Breytenbach Sentrum, Wellington: Tuin van digters – ‘n fotobeeld met gedigte (1)
Thursday, September 20th, 2012TESSA LOUW het met haar kamera hierdie besondere dag op 15 September 2012 met die tema ‘Tuin van die Digters” baie atmosferies vasgevang. Die Breytenbach Sentrum in Wellington se opdrag aan die digters was eenvoudig: skryf ‘n gedig rondom die tema, op ‘n klip van jou keuse en kom lees dit voor tydens die openingsgeleentheid van ons digterstuin. Klipgedigte word dan later in die tuin ingemessel vir ‘n vaste en lewende staanplek vir die Afrikaanse digkuns.
Die melkweg is ‘n windhond
My motor stippel
deur die knewel van ‘n berg-
tonnel;
‘n spoormetaal in klip
wat gestolde lig stort.
Ek bring ‘n klip
en dit bring vir my,
geklonte spikkels
wat deur die newel glip.
© Charl-Pierre Naudé
Die Digterstuin
Waar is die grond vir die wortels
en hoe skuif ek die diafane boom
om dit hier in die vers te plant?
reën bedrup die dorpstuine
maar die verbeelding skep die naggeluide
die honde blaf en die strate word stil
die purper nag hurk op ons palms
en ons soek ‘n plek, verder en hoër
‘n dromende melkpad na die hemeltuin
hoe nooi ek dié een
wat die anemone geplant het
om weer die blombedding te bewerk?
© Melanie Grobler
Omar Khayyam in Wellington
Uitgeskop uit die Edenparadys
met sy Vrugte, Vrou en Aandwind wat suis
maak die Digter van die Woestyn
hom vir goed in dié Woordoase tuis.
© Daniel Hugo
Kwarts, ‘n steen so oud
soos die aarde, selfs ouer: aangegee
van die tyd voor tyd gevorm is
en alles water was, selfs ouer: vergete
in skanderings van klip
met in sy hart iets wat vloei,
iets soos water, selfs ouer: gees.
(Uit: Wat die water onthou, 2010: Protea Boekhuis)
© Louis Esterhuizen
Diefstal in die tuin van digters
Ek het ‘n tuingedig geskryf en
dit was goed:
die woorde groen en soet en
netjies in gelid soos
perfekte ertjies in ‘n peul
die geheel
volmaak gevorm en gepoets
‘n blink perske was my vers
of dalk
‘n akker.
Dit was die Groot Werk van my loopbaan maar
hoe moes ek weet
dat hierdie meesterstuk so vinnig
sou vergaan?
Terwyl ek my oë na die
bome opslaan en
aan my bas kan voel
ek het ‘n goeie ding hier beet
Het ‘n eekhoring
die hele ding
opgevreet.
© Bibi Slippers, 2012
Foto’s: © Tessa Louw