De Waal Venter. “Voortstap”
Wednesday, July 1st, 2015Voortstap
Die seun blaas
’n hees voëlgeluid
met die fluit wat hy gemaak het
van ’n gevoude grasstingel
wat ’n groen grasblaartjie vasknyp.
Op die horison
kook wit cumulus wolke
in die troposfeer.
Die fiskaallaksman druk
’n kaal voëltjie
met koue presiesheid
op ’n lang wit doring.
’n Dooie waterskilpad
se verlammende stank
nooi die honde uit
om daarin te rol en hulleself te beklee
met opwindende, vreemde persoonlikhede.
Die dag het onomkeerbaar
verby die middel gedraai,
terwyl die seun deur die gras aanstap –
geeneen van hierdie treë sal ooit
ooit weer gestap word nie.
(c) De Waal Venter / Junie 2015