Posts Tagged ‘Vasco Da Gama’

Johann Lodewyk Marais. Stegies van die geskiedenis

Sunday, February 7th, 2010
Mombasa
Mombasa

Wanneer Air Kenya se Boeing 737-300 naby Mombasa deur die wolke breek, sien ek lappies lande en groepies huise tussen palmbome in die plooie van die heuwelagtige landskap. “Eindelik – die hawe van Mombassa in gesig!” onthou ek Sangiro se woorde. In Op safari (1924) beskryf hy hoe hy en sy reisgenote destyds per skip hier aangekom het. Ek is gretig om die stad te sien wat reeds op Middeleeuse Arabiese kaarte voorgekom het en waar Ibn Battúta, die grootste reisiger van die ou tyd, in die veertiende eeu ‘n nag vertoef het.

Mombasa was ook die beginpunt van ontdekkingstogte soos dié van die Victoriaanse reisiger Joseph Thomson, wat deur die vyandige Maasai se gebied tot by die Victoriameer gestap het. Die Boere wat tussen 1902 en 1914, ná die Anglo-Boereoorlog, na Oos-Afrika verhuis het, het hier per skip aangekom op weg na hulle nuwe tuistes. ‘n Halfeeu later sou hulle en hulle afstammelinge helaas weer hiervandaan teruggaan.

Bykans tweeduisend jaar reeds val die Arabiese invloed langs dié kus op. Die noordelike moesonwinde van vroeg-Desember het Arabiese koopmanne met hulle dhows na hawedorpe soos Lamu, Malindi en Mombasa gebring. Teen middel-Mei het hulle weer met die suidelike moesonwinde vertrek. Vir die suiker, gedroogde koningsvis, tapyte en tradisionele kiste wat hulle gebring het, het hulle palmolie, manglietpale en koraalstene vir bouwerk saamgeneem. Vroeёr het slawe en ivoor die grootste deel van die vrag uitgemaak.

In 1498 het Vasco da Gama eers Mombasa besoek en daarna ook Malindi, hoёr op teen die kus. Die sigbaarste oorblyfsel van die Portugese teenwoordigheid is die imposante ruïne van Fort Jesus in Mombasa. Hierdie strategiese fort het lank as bastion gedien, met kanonne deur die geskutpoorte op die see gerig, en is ‘n hanetreetjie van die ou Swahili- en Arabiese buurt. Deur die smal strate stap heelparty van die vorige reisigers se afstammelinge.

Ou deure in Mombasa
Ou deure in Mombasa

Vandag is Mombasa die naasgrootste stad in Kenia, en belangrik vir in- en uitvoerhandel. In die ou deel van die stad, met sy sterk Moslemkarakter, het die tyd feitlik stilgestaan. Hier pryk talle swaar, versierde houtdeure en moskees. Hoewel die dhows van vroeёr nou selde in die dhowhawe besoek aflê, bly Mombasa ‘n toegangsroete tot die binneland en ‘n mikrokosmos van Oos-Afrika.

Noord van Malindi is Lamu, ‘n eiland waar jy jou maklik in ‘n ander tyd kan indink. Die hoё Swahilihuise langs die stegies, die donkies, dhows en rustiger lewe neem ‘n mens na eeue gelede en word jaloers gekoester. Dhows word nog hier gebou en daagliks as vervoermiddels gebruik. Vissersbote vaar so ver uit as die kus van Somaliё. In sommige huise gebruik mense selfs nog van die Chinese porselein wat hierheen gebring of uit skeepswrakke herwin is.

Joy Adamson van Born free-faam het unieke skilderye van die verskillende groepe in Kenia gemaak. Langs die kus het ek meermale onwillekeurig gedink dat party mense wat deur die strate stap net sowel uit haar skilderye kon gekom het. Daar is iets tydloos in die leefwyse langs die kus van Kenia, waar mense oor eeue heen daarin geslaag het om stryd en tweedrag te oorkom.

Uit Pomp 08.

