Posts Tagged ‘wenners Beeldgedigkompetisie’

Wenners van die Beeldgedigkompetisie!

Saturday, February 16th, 2013

Wenners van die Beeldgedigkompetisie

 

Andries Bezuidenhout   Zandra Bezuidenhout   Carina Stander

Baie geluk aan hierdie drie wenners!

 

EERSTE PRYS (R1000):  Andries Bezuidenhout. Gesprek met Vilhelm Hammershøi by Ordrupgaard

TWEEDE PRYS (R600): Zandra Bezuidenhout. Stillewe

DERDE PRYS (R400)  : Carina Stander. stiljag

 Met dank en waardering aan Cordis Trust  vir hulle steun, maak ons graag die bogenoemde wenners bekend. Die beoordelaars vir hierdie  kompetisie was Bernard Odendaal, Marlies Taljard en Amanda Lourens wat onafhanklik van mekaar die gedigte (anoniem) beoordeel en hulle keuses gemaak het.  D.m.v. van ʼn puntestelsel is die wenners gekies.  Die name van die digters word dan nou vir die eerste keer bygevoeg na ontvangs van kommentare en verslae deur die beoordelaars. 

Weereens is die krag van ons digkuns in sy verskeidenheid gedemonstreer. Nie net was die keuse van visuele stimuli verrassend uiteenlopend nie, maar die poëtiese aanbod was  geskakeerd en opwindend! Ongelukkig was daar talle uiters knap gedigte wat weens die opdrag van die kompetisie nie as “beeldgedig” geslaag het nie. – Red. Versindaba.

 *

Bernard Odendaal                       Marlies Taljard               Amanda Lourens

                      

Marlies Taljard: Die probleem met baie van die gedigte is dat dit in beskrywing vassteek of – aan die ander kant van die spektrum – nie die skildery-gegewe genoeg betrek nie. ʼn Beeldgedig slaag wanneer die gedig ook sonder die skildery ʼn eie lewe kan hê. Terselfdertyd moet die gedig egter ook nuwe betekenis aan die skildery-gegewe gee wat nie deur middel van die skildertegniek bereik kan word nie.”

 Amanda Lourens: “Beeldgedigte en hulle interaksie met visuele tekste kan gesien word as behorende tot wat Gérard Genette in Palimpsests: Literature in the second degree (1997) as die sogenaamde hipoteks-hiperteks-verhouding bestempel het.  Kortliks beteken dit dat een teks (die hiperteks) tot stand gekom het gebaseer op die ander (die hipoteks).  Genette sien die verhouding tussen die twee tekste as een van “enting” (grafting) – dat die nuwe teks tot stand kom as uitvloeisel van die basisteks, maar selfstandig verder kan groei  en ontwikkel.  Kortom, die verhouding tussen die twee kan nie ontken word nie, en die “nuwe” teks word deur die “oorspronklike” teks gevoed. “

Bernard OdendaalDie aanwys van wenners uit die 15 finaliste was vir my moeilik, vanweë die meriete wat elkeen van hulle besit.”

 

Kommentare deur die beoordelaars

 

Eerste Prys:

