Posts Tagged ‘V.Y. Mudimbe’

Andries Bezuidenhout. Dinge wat verslaan

Monday, August 30th, 2010

As ʼn mens by ʼn nuwe kantoor intrek, word jy deur al jou ou lêers gekonfronteer – hetsy elektroniese houers of bokse vol stowwerige velle papier. Soms is stukke verlore papier nog elektronies opspoorbaar, soos die stel grafiese gedigte hier onder, wat in ʼn ander formaat in my bundel Retoer opgeneem is.

Ek het die gedigte geskryf in ʼn tyd toe ek V.Y. Mudimbe se boek The Invention of Africa gelees het – onder andere oor hoe die “ander” in sketse voorgestel word. Voor ʼn kunstenaar die “ander” as anders kan voorstel, moet die “eie” eers vasgepen word. Dis deels hoekom ek die “Drawn from life” by die skets wat ʼn besigtiging van Sara Baartman adverteer so interessant vind. Dis die dae voor fotografie.

Maar fotografie is natuurlik ook nie onskuldig nie. Dit hang af waarna jy mik, komposisie, wat jy beklemtoon. Ek kom op die volgende aanhaling af: “The photographer, like the artist and the scientist, seeks to control color. Often this means recording as accurately as possible the hues in a given scene. At other times it means achieving the color that best evokes the mood he seeks in an image – by manipulating light sources or angles and by controlling the processing and printing of the film. Far from being simple to control, color is as transient as light itself.”

Ek het in hierdie tyd die Musée d’Orsay besoek en oor die meng van kleure deur vroeë skilders begin oplees. Vir wit het hulle byvoorbeeld witlood gebruik en vir swart bitumen, of teer. ʼn Probleem met beide is egter dat die kleur redelik vinnig verslaan.

Die tema van verganklikheid – wie se woorde bewaar word, en wie s’n verslaan – is iets wat my nog altyd gefassineer het. Ek het hierdie gegewens en my jeugdelike obsessie met postkoloniale teorie toe in die reeks gedigte ingemeng en sketse gemaak om daarmee saam te gaan. Toevallig vind ek dit vandag tussen ander lêers op ʼn ou laserskyf.

Ek hang dit hier op, meer vir my eie rekord as enigiets anders. Pixels teen die verganklikheid. Ek wou dit destyds net so in die bundel insluit, maar is geveto. Seker maar beter so. Die meerderheid van die bundel se resensente was negatief oor die pensketse.

 

Aanhaling uit: John Hedgecoe. 1978. The Art of Colour Photography. New York: Simon and Schuster.

  •