Philip de Vos. Kry vir jou ‘n woordeboek
Monday, September 13th, 2010
Sou iemand vir my vra: As jy vir die res van jou lewe met een boek op ’n eiland moet sit, watter een gaan jy kies?
Oor hierdie vraag hoef en nie eens tweekeer te dink nie. Vergeet maar van Shakespeare of Tolstoy.Ek sal beslis vir ure, ja,vir die res van my lewe lank met Leon de Stadler se Groot Tesourus van Afrikaans in ’n palmboom se skaduwee sit terwyl ek die dolfyne dophou en met my wysvinger versies in die nat sand skryf.
Ja, daar is maar min boeke wat my so kan inspireer. Die feit bly dat my aandagspan nie veel groter is as dié van ‘n muskiet nie, en daarom bly woordeboeke vir my die ideale leesstof, en ek moet tot my skande erken dat en nog nooit Agaat gelees het nie, daar is darem te veel woorde, maak nie saak hoe mooi hulle agter mekaar inpas nie en woordeboeke het mos in elk geval ál daardie woorde, al is dit miskien net in verskillende volgorde. Ek sê maar net …
Toe De Stadler se Tesourus destyds verskyn het, het dit my selfs geïinspireer om vir hom ’n dankie-sê versie te skryf en aan te stuur:
Daar is ’n coleoptera
wat rondswem in my soptera.
O, vreemde woord.
so skoon en ryk –
Ek moet jou
in ’n vers gebruik.
Jy staan in die
Tesourus
en hoe durf ek
dan
nóú rus.
Jy wiel en draai
hier in my kop –
Ja, nog
’n Gogga in die Sop!
Woordeboeke was al van kindsbeen (naas Trompie) vir my die ideale vorm van letterkunde. Toe ek my eerste woordeboek op ouderdom 10 vashou het ek behoorlik gebewe toe ek na die P-woorde blaai om te kyk of die woord poep daar verskyn, en was eintlik bitter teleurgesteld toe ek dit nie kon kry nie, maar gelukkig het De Stadler se woordeboek intussen deeglik daarvoor vergoed.
’n Paar maande gelede kry ek ’n opdrag van die ATKV om woordeboekversies vir hulle Veertjie-toekennings te skryf, en ’n week of wat daarna word ’n wavrag woordeboeke per koerier by my afgelaai. Die afgelope jaar is daar glo heelwat woordeboeke in Afrikaans gepubliseer en hierdie feit verdien glo ’n versie of twee. My eerste reaksie was: Hoe op aarde skryf mens versies oor woordeboeke, maar op die ou end was daar 10 waarvan ek 5 by die Veertjie-toekennings gelees het:
Blaai jy
deur die
ABC
gee jy gou
‘n tree of 2
want
tussen
Aambeie
en
Zen
leer ‘n mens
die lewe ken .
MY EERSTE HAT-WOORDEBOEK is ’n nuutjie in Afrikaans. Kinders word aan woorde blootgestel en meestal in kort versvorm en vertaal uit die Nederlands deur Daniel Hugo.
Wil jy hê
jou kind moet slim wees
(die klein Einstein van sy klas )
en later ‘n ryk sakeman
met ‘n baadjie en ‘n das ?
Dan moet jy gou-gou –ja verdomp
Jou kind se kop vol woorde pomp.
En voor hy eers gespeen is
sal jy weet dat hy geseën is
en word jou liewe kannetjie
‘n vreeslik slimme mannetjie
en dalkies ‘n professor
of ten minste ‘n assessor
en alles
oor die ABC
uit sy eerste rympie
HAT .
Dan was daar natuurlike die yslike WOORDEBOEK VAN DIE AFRIKAANSE TAAL (deel 13 letter R) Terloops die deel met al die P-woorde bly steeds my gunsteling.
Koop vir jou
dié woordeboek
as jy dié dag na woorde soek:
Een wat glad nie in jou sak pas,
máár wat yslik op jou rak pas
soos daai grote WAT
Ons Afrikaanse ABC
wat nou reeds strek van A tot R
En dit is eintlik blêrrie ver !
Elke woord is hier verklarend
en is áltyd openbarend :
Dan kan jý ook preek en mooipraat
of oor dinge van die kooi praat.
As jy iemand wil beledig
en jou woede wil bevredig,
is daar woorde weet ek wel
waarmee jy
kan vloek en skel:
‘n Woord soos tjorts
of windlawaai
of ander wat jou kop laat draai
soos:
dimorfisme
solepsisme
kretinisme
atomisme
jingoïsme
pingoïsme –
plus ook elke ander – isme
Kry vir jou dié woordeboek
As jy wil GROTE woorde soek.
ANNERLIKE AFRIKAANS (samesteller Dr. Anton Prinsloo) Hier is wonderlike woorde wat ek nog nooit gehoor het, en blykbaar nooit ooit sal hoor nie.
Snotterblok
en drens
en moegoe
gatjieponner
bitterboegoe
diesie-diesie
spuitpoep
fiela
akkelding
en poer
en ghiela
hippetip
en hors
en hoeka
kneukelpister
en pandoeka
dit is vloek
en dit is vleitaal
Soet
en sappige
kontreitaal
Wonnerlik
en annerlik
Sing en dans
in Afrikaans !
Laastens het ek ’n versie ingesluit uit my versamelbundel Mallemeuleman
Kry vir jou ’n woordeboek
as jy die dag na woorde soek
twee vir nou
en twee vir later
drie wat jou laat skree en skater;
Lapa lemma
Liefie loef
Poelepetater
Proos en poef
twee wat nes ‘n engelekoor is
drie wat aaklig- naar
en goor is
Mallemeule oleander
Gagga
pitsweer
heksverbrander
Kry vir jou ‘n woordeboek
en dan kan jý ook kweel en kloek