Posts Tagged ‘Vrypas’

Clinton V. du Plessis. Vrypas

Friday, November 30th, 2012

Vrypas

 

Pa, onthou jy ons in derde klas

(met die harderige banke,

of soms in die oop rywa, bombela,

sonder kompartemente)

 

die swart passasiers met  

die gevlegte rietmandjies

op die heel boonste sitplek

hoe gasvry hulle die tuisgebraaide werfhoender,

bakbrood en koffie uit ’n fles 

eerste vir ons aangebied het, my eerste les

in ubuntu,

 

daar was baie stasies

knus klein plekkies met nostalgiese name

Poupan, Kraankuil, Beskuitfontein, Bletterman,

jy’t hulle almal geken,

elke stasie het sy eie storie gehad,

 

sommige met kafees,

gebakte vis en stomende moerkoffie

vir die leë fles op koue winternagte

daar was groot kruisings, Noupoort noorde toe

en Touwsrivier na die Kaapse kant,

netjiese groen akkers gras

by die ingange,

bont blombeddings wat gepas

het, by rooi-gepoleerde stoepe,

 

drywers met blinkgepoetste kostrommels,

 trotse manne met werk en vername beroepe

 lampman, sinjaalbeampte, rangeerder en stoker,

die stasiemeesters, gesiene menere,

 manne wat elke jaar of twee die nuutste model kon ry

Opels, Fords, en, voor die koms van 4×4’s

Ranchero-bakkies en El Camino’s met die netjies toegeritste

leerbedeksel oor die laairuim.

 

De Aar het vertak na alle plekke

’n polsende aorta van voortsnellende treine,

vol jong troepe om iemand anders

se heilige oorlog in ’n onbekende land

te gaan veg, trollies gelaai

met springbokkarkasse,

geskiet deur ministers en hulle gevolg

vername manne wat braai,

biltong kerf by kampvure en bosberade

net hoe wyd was die Heer se genade?

tot by die perron se gatkant moes ons loop,

amper heel onder die dak uit,

op die rand, weg soos lastige onkruid,

om te kon mag sit, op die gemerkte

nie-blanke banke,

 

 

Pa, ek reis nog, enige klas wat ek wil,

met ‘n skerm en ‘n muis,

saans sit ek met boeke

lees nuwe wêrelde oop,

en nou maak ek vir jou ‘n boek

probeer met woorde op jou spoor loop

 

soms sien ek jou in die nou gang

staan, die venster oop en die roet

wat teen  jou wang

kom sproet,

ek hoor weer die wiele rol,

sien die kole voor gloei, ‘n vlamrooi gesig,

sien weer ‘n windpomp in die maanlig

draai en die helder sterre wat soos oë

van die dooies stol, die hemelruim vol.

 

Pa, die dood is ‘n boemeltrein wat niemand kan verpas nie.

 

 

© Clinton V. du Plessis, 2012

  •