Posts Tagged ‘Uit die wit lig van my land gesny’

Nini Bennett. In die appel van my oog

Thursday, April 1st, 2021

 

 

 

Met die uitbraak van Covid-19 het ons geleer om gesigsmaskers te dra; ons is, in ’n sekere sin incognito en gesigte wys weinig, of geen mimiek. Soms sukkel ons om mekaar te herken en moet ons soos mense wat aan gesigsblindheid ly, staatmaak op eksterne leidrade soos liggaamsbou, klerasie, haarstyle, ensovoort. Dit is eintlik verstommend hoe baie inligting mens uit iemand anders se gesig kan lees, byvoorbeeld sosiale interaksie, emosie, persoonlikheidseienskappe en gender, om enkeles te noem. Daarom is dit te verstane dat akademici ’n hernieude belangstelling in die neurologiese versteuring, prosopagnosia (gesigsblindheid) toon. ’n Persoon wat hieraan ly, sukkel om andere se gesigte te herroep, onthou of van mekaar te onderskei. Ongeveer een uit elke vyftig mense word hierdeur geaffekteer, en gesigsblindheid is óf aangebore óf veroorsaak deur breintrauma.

Dr Erez Freud, ’n sielkundige verbonde aan die Centre for Vision Research aan die York-Universiteit, Totonto, het 500 volwassenes genader om ’n eenvoudige aanlyn gesigsgeheuetoets te doen. Die deelnemers het aansienlik swakker gevaar in die herkenning van gesigte met sjirurgiese maskers; dit sluit ook die gesigte van bekendes in. Ongeveer 13% van die totale groep het só swak gevaar en gesukkel, hulle kon net sowel aan gesigsblindheid gely het.

Gesigsherkenning is ’n gesofistikeerde proses wat holisties, in een oogopslag, geskied. Dit is veral waar in die geval van mense wat mekaar goed ken. In soortgelyke situasies is deelnemers se gesigsherkenningsvaardighede getoets deur die gesigte van bekendes onderstebo te draai, of feitlik heeltemal te bedek, met net een gelaatstrek sigbaar. Die deelnemers is ook gekonfronteer met ’n fusie van bekendes se gelaatstrekke, byvoorbeeld George Clooney se mond en Robin Williams se oë, of die superponering van gelaatstrekke. Vroue se gesigsherkenningsvaardighede is beter as hulle manlike eweknieë s’n. Dit is dikwels ook vroue wat die polisie help om forensiese gesigsketse van vermeende misdadigers saam te stel. Die evolusie van polisiesketse, Identikits en sagteware, wat help om die ‘korrekte’ amalgaam van gelaatstrekke byeen te bring, het intussen geëvoleer tot gesigsbiometrie. Mens sien dikwels in ’n film hoe vroue polisiekunstenaars bystaan met die saamstel van gesigsprofiele – en in die werklike lewe is dit ook die geval. (Mens kan natuurlik byvoeg dat vroue inderdaad ook groter slagoffers van misdaad is.) Hoe dit ook al sy – die binêre opposisie van gesigsblindheid sou waarskynlik superieure gesigsherkenningsvaardighede wees – en, soos genoem vaar vroue beter as mens as dit by die onthou van fynere gesigsdetail kom. Vroue “lees” ook inligting uit ander mense se oë beter as mans. Sulke ooggetuies is van onskatbare waarde vir die polisie as dit kom by die saamstel van gesigsprofiele – wat lei tot latere arrestasies.

Daar is verskille in die lees van gesigte: in Westerse Kaukasiese lande dekodeer mense heelwat inligting uit die mond-area, terwyl Oosterse Asiatiese inwoners hulle inligting oorwegend uit die oog-area genereer.

Die langdurige dra van maskers – byvoorbeeld vir jare aaneen – gaan sonder twyfel ’n latere invoed uitoefen op babas en peuters se vermoëns om gesigte holisties te lees – soos een navorser dit gestel het: Dit sal wees soos om ’n tweede taal aan te leer; een met ’n aksent. En net vader tyd sal leer wat se invloed gesigsverperrings op die langtermyn psigologiese ontwikkeling van kinders sal hê.

