Posts Tagged ‘verteller’

Marlies Taljard: ‘n Bespreking van “Erlkönig” (J.W. von Goethe) aan die hand van geselekteerde narratologiese beginsels

Tuesday, July 3rd, 2012

DIE VLAK VAN DIE TEKSTEKSTUUR

In die vorige twee blogs het ek die gedig “Erlkönig” bespreek, en veral gekonsentreer op die vlak van die storie (geskiedenis) en die vlak van die verhaal (die artistieke teks). Vandag se blog handel oor die vlak van die tekstekstuur, met die klem op die vertelinstansie en taalhantering.

Vertelinstansie

Die verteller is in hierdie gedig die instansie wat aan die woord is en wat soms self vertel en soms die karakters in die direkte rede aan die woord stel.  Deur wisseling in die vertelvlak, word die verhaal lewendig, maar wen ook aan dimensie. Die afwisseling tussen uiters formele en hoogs emosionele beriggewing is ‘n kenmerk van die teks onder bespreking. Daar is egter nooit, nie eens in die emosionele deel, die geringste teken van onbeheersde uitstort van emosie nie.  Die leser kry die idee dat die vertelinstansie steeds in beheer bly en alle uitinge reguleer, selfs die eufemistiese doodskreet van die sterwende seun: “Erlkönig hat mir ein Leids getan!  (voorlaaste strofe).

In die vertelproses maak die vertelinstansie van ‘n wye reeks poëtiese stylelemente gebruik om meerduidigheid, afwisseling en geloofwaardigheid aan die teks te verleen.  Afwisseling in vertelstyl is reeds bespreek en meervoudige kodering sal in die volgende hoofpunt aan die orde kom.  Die gebruik van die direkte rede verhoog nie slegs die spanning nie, maar verleen ook geloofwaardigheid aan ‘n teks waarvan die inhoud indruis teen die normale menslike belewenis, deur die karakters as’t ware self aan die woord te stel.

Taalhantering

Omdat ons hier met ‘n gedig te doen het, is die taalhantering uiteraard anders as by ‘n gewone prosavertelling. Meervoudige kodering is ‘n wesenskenmerk van die poësie. Ofskoon daar geen doelbewuste woordspelings en dubbelsinnigheid in die teks voorkom nie, is dit tog duidelik voorkeur te verleen aan woorde soos dürren (strofe 4) en düsteren (strofe 6) dat die gedig ook op ‘n abstrakte vlak funksioneer. Deur gebruik van tradisionele motiewe wat veral met die dood verband hou, word die teks meervoudig gekodeer en word ‘n addisionele abstrakte dimensie tot die verhaalgegewe toegevoeg.

Die taalgebruik steun sterk op kontraswerking.  Enersyds het ons die rasionele taalgebruik van die vader, aan die ander kant die sterk emosionele uitinge van die seun en die liriese, verlokkende beloftes van die elwekoning.  Kontraste soos “Er faßt ihn sicher, er hält ihn warm” (strofe 3) klink ironies as dit saamgelees word met die doodskreet van die seun: “Erlkönig hat mir ein Leids getan” (strofe 7).  Die magteloosheid van die vader word hierdeur geïllustreer.

Daar is reeds by herhaling aandag gegee aan die epiese raam wat die liries-dramatiese middeldeel omspan en wat ook simbolies word vir die sinloosheid van die vader se konflik met die oorweldigende natuurkragte wat in die gedig aan die werk is. Die middeldeel maak, soos die drama, slegs van dialoog gebruik.  Egte dialoog vind egter slegs tussen die vader en die seun plaas.  Die elwekoning bly gestalteloos, steeds huiwerend in die donker, die misterieuse begeleier van die ruiters te perd.