Andries Bezuidenhout. ʼn Bloederige hart op die mou en Da Gama se glips

Friday, September 18th, 2009

Hoekom skryf ʼn mens ʼn blog? Op ʼn manier is dit ʼn egosentriese ding om te doen. Wie stel in elk geval nou belang in die gewroeg van ʼn leerlingdigter soos ek? Ek dink hierdie inskrywings van my is besig om ʼn tipe dagboek te word. ʼn Dagboek is egter iets wat jy onder jou kussing bêre en hoop dat mense dit nooit sal lees nie. Soms, as ek so kyk na my inskrywings, wens ek dat niemand dit lees nie. Waarskynlik word my wens meestal waar.

Johann Lodewyk Marais se besoek aan Kenia laat my weer dink aan die keer toe ek saam met Irma en vriende teen die Swahili-kus langs gereis het, van Lamu tot in Zanzibar en Dar-es-Salaam. Ek wil die noorde van Mosambiek ook nog besoek. In Malindi is ek só deur die son verbrand dat ek meestal in museums rondgehang het.

Ek weet nie of die gedigte (of pogings tot gedigte) wat ek n.a.v. hierdie besoek geskryf het iewers heen sal gaan nie. Hier is ʼn langvergete poging wat ek nou weer op my hardeskyf gevind het. Miskien sal ek eendag daaraan skaaf – verkort, weer uitbou, verkort, weer uitbou – maar die basiese idee is darem daar.

Daar is tog iets bevrydend aan skryf vir ʼn elektroniese ruimte en nie papier nie. As ek dit hier ophang, kan dit maar nog spartel en hyg na asem. Papier is so finaal. Hier kan die derms slordig uitgeryg word en die hart bloederig op die mou klop.

Of dalk mis ek iets?

HEILIGE HANDEL

1
Kyk, hulle skud nou die seile uit!
En uitgedos staan hy daar,
soos ʼn Godsgesalfde, bevelvoerder van sy skuit.
Sowaar, daar’s die biskop op die kaai,
selfs die koning het kom kyk
hoe word die proviand gelaai.
Maar vriend, kan jy my dalk sê,
in watter rigting die São Gabriel
se boeg nou lê?

Dis tog voor die hand liggend,
stommerik, die antwoord op jou vrae.
Kyk verby jou sluwe vingers
wat so in die kok se kas krap.
Kyk na die repe lam, die hompe ham
wat die slagter pekel, inlê, so laat hang.
Want in hierdie eeu van navigeer
kan ons die seisoene tem,
ons kan preserveer,
opgaar, spaar vir ʼn maer jaar.
Dit gaan oor veel meer as jou tong,
domkop, hierdie reise strek sowaar
veel verder as die horison
van die naeltjies, peper en kaneel
in jou opgestopte kieste!

Dit wat jy ruik op die wind
is die geur van speserye,
maar sonder die stof van woestyne.
Kyk, dis Vasco Da Gama –
hy vaar om die suidpunt van Afrika,
hy soek na Priester Jan,
hy soek vennote teen die gierige Moore.

2
Navigeer, swawel, laveer,
om die suidpunt van die Donker Kontinent,
teen die driftige gety, deur die ysige water
van die ewige afgrond, die pool,
verby die spits rotse wat jou nader wink
soos die verkoolde klou
van ʼn ketterheks.

3
Lou winde, warm water –
hierdie is die gety
van ʼn ander see.
Hier is vreemde skuite,
plat bote met driehoekseile;
mans, met lywe die kleur
van kaneel, swaai in lendeklede
aan roer en seil, maneuvreer
hul tuie deur die kalm oseaan.
Die kaptein klap sy teleskoop toe
en brom: Die god van die Moore
was ons een voor.
By Ilse de Moçambique
doen Da Gama hom as Moslem
voor, maar sy geskenke word
geweeg en te lig bevind. Eet lood!
skree die woedende kaptein
en blaas die stad met grofgeskut.
Wie nie hoor nie, moet voel,
en só word die seevaarder
toe sommer ook kaper.
Handelaars, sonder kanonne
om die Christene af te weer,
word voorgekeer.
Telkens kom die boodskap
by monde van ambassadeurs:
Laat spaander, Portugese duiwels,
in Isle de Moçambique
en Mombasa is julle nie welkom nie!