Ek ontdek nou die dag ’n nuwe toepassing (app), en die bittere ironie daarvan gaan my nie verby nie. MyHeritage het ’n virtuele speelding, Deep Nostalgia bekend gestel, wat via kunsmatige intelligensie ou foto’s van geliefdes tot lewe wek, amper soos met ’n kort video. Die gesig, gestol in sy ewigheidsekonde, begin te beweeg, die kop draai rond, en die gesig glimlag. Die gedagte is waarskynlik om foto’s van gestorwe familie te aktiveer, alhoewel die toep op enige foto van toepassing kan wees. Terwyl die wêreld vasgevang is in ’n makerade van gesigloosheid, verbeter die tegnologie om gesigte te laat herleef.

Een van ons grootste digters, prof TT Cloete, het aan gesigsblindheid gely. Die liefde tussen Theunis Cloete en Anna van Zyl vorm deel van een van die mooiste liefdesnarratiewe in die Afrikaanse digkuns. Na Anna se afsterwe aan nierkanker kon Cloete steeds nie sy vrou se gesig onthou/herroep nie, en het sy hele huis vol foto’s van haar geraam. In die drie jaar ná haar afsterwe het hy net tien nuwe gedigte geskryf; sewe oor Anna. In 2010 is Uit die wit lig van my land gesny gepubliseer, ’n bloemlesing waain alle gedigte oor sy geliefde Anna gebundel is. Want Anna was die digter, die muse ín hom, het Cloete by herhaling bevestig. En sy sielsgenoot het vir hom gesê hy moet aanhou leef; hy moet skrýf. Cloete het in 2014, op 90-jarige ouderdom sy swanesang, die lywige Karnaval en Lent die lig laat sien – ‘n jaar voor sy dood. In Die groot misterie van twee vroue: Briewe aan Anna (Pooka, 2016) noem Hambidge in ’n resensie dat laasgenoemde ’n brieweboek, ’n liefdesboek én ’n letterkundige verslag van ’n literator en digter is waarin hy ook skryf oor sy eie gesigsblindheid (prosopagnosia).

Cloete het in 2002, nadat Anna siek geword het, begin om vir haar briewe te skryf.  Sy is in 2007 oorlede, maar hy het voortgegaan om vir haar te skryf.

 

28 Februarie 2010

 

My liefde vir jou het gelê in jou bestendige aanwesigheid.  As ek my rose gesnoei het, het ek geweet jy is iewers in die huis doenig.  Ek kan enige tyd my snoeiskêr neersmyt en jou iewers in die huis doenig kry. Of ek kan iewers in die tuin vroetel, dan kom jy na my toe, met tee.  As ek my papegaaie vertroetel het, het ek geweet jy is durend daar.  Ek was vir die kleurryke voëls lief omdat ek vir jou saam met my vir hulle lief was.

Jy was en is my stokperdjie.

Soos ek geloop, gestaan, gelê of gewerk het in jou ononderbroke aanwesigheid, loop, lê, werk, slaap ek nou in die holte van jou afwesigheid. Jou leegte. Jou onvervulde holte. Jou nergens. Jou 0. “

 

Hambidge verwys na Cloete se kommunikasie met Anna as ’n bonatuurlike infra- of ultrakommunikasie. In die onderstaande gedig ervaar die leser iets hiervan; óók van ’n visuele versperring, strofes 4-7:

.

Anna

[…]

Ek herken jou voetstap in ʼn besige straat

in ons dorp van baie ver. Die beste het gebly.

Ek hoor jou stem sonder dat jy praat.

.

Kyk ek sonder jou, is daar skille

oor my diep oogkasse, ek

kyk sonder pupille.

.

Ek soek jou omtrek om my getrek,

ek soek jou in die appel van my oog.

.

