Peter Holvoet-Hanssen – vertaling in Afrikaans
Thursday, January 14th, 2010Peter Holvoet-Hanssen – Vertaal deur Charl-Pierre Naudé
Maanfees
Dit was die maan die volmaan
die letters het mosbedekte woorde gevorm
en ’n takkeweelde het die aandag vasgegryp
die woorde het sinne verwek die nag oop op ’n kier
die sig was goed besonder goed dus was die uile heel doenig
ek stap deur die bos en byt in die yskoue lug
en waai met my arms die sterre opsy
al wandelend deur die netwerk van bome met maanlig behang
van die allerfynste gehalte sy ’n allermooiste wandeling
dit moes tog na ’n oopte lei
en ja ’n oop kring met daarbo die maan wat die water opwellend liefkoos
en in die middel rustig maar wel ’n knewel
sy eie krag plesierig genietend in vurige omhelsing
’n piesang ’n uitmuntende eksemplaar
nie te groen en nie te ryp nie in die maanlig selfversekerd
dus loop ek na hierdie komma wat in die bos daar lê
en slaan my tande in die boonste die keurigste stuk
van my gele vriend wat het my besiel en hy
ruik wel na piesang maar dis tog te verwagte
en ná die piesangsmaak pyl skielik in die hartjie van winter
braambos framboos op my af al glimmend van die dou
wat ’n sinnefees ’n bloubosbessie kon ook nie wag nie
spat sommer oop die spanning was volmaak die nag
u sal merk ek raak skoon liries wat nie my gewoonte is nie
ek so bekend om my nugter gestroopte styl
geprys om my nugter gestroopte styl
wat selfs betaal word om innemend te swyg aan tafel
sit nou met ’n soetsappige blerrie piesanggedig
inderdaad geen maskerade was dit
’n maanverligte bos sê ek daar was spore
sigbaar van verse wat nog nooit geskryf is nie
en so stralend gereed is
en wag net om geëet te word.