Posts Tagged ‘Van Coke Kartel’

Andries Bezuidenhout. Oppikoppi 2010: My hart op Klein Tambotieboom

Thursday, August 12th, 2010

Om van Oppikoppi te herstel is soos om van jet lag aan te sterk ná daardie lang vlug van Sydney na Johannesburg. Dis egter die moeite werd, veral gegewe die musiek wat ʼn mens daar hoor, die ou vriende wat jy raakloop.

Ek het reeds iets genoem oor die baniere met gedigte wat aan die luidsprekertorings langs die hoofverhoog gehang het. Dit het indrukwekkend gelyk. Die organiseerders sê hulle wil meer poësie op vele meer plekke ophang in die toekoms.

Maar die gedigte is ʼn side show. Oppikoppi gaan in die eerste plek oor musiek. Hoogtepunte?

Gil Hockman, die baskitaarspeler van The Buckfever Underground, het ʼn mooi solo set gedoen – net stem en akoestiese kitaar. Hy’t heel eerste gespeel, op die James Phillips Main Stage en afgesluit met ʼn cover weergawe van James Phillips se “Shot down.” Heel gepas. Ek’s bly ek het my donkerbril opgehad.

Vusi Mahlasela en Albert Frost. Vusi sing oor die feit dat hy altyd sal weet hy kom van Afrika, al loop hy in die strate van New York of Londen. Die mense sing saam, hande in die lug. Op die verhoog se backdrop is die gesig wat soos Jacob Zuma s’n lyk, wat gemaak het dat stommerikburokrate van beide Johannesburg en Pretoria die mense van Oppikoppi verbied het om die festival se plakkate op te hang. As die regime se politieke kommissarisse tog net ʼn blaadjie uit Vusi Mahlasela se song book kan neem… En ‘n sin vir humor iewers kan gaan aanskaf (dalk by Milan Kundera).

Cortina Whiplash. Hierdie vroue mag maar rock ‘n roll. Sommige van die band was voorheen lede van Rokkeloos. Daar’s veel meer aan hulle musiek as Loandi se bravade op die verhoog. Luister fyn.

Blk Jks. Wow! As daar een band is wat die grense van rock verskuif, is dit hierdie ouens. Four piece – drums, bass, lead kitaar, rhythm kitaar. Al vier sing, selfs die drummer. Kombinasie van Engels en Sotho. Weird, weird, weird, maar deksels mooi. Rock, jazz, mbaqanga, opera? Geen wonder dis een van die min Suid-Afrikaanse bands wat Uncut Magazine haal nie.

Van Coke Kartel se cover van Koos du Plessis se “Skadu’s teen die muur”. Hulle speel laat Sondagaand, net voor Jack Parow.

Ek was bekommerd dat ek nie van Die Heuwels Fantasties live sal hou nie, want dis moeilik op pop live te doen. Ek luister al ʼn rukkie daarna in die kar. Maar dit werk. “Ek soek pille vir Kersfees…” en:

As die donker my kom haal
en die here my nie soek nie
as die osoonlaag vergaan
en in ʼn kandelaar van sterre val
begrawe my hart op Klein Tambotieboom
en strooi my as oor die Bosveld-horison

Die tribute vir Valiant Swart. Ek hou veral van Francois van Coke se weergawe van “Buitenkant”. Hy begin met ʼn lae stem, skiet dan ʼn oktaaf op en skree:

Die wit kinders dans met die rastas vanaand,
hoor hoe sing daai boer van Babilon, hey hey,
Vrydagaand met ʼn bottel in die hand, Buitenkant…

Valiant klim self op die verhoog met Mystic Boer. Lumart en Bibi gaan mosh, maar die jonger fans verstaan helaas nie wat hulle doen nie.

Jack Parow? Ek het gemengde gevoelens. Interessante visuals, sommige heel pornografies. Aan die einde van sy set lyk dit amper asof hy moeg vir homself raak. Hy doen nie die songs met meer intelligente lirieke op sy CD nie. Te moeilik om die woorde te onthou? Nie crowd pleasers nie?

All in all ʼn lekker naweek. Ek’s bly ek het my overdraft verder laat sak om in die Kreef Hotel te bly, waar hulle tente vir ʼn mens opslaan met ʼn lekker dik matras in. Dis elke pennie werd, veral die ontbyt by ʼn tafel met ʼn skoon bord, die warm storte waar hulle musiek speel sodat jy nie self hoef te sing nie. Ek raak te oud vir Distrik 9, of Mordor, waar vyftienduisend mense met hulle tente en koelbokse en motorradio’s kamp (Dis die eerste keer dat al die kaartjies uitverkoop is).

Vriende vertel van ʼn toneel wat by ʼn vorige Oppikoppi afgespeel het. Mense in die tent langsaan raas ʼn bietjie (of baie) in oomblikke van passie. (Onthou tog, tente het nie baksteenmure nie!) Toe die jubelkreune ophou, vra die een toe die ander wat haar naam is.

“Amanda,” antwoord sy en vra: “And what is your name?”

“Robert,” antwoord hy.

“So, where do you come from?” wil hy van Amanda weet.

“Pretoria,” antwoord sy.

“O, is jy ook Afrikaans!” sê Robert toe heel ingenome.*

Heeltemal te veel mense in die Bosveld-horison se stof en as, heeltemal te veel pret. Ek dink aan die T-hemp wat Oppikoppi jare gelede gemaak het: “Young, gifted, and staying.”