Kyk ek na die melkweg, in die gras,

in die water, na die boog

van die aarde, altyd iewers is jy ingepas.

 

Uit die wit lig van my land gesny, 2010.

En hierdie vers, strofes 9-10:

.

Gratis 1

[…]

in die soet trekke wat ek op haar afwesige gesig wil pas

om haar afwesige liggaam wil kontoer na my sin

wat ek liefhet vul sy eiesinnig pynlik anders in

.

sy hou haar ver agter in my oë onsigbaar onuitwisbaar vas

.

Heilige nuuskierigheid, 2007

.

Verwysings

 

https://www.nytimes.com/2020/08/31/health/covid-masks-face-blindness.html?fbclid=IwAR2SU7d30HI5jZHgM_uET8dmZjeEtaNlFhHb2wMB9dNT3hVYnffge206dws

https://joanhambidge.blogspot.com/2017/01/tt-cloete-die-groot-misterie-van-twee.html?m=1&fbclid=IwAR2UQVInRueaDqQCcUYiSslgJnhjm1JtPwo3QMJVNfmIs7HqOAhLcvFA47U

https://www.litnet.co.za/tt-cloete-1924/?fbclid=IwAR1iZxjNYPGb-0_WzrXq_2D1hiAk7osqSuw1xX0wsj-R0XQIZRX03pbGM7A

Facebook: T.T. Cloete – Onthou

 

Uit die wit lig van my land gesny. Vir Anna.

Wednesday, April 20th, 2011

Uit die wit lig van my land gesny.  Vir Anna.  `n Versamelbundel. TT Cloete.

Pooka Uitgewers. ISBN 978-0-620-49815-9. Prys: R180. 115 bladsye. Hardeband.

 

Resensent: Zandra Bezuidenhout

 

 

Omslag

Omslag

`n Aangename verrassing vir poësieliefhebbers was die onlangse verskyning van twee bundels deur die veelbekroonde TT Cloete – deur baie beskou as ons grootste lewende Afrikaanse digter. Onversadig (2011) is voorafgegaan deur Uit die wit lig van my land gesny: vir Anna (2010), laasgenoemde `n versameling verse waardeur die digter hulde bring aan sy eggenote wat hom in 2007 ontval het. In sy insiggewende inleiding noem Cloete dat die bibliofiele uitgawe van slegs 150 eksemplare tydens die vrystelling by Aardklop 2010 uitverkoop is, wat `n herdruk in gewone formaat genoodsaak het.

Soos dit uit die inhoudsopgawe blyk, het die digter nie gewag tot ná die dood van Anna om aan haar `n prominente posisie in sy poësie toe te ken nie. Vanaf sy vroegste bundels teken hy reeds die profiel van sy geliefde, en met haar afsterwe in 2007 word dit voorlopig in die slotafdeling van hierdie versamelbundel volvoer.

Die gedigte gaan egter nie slegs oor Anna as persoon nie, hoewel haar klein afbeelding op die voorplat tesame met die opdragwoorde daardie indruk mag skep. Dit is eerder `n bundel oor die wonder van `n verbintenis; die deelwees en opgaan van liefdesgenote in mekaar. Aansluitend hierby word die geborgenheid van huis en tuin, asook van die gesinsverband, beklemtoon. Vir die spreker is dit binne hierdie koesterende ruimte dat die mens sy sterflikheid en stoflikheid deur die liefde oorwin. Terselfdertyd is daar die bewustheid dat die aardse binding eindig is, want hoewel ons saam verkeer in die net van liefde, vreet die spinnekop van die dood ons “een vir een eensaam tot harde leë beentjies en windligte dop” (“ons almal”, 65). Die aanbod van die bundel is gevarieerd, en gedigtitels wat wissel van “griekse beelde louvre” en “Vroue van Vermeer” tot “Reis na Namakwaland” en “Seepbelsondagoggend” verraai die spreker se ingesteldheid op die skoonheid in al haar vorme.

