Posts Tagged ‘Tussenganger deur Marius Crous’

Resensie: Tussenganger (Marius Crous)

Monday, March 2nd, 2020

 

Resensie: Tussenganger deur Marius Crous. Protea Boekhuis, 2020.

Resensie: Nini Bennett

 

Marius Crous is ’n bekroonde digter en resensent. Sy oeuvre bestaan uit Brief uit die kolonies (2003), Aan ’n beentjie sit en kluif (2006) en Vol draadwerk (2012). Brief uit die kolonies is in 2004 bekroon met die RAU-Mardene Marais-(UJ-) debuutprys.

Volgens Louis Esterhuizen is Crous se jongste bundel, Tussenganger, ’n uitdagende en deurgekomponeerde teks wat die leser met die totaliteit van sy menswees konfronteer – genadelose poësie, en by uitstek hermeties van aard. Die leser se insette om betekenis te genereer is van kardinale belang: Tussenganger maak geen maklike toegewings in hierdie verband nie. Die gedigte, as ondeurdringbare taalbousels, bied talle leesversperrings aan die leser. In omgangstaal sal daar van hermetiese poësie gepraat word as moeilike of selfs ontoeganklike poësie. Die woord “hermeneutiek”, op sy beurt, is epistemologies verwant aan die naam van die Griekse boodskappergod, Hermes. Hermes is deur die antieke Grieke beskou as die “hermeneutes” wat bomenslike dimensies kon verstaan of verstaanbaar kon maak vir die menslike verstand. Die bundeltitel, Tussenganger kan moontlik verwys na Hermes, die boodskapper van die gode en gids na die onderwêreld. Hierdie boodskapper tussen die mens en die gode signalleer ’n soort bemiddelaar of tussenganger. Die onverstaanbaarheid word met ander woorde getransformeer na verstaanbaarheid. In ’n onderhoud met Dewald Koen op Versindaba het Crous genoem dat hy soos ’n onbetrokke tussenganger tussen mense voel en dat Tussenganger geskryf is tydens ’n tussenfase (na sy moeder se dood). Meer hieroor later.

In die breë gesien handel die bundel oor die brutalisering van dinge: van die liggaam en seksualiteit; van geloof en geestelike sekerhede; van die Rooms-Katolieke Kerk en sy sakramente en rites; van ideologiese magstrukture, en van die planeet. Dit is dus ’n bundel wat hom bemoei met die slag van heilige koeie. Verse oor skilders en kuns, middeleeuse en eietydse geestelikes, die digter se moeder en politieke konflik, soos die Fees Must Fall-beweging, kom voor.

Die bundel open met ’n motto van Kenneth Goldsmith: “The function of a writer is more like being a DJ than being Jimi Hendrix.” Die digter as disc jockey is met ander woorde gekonfyt in die kuns van rekordering/herhaling of nabootsing, ’n aanhaling wat ook die swaar intertekstuele lading in die bundel voorafskadu.

Die gedig, “Lied aan die maan” (11) verwys na Dvořák se “Song to the moon” uit die opera Rusalka. Dis ’n vers wat enersyds as mistiek, andersyds as onheilspellend gelees kan word; die blommekrans om die maan suggereer ’n blommekrans by ’n graf. Die slotreëls waarsku: “ kraak die maan oop / soos ’n lem deur ’n oogbal”.

Die kleur wit, ook as die afwesigheid van kleur, vind gestalte in onder meer “By die lees van Han Kang” (18) en “Wit lig” (15), verse wat die nihilisme van ’n bestaanswêreld aksentueer. The white book (van Kang) vorm die interteks, ’n reeks meditaties wat die spreker in verband bring met Robert Rauschenberg se White Painting. Hierdie kleurloosheid word in “Variasies op ’n tema (na Oscar Wilde)” (13) gejukstaponeer met ‘n ontploffing van kleure in die natuur. Die spreker flankeer met Wilde se uitspraak, “Mere color, unspoiled by meaning, and unallied with definite form, can speak to the soul in a thousand different ways”. Die somber toonaard in deel een resoneer voorts met “Winterreis (17), ’n vers waarin Ingeborg Bachmann se liefdesgedig, “Nebelland”, waarin ’n mistige winterlandskap as ruimte opgeroep word, gestalte vind. In “Winterreis” herleef die spreker die dood van ’n geliefde: Bachmann se minnaar, Paul Celan, het selfmoord gepleeg deur verdrinking (in die Seine).

 

in die winter eers word jy gesoek

as almal amper al vergeet het van jou wegdrywe

helder oordag / op die middag / by die rivier

Ook besinnings oor bome en riviere kom voor.

