Posts Tagged ‘Vosburg’

Andries Bezuidenhout. Vosburg se NG Kerk

Sunday, December 19th, 2010

Op Vosburg praat mense oor die pad. Die plan is al lank daar, maar die regering se kontrakteurs het nog nie aanstaltes gemaak om te begin nie. Nou praat hulle oor middel Januarie. Die vraag in die hotel se kroeg is of hulle aan Carnarvon se kant, of Vosburg se kant gaan begin teer. Iemand noem dat die gastehuise al besprekings gekry het, so dalk begin hulle by Vosburg.

Laatmiddag en ons gaan stap. Dis ʼn pragtige dorp. Alhoewel dit eers in die laat-1800s as dorp geproklameer is, is hier huise wat duidelik uit die middel- en dalk vroeë-1800s kom. Groot dennebome gooi koel skaduwees en die wind suis, suis, suis. Reënwolke pak saam.

Ons kom by die kerk. Op die werf is ʼn olyfboomboord. Ek soek die koelte hier op en gebruik die hoek om ʼn foto van die kerk te neem.

 

Vanuit ʼn ander hoek kan ʼn mens die stormwolke sien aankom. Hulle dreig, maar bly droog in die lug hang.

Die kerk het ʼn mooi toring. Vreemde kombinasie van Goties met neo-klassieke elemente van die tyd. Dis in 1909 gebou. Die hoeksteen lees:

DES HEEREN TEMPEL
ZACH. 6: 12
GELEGD DOOR
DS. J.D. LOUW
27 NOV. 1909

W.H. FORD
ARCHITEKT
KEATING & CO.
BOUWMEESTERS

Die dominee kom uit die pastorie aangestap en wil weet of ons die kerk van binne wil sien. Hy oorhandig ʼn massiewe sleutel, wat een van die houtdeure oopsluit. Kyk na die preekstoel, sê hy. Die inspirasie is blykbaar ʼn seilboot. Bring die sleutel terug pastorie toe as julle klaar is.

Sowaar, selfs die ouderlinge en diakens klim aan boord voor die diens begin. Hulle het hul eie sitplekke met deure teenaan die preekstoel. Die dominee is die stuurman wat die boot reg in die rigting van die gemeente laat vaar, die orrelpype wat die wind van agter aanblaas. Hier is meer detail:

Vosburg kry sy naam van die vanne De Vos en Van Rensburg. Dis die twee prominente families hier. Ek stap met die trappe op na die balkon toe. Die lig hierdie tyd van die middag is pragtig. Ek hou van die eenvoud van die loodglas.

 

Die Kerkbode in die ingangsportaal praat oor onlange statistiek van mense wat die NG Kerk verlaat. Klein dorpies word in ʼn krisis gedompel as die bank toemaak, sê een van die berigte. Op die balkon self is die lig ook baie mooi.

In die kloktoring, van onder af, lyk dit só. Die ketting wat die klok laai lui hang hier:

Teen die kerk se toring maak swaeltjies nes.

Die lug is vol swaeltjies. Hulle dink dit gaan reën. Die mense in die dorp sê dit het verlede week goed gereën, maar dit moet nóg reën om die droogte behoorlik te breek. Ek dink aan Philip Larkin se gedig “Church Going”:

But superstition, like belief, must die,
And what remains when disbelief has gone?
Grass, weedy pavement, brambles, buttress, sky,

A shape less recognisable each week,
A purpose more obscure…

Ek vat die sleutel vir die dominee terug.