Anna word nietemin die oerbeeld van die ewige minnares, die een wat `n leeftyd lank bemin word: liggaamlik, geestelik, verstandelik en meer. Haar “profiel” (uitgesny, soos die bundeltitel suggereer) vorm weliswaar die hart van die bundel, en haar voorkoms word op verskeie plekke in fyn besonderhede besing. En tog is dié portrettering maar `n spoor na haar innerlike en haar magiese teenwoordigheid vir die spreker. Die profiel verkry hier `n ruimer tekenwaarde en verwys na die wese van die liefdesgenoot as aardmoeder, gewer, muse en maat. Uiteindelik kan dit gelees word as `n metafoor vir die vroulike komponent in elke diep bevredigende man-vrouverhouding.

Cloete gebruik as een van sy bundelmotto’s (en ook as titel vir die slotafdeling) die woorde van Dante uit sy Goddelike Komedie: “Die Liefde wat die son beweeg en die ander sterre.” So `n liefde, sê die spreker in die gedig “gratis 1” (83), “ontsnap uit die grepe van die taal” en “het behoefte/ aan `n gans en al ander naam”, terwyl die suiwer lyflike wel in “lippetaal” omskryf en besing kan word. Nogtans vind Cloete in sy persoonlike tekenleer die woorde om iets van die grootsheid van `n allesomvattende liefde uit te beeld.

Die digter skram nie weg van liggaamlike detail nie, maar vermy banaliteit. Hoe raak verbeeld hy nie Anna se jeugdigheid in haar “jongmeisie-regop haarveergang/ met die klein ferm sampioene malvasag” nie, gevolg deur “hoe jy oor die 100 tree-hekkies gly/ met die skoot oop en die dye” (“skering en inslag”, 78). Elders transponeer hy die sinchronie van die liggaamlike liefde na die intieme samespel van musiekinstrumente (“konsert van die verliefdes”, 54, en “klankkoïtus”, 55). Waar die vleeslike oorstyg word, raak die gedig aan die sublieme, om daardeur `n flits van die onsienlike te gee.

In haar toestand van aftakeling besit die vrouefiguur vir die spreker `n delikate maar wrange skoonheid: “los lê sy in haar vel. in haar skil/ lê sy nartjie. geel en deurskynende lig/ lê satynsag op haar sweetgesig” (“siek vrou”, 75). Meermale is daar sprake van die lig wat haar omgeef, ook wanneer hy haar beeld op `n vroeëre foto oproep: “geprofileer in `n diep leunstoel, bene gekruis,/ […] by die venster in die lig/ van die blink see en geel wasige donsson/ dromerig mymerend en byna deursigtig// skimmig geskryf met lig” (“foto van vrou by die see 1966”, 95). Maar die motief van siekte en aftakeling gaan ook gepaard met skrik, want in “roffelkonsert” (80) is die spreker bedag op die laaste slag van die hart: “na énige slag kan die timpaan/ oorslaan toeslaan”. Daarby is `n noodkreet hoorbaar in “ambraal-woordeboek” (86) waar alle moontlike middele van heling aangeroep word om die pyn te haal uit die wrede speletjie met iemand vir wie die spreker “ongeneeslik liefhet”. Selfs die weersinwekkende detail van die siekte word vir die gedig sinvol benut in “goeie helder Saterdag” (97) as teken dat die aarde weer van ons terugeis wat ons daagliks inneem: “vir ons self afstootlik. herinner sy ons aan ons aardsheid// sy doen dit langsaam tot sy ons self vat”. In kontras daarmee, en ter relativering, staan die voortgang van daaglikse aktiwiteite as “die lewe wat skreeu en gil/ en in die hande klap”.

