Posts Tagged ‘Vrystaat Kunstefees’

Gisela Ullyatt. Landskappe, ’n fees en ’n Hertzogpryswenner.

Wednesday, April 29th, 2015

i

Die pad tussen Bloemfontein en Oos-Londen is gewoonlik nie al te besonders nie. Lang strekke dor vlaktes, klipheuwels en sonverbrande gras. Eers naby Stutterheim begin dit groener word. Dis die eerste herfs wat ons op hierdie pad reis en populiere word ryp in kordonne goud. Die lig is blouer, meer intens. Die pad is stiller; ons reis terug op die Sondag van die langnaweek. Ons moet halt roep by twee STOP/GO’S.

Die rubber om ons kar se voorruit het egter losgekom en wapper oorverdowend teen die einste ruit wanneer sterk dwarswinde daarteen ruk. Ons trek af by ’n hele paar dorpies om skadebeheer toe te pas. Dan hou dit so vir vyftig kilometer tot waar ons weer ’n aftrek-plek soek, die ruit te inspekteer en gebede die ganse heelal in te stuur dat die ruit asseblief tog net nie versplinter in ons skote kom lê nie. Toe ons Reddersburg binnekruip, want die spietkops is al te lief om buite hierdie dorpie te vergader, speel Barry White. You’re my one and only, my everythaanggg.

Barry White en Reddersburg. ’n Voorruit wat wil loskarring. Verf wat afgeskil word van verlate geboutjies, deur tyd en die elemente. Ons trek af onder ’n boom op die gruis. Bekyk die voorruit weer eens. ’n Verweerde man met dreadlocks verskyn langs ons. Uit die bloute. Tandeloos. “Ja, tatta”, seg hy vir my man. “Ek sien daai’s los, nè”, sê  hy met ’n gelatenheid. Ons staar almal na die stuk rubber wat uit sy slootjie geruk is. Ons druk dit terug; stamp dit in. “Ek soek ietsie om vir my paraffien te koop”. Die laatmiddag het reeds ’n kilte in die lug. Ek weet ’n bed met ’n elektriese kombers wag op my. Ek krap rond in my beursie. My man grap met met hom en sê hy dog dié wil geld hê vir ’n nuwe haarstyl. Dreadlock-man lag van oor tot oor en skud sy stof-deurdrenkte kapsel.

Daar is ’n gulheid aan Vrystaat-dorpies. Maar ook ’n vervallenheid, ’n afskilfering van mens en landskap. Vir die eerste keer het die STOP/GO my Zen-meester geword. Stop/go roshi. As ek kon, sou ek kniel en buig voor die eensame padwerkers, rooi vlae al wapperend. Ek sou gasshō op die gruis langs die pad, voor blink windpompe, voor verroeste windpompe wat soos opgebruikte konsertinas langs miershope lê. En elke populier in herfs. ’n Gelatenheid pols deur my.

Dit is soos dit is. In hierdie oomblik. Alhoewel ek steeds bewus is van die dreigende voorruit, konsentreer ek nou ook op die CD in die kar, die son wat my linkerwang tref en die eindelose oopheid van die pad. Genadiglik is die voorruit nog deel van die kar toe ons afdraai in die Windmill Casino-afrit.

Voor jou gasshō ek, roshi van die oop pad, skerm teen die wind.

ii

In Julie hou die Vrystaat fees. Vryfees is herdoop tot die Vrystaat Kunstefees, met ’n nuwe logo en ’n Boere-Australiër as nuwe direkteur. Dr. Ricardo Peach het nooit sy Afrikaans verloor nie en praat dit steeds vlot, na bykans dertig jaar in Australië. Wanneer hy Engels praat, is dit met die tipiese intonasie van die Australiese kontinent. ’n Woord soos próject word ’n heerlikheid op die Suid-Afrikaanse oor. Hy het Sydney verruil vir Bloemfontein. Ons Bloemfonteiners dink hy is fabulous. Die foto is deur Conrad Bornman geneem vir Volksblad.

