Stempels op my paspoort
Joan Hambidge in gesprek met Louis Esterhuizen
 Joan Hambidge
Joan Hambidge is professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Haar jongste digbundel is Vuurwiel (2009).
Sy is ‘n gereelde boekresensent en skryf rubrieke oor letterkunde en films. Sy bied ‘n MA-kursus in Kreatiewe Skryfwerk aan by die Universiteit van Kaapstad. Hambidge behaal twee doktorsgrade. In 2000 “Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde – ‘n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk” aan die UK en ‘n eerste aan Rhodes Universiteit “Die metaroman – ‘n dekonstruksie-ondersoek” in 1984.
Sy het ook satiriese romans (Swart koring, Die swart sluier, Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het) en ernstige romans: Die Judaskus, Palindroom en Kladboek gepubliseer. Die Buigsaamheid van verdriet (2004) bevat ‘n keur uit haar poësie. Verder is sy bekend vir haar teoretiese essays. Vir haar digkuns is sy bekroon met die Eugéne Marais- en Litera-pryse. Sy is tans besig met ‘n studie oor die digkuns van Johann de Lange.
|
Joan, veels geluk met ʼn besonderse 22ste digbundel; synde ʼn keur uit jou voorheen gepubliseerde reisgedigte, plus heelwat nuwes. Maar – ter wille van volledigheid, waarom hierdie volgehoue drif tot reis en reisgedigte óór die reis?
Sedert 1979 verken ek vreemde lande. Van die VSA, Suid-Amerika, die Skandinawiese lande, Europa, Rusland, Hongarye, Tsjeggo-Slowakye, Japan, Sjina, die Britse Eilande, Kanada, Indië, Korea, o.a. – en later Afrika: Egipte, Marokko, Zanzibar, Kenia. Reis was nog altyd gekoppel aan die verwerking van ʼn emosionele insident, hetsy die verwerking van die dood van ʼn verhouding of om groter perspektief te kry op myself. Reis is ʼn proses van liminaliteit, dit is ʼn letterlike verskuiwing van grense in jouself. Jy reis na nuwe plekke wat jou verander. Ek is ʼn nuuskierige mens wat gou verveeld raak. ʼn Ongelukkige displaced jeug waar ek altyd buite alles gevoel het, het my lewensuitkyk bepaal. Ek leef nou volgens my wette, ritmes, begeertes – en ek is voortdurend besig om mites aan die kaak te stel. Oor verhoudings, die lewe, die dood – watookal. Jacques Lacan en Žižek is bepalend tot my siening van die self…
Visums by verstek is ʼn besonder mooi titel. Maar hoe vind dit volgens jou aansluiting by die gedigte? “Verstek” dui immers op iets wat afwesig is, is dit nie?
Die gedig staan altyd in die plek van die afwesige: die gedig representeer dit wat nie is nie. Wanneer jy ʼn gedig oor ʼn plek of mens skryf, bevestig jy dat dit nie meer daar is nie. Die gedig is dus ʼn visum-by-verstek. Dit sluit aan by Derrida se siening van die La carte postale…
Reisverhale en -beskrywings is natuurlik nie iets ongewoons in ons letterkunde nie. Nogtans is dié tema nog selde, indien ooit, so deurlopend volgehou soos wat jy dit met hierdie publikasie van jou vermag. Uiteraard bestaan die gevaar dat dit as “geleentheidsverse” afgemaak kan word; iets wat jy meesterlik vermy deur bykans elke vers uit ʼn posisie van besinning en ondersoek te benader. Was dit ʼn vaste voorneme by jou, of is dit gewoon die intuïtiewe ingesteldheid waarmee jy reis?
Die gedigte het oor ʼn besondere lang tydperk ontstaan; sommige verse in die stad, ander het eers jare later hul beslag gekry. In my driftige jeug het ek Verdraaide raaisels tydens ʼn reis deur Suid-Amerika voltooi. Die verse oor Kuba, o.a. het eers jare later tot uiting gekom. Ek het vir jare ʼn reisrubriek vir BY behartig en sodoende die verskillende moontlikhede van dig oor ʼn stad of vreemde land ondersoek. Die buigsaamheid van verdriet (2004) was ʼn keuse uit my “beste” verse, juis omdat ek oor soveel lande geskryf het.