Een van die winste van die bundel is dat die gevaar van sentimentaliteit, wat dikwels in gedigte van hierdie aard op die loer lê,  knaphandig uit die verse geweer word. Daar is geen oormatige “soetheid” nie; eerder `n nugtere, dog gevoelige verwondering, en in daardie paradoks lê die trefkrag. Slegs groot digters kan dit vermag, en deur Cloete se kunstenaarsblik, aanvoeling en geoefende hand fnuik hy die lokval van oordrewe verering en omskrywing. Daarom is sy verse tegelyk eg, oortuigend en ontroerend. Wat die leser veral bybly, is die teerheid en respek – en `n bewustheid van die heiligheid van huweliksgeluk. Dit verbaas dus nie dat die verwondering van die spreker soms  kosmiese proporsies aanneem nie, soos in “vrouson” (82):

 

die lig kry sy krag uit die hare

van `n vrou   die son is hare

sy was haar hare in supernova-blou lig   sy gooi

haar kop wielend agteroor sy strooi hoepelstierte rooi

superprominensies uit   sy skud orkane los

parabole deur die groot ooptes van die kosmos

sy   my sonvrou   uit haar turkoois harebos[.]

 

Daar is reeds uitvoerig geskryf oor Cloete se vorige bundels waaruit gedigte vir hierdie versameling gekies is. Dit sou dus herhalend wees om weer in te gaan op die verstegniese middele wat deur die digter hanteer word, waarna daar onder meer in my resensie oor Heilige nuuskierigheid  (2007) in Tydskrif vir Letterkunde 44(1) verwys is. Opsommenderwys kan daar genoem word dat lesers in hierdie versamelbundel weereens (en met ewe groot genot) sal kennis maak met Cloete se vindingryke en vernuwende taalgebruik, sy sensitiwiteit vir die natuur en sy besondere belesenheid. Sy verse word verryk met name, byname, en die benoeming van dinge en plekke. `n Mens hoef maar net weer “ambraal-woordeboek” (86) en die vyfdelige “roetes op soek na jou” (101) te lees om onder die indruk van hierdie digter se verstegniek te kom.

Cloete was uit die staanspoor `n gerekende digter, en van die vroeër verse wat in hierdie versameling opgeneem is, maak `n ewe sterk indruk as die nuwe toevoegings. Van die treffendste reëls in die versamelbundel kom voor in “Seepbelsondagoggend” (66) wat reeds in die bundel Driepas (1989) verskyn het:

 

[…] Daar kom `n moment delikaat

en só heel dat `n enkele uur die waarde

van `n ganse bestaan het, met `n oordaad

so gelade, so volmaak, dat die mees bedaarde

lispel dit rinkelend gaan stukkend praat.”

 

Die gedig “Anna”, uit dieselfde bundel, en waarvan een versreël as titel vir die versamelbundel gekies is, kan in die geheel uitgesonder word as een van die hoogtepunte. Die twee slotstrofes lui as volg:

 

Kyk ek sonder jou, is daar skille

oor my diep oogkasse, ek

kyk sonder pupille.

Ek soek jou in die omtrek om my getrek,

ek soek jou in die appel van my oog.

 

Kyk ek na die melkweg, in die gras,

in die water, na die boog

van die aarde, altyd iewers is jy ingepas.

 

`n Aantal van Cloete se kenmerkende stylgrepe werk saam om van hierdie gedig iets onvergeetliks te maak. Daar is egter vele ander gedigte wat op die onderskeiding van die “beste” huldigingsgedig kan aanspraak maak, soos die kompakte maar veelseggende “vrou” (77), die vermaaklike en tegelyk roerende “rokke” (88), of die byna aanvoelbare “kamerjas op die divan” (90).

Dit behoort aan lesers groot genoegdoening verskaf om Cloete se verse rondom `n bepaalde tema, en dan die liefde as die grootste (en seker die mees uitdagende) van almal, in een uitgawe ter hand te neem. Daar is `n veelheid van gesigspunte, en die bekende Cloete-knipoog wissel die weemoed af. Tydens vanjaar se Woordfees op Stellenbosch het die digter genoem dat hy sy werk met ywer voortsit – voorwaar iets om oor nuuskierig te raak, te mete aan die dubbele Hertzogpryswenner se indrukwekkende oeuvre.