 

Deel twee open met “Adagietto” (25), oftewel “’n kort adagio”. Die vers tref in die understatement en weerloosheid van jeugdige erotisisme. Homoërotiese versugtinge word voortgesit in klandestiene ruimtes, soos parke en voorstede in “Park” (29) en “Voorstad” (30). Ook die pyn en verwonding van mitologiese figure word verbeeld in onder meer “Achilles” (31) en “Drie weeklae van Hektor” (29-30). In skrille kontras met die antieke (homoseksuele) Griekse helde word moderne gayseks aan die hand van ’n pornografiese webtuiste aan die leser gestel:

 

THE POZZING OF PETE CREST

ek ken nie die nuwe taal

van pozzing breeding seeding

die taal van taking loads

raw sex rough sex barebacking

is ek ’n bug chaser

’n soeker na die gift

hoekom toxic loads najaag

of biohazard op my lyf laat ink

’n aar vir die meth slamming

glasige gewag in ’n donker hotelkamer

vir anonieme cum pigs

(28)

 

In die “Verdringing van Rupert von Deutz” (34) word ’n pedorastiese ervaring tussen Von Deutz, ’n Benedikteinse teoloog, en ’n seun beskryf – ’n gebeurtenis wat meervlakkig uitspeel as die verontheiliging van veel méér as net dogma. Hierdie vergrype aan seuns en hulle seksualiteit word ’n tema wat transhistories deur Tussenganger bly herhaal; dit herinner aan ’n skeefgetrekte tipe moraliteitsteater waarin die motief, naamlik die herlewing van trauma, dieselfde bly; net die rolspelers, inkleding en rekwisiete verskil telkens.

’n Besondere hoogtepunt in die bundel is die verse wat handel oor die afsterwe van die digter se moeder, soos byvoorbeeld “Bardo” (119) en “Moeder” (39). In laasgenoemde vers reggresseer die Jesus-figuur, in tandem met die moeder se sterwensproses, en skep dié vers ’n onthutsende en aangrypende invalshoek op ’n Verlosser wat kragteloos en infantiel vertoon – maar steeds ’n figuur is wat piëteit by die leser wek.

Ná die dood van die spreker-digter se moeder, soos dit verbeeld word in Tussenganger, verskuif die klem na Jesus se Moeder, ’n bemoeienis met Theotokos, byvoorbeeld “Liturgie van St Johannes Chrusostomus, Konstantinopel” (40). Die oorgang is een van die sterflike na die ontsterflike Moeder self.

Daar is hallusinêre verse oor die hel (“Hel”, 54), ’n stuk skreiende en blaamskuiwende alleenspraak van Petrus, gerig aan Judas (“Petrus aan Judas”, 60), en gedigte oor die tempel wat ironies inspeel op liggaamlike ontering en geweld. Vervolgens die ekobewuste “Kyrie” (51):

 

ontboste reënwoude wees ons genadig

plastiekversmorende see wees ons genadig

ontboste reënwoude wees ons genadig

ysbeer uitgewerp op ’n stuk ysskots

hoe vra ons van jou om te vergeet

(…)

 

Deel vier, getitel “Einklammerung”, kan onder meer dui op ’n fenomenologiese reduksie. Só handel die gedig, “Om die vuur” (73) oor die wit man in Suid-Afrika wat sedert 1994 ten seerste gemarginaliseer is. Van die verwagte, gemoedelike braaivleiskuier is daar geen sprake nie. Inteendeel, die spreker dien eerder die leser ’n opstopper toe deur dít, wat eens kosbaar was, te negeer in die kruste taal denkbaar. Met ander woorde: deur die brutalisering van taal gee die spreker te kenne dat Afrikanermans gátvol is. Die gedig spot met die mannementaliteit in die liedjie “Hardekole”. Die vers, “Mea culpa” (76) resoneer ook met laasgenoemde tematiek en die prys van white guilt en politiese korrektheid word verreken teen “silwer sikkels”, wat die suggestie van verraad voor die oog roep:

 

ek deel die besems se kas

met politoer en kakpapier op my lessenaar

maandeliks kry ek my sikkels silwer

vir die prysgee van my parkeerplek

 

Die vers, “Sacerdotalis Caelibatus” (79), ’n werk wat oor priesterlike selibaatheid handel, neem ’n ironiese wending as dit (weer eens) berig oor pedorastiese aktiwiteite in ’n klooster. ’n Kenmerk van Tussenganger is die naasmekaarstelling van die heiligmaking van persone en idees versus die aftakeling van dít was as heilig beskou word. In Crous se vorige bundel, Vol Draadwerk, het hy katedrale metafories gesink; in Tussenganger ontmasker hy kerklike praktyke en kindermolesteerders en huiwer nie om die parafilie bloot te lê nie. Die fokus skuif na seuns of jong mans se verlies aan persoonlike waardigheid.

“FMF”* (84), ’n snydende vers oor die Fees must fall-beweging, besin oor knellende hedendaagse kwessies in die akademie soos die gehalte van tersiêre onderrig, die finansiële nood van studente en die aanstelling van senior akademici.

In deel vyf word daar op die werk van skilders en kunstenaars gefokus waarin liggaamlikheid, tatoeëerkuns, littekens, selfmutilasie en selfs die gebruik van plastiese sjirurgie aan die bod kom (byvoorbeeld “Marina Abramovic”, 92 en “Orlan”, 94).