Ek het hom ontmoet toe hy laas jaar vroue-digters uit die hartland van die Vrystaat gesoek het vir ’n groot kunsprojek, Pienk Presidente. Hierdie projek van die Australiese kunstenaar, Cigdem Aydemir, het profeties patriargale standbeelde gedekonstrueer. Standbeelde is in pienk plastiek vakuum-verpak.  ’n Nuwe gesprek is gevorm rondom die Boere-patriargie. Ek het ’n gedig oor President Steyn se standbeeld op die Rooiplein voor die Hoofgebou van Kovsies geskryf en klankopnames is gemaak van al die digters wat hul gedigte voorlees.

https://soundcloud.com/ricardo-peach-1/gisela-ullyatt-Afrikaans.

https://soundcloud.com/ricardo-peach-1/tessa-ndlovu-afrikaans-english-sotho.

President Steyn en CR Swart het feestelik in pienk daarna uitgesien. Die Kunstefeesgangers is aangemoedig om selfies saam met die beelde te neem. Nooit het iemand gekla of te velde getrek teen hierdie tydelike dekonstruksie nie. Want die beelde is met respek behandel, nooit gevandaliseer nie. Hiermee het Aydemir iets bereik deur die medium van kuns: ’n vreedsame dekonstruksie sonder beskadiging.  Die onderstaande foto het op PIKO/PIAD se facebook-blad verskyn.

Hierdie jaar is poësie meer op die voorgrond met die reklame van die Vrystaat Kunstefees. Logo’s is ontwerp om die Vrystaat en Bloemfontein se essensie uit te beeld. Die opdrag was om vier reëls te skryf. Vier digters is gevra om elk oor ’n logo te skryf: die V in Vrystaat; die X wat die middel en kruispunt asook sentraliteit van Bloemfontein voorstel; die hart wat die hartland of -provinsie uitmaak en die roos wat verbind word met die Rosestad. Silverrocket Creative het die logo’s ontwerp en saamgestel en is die grafiese kunstenaarspan wat verantwoordelik is vir die fees-program. 

Ek het oor die roos-logo geskryf en die volgende gedig is opgeneem in die bekendstelling van die program; nog gedigte van elke digter gaan in Volksblad verskyn.

hoe vou jou oker vlaktes oop

soos ‘n roos in roes

in my weefsel bot jy

in sillabes van herfs

Ilisna Nel het oor die V-logo geskryf. Sy gee tans onderwys en haar kortverhale het in beide Nuwe Stories 3 en Skarlakenkoors verskyn. Sy is ook as mimiekkunstenaar opgelei en het reeds ’n eenvrouvertoning by die Hoërskool President Steyn opgevoer. Haar kortverhaal is ook gekies onder die top-dertig stories in die Lapa/Reis-kompetisie.

Doringbome teen ‘n vaal horison

skemer koppie, silhoeëte

word ‘n wiegelied.

My vrede. My Vrystaat.

Tessa Muller aka ProheTezz het oor die hart-logo gedig. Sy is ’n deurwinterde performance poet wat ook deelgeneem het aan laas jaar se Pienk Presidente-projek. Sy hou gereeld werkswinkels wat jong digters oplei, is een van vanjaar se beoordelaars van die Triple Factor en is die inisieerder van talle gemeenskapsprojekte, veral by die Joe Solomons-laerskool in Heidedal. Sy gaan ook deelneem aan ’n paneel by vanjaar se Vrystaat Kunstefees, getiteld Poësie Praat/Poetry Matters waar ons gaan gesels oor die skep van ’n poësie in Bloemfontein wat verskeie tale wil betrek asook hoe die verskillende tale die digkuns ervaar, opvoer en voorlees.

