Heidi Pienaar. Paasgedigte
Sunday, March 14th, 2010Paasgedigte.
Dit is weer amper paastyd en alhoewel die pase in ons kontinent nie val in die lentetyd sodat dit
tradisioneel gevier kan word met nuwe lewe wat voortkom nie, vind ek in vroegherfs tog ‘n
atmosfeer wat hom uitstekend verleen aan die drama rondom Jesus se kruiseging. Hier volg ‘n paar
van my eie paasgedigte met temas van Jesus in die woestyn tot by die opstanding.
Die Granaatboom.
Verhonger na
veertig dae
en veertig nagte
sien Jesus toe
die boom vol granate
en toe met ‘n granaat
oopgebreek op sy palm sien hy
‘n versteende hart,
O Israel
boom van verharde harte
wat weer bloei
oopgebreek onder son
en stilte van die woestyn
met hul sade
van ‘n soete teerheid
en genade.
Herfswind.
Die spokerige herfswind
met sy rooi slepende mantel van blare
wat so herinner aan ou heroise gebeurtenisse
en heldedade
in die swart loodvensters van bome
‘n ridder in brons en silwer chainmail van blare
wat oranje vuurspuwende drake trotseer
en ook die spokerige herfswind wat sy rooi
Romeinse mantel van fluisterende blare
agter hom aansleep
in hierdie seisoen van sehnsucht
en naamlose verlange
en ewig voortsoek tussen die wit en goue
blare soos die songebakte stene
van ou Jerusalem
om weer die mantel oop te sprei
‘n rooi tapyt
voor die hoewe van ‘n vul
wat ‘n nederige man dra
weer tot koning geslaan
met die groen swaarde van palms
hierdie herfswind in die goue
ramshorings van bome
om die somerse kleimure van
genoegdoening en oordadigheid
af te breek
vir ‘n winterse boetedoening en inkeer
in hierdie seisoen van vervreemding
tot die bome ook begin staan
vreemd en verleë soos soldate
en priesters van hul eer gestroop
‘n enkele met bloedige oor
potdoof teen die wind
wat blou are van die seer
uit die koue opklits.

Via Dolorosa.
Donker palms bewaak jou snags
soos ou konings se geroesde swaarde
maar bedags gooi hul skaduwees
donker veerpyle oor jou klipstrate
wat ons in die hart tref
soos Jonathan se pyle van antwoord
Dawid in die hart moes tref
ou Jerusalem
vrou van vreugdes , vrou van smarte
van ‘n binnehof soos ‘n miskende profetes
tussen swart gebedetossels van sipresse
vrouens hang hul wasgoed
oor haar sonnige geboë stam
maar silwer hare laaf
moeë wêreldreisigers se voete
en uit albasterflesse van die lug
giet sy die aandwind oor die armes uit
ou Jerusalem
vrou van vreugdes , vrou van smarte
deur jou getroue seuns word jy omring
seun van die Olyfberg
seun van die Hermosnberg
ou Jerusalem
met die stene van jou bespotting
het jou kinders voetpaadjies gebou
sodat elke man en kind en vrou op die
Via Dolorosa van Jesus se voete kan hou
en soldate kom rig ‘n barrikade
maar ons struikel steeds oor stukkende trappe
soos vuil ontblote kameeltande
en tel ons bedekrale af terwyl ons verdwaal
in stege van sraatwasgoed wat soos skille hang
voor die blinde oë van die son
maar die olie van jou trane vloei
uit die olywe van jou oë
om gemeng te word
met die wyn van jou lag
om volgens eeue-oue Hebreeuse gebruik
die Oop Wond van die Lug
om jou te genees
en die heuwels om jou weer
van glorie te laat gloei.
ongewoon stil so asof
in ‘n oggendbries
in hierdie naakte stilte
soos ‘n valse instrument ingestem
deur die wenende kerse
wat die harde donker angs
om vergifnis van die wêreld
uit oë trek
en dit verhelder
met ‘n sagter glans
sodat die Messiaskore
oral op hierdie Heilige Pase
die blye boodskap kan bring.