Andries Bezuidenhout. Gesprek met Vilhelm Hammershøi by Ordrupgaard

 1) “In die beeldgedig is die visuele teks merendeels die vertrekpunt, en bied die groeibodem vir die gedig.  In ’n geslaagde beeldgedig sal die gedig wel steeds in die visuele teks gewortel bly, oftewel, in gesprek daarmee wees.  Dit is ook moontlik dat die kunstenaar dalk eers die gedig skryf, en dat die visuele teks daarna tot stand kom as uitvloeisel van die geskrewe teks.  Nietemin bly interaksie die sleutelwoord in ’n geslaagde hipo-hiperteks-verhouding.  Die gedig wat hierdie soort interaksie ten beste illustreer, en ook as selfstandige gedig geslaagd is, is “Gesprek met Vilhelm Hammershøi by Ordrupgaard”.  Die keuse van die visuele teks spreek reeds van ’n voorkeur vir die pretensielose, en hierdie kwaliteit kom duidelik in die gedig tereg.  Daarby is die interaksie met die skildery  besonder sterk.  Die digter slaag daarin om die leser volledig by sy ervaring van die visuele kunswerk, maar nog meer, ook sy interaksie met die kunstenaar te betrek – dus gesprekvoering op verskeie vlakke sodat die gedig as’t ware die sentrum van ’n hele netwerk van interaksies word.  Steeds bly die visuele teks egter die vertrekpunt waaróm die gesprek met Hammershøi, maar ook die digter se gesprek met hom-/haarself opgebou word.  Die gedig self spreek van fyn komposisie en het ’n hegte en deurdagte struktuur met ’n behoorlike ontwikkeling van die gedagtegang wat ook op vormlike vlak weerspieël word.  Uiteindelik word die verruiming van die hipoteks dan ook haas grafies aan die leser geskets wanneer die plaaslike ruimtes van “die Ou Sinagoge”, “Muckleneuk” en “Pretoria Sentraal” die teks binnetree.  Ook is die gedig fyn afgewerk en is die toon en taalgebruik besonder treffend: daar is weinig opgesmuktheid, en daarnaas ’n fyn spel met klank, betekenis en sintaksis.”

2.) “Dié gedig besit  trefkrag en onthoubaarheid deur die reliëf-skepping tussen Denemarke/Kopenhagen en Suid-Afrika/Pretoria.

  

Tweede Prys:

Zandra Bezuidenhout. Stillewe

1.)“In hierdie gedig vorm skildery en gedig ʼn integrale eenheid deurdat die gedig sy metafore direk uit die skildery neem, maar geen skeiding tussen skildery-gegewe en interpretasie gemaak word nie. Een van die vernaamste verdienstelikhede van die gedig is dat dit ook, onafhanklik van die skildery, sy eie betekenis genereer, terwyl dit terselfdertyd ʼn nuwe interpretasielaag aan die skildery toevoeg. Dit neem as sentrale gegewe die spel tussen lig en donker (lig en skaduwee) wat ook in die skildery van Adriaan van Zyl sentraal staan. Deur woordkeuses soos “ewigheid” en “durende moment” word ʼn metafisiese dimensie in die gedig geaktiveer, terwyl woorde soos “bal” (hier ʼn werkwoord!) en “glas” na die konkrete skilderygegewe verwys sonder om dit te beskryf. Wat poëtiese kwaliteit betref, is “Stillewe” besonder geslaagd: die argument word fyn uitgewerk en ondersteun deur ʼn sinvolle struktuur, ʼn bevredigende klankpatroon en besondere aandag aan metrum en ritme. Woordekonomie en woordgeladenheid, asook kreatiewe woordgebruik, sinsbou, metaforiek en simboliek – alles wesenstrekke van die poësie – kenmerk die gedig. Die slotreël bevat ʼn gevolgtrekking wat suksesvol deur die voorafgaande reëls voorberei is én ʼn geldige interpretasie van die skildery-gegewe is.”

 2.)”Goeie, gestroopte taalgebruik en ’n netjies afgeronde portret in woorde wat die visuele teks ondersteun en goed uitbou.”

  

Derde Prys:

Carina Stander. stiljag

 1.) “Hierdie gedig het ʼn besondere aura en bekoor vanweë die sterk metafore wat die skryfproses as jagtog impliseer. Volgehoue gebruik van unieke simbole en metafore vir skryf wat via die skildery die gedig binnekom, dra by tot die geslaagdheid van die gedig as sodanig. Ook in hierdie gedig word skildery en gedig as’t ware een deurdat geen afsonderlike beskrywing van die skildery voorkom nie, maar die digter integreer eerder die simboliek van die skildery in sy gedig. Sodoende vind natuurlik ook (her-)interpretasie van die skildery plaas. Die gedig het ʼn besondere sterk en verrassende slot waarin die belangrikheid van die kreatiewe woord in die skryfproses onderstreep word deur klemplasing op die woord “stiljag” wat uiteenlopende fasette van die kreatiewe proses beliggaam. Ook die spesifiek poëtiese aspekte van die gedig, soos strofebou, klankpatroon en metrum dra by tot ʼn treffende geheelindruk. Enkele onlogiese denkspronge en onsuiwer formulerings pla plek-plek.”