Ek is ‘n opregte Vrystaat grootoognooi

Verlief op die vlaktes en karoo gewortel in my hart

Ek is getroud met die kronkellyf van die Gariepdam

Omsingel deur die skatkis van grys klippe en goudvelde

Adriaan Meyer het oor die X-faktor van Bloemfontein geskryf. Hy is ’n bekende dramaturg van die Kaap wat tans in Bloemfontein woon. ’n Jong Kanna-prys is aan hom toegeken in 2004 vir die drama Prinsloos Versus, wat grepe oor die kontroversiële skrywer, Koos Prinsloo, se lewe inkorporeer. Hy het ook hierdie drama geregisseer.

Skares vergader waar paaie oorvleuel en elk trek hul kruis as xenofiel

Kraakvars onbekend is die spyskaart vir hul feesmaal:

verhale wat die vreemde wys, beelde nuut getoor en wysies ongehoor

Pen en kwas kan nie besing die ou bekende lewenskring

Elke digter het sy of haar gedig Vrydagaand (24 April) by die bekendstelling van die feesprogram by NALN voorgedra en -gelees. Omdat ek dié betrokke aand nie kon bywoon nie (op pad Oos-Londen toe met ’n brose windskerm) het Gerben Kamper my gedig voorgelees. Kamper is ’n bekende akteur wat onder andere die hoofrol van Mossie in Tertius Kapp se Oorsee vertolk het. Hy het ook die Kunstetrust-prys gewen vir die beste debuutproduksie vir Kanna hy kô hystoe in 2013. Hy het einde 2014 afgetree as dramadosent by die Universiteit van die Vrystaat maar is steeds aktief betrokke by produksies. Van links na regs op die onderstaande foto is Ilisna Nel, Adriaan Meyer, Tessa Muller en Gerben Kamper. Die foto is deur Ricardo Peach geneem.

iii

 

Tertius Kapp het vanjaar die Hertzogprys vir Drama gewen. Hy is ’n dosent aan die Departement Afrikaans, Fort Hare, Oos-Londenkampus en het Vrydag ’n lesing oor sy dramas gelewer. Sy lesing was fassinerend omdat hy sy dramas en opera, Poskantoor, gekontekstualiseer en grepe uit Rooiland en Poskantoor verskaf het. Rooiland is aanvanklik geskryf met die oog op komedie, maar het stelselmatig ’n donker invalshoek gekry. Die protagonis is Pastoor, ’n gevangene wat ge-oogmerk word as ’n ‘wyfie’ deur ’n bendeleier in die tronk. Deurgaans word die 27- en 28-bendes deur Pastoor belig. Die drama is geskryf in sabela, die taal van die tronk. Carien Smith, wat in Nuwe Stories 3 verskyn het, het die bostaande foto van Tertius geneem.

Professor Susan Smith, departementshoof van Afrikaans, het die lesing ingelei, haar bronchitis ten spyt, en gesorg dat almal met spys en koeldrank (party kollegas moes ongelukkig terugkeer werk toe daarna) getrakteer is en met Tertius kon blad skud (soos ek in die onderstaande kiekie). Dit was waarlik ‘n voorreg. (Foto: Bernice Weingartz.)

Tertius het ook as jongeling-digter in Nuwe Stemme 2 gedebuteer. Omdat dit die tiende Mei Moedersdag is, haal ek die volgende gedig van hom aan (116):

 

Elegie aan my moeder

 

Nie vir haar nie.

Drome slaan vas teen die dakke

van dié somerhuis.

 

Sy slaap alleen vanaand. Sy druk

’n verbouereerde muskeljaatkat

teen haar vas, teen reën.

 

En ek gooi leë balpuntpenne vol

misverstand. ’n Oordonderend sagte

getik teen haar venster.

 

Ek staan kleins in ’n donker gang

op ’n winterteelvloer

voor ’n donker dubbelbed.

 

iets roer, binne.

 

 

Bibliografie

 

Müller, P, De Jager, N. 2001. Nuwe Stemme 2. Kaapstad, Tafelberg.

  •