Soms is dit darem moer lekker in Afrika.

__________________________________________
* Name verander vir obvious redes.

Andries Bezuidenhout. Wynand op die vloer, Francois teen die muur

Monday, June 28th, 2010

"Die liefde is 'n skadu teen die muur..."

ʼn Kamer met ʼn parketvloer. Francois sit met kitaar en sing Koos du Plessis se “Skadu’s teen die muur”. Langs hom op die vloer lê ʼn kopie van Erfdeel – ʼn versamelbundel van al Koos du Plessis se lirieke en gedigte – asook Wynand, klaarblyklik dood of uitgepass.

Ek het baie van Johannes Kerkorrel se tribute aan Koos du Plessis gehou. Het Kerkorrel destyds die songs live gesien opvoer in Jargonelles in Brixton, Johannesburg.

Ek het ook baie van Battery 9 se weergawe van “Kouevuur” gehou. Het hulle dit live sien doen by Oppikoppi een Nuwejaar. Het begin dans – nog in my army boots – en nie opgehou tot vroeg die volgende oggend nie.

Dan is daar Gert Vlok Nel se afskeidslied aan Koos du Plessis – “Waarom ek roep na jou vanaand.” Ek het hom dit van agter my donkerbril hoor speel in ʼn tent – was dit Oppikoppi, Oudtshoorn?

En nou het Van Coke Kartel hierdie weergawe opgeneem en ʼn video daarvoor gemaak. Kyk dit hier.

Wynand Myburgh, Van Coke Kartel se baskitaarspeler, sê oor hulle weergawe van Skadu’s: “Ons vind aanklank by Koos se werk – en veral sy woorde. Ons het nog altyd van die song gehou en het gedink dit sal lekker werk met ʼn moderne klank.”

Oor die band se verwerking van Skadu’s sê Francois van Coke: “Die oorspronklike song is in ʼn majeur. Ons het dit na ʼn mineur verander want ons het gevind dit werk vir ons beter by die toon van die woorde.”

Ek hou ook baie daarvan en kan nie wag om te sien hoe hulle dit live doen nie.

Binnekort word ʼn versamelalbum van Koos du Plessis se musiek in Nederland uitgereik.

Wat is dit wat maak dat generasie op generasie steeds inspirasie vind in sy musiek?

Andries Bezuidenhout. Van Coke bo die grond roep na Koos onder die grond…

Wednesday, March 17th, 2010

Die een ding wat my steeds van Koos du Plessis verstom, is hoe hy musikale grense in Afrikaanse musiek oorbrug. Dink maar aan sy lied “Gebed,” wat keer op keer deur gospelsangers gesing word. Die mees oortuigende weergawe daarvan, dink ek, is egter Dozi s’n. Sy stem dra iets van die ware kwaliteit van die lied oor: ʼn Desperate kreet om hulp van ʼn alkoholis wat “elke afdraaipaadjie” kén – “elke keer het U my iewers kom haal, maak dit, Heer, die laaste maal.” Maar hy wéét dis nie die laaste maal nie.

Maar dis nie net skoolkore en gospelsangers wat deur Koos du Plessis betower word nie. Een van my gunsteling interpretasies van ʼn Koos Doep is Battery 9 se weergawe van “Kouevuur”. Paul Riekert gooi die wysie weg en werk net met die ritme van die liriek, een wat jy kan spoeg en grom. Absoluut asemrowend. Luister hier, sommer ook na “Lie if you have to”.

Dan het Johannes Kerkorrel ʼn hele CD met Koos du Plessis covers opgeneem. Hy het dit weer op sy manier geïnterpreteer, iets waaroor ek baie dankbaar is, aangesien Kerkorrel een van die groot geeste van een van die ander rewolusies in Afrikaanse musiek was. Ek is bly hy het op so ʼn manier hulde gebring aan ʼn voorganger.

Dan is daar natuurlik Gert Vlok Nel se pragtige afskeid aan Koos du Plessis – “Waarom ek roep na jou vanaand”… “Gert bo die grond roep na Koos onder die grond, kom in Koos, kom in, kom in…”

En nou voeg Francois van Coke ʼn nuwe generasie se stem by die res van die left field koor wat Koos du Plessis se songs laat aanhou sing. Nóg een van die voorlopers van ʼn nuwe rewolusie in Afrikaanse musiek. ʼn Nuwe interpretasie van “Skadu’s teen die muur” is te vinde op Van Coke Kartel se pas uitgereikte CD Skop, skiet en donner. Van Coke Kartel is die meer ongeskikte off shoot van Fokofpolisiekar, maar met hierdie album doen hulle amper wat die Fokofs met Monoloog in stereo gedoen het. Hulle gebruik akoestiese kitare en minder aggressiewe klanke. In sommige gevalle gebruik hulle geprogrammeerde perkussie en ander klanke. Ek dink ek hou daarvan.

Benewens “Skadu’s teen die muur” is daar twee ander covers – vreemde keuses – “Maniac”, wat in die 80s in fliek Flashdance te hore was, en JJ Cale se “Cocaine” uit die 70s. Ek weet nie heeltemal hoe diep Van Coke Kartel se tonge in hulle kieste met hierdie keuses sit nie, of selfs in wie se kieste hulle hul tonge ingedruk het nie. Maar van een ding is ek seker. Ek hou baie van hulle weergawe van “Skadu’s teen die muur”. Hulle maak ʼn anthem van ʼn bitter siniese liriek.

  •