R.S. Thomas – vertaling in Afrikaans
Wednesday, April 20th, 2011R.S. Thomas – vertaal deur Daniel Hugo
Weg
na R.S. Thomas
Daar was ‘n plant wat geblom het
en ‘n hand het dit kom pluk.
Daar was ‘n stroom wat gevloei het
en ‘n lyf het dit vuilgemaak.
Daar was ‘n suiwer spieël
van water en ‘n gesig het gekom
en daarin gekyk. Daar was woorde
en oorloë en verdrae, en voete
het die aarde vertrap en wiele
het dit verskroei; en daar was
‘n ontploffing. Daar was stof
en stilte; en uit die stilte
het ‘n plant gegroei, en die dou
het daarop gevorm; en ‘n stroom
het uit die dou gesypel om
‘n spieël te skep, en die spieël was leeg.
(Uit: RS Thomas. Collected Poems 1945-1990.)
Die leë kerk
na R.S. Thomas
Hulle het hierdie klipstrik
vir hom gestel, hulle lok hom met kerse
asof hy soos ‘n enorme mot uit die donkerte
sal verskyn om hier sy vlerke te kom klap.
Maar hy het voorheen in die mensdom
se vlam verskroei en ontsnap, wat agterbly
is ‘n verskeurde noodsaak.
Hy sal nooit weer in ons strik
trap nie. Waarom kniel ek dan nog
en stryk my gebede op ‘n hart
van klip? Is dit in die hoop
dat een van hulle sal ontvlam
en op sy verligte mure die skaduwee
sal gooi van iemand groter as my begrip?
Vertalings: Daniel Hugo, April 2011