Posts Tagged ‘Wetenskap en poësie’

Johann Lodewyk Marais. Kennis van die Aarde

Thursday, April 28th, 2022

 

I

In die een-en-twintigste eeu beklee die wetenskap en wetenskaplike kennis in die algemeen ’n baie hoë aansien. Die hedendaagse wêreld word gekenmerk deur die omvang en invloed van wetenskaplike kennis en tegniek, wat die mens se bestaan anders gemaak het as dié van enkele eeue of selfs dekades vantevore. Byna elke faset van ons lewe word in ’n meerdere of mindere mate deur die wetenskap geraak.

In hierdie artikel gee ek oorsigtelik aandag aan die aard van die wetenskap, literatuur en poësie om minstens self meer te probeer verstaan van die skrywer en spesifiek digter/poësie in ’n tydsgewrig wat deur die enorme invloed van die wetenskap en tegniek geraak en/of gekonfronteer word. Vir die doeleindes van hierdie gesprek en denke skenk ek eerstens aandag aan die aard van die wetenskap en die literatuur. Daarna maak ek opmerkings oor die poësie in die epog van die sogenaamde Sesde of Antroposeen-uitsterwing van onder meer spesies as gevolg van die mens se rol.

My belangstelling in die “interface” tussen wetenskap en literatuur/poësie het bygedra tot ’n vorm van meelewing met hierdie onderwerpe en gelei tot die gedagtes wat ek hier weergee (kyk ook Marais, 2001). Ons bestaan in ’n wêreld waarin ons as ’t ware multifokaal moet lewe en verskillende maniere van dink en kennis deel van ons belewenis is. Wetenskaplike kennis en produkte van die tegniek dra by tot ons bestaan, maar ook tot ons vervreemding van die Aarde. Terselfdertyd en daarenteen bied literatuur en poësie moontlikhede vir ’n estetiese lewe. Poësie skep immers die moontlikhede vir menslike bestaan en belewing van die Aarde wat andersins nie altyd waarskynlik is nie. Poësie kan daartoe bydra om mense van die uitsonderlikheid van lewe op Aarde bewus te maak; asook om lewe en nielewe in beskerming te neem.

 

II

 

Dit is nie maklik om te antwoord op die vraag wat “wetenskap” is nie. Om die wetenskap se unieke en besondere eienskappe aan te dui, moet ’n mens immers rekening hou met uitsprake van skeptici wat beweer dat die wetenskap oor geen besondere eienskappe beskik wat dit bo ander vorme van kennis verhef nie (kyk bv. Feyerabend, 1975). Ten spyte hiervan is dit wel moontlik om enkele algemene opmerkings oor die konsep “wetenskap” te maak.

Uit die geraadpleegde literatuur en ’n beskouing van die konsep “kennis” blyk dat om ’n duidelike begrip te kry van wat met “wetenskap” bedoel word, dit noodsaaklik is om die verskille en ooreenkomste tussen voorwetenskaplike en wetenskaplike kennis aan te dui (kyk Stoker, 1969: 133–138; De Vos, 1972: 95–8; Castelyn, 1989: 36–38). Vir ’n gesprek oor literatuur en poësie is dit eweneens relevant.

Die onderskeid tussen voorwetenskaplike en wetenskaplike kennis is vir die eerste keer deur die Middeleeuse filosoof Augustinus (354–430) gemaak (kyk Luijpen, 1973: 100). Daarna het daar egter nog heelwat tyd verloop voordat die onderskeidende eienskappe van dié twee soorte kennis duidelik geword het. H.G. Stoker (1969: 133) vat hierdie onderskeid soos volg saam:

Wetenskap is kennis. Nie alle kennis is wetenskap nie. Kennis wat nie wetenskaplik is nie, noem ons voorwetenskaplike kennis. Van laasgenoemde is voorbeelde: intuïtiewe kennis van ’n moeder van haar kind; kennis gegee met die wedersydse liefde van twee bemindes; met die inspirasie van ’n kunstenaar; met intuïtiewe regsbesef; en meer in die algemeen: alledaagse kennis uit die praktiese ervaring; lewens- en beskoulike kennis, w.o. religieuse geloofskennis, ensovoorts. Dit sluit bo-wetenskaplike kennis (wat die menslike verstand te bowe gaan) in.