 2.)“Treffende beelde en nuutskeppings, en wat funksioneel saamhang om die roofvoëljag en die skryf van verse metafories te verbind, is die ruggraat van hierdie gedig. Een bekommernis wat ek het, is dat die voël in die Vazquez-kunswerk nie vir my na ’n roofvoël lyk nie – eerder raafagtig voorkom. En dan is ek nie heeltemal oortuig van uitdrukkings soos “haastig wagtend waak”, “berg se hakskeen lek”, “pluk ek vir jou voëltjies” en “offersand” nie.”   

 3.) “Die illustrasie deur Vazques word inderdaad ’n groeibodem vir ’n gedig wat inderdaad sy vlerke span en betekenismoontlikhede ondersoek (en selfs uitdaag).  Die gedig self bied ’n uitdaging aan die leser: om die spel met betekenis te probeer ontrafel, en veral om die wisselwerking tussen gedig en illustrasie steeds verder te ondersoek.  Die aanwending van klank en struktuur (veral sintaktiese patrone) is goed en slaag daarin om aan die gedig ’n eiesoortige klank en toonaard te verleen.  Ek het die twee reëls “my roofvoël my vers / moenie dat vrese ons jag nie” wel as ietwat oorekspliserend ervaar. “

  *

Eervolle vermelding

 

Hennie Nortjé. Pierneef-stasiepaneel

i)“Die trefkrag van hierdie kort gedig lê in die verrassende slot wat ʼn interessante en kreatiewe interpretasie van Pierneef se kubistiese landskaptonele is: “… die groot na-asem-snak / van engele voor daardie héél eerste reën” – ʼn interpretasie wat reeds in die eerste reël voorberei word deur die frase “blink gelate” wat sowel op engele as (soos hier) op die wolke kan slaan. ʼn Frase soos “daardie héél eerste reën” impliseer verder dat die skildery ʼn skeppingstoneel uitbeeld. Interpretasie van die skildery geskied hoofsaaklik aan die hand van verwysings na kleure en kleurskakerings, asook na die skildertegniek van die skilder (“hoekig”). Woorde soos “haelwit” en “oordonder” bevat op ʼn meer subtiele vlak interpretasies van die skildery. Die hardheid van die landskap word gesuggereer deur die herhaling van die k-klank en die r-klank tesame met kort vokale. In teenstelling met die onherbergsaamheid van die landskap, staan die transendentale, ekstatiese slot, ondersteun deur lang vokale en “sagter” konsonante. Die gedig is kundig en kunstig aanmekaargesit. Dit bevredig deur sinvolle klankpatrone, trefseker formulering, eenvoudige dog geslaagde bou en meerduidigheid in woordkeuse. Hoewel dit sterk steun op die skildery as sodanig, sou die gedig ook gemaklik op sy eie kon staan.”

 ii)“Treffend en helder, maar van ietwat mindere intensiteit/kompleksiteit.”

 

 Gisela Ullyatt.  die eksodus van ouma martha. 

 “Alhoewel die interaksie tussen die hiper- en hipoteks miskien nie as eksplisiet beskryf kan word nie, is die gedig tog deeglik gegrond in die skildery (wat terloops ook vir my ’n besonder treffende keuse was – weer eens onderspeel en sonder pretensie of cliché).  Die skildery funksioneer in hierdie geval as die vertrekpunt of groeibodem, en die gedig slaag daarin om betekenismatig heelwat tot die skildery toe te voeg.  Die styl van die gedig is onderbeklemtoon maar tog besonder beeldend, terwyl die sosiale komponent in die gedig ook waarde toevoeg.   Nêrens is daar sprake van ’n oordaad van woorde nie, en metafore word vernuftig ingespan (en deurgevoer): “ (…) elke bladsy bros / noteer in oumens-skriffie”; ook “die tonneltjies van haar miershoopbrein” wat resoneer in “die mierkoningin se eksodus”.  Die digter moet myns insiens geloof word vir die geslaagde realistiese portret in woorde wat uit die visuele teks groei.” 

