Posts Tagged ‘Vertaling in Afrikaans’

Andries Bezuidenhout. Lied van onskuld – vertaling van ʼn gedig deur Ko Un

Monday, August 12th, 2013

Moet nooit in hawens na die liefde vir onskuld soek nie.
Ag, ook nie in neonbeligte strate nie,
of in dronkmanstegies nie,
jou dwaas, jou dwaas,
om te soek na die liefde vir onskuld.

In tye van traangas en gifgas,
tye van fosforbomvlamme,
moenie na die liefde vir onskuld soek
in helder daglig
of teen sonsopkoms in verlate strate
               vol pamflette nie.

Die kil winde wat deur fabriekspersele snerp,
dít was ons verlossing.
Die koue winde wat rook en roetmis wegwaai
was ons verlossing.

By ʼn straatsjebien
sluk ek twee bottels hardehout af,
besope onderonsies was my verlossing.
Jy waarsku teen die soeke na die liefde vir onskuld?

Liefde vir onskuld? Voer dít vir die honde.

Tog, voor en na ons mooi gedagtes
is ʼn suiwerder tyd.
Alhoewel moeg en lendelam
het ons krag gehad om op te staan.
Vandag is ook só ʼn dag.
Na vandag is daar môre,
dis net dat môre anders sal lyk.

Dis dáár waar die liefde vir onskuld is. Wat ʼn vreugde!

Is dít dan nie
ons wese nie?
Toe jy op ons geskree het
om nie te soek na die liefde vir onskuld
in hawens
of op straat nie,
die liefde vir onskuld was steeds daar.
Is dit dan nie maar
ons aard nie?

Na Clare You en Richard Silberg se vertaling “Song of Innocence” uit: Ko Un, The Three Way Tavern: Selected Poems (2006, University of California Press), pp. 16-17.

Andries Bezuidenhout. Jou kinders het hul hande gesny – ʼn vertaling

Thursday, May 2nd, 2013

Ek lees weer Margaret Atwood. Haar gedig “Your children cut their hands…” val my op, deels oor die slinkse manier waarop sy die woord “red-handed” letterlik vertaal. In Afrikaans sou dit vertaal word as “op heterdaad betrap”. Hoe sou mens die manier waarop die betekenis verdraai word in Afrikaans vertaal, sonder om die woordspeling te verloor? Ek verkies vertalings wat so naby as moontlik aan die oorspronklike betekenis bly. Met hierdie een het ek egter gesukkel:

Jou kinders het hul hande gesny met glas
toe hulle deur die spieël tas
na waar die geliefde sou skuil.

Dít so onverwags:
Jy dog hulle soek na geluk,
nie verskeurdheid nie.

Jy dog geluk
sou eenvoudig opdaag, moeiteloos
en sonder ʼn geswoeg,

soos voëlgesang,
ʼn blom padlangs,
of ʼn skool silwerige visse,

maar nou’t hulle hul hande met liefde
gesny en huil heimlik
terwyl die gevoel in jou eie hande verdwyn,

want jy kan niks daaraan doen
dat jy hulle nooit aangemaan het nie

omdat jy dog
dis onnodig
en nou glasskerwe orals
en jou kinders wat met bloed op hul hande

gryp na weerklank en maan
en skaduwees en hol gebede
soos jy lank gelede.

Oorspronklike gedig: “Your children cut their hands…” in Margaret Atwood se bundel The Door (2007, Virago), pp. 28-29.

Andries Bezuidenhout. ʼn Man kyk: Vertaling van ʼn gedig deur Atwood

Monday, January 24th, 2011

ʼn MAN KYK
(Vertaling van ʼn gedig deur Margaret Atwood)

ʼn Man kyk na ʼn pragtige vrou
wat hom by ʼn deur probeer inhelp,
hom en sy beenstut: lomp getimmerde
karapaks van metaal,
skrapnel aan sy lyf se buitekant
uit ʼn oorlog waarvan hy moes vergeet het
of nooit in geveg het nie. Een of ander priem
haak daar onder vas. Sy buk vooroor
en hy kyk na haar bekoorlike kruis, dink kruis,
dan dink hy: peer op ʼn piering,
en onderaan, twee appels.
Hy kan nie glo hoe banaal hy kan wees nie,
soos ʼn slordige, tweedehandse skilder,
en s
ó van haar verwyder. Is daardie nie dye nie?
Is hierdie nie hare nie? Hy maak die bene oop, streel die hare,
niks roer nie. Hy dink harder, probeer vulva;
ʼn woord soos ʼn motorenjinonderdeel,
iets uit rubber, ʼn olierige klep
wat saampers en dan omdop.
Hopeloos. Eens
sou hy haar kon ruik,
prikkel van lentevlei en sagte ui
gemeng met skugter reukwater,
knoopsgaatjie en kieliebak, benewens dit
die neurie van wilgers, sonnige loof
van kruid gekneus onder haar lyf,
maar nou’t sy geen stralekrans van di
é aard nie.

Sy staan op en glimlag vir hom,
ʼn glimlag so deurskynend
dat hy daarin kreukel, soos die vlies
op gekookte melk.
Hy’s bloot bagasie vir haar,
wat sy van kamer tot kamer moet sleep,
of ʼn siek hond wat genade vra.
Sy s
ê: “Sal ons weer probeer?”
Hy dink: Ek is kwaad. Sy neem sy arm.
Hy dink: Ek gaan binnekort dood.

Oorspronklike gedig: “A Man Looks” uit Margaret Atwood se Morning in the Burned House (1995, Houghton Mifflin), pp. 37-38.

  •