Posts Tagged ‘Velasquez Las Meninas’

Ronel de Goede. die rooi kruikie

Thursday, April 29th, 2021

 

die rooi kruikie

 

“Niña de color quebrado / O tienes amores o comes barro.”

[Sallow-faced girl, either it’s love or you’ve been eating clay.]

– Anoniem, Flor de varios romance nuevos y canciones (1598),

nageskryf deur Lope de Vega, El acero de Madrid (1608)

 

in ’n skildery met ’n skildery omring deur skilderye

in ’n vertoonsaal vol rame en figurante en bespiegelings

onder die plafonuitspansel van die Alcázar

met skadu’s van ’n onseker nou en ’n triestige toekoms

in die hoepelrok van ’n bestaan van balein- en traliewerk

’n opgepofte skepping in ’n steeds uitdyende heelal

van valle en frille en fieterjasies en beloftes

linte gestrik en blomme vasgesteek in die hare

geskik vir die okkasie

vasgevang in ’n koutjie

weerkaatste raaisels

 

staan die infanta

 

*

 

sê die hofdame:

staan net nóg ’n rukkie stil

neem ’n slukkie

van die koel watertjies

uit die búcaro

toe nou

jy kan netnou gaan speel

met Nicolasito en die hond

 

of, sê die hofdame miskien:

neem en drink

die hemels gegeurde water

dit baat die gelaat

dit lewer bewys van ’n lewe

beskerm teen die geniepsige son

dit maak ’n meisie teer

en begeerlik

 

of, moedig die hofdame dalk aan:

neem en eet

knibbel gerus

aan die kleirandjie

dit baat die lyf

jy sal dit nog nie begryp nie

die hartstogte van die hart

die ritme van die rooi

 

of, sê die hofdame waarskynlik nie:

neem en eet

dit baat die gees

dit voer jou weg

na geluksaligheid

dit laat jou ontsnap

uit die raam der rame

dit laat jou sweef

 

*

 

vyfjarige prinsessie

in ’n pronkrok

wyd oor die heupies gespan

haar vingers gekrul

om die rooi kruikie

afkomstig uit Guadalajara

 

neem sy dit

of sit sy dit neer

koppie weggedraai

ogies gevestig op die koning

die engeltjie

 

reeds aan ’t leviteer

 

© Ronel de Goede, 2021

 

 

Joan Hambidge. Velásquez: Las Meňinas

Thursday, April 29th, 2021

 

 

 

 

Velázquez: Las Meňinas

 

Michel Foucault

filosofeer oor die episteme

en die ligskynsel in hierdie skildery:

die spel tussen werklikheid

se gatkant, genaamd illusie.

 

Die Wagtende vroue speel af

in Madrid waar Koning Philip,

die Vierde oorheers.

Die ruim kamer in die Alcazar

stal verskillende figurante uit:

 

Infanta Margaret Theresa

met Doña Isabel de Velasco

met Doña María Agustina Sarmiento de Sotomayor,

kniebuigend voor die Infanta,

vir wie sy ‘n búcaro eerbiedig aanbied.

Twee dwerge Maribarbola en Nicolas Pertusato

voltooi die prentjie, terwyl die een

skoorsoek met die slapende, bloubloed hond.

 

Dan sien ons doña Marcela de Ulloa,

glo die chaperone,

geklee in swart, neffens

die naamlose guardadama  

na die agtergrond uitgeskuif,

ene Don José Nieto Velázquez,

glo Diego se groenoog neef,

eweneens die koningin se kamerheer.

Of soiets.

 

Koning Philip IV en koningin Mariana,

opdraggewers vir hierdie ryke tapisserie

word gestulp in die agtergrond

stilswyend in die refleksie van ‘n dowwe spieël.

 

Vlak vir vlak beweeg my oog

tussen wat daar was en ewig

bly uitnooi en betekenis fnuik.

Enumerasie en optel hoort

eerder tuis in ‘n kinderspel.

 

En Velázquez, so by my kool,

lag die hele spul uit

welwetend hoe almal

sou bly wonder oor

die oortreding

van ‘n ordonnansie

in hierdie kaleidoskoop

met ‘n laaste sê:

 

so op die keper beskou.

 

 

© Joan Hambidge, 2021