 

De Waal Venter. Die werklikheid verstel

 i)“’n Gedig wat beslis met die kunsfoto “praat”, maar wat ook heeltemal op sy eie kan staan. ʼn Klompie sterk en treffende beelde maak die gedig onthoubaar – veral die effens ‘onhaakse’ beeld in strofe 2 om die onhaalbaarheid van die strewe om aan te trek uit te druk, bly ʼn mens by. Daar is ’n opbou in die gedig na die byna onheilspellende toe; daarom doen die afloop in die slotstrofe vir my ietwat te ‘maklik’, selfs slapperig, aan.” 

ii)“Besonder treffende visuele teks, wat die leser ook laat nadink oor die verhouding tussen gedig en beeld – watter een is die “oorspronklike”?  Die gedig toon heelwat oorspronklikheid, maar die onnodige woorde en clichés teen die einde (vergelyk veral strofe 5) ontsier die geheel. “

  

Jaco Barnard-Naudé. “Mars – Velásquez”

 i)“Die gedig voer ’n volgehoue gesprek met die skildery. Die wending van die aanvanklike ironisering, selfs banalisering (let op die familiërende deurspekking met Engelse uitdrukkings), na die empatieke erns na die einde toe oor die “oorlog in jou bloed” van die gay persoon – daarin lê die trefkrag van die gedig. Die eindryme wat in die laaste drie strofes opduik, bekragtig as ’t ware dié wending van die speelse na die sombere toe.”

ii)“’n Heerlike kontemporêre blik op die skildery, maar die gedig self kan nog verder afgerond word.  Op die gebruik van Engelse woorde (om die kontemporêre toon oor te dra) moet net fyn gelet word om nie geforseerd oor te kom nie. “

 *

 Spesiale vermelding van enkele ander beeldgedigte

 

  • Joan Hambidge. “Lucian Freud, ’n selfgesprek”: – goeie keuse van skildery.  Ook ’n sterk opening, en uitdagende inhoud wat gesien kan word as ’n uitbouing van die gegewe van die skildery.  Tog word die eerste deel gekenmerk deur goeie taalwending, alhoewel die tweede laaste reël (“dis ek, dis ek, dis ek …”) met die neiging tot oorromantisering die slot dalk verswak. Die tweede deel van die gedig (II) is wel minder sterk as die eerste – daar is moontlik ’n te sterk poging om uit te spel (“Om te skilder / is om te veg / met jouself”).
  • Gerda Taljaard. “ek neem haar naam”: Treffende titel; ook gestroopte maar digte styl en beelding.  Vorm word ook goed benut. Die titel slaag veral daarin om die verband tussen gedig en beeld te lê.
  • René Bohnen. “Skisofreenseun”: ’n Baie goeie gedig met uitstekende taalbeheer, maar die interaksie met die beeld is dalk net té implisiet?
  • Neels Jackson. “Guernica” – openbaar ’n sterk interaksie met die bekende skildery en bied daarbenewens ’n uitstekende interpretasie daarvan, maar ongelukkig kom die gedig self nog nie heeltemal die mas op nie – daar is nog té veel clichés wat die geheel bederf.
  • Jannie Malan. “Pietà”: Baie goeie interaksie met die skildery, maar die gedig self is ietwat voorspelbaar.  Goeie beeld- en taalgebruik word gesien, maar daar is ook hier en daar alliterasie wat ’n té berekende indruk skep (“stroef die skaars sigbare hommelby, wat / sag vir haar ontslape seun …”). 
  • Lizelle Henegan. “Boosheid”: ’n Goeie voorbeeld waar die gedig betekenis by die visuele teks voeg.  Goeie inhoud.  Die laaste twee strofes is egter nie heeltemal op die peil van die voorafgaandes nie, met veral die reël “Hoe stomp die byl daarteen …” wat teleurstel. 
  • Loftus Marias. “die baaier”: i)“Baie sterk slot wat die verband tussen teks en beeld op ’n besondere wyse benadruk. “   ii)”Treffende sienings en beelde, naas grepe wat troebeler is. En is die wending van afstandelikheid jeens die objek (baaier) in die eerste gedeelte van die gedig, na ‘toenadering’ toe met die aanspreek van die objek (“jou oog”), gemotiveerd?”

 *

Gedigte vir die finale rondte is opgeneem by die Gedigte blog  

Om al die ander gedigte te lees wat ingeskryf is, gaan na :  

https://versindaba.co.za/category/kompetisie-blog/

 

 Met spesiale dank aan die deelnemers en beoordelaars! (mj- webmeester)

 

 

  •