4
Vaar voort,
seun van Portugal,
kind van die ware God,
stuur nog ʼn gesant aan land.
Dan, in Melindi, vind jy ʼn gewillige
oor en hand.
ʼn Wonderwerk!

In die Jaar van Onse Here
veertien agt en negentig
plant Vasco Da Gama sy padrão,
hier in Melindi, waar handelaars
uit die Rooi See, Indië
en die Persiese Golf eeue reeds
kom kibbel oor die prys van speserye,
goud, slawe en ivoor.

5
As jy soveel keer
ʼn nuwe bodem in die newels
oor die oseaan se einder
sien verskyn het,
gesien het hoe eers net kleure,
dan vorm – bome
berge, strande, dalk geboue –
die horison vol maak, word jy
elke keer met dieselfde
gevoel van bestemming vervul?
Steek jy jou hand
in die rigting van die land uit,
so amper asof jy jou vingers
in ʼn kosmiese inkpot doop,
beweeg jy jou arm,
die kant aan jou baadjiemou
ʼn vlag in die wind,
draai jy dan jou pols,
jou vingers, en skryf
die geskiedenis in die lug?

Of hoes jy bloot,
vryf jou maag, jou derms
sat van die diarree,
jou slukderm rou van semels
en sout, en swets?

Op agtien Mei,
twee jaar voor die draai
van die eeu, sien Da Gama Indië –
by Calicut, in Malabar.
Dít weet ons,
danksy ʼn skeepsjoernaal.

Maar ruik hy peper, gemmer
en kaneel; bekende reuke,
maar nuwe kombinasies,
op die wind?
Kolk die nuwe taal vreemd,
maar melodieus in sy oorskulpe?

Dan, op ʼn dag,
sien hy die katedrale.
Ons het hulle gevind!
Met die Heer se genade,
het ons hulle gevind!
Ons reis was nie verniet nie,
ons tog is geseën
met die kennismaking van
Christene van die ooste,
bondgenote, Katolieke
kinders van God!

En Da Gama sien Lakshmi
vir Moeder Maria aan.
Hispar, Visno en Brama
is sowaar die Vader, die Seun
en die Heilige Gees!

In Portugal word gerapporteer –
Da Gama het die Christene
in Indië gevind!

Vir die moeë, desperate
seevaardersoog
lyk Hindoe ikone
darem al te Katoliek.

6
Dít alles skryf ek
in my notaboek neer,
hier in die museum in Malindi;
woorde, datums, indrukke,
die stomme Vasco Da Gama
se komiese versinsel.

Vir eers net die gegewens,
koud weergegee –
gaan die outentieke spelling na,
die feite, soos dit hier
op ʼn kennisgewing teen die muur
vir die blik van ʼn toevallige toeris
gereproduseer is.

Later kom die versinsel,
die kondensering, die verdigsel
van die wandelende dief.

Hier, in die museum
in Malindi, onthou ek
Juffrou Louwtjie nou, standerd een,
Laerskool Meyerspark,
geskiedenisles in my derde jaar op skool.
Ons papegaai die name agter haar aan,
plekke waar die Groot Ontdekkers
aan land gegaan het;
die reise begin altyd in Lissabon
en eindig met
         Mombasa, Malindi, Kalikoet!
Malindi, die eksotiese hawe,
iewers langs die pad.
Juffrou Louwtjie slaan ritmies
teen die wêreldkaart met haar lat.
Ritmies leer ek die plekname
vir die toets.

Juffrou Louwtjie,
ek onthou nou net sinsnedes,
redes vir die ontdekkingsreise
in steeds futiele frases soos “Die mag
van die Moore gebreek.”
Wat de hel is die Moore?
Familie van die Gisters?
En waar Da Gama orals geland het
kan ek nou nie meer onthou nie,
maar iets van die ritme
het vasgesteek. (Metrum
lê voller in die verlede
as in taal.)

Hier is ek dus nou in Malindi
met my notaboek en my kaart,
ver van Meyerspark,
die skool, die NG Kerk,
die roospark en jou lat.

Juffrou Louwtjie,
jy en jou Vasco Da Gama,
kan julle my dalk sê,
hoe de hel het ék hier beland?

  •