Emily Dickinson: Vertaling in Afrikaans
Thursday, January 23rd, 2020Emily Dickinson: Vertaling in Afrikaans. Vert. deur Daniel Hugo
Die rit
(Emily Dickinson: Because I could not stop for Death)
Omdat ek nie vir die Dood kon stop nie
het Hy goedgesind vir my gestop.
In die koets is dit net ons twee –
Onsterflikheid is ons geselskap.
Stadig gaan die reis – Hy ken geen haas.
En – omdat Hy so uiters hoflik was –
sit ek daar sonder my pakkaas
van versuim en plig – als wat my belas.
Ons ry verby ’n skool waar kinders
op die speelgrond jil – ons ratel aan
verby velde waar die koring wuif
en verby die son wat ondergaan.
Nee, dis hy wat by ons verbykom.
Dit raak koud en die dou laat my ril
want my rok is van spinnerak
en van gaas is my mantel.
Ons vertoef by ’n huis wat lyk
na ’n swelsel uit die grond –
die dak is net-net sigbaar
en die gewel kom ’n datum kort.
Dit was eeue gelede – en tog
voel dit veel korter as daardie dag
toe ek merk die perde se koppe wys
in die rigting van die Ewigheid.
Vertaling: Daniel Hugo
© Daniel Hugo