In die onlangse poësie-oes is die verwysings en verse oor die sterwende of bejaarde moeder opvallend, soos dit byvoorbeeld in grondwater van Marlise Joubert die geval is. Crous vul hierdie oes aan met twee onvergeetlike moedergedigte: “Bardo” (119), en die reeds genoemde “Moeder” (39). Die begrip ‘Bardo’ verwys na die Tibetaanse tussenfase of die liminale staat tussen dood en wedergeboorte. Dis ’n vers wat ontstel en ontroer – ’n emosionele uitknikker. Ek haal aan; strofe 6 uit ’n treursang waarin die moeder se uitvaart oor die bestek van vyf bladsye beskryf word:

 

alleenvaart vir haar verder

sy wat reeds so baie moes boet

vir haar pa en oupa

baarmoederloos met kromgetrekte kloue

’n flenterhart katarakte spatare blaasinfeksie

spinnekopbytwond aan haar gesonde been

al wat kortkom

was bloed in haar handpalms

 

Die bundel sluit af met “Nibiru” (151), ’n verwysing na die Nibiru-kataklisme waartydens die aarde (volgense apokaliptiese voorspellings) teen ’n reuse planetêre objek sal bots. Lars von Trier se film, Melancholia (2011) vorm die subteks.

Daar is nog heelwat fasette rondom hierdie seminale werk wat ek binne die bestek van dié resensieruimte nie aangeraak het nie. Tussenganger is ’n lywige bundel van 152 bladsye wat in die fynproewer van poësie se smaak sal val. Die betekenisproduksie van ’n hermetiese werk soos dié mag in sommige gevalle ’n veeleisende leesproses behels, maar stééds een wat die leser sal beloon. Al is heelwat van die gedigte ellipties geskryf, met ander woorde poësie wat hiate of betekenisgapings aan die kant van die leser laat ontstaan, is daar steeds genoeg leidrade om selfs die hardste neut te kraak. Die bundel is ’n waardevolle toevoeging tot Crous se oeuvre én tot die Afrikaanse poëtiese kanon.

 

GOD

met god weet mens nie altyd nie

eers net ballonne bo die tuin

of die wind wat sy vingers

trek deur die bloekombome

’n vrug se plof in die gras

wanneer die nag soos dik bloed

oor die wêreld loop

sit hy ’n kwarts

tollend tussen die planete

en vertel ons van die gemikte boomtak

die inkap van spykers in die tempelmure

of grofgeskut na ’n vakansiehotel

lanterns en drywende kerse soos afgestorwenes

teen ’n agtergrond van swart

die vere hou op plons in die inkvate

die blaaie krul om van die vlamme

teen die muur ’n tapisserie

oor die lewe van lilith

wat maak die besmeerde hande

bo die kaarttafels en escritoires

in die vensters van wolkekrabbers blaf skoothonde

maar in die baai is alles stil

soos ’n aandwandeling in eden

(50)

Nuwe publikasie: tussenganger (Marius Crous)

Tuesday, January 21st, 2020

 

Agtergrond

Bekende digter en resensent Louis Esterhuizen het die volgende oor hierdie versameling gedigte gesê: Duidelik is tussenganger die werk van ʼn digter wat in die volle krag van sowel sy eie kreatiewe denke as vakkundige vernuf staan. Dit is ʼn digverweefde, deurgekomponeerde en uitdagende teks wat die leser nie net met die totaliteit van sy/haar menswees konfronteer nie, maar ook dwing om afstand te doen van geykte opvattings en veral verwagtings. Genadelose poësie, inderdaad, en by uitstek hermeties van aard met geen “gemaklike” toegewing aan die leser óf die aangesprokene nie. Trouens, nog selde was TS Eliot se uitspraak “Genuine poetry moves before it is understood” só van toepassing as met hierdie gedigte.

Oor die outeur

Marius Crous (1965–) is ‘n bekroonde Suid-Afrikaanse digter en dosent aan die Nelson Mandela Universiteit. In 2004 het het hy die RAU-Mardene Marais- (UJ-)debuutprys vir Brief uit die kolonies (2003) ontvang.

Sy gedigte word opgeneem in die versamelbundels wat jaarliks ná Versindaba uitgereik word, asook in Groot verseboek en ander bloemlesings soos My ousie is ‘n blom.

Hy verower in 2014 derde prys in Versindaba se lykdigte kompetisie oor gestorwe digters met Lykdig vir Wisława Szymborska.

Publikasies:

2003 – Brief uit die kolonies

2006 – Aan ‘n beentjie sit en kluif

2012 – Vol draadwerk

 

Verkoopsmoontlikhede

Crous het reeds profiel gebou as digter, resensent en akademikus; hy is gerekend en gewild.

 

Lesersprofiel

Liefhebbers van ‘ernstiger’ poësie sal verheug wees oor hierdie aanvulling tot Crous se oeuvre.

 

TITEL: tussenganger
OUTEUR: Marius Crous
GENRE: Poësie
PRYS: R180.00 (BTW ingesluit)
VERSKYNINGSDATUM: Februarie 2020
ISBN (GEDRUKTE BOEK): 978-1-4853-1088-4
FORMAAT: 137 x 213 mm
HARDEBAND/SAGTEBAND: Sagteband
AANTAL BLADSYE: 152
VERSPREIDING: Wêreldwyd

  •