Nel

Skemerverse, wat vanjaar spog met digters soos Gert Vlok Nel, Ronel Nel, Andries Bezuidenhout, Robert Bolton, Johan Myburg, Jo Prins en Ronelda Kamfer, verkoop gewoonlik vroeg-vroeg uit.

Ek is baie opgewonde oor Engelse digters wat onder Leon de Kock se vlerk saamtrek. Hulle word ondersteun deur ProQuest, ʼn maatskappy wat digitale inligtingstelsels verskaf aan opvoedkundige instellings. Op 11 Maart om 17:00 lees Finuala Dowling, Sindiwe Magona, Ari Sitas, Marí Peté en Karin Schimke saam met Leon uit hul werk voor in die Boektent. Die Woordfees verwelkom digters en skrywers in tale waarmee Afrikaans ʼn historiese en geografiese verwantskap deel.

Een van die hoogtepunte op die poësieprogram is Poësie: vyf van die beste op 10 Maart in die Sasol Kunsmuseum. Hier word feesgangers getrakteer op verskuns uit die boonste rakke met T.T. Cloete, Petra Müller, Lina Spies, Danie Marais en Joke van Leeuwen.

Op die NB-program kan ons luister na Mari Grobler oor haar nuwe bundel, Toe dit nog vroeg was (8 Maart om 11:00) en Joan Hambidge oor Visums by verstek (10 Maart om 14:00). Tom Gouws en Marthinus Beukes voer op 12 Maart daar in jou en Marlise se Protea-boekwinkel die woord oor Gouws se Ligloop.

Liefhebbers van die klassieke vers-kuns kan op 12 Maart gaan luister na die US Departement Antieke Studie se aanbieding van ʼn dramatiese voorlesing uit die werk van die Romeinse liefdesdigter Catullus. Ek haat en ek het lief beloof om iets besonders te wees.

Ek is baie bly dat ons die bekendstelling van Adinda Vermaak en Pieter Strauss se Rymreise kan akkommodeer. Dié bloemlesing vir laerskoolleerders word deur Nasou Via Afrika bekend gestel tydens ʼn pragtige geleentheid in die US Kunsgalery op Vrydag 11 Maart om 19:00. Alida Bothma se illustrasies, wat in die bundel opgeneem is, word ook daar uitgestal.

Die ATKV se multimedia-tentoonstelling Skilder met woorde II, waarin gedigte met skilderye en ʼn klankbaan vermeng word, is ʼn ervaring wat nie misgeloop moet word nie. Sewe digters se werk is hierin opgeneem en die tentoonstelling is van 4 tot 13 Maart te sien in die Sasol Kunsmuseum.

Melt, persoonlik vind ek die items wat by die kategorie “Woordmusiek” aangetref word, besonder opwindend; veral omrede so baie van hierdie musiekitems in kombinasie met toonsettings van gedigte en/of voorlesing geskied. Watter van hierdie sou jy as moontlike hoogtepunte uitsonder?

Petra Müller

Petra Müller

Om iets uit te sonder is mos soos om ʼn oupa te dwing om tussen sy kleinkinders te kies. Ek dink egter Boegoe vannie liefde, Witlig en Vergesigte Vermeerder in Vers en Fuga is bo-aan my lysie. Die poësie van Hans du Plessis, Petra Müller en Tom Gouws word in dié pragproduksies omtower tot multimedia-ontploffings van woord, beeld en klank.

Ten slotte – ek vermoed dat daar met die saamstel van so ʼn omvattende program altyd items is wat vir watter rede ook al, nie geakkommodeer kan word nie. Items wat jy besonder graag sou wou betrek, maar helaas nie kon nie. Is ek verkeerd hierin of is daar inderdaad items buite rekening gelaat waaroor jy spyt is?

Ja, daar is items wat nie op die fees geakkommodeer kon word nie omdat daar eenvoudig nie plek op ʼn omvattende program is nie. Of soms is kunstenaars nie beskikbaar nie. Ek mis byvoorbeeld die ASV se bydraes vanjaar. Dit breek altyd mens se hart as iemand weggewys moet word. Maar daar is altyd ander geleenthede waar mens weer kan inhaal, soos met Versindaba later vanjaar.

Baie dankie vir hierdie gesprek, Melt. Mag vanjaar se fees vir jou nie net ʼn kroonfees wees nie, maar ook ʼn persoonlike vreugde.

Baie dankie, Louis; ek hoop woordliefhebbers geniet die fees net soveel soos verlede jaar. By wyse van toegif volg Zandra Bezuidenhout se feesgedig, “Elwe & Selwe” hieronder.

 

Elwe & Selwe

 

Op hierdie Woordfees gaan ons delwe

na die vele elwe en die selwe.

Deur woorde, kuns en die musiek

lig ons die sluiers oor geheime,

en reis ons met die oog en oor

langs al die wonderlike weë

wat die sinne en die hart bekoor.

 

Eintlik is ons almal elwe,

elkeen anders, elk uniek,

party met een, party met baie selwe.

Die Woordfees wil die pad plavei

vir jou en my om saam te dans

langs duisend kronkels van genot,

waar elf en self, vermom as kunstenaars,

kom goël en smokkel met die kop.

 

Elke asem, elke elf en self,

kan deelhê aan die spel van twintig-elf.

Die taal se pyl en boog, so word vertel,

is droom en fantasie se metgesel.

Maak dus jou koker vol;

kom jag die storie-bokkies sonder tal.

Ja, ‘n fees wat op die spoor van woorde loop

maak die poorte na ‘n sprokieswêreld oop!

 

(c) Zandra Bezuidenhout

 

 

  •