Nog ʼn opvallende kenmerk van die verse – en hoeka iets wat aansluiting vind by die vorige vraag – is die groot hoeveelheid vrae wat gevra word in die gedigte; enersyds wek dit ʼn gevoel van onsekerheid en vertwyfeling – wat eweneens deel is van enige reisiger se ervaring – dog, andersyds ondersteun dit die besinning en soeke na bevestiging. Sou hierdie as ʼn werkbare siening oor die unieke aanslag van hierdie reisgedigte beskou? M.a.w., die teks as instrument van ondersoekende bevestiging eerder as beskryfde waarneming?
Die verse vergestalt waarskynlik die twee fasette van my persoonlikheid: enersyds intellektueel, andersyds twyfelaar. My verse is dikwels selfondermynend, tobbend oor die proses van dig. Dit gaan sover terug as Hartskrif (1985) en veral in Die anatomie van melancholie (1987) is ek besig om die proses van dig en ervaar op sy kop te keer. Iewers dig ek: soms loop die gedig die ervaring vooruit….
En besonder belangrike – én insiggewende – toevoeging tot dié keur is die voorwoord waarmee jy dit inlei. In die voorwoord verwys jy daarna dat die gedigte kommentaar lewer op die kwessie van “liminaliteit en grense”. Myns insiens is dit ʼn besonder belangrike stelling oor die aard van dié gedigte. Kan jy hierop uitbrei vir ons, asseblief?
Liminaliteit is tans ʼn buz-woord in die literatuurteorie. Alle sekerhede en grense word daagliks afgebreek: die internet, o.a. het ʼn geweldige impak gehad op ʼn verskuiwing van grense. Met een enkele e-pos is jy blitsig in ʼn vreemde stad. Ons skype. Daar is FaceBook en Youtube. Alles is vinniger, sekuurder en selfone is maar uiteindelik net ekstensies van onsself. Ons is binne oomblikke binne ʼn vreemde landskap.
Hierdie keur van jou is in drie afdelings gegroepeer. Volgens watter ordeningsprinsipe het jy die gedigte as sodanig geplaas?
Resent (hoewel ʼn paar in die gedigtekamer van die Versindaba verskyn het), bydraes wat reeds in tydskrifte/koerante opgeneem of op die internet geplaas is en dan verse wat reeds in bundels opgeneem is.
Joan, tydens die lees van die bundel het dit vir my gevoel asof daar ʼn baie subtiele verskuiwing in toonaard was; die vroeëre verse in die keur is myns insiens verse waarin opgewondenheid en verwondering die botoon voer, maar gaandeweg raak die verse meer melancholies en dring die temas rondom verlies en veral verganklikheid sterker na vore. Was hierdie ʼn bewustelike ingesteldheid by die samestelling? Veral ten opsigte van die keuse oor watter verse uit jou vorige publikasies by hierdie keur in te sluit?
Dit is toevallig. Of dalk lees jy dit so. Ek dink die kwessie van verganklikheid en verlies, is van meet af aan in my digkuns aanwesig.
Vanuit ʼn hele aantal verse blyk dit dat jy op ʼn besonderse manier met die stad New York identifiseer. Is daar bepaalde redes waarom juis dié stad so sterk tot jou spreek?
Ek vind NYC opwindend. Die boekwinkels, die gedrewenheid – my eerste digbundel Hartskrif het haar beslag gekry in ʼn koue winter in New Haven toe ek navorsing gedoen het en mense soos Harold Bloom, Geoffrey Hartman, Barbara Johnson, J. Hillis Miller, e.a. ontmoet het. Later het ek by herhaling terug gekeer na die VSA en weer navorsing gedoen toe ek ʼn tweede doktorsgraad voltooi het. Hierdie keer was die ruimte Boston en Cambridge, Mass. Harvard se biblioteke kon ek besoek weens ʼn reisvergunning. Hier het ek Pinsky ontmoet, weer met Johnson (sy is ondertussen oorlede) kennis gemaak en Marjorie Garber se wonderlike studies oor gender bestudeer.
In een van die New York-gedigte (“Start spreading the news“, p.89) plaas jy die volgende woorde in Petrus se mond wanneer hy die stad aanspreek: ” … Jy was ʼn hawe vir digters. In jou buik / kon verskoppelinge hul een voel met jou paradoksale aard: / van hoe groter en blinker na buite, / hoe weerloser en sensitiewer na binne. Alles was hier by jou moontlik. En almal welkom.” Hierdie reëls is natuurlik ook net so op jóú van toepassing, want ek ken nie juis baie ander digters wat soveel doen om juis die jonger, minder ervare, digters by die hand te neem en leiding te gee nie. Hierdie is uiteraard iets wat vir jou persoonlik ʼn saak van enorme belang is. Ek hoop nie dat hierdie vraag jou verleë laat nie, maar hoekom is juis dié ‘digterlike begeleiding’ so ʼn belangrike funksie vir jou?