Wat die sinsbou betref, is daar reeds melding gemaak van die vraag- en antwoordstyl,  ‘n tipiese stylkenmenk van die volksballade wat grootliks verantwoordelik is vir die opbou van spanning (strofes 1,2,4 en 6).  Die stelsin kom as rasionele element in die raam en as kontras tot die uitinge van die ander karakters in die middeldeel voor.  Die direkte rede word hoofsaaklik karakteriserend gebruik, maar ook stemmingskeppend.  Dit is ‘n kragtige middel in kontraswerking. Die uitroep word in hierdie gedig besonder geslaagd gebruik.  Die uitroep in die voorlaaste strofe vorm die hoogtepunt van die gedig: slegs die doodskreet van die seun is by magte om die elwekoning uit sy gestaltelose newel tevoorskyn te laat tree en sy demoniese natuur te vertoon.

Die leestekengebruik is, eg Duits, onverbeterlik.  Die komma word graag gebruik, veral na aanspreekvorme, vgl.  strofe 3, en om ‘n parentese aan te toon, vgl.  strofe 5, reël 1. Die kommapunt word veelvuldig as stylmiddel gebruik, meestal om uitbreiding aan te toon, maar nooit by teenstelling nie, bv.: “Meine Töchter sollen dich warten schön; / Meine Töchter führen den nächtlichen Reihn (…)” (strofe 5). Die dubbelpunt word slegs eenmaal gebruik, in strofe 6, om ‘n uitbreiding aan te toon.  Oor die algemeen is die uitroepteken baie gewild in Duits.  Dit val egter op dat hierdie leesteken hier baie beheersd gebruik word.  In die bevelsin in strofe 3, is dit grammatikaal onweglaatbaar, maar na die elwekoning se woorde in strofe 7 sou dit eintlik ook gepas wees.  Slegs die twee uitinge wat die doodskreet van die kind uitmaak, word egter verder deur dié leesteken versterk. Opvallend is die gebruik van aanhalingstekens by direkte rede.  Die vader en die seun se woorde staan nooit tussen aanhalingstekens nie.  Die einde van die spreekbeurt word telkens deur ‘n aandagstreep aangetoon.  Darenteen staan die elwekoning se spreekbeurte wel tussen aanhalingstekens.  Die presiese betekenis daarvan is nie heeltemal duidelik nie.  Wat wel duidelik is, is dat die uitinge van die natuurlike karakters nie op dieselfde vlak geplaas word as dié van die elwekoning nie.  Dit kan selfs daarop dui dat sy woorde slegs in die verbeelding van die seun hoorbaar is, maar vir die vader verborge bly.

Elemente van tipiese sprokiestaal vind ons o.a. in die sangerige ritme van reëls soos: “Du liebes Kind, komm, geh mit mir!”  (strofe 3) en in frases soos: “In dürren Blättern säuselt der Wind” (strofe 4).  Ook die magiese element is kenmerkend van die sprokie.

Intertekstuele gesprek vind sowel op stilistiese as inhoudelike vlak plaas. Die bewuste aansluiting by Herder se ballade, Erlkönigs Tochter is voor die hand liggend.  Wat die styl betref, bevat “Erlkönig” elemente van die volksballade wat Goethe in sy “Sturm und Drang”-jare op sy omswerwinge opgeteken het en wat deur die Reliques of Ancient English Poetry (1765) deur biskop Thomas Percy bekendheid verwerf het (Bräutigamm: 1912, 31).

Die afwisseling tussen streng afgemete epiese vertelstyl (“Dem Vater grausets, er reitet geschwind, / er hält in Armen das ächzende Kind” – slotstrofe) en suiwer liriese uitinge met liriese herhalinge (“Willst feiner Knabe du mit mir gehn? / Meine Töchter sollen dich warten schön; / Meine Töchter führen den nächtlichen Reihn, / und wiegen und tanzen und singen dich ein.”  – strofe 5) sorg sowel vir afwisseling as vir kontras.

Slotopmerking

Dit is veelseggend dat die narratologie, wat hoofsaaklik in die twintigste eeu ontwikkel en verfyn is, ewe goed gebruik kan word om ‘n agttiende-eeuse teks as moderne tekste te ontleed en dat die narratologie dus waardevolle kriteria bied ter ontsluiting van ‘n groot verskeidenheid verhalende tekste.

Bronne:

Bräutigamm, Kurt: Die Deutsche Ballade Verlag Moritz Diesterweg, Frankfurt am Main, 1912

  •