Stoker (1969: 133) sê ook vir sover “bo-wetenskaplike kennis uit die voorwetenskaplike opkom en hulle mekaar wedersyds beïnvloed, kan ’n skerp grens tussen die twee moeilik getrek word. Tog behoort tussen hulle so duidelik as moontlik onderskei te word.” Kortom, voorwetenskaplike kennis kan nie uitgedruk, uitgespreek of getematiseer word nie en kan as nierefleksiewe bewussyn beskryf word. Wetenskaplike kennis, daarenteen, is tematies, sistematies en krities en kan ook refleksiewe bewussyn genoem word.

Die sewentiende-eeuse filosoof René Descartes (1596–1650) het die opvatting gevestig dat kennis die voorstelling in ’n “onpartydige” subjek is van ’n wêreld wat onafhanklik van daardie subjek is. Hierdie siening het kenmerkend van die werkwyse van die natuurwetenskappe geword. Stoker (1969: 134–136) sien die onderskeid tussen wetenskaplike en voorwetenskaplike kennis, en dus die wese van wetenskaplike kennis, soos volg:

 

■         By wetenskaplike kennis gaan dit om kennis as sodanig;

■         Wetenskap is geverifieerde kennis;

■         Wetenskap is gesistematiseerde kennis;

■         Wetenskap is tegnies-metodies gevormde kennis; en

■         Wetenskaplike kennis is begrens, “soveel moontlik”.

 

Uit die voorafgaande blyk dat daar mettertyd ’n bepaalde siening oor die metodologie van die natuurwetenskappe ontwikkel het. Die wetenskaplike metode word dus in wese gekenmerk deur die versamel van klein kenniseenhede wat gekategoriseer word om met veralgemenings vorendag te kan kom. Op hierdie manier kan duidelike, ondubbelsinnige antwoorde op omtrent alles onder die son verskaf word. Deur die toevoeging van meer kennis of inligting deur wetenskaplikes neem wetenskaplike kennis toe en is die mens beter in staat om die wêreld te verstaan en om antwoorde op onbekende sake te gee.

Die wetenskapsopvattings (o.a. dié van Stoker) wat tot dusver ter sprake gekom het, vertoon almal sterk modernistiese trekke. Dit is egter gepas om van dié opvattings kennis te neem, aangesien dit in die wetenskap die dominante paradigma vir die grootste deel van die twintigste eeu was en vir baie mense nog steeds is.

Met verloop van tyd het daar egter kritiek teen die modernistiese benadering ontstaan. Die siening van die wetenskap as ’n neutrale, waardevrye soeke na die waarheid is weliswaar eers in 1962 deur Thomas S. Kuhn (1922–1996) in die invloedryke The structure of scientific revolutions (1996) radikaal bevraagteken. Met sy siening van wetenskaplike navorsing as “a product of a complex interaction between traditions, its authoritative structures, and its environment” (Sardar, 2000: 31) het Kuhn die weg vir die bestudering van die wetenskap as ’n sosiale aktiwiteit gebaan. Opvattings van vroeër kon nie meer algemene sekerhede bied nie.

Aan die begin van die een-en-twintigste eeu het die wetenskap dus ’n kulturele simbool geword waaroor daar baie gesprekvoering is. Kuhn se siening van normale wetenskapsbeoefening as die uitvoer van navorsing binne en vanuit ’n dominante paradigma het selfs plek moes maak vir die meer “demokratiese” postnormale wetenskapsbeoefening, waaroor Ziauddin Sardar (2000: 74) soos volg skryf:

 

In post-normal science, the quality assurance of scientific inputs to policy processes requires an ‘extended peer community’, consisting not just of the experts but of all stakeholders. And they can bring in their ‘extended facts’, not just traditional results, but also local knowledges, community surveys, leaked documents and investigative journalism.

 

Die wetenskap geniet in die hedendaagse wêreld nog steeds hoë aansien. Die opvatting word wyd gehuldig “that there is something special about science and its methods” (Chalmers, 1999: ix). Iets wat op “wetenskaplikheid” aanspraak maak, beskik byvoorbeeld in baie mense se oë oor besondere waarde en status. Dit sluit nuttigheids- en verkoopswaarde in! Dikwels beklee diegene wat hulle met die wetenskap besig hou en met wetenskaplike bevindinge en uitvindsels vorendag kom ook ’n besondere plek in ons samelewing. Oor die “wetenskaplike oorloë” wat