Kreatiewe skryfkursusse – en ek is trots op my studente soos Carina Stander, Martina Klopper, Fourie Botha, Aniel Botha, Lou-Ann Stone en Karen Kuhn wat afgestudeer is en reeds solo gepubliseer het of in bloemlesings opgeneem is – is ʼn dubbelloop-aksie. Jy leer ander mense, maar jy leer self ook. As iemand vra wat bedoel jy met die gedig moenie ʼn argument wees nie, moet jy fyn formuleer. Of jy leer presies en helder nadink oor wat behels ʼn stelling soos vorm en inhoud is een. Of ek leer my studente mantras soos beeldkongruensie, vermy rymdwang, skryf konkreet … Ek bied elke jaar ook ʼn skryfkursus aan by die UP. Ek probeer elke digter sy of haar eie stem vind.
Dikwels antwoord ek sommer met ʼn gedig:
Die intieme aard van die digkuns
Hoe weet ek, vra jy my,
ʼn argument in ʼn vers werk of nie?
Jy soek ʼn reël, eis jy dringend; die regsgeleerde
vra vir uitsluitsel, anders blote snuifsels van die gode.
Ek kyk na al die handleidings vir dié stil bedryf,
blaai verwonderd deur Ottone M. Riccio se boek,
ontdek ʼn kaart van Praag: Hotel Jalta,
110 00 Praha 1, tel.no. 265541.
Nóg my naam nóg aankoms en vertrek
hier aangestip. Maar in my verbeelding
is ek weer op soek na Franz Kafka se huis
met die klein plattegrond in my hand
na ʼn kontinentale ontbyt om ses,
verby die Krym Bar (dit was vóór die internet
ons blitsig kon konnekteer), af, af, af
tot voor die rooi dakke van die asemrowende stad.
Daar was ʼn wagtende geliefde, ja,
en ek sou haar ontmoet in St. Petersburg
om die verlore Rembrandts te bespied.
“Die lewe is ʼn reis”, staan dit opgeteken
in ʼn klein notaboek,” en die liefde ʼn hellevaart”.
Later in die Hermitage staan ons verwonderd:
“Die ontering van Haman” en in die meester
se fyn balans tussen donker en lig,
geskiedenis en verbeelding,
weet ek dat daar altyd iets buite woorde lê.
ʼn Gedig word voltrek in stille toeval.
Vir my persoonlik vorm die groepie gedigte oor Oosterse stede in Afdeling III ʼn besonderse hoogtepunt. Veral die gedig “Daardie man wat stap in Jodhpoer” (p.97) is vir my ʼn uitsonderlike vers. Vertel ons ietsie meer van die omstandighede wat tot dié vers se ontstaan aanleiding gegee het?
Ek was in Jodhpoer … ek het ʼn man sien stap en die gedig is sommer net ʼn fantasie.
Vervolgens nog twee meer persoonlike vrae, Joan. Ten eerste – jy is na alle waarskynlikheide ons mees produktiewe skrywer; nie net ten opsigte van kreatiewe skrywe nie, maar ook met resensies, verslae, navorsings, ens. ens. Alles teen nekbreekspoed en van gehalte. Kan jy dalk vir ons ander wat maar net verwonderd kan staan ten aanskoue van jou werkywer ʼn kykie gee na jou werksroetine?
Ek werk baie geroetineerd. Ek spring soggens vroeg weg met die lees van e-posse en dan begin ek skryf aan ʼn lang werk (soos ʼn studie). Dan oefen ek op my oefenfiets vir sowat 40 minute, terwyl ek ʼn film kyk op my DVD-speler. Dan skryf ek weer, gee klas (waaroor ek gaande is), skryf tot vier uur, nuttig ʼn laat middagete met ʼn vriend of skryf op my laptop. Ontmoet dan my geliefde of ʼn vriend – Kaapstad het wonderlike restaurante – en lees in die aande. Dan oefen ek weer en kyk ʼn film. Ek besit nie ʼn TV nie. Lacan se nosie van leë spraak is iets waarvan ek wegskram. Soms word ek in die middel van die nag wakker, dan skryf ek. Kom tot die punt, is my mantra en moenie my tyd mors nie. Op my kantoordeur is ʼn bordjie: Klop en wag. En eet jou rape eerste is ʼn lewensfilosofie. Ek behoef lang tye van stilte en alleenwees. Ek glo aan hard werk en hard speel.
ʼn Laaste vraag – Jy het jou loopbaan aanvanklik as professionele akademikus gevestig en eers enkele jare later as digter gedebuteer. In watter stadium het jy begin om gedigte te skryf? Was dit maar altyd daar van skooldae af, of het dié begeestering jou eers op ʼn latere stadium betrek?
Ek het as jong kind baie gedigte gelees (Van Wyk Louw en Eybers), een vers geskryf en aan die US gestudeer waar almal probeer het om gedigte te skryf onder die invloed van Opperman. Ek het prosa in verset geskryf en in 1984, na ʼn paar pynlike ervarings, het ek begin dig. Johann de Lange het my eerste gedigte in Standpunte gelees en my aangemoedig. Ek het wel DJO se laboratorium bygewoon as kritikus en alles geleer wat daar te lere is van dig by hierdie meester. Hy het my aan Wallace Stevens voorgestel en sy onskatbare werk as kanoniseerder en mentor is nog nie na waarde geskat nie.
Dankie vir die gesprek, Joan, en nogmaals geluk met ‘n besonderse toevoeging tot jou oeuvre. Mag Visums by verstek altyd vir jou uitstaan as ‘n hoogtepunt in jou uitgebreide reis as digter. Ten slotte wil ek nogtans vriendelik vra – by wyse van groet – of jy dalk bereid is om ‘n gunstelinggedig uit die bundel hieronder vir ons lesers te kopieer?
Las Vegas, Nevada
Hier staan dobbelhuise neffens kerke
hul plek vol en sy ry met ‘n Greyhound,
geleerbaadjie en gerugsak, die Sondestad binne.
Met ‘n achy breaky heart word die woestyn
die perfekte back drop vir ‘n down town-motel,
waar reisigers en hoere, kortsondig vertoef.
Fear and loathing in Las Vegas. Agter haar lê
die Stad van Engele en vóór haar Miami. Nou,
in die oomblik, beleef sy die Mojave-woestyn,
nageboots in restaurante dwarsoor die wêreld,
met kaktus en klip kompleet. Vir haar is dit hel,
hierdie flikkerstad met sy gebedekrale van $-tekens.
La$ Vegas. Lush Vegas. Leaving Las Vegas.
In die Liberace-museum verpand broer George
handtekeninge namens die virtuose vertolker.
‘n Boekwinkel stal Barthes se Mythologies uit.
Saam met die semioloog vertolk sy die xeriscapes,
nabootsings, afbeeldings, flikkerligte: dollar a fuck.
Sy verkas uit Vegas, op pad na Dallas, op soek
na die American Dream, the greening of America:
na dit wat soos ‘n mirage in die woestyn glimmer.
***
15. Dallas, Texas
Op die spoor van JFK, dáár waar die Zapruder
die kavalkade skiet, goewerneur John Connally voor,
Jacqueline agter, in Dealey Plaza: November 22, 1963.
Lee Harvey Oswald (“I’m the patsy”) deur Jack Ruby vermoor.
“Mr. President, you can’t say Dallas doesn’t love you,”
sê die goewerneursvrou en tussen raam 155 en 169 draai
almal eers na links dan na regs, behalwe die President.
Die skoot tussen raam 210 en 225 wys nie die bloed
of stukkies been nie: nog ‘n skoot slaan van agter.
Ene James Tague, die toevallige waarnemer, presies 162 m,
getref met ‘n opslagkoeël, en in die Parklandshospitaal
word John F. Kennedy deur dr. George Burkley dood verklaar.
‘n Rooms-Katolieke priester bedien die laaste sakramente.
In ‘n outopsie-verslag word elke wond presies opgeteken.
Lyndon B. Johnson in ‘n Airforce One in sy plek ingesweer.
Die 1961 Lincoln Continental limousine staan in die Henry Ford,
in Dearborn, Michigan, met die bevlekte pienk rok geberg.
Koeëls, die geweer, selfs die hospitaaltrollie en outopsieverslag
vir die toeris op uitstalling, met ‘n X gemerk op die plek
van die eerste slag. Die nes van die vermeende koppesneller
hier in Dallas, Texas lewensgetrou gerekonstrueer.
Glo my vry. Dit alles en nog meer. Op die spoor van JFK.
© Joan Hambidge (Uit: Visums by verstek, 2011: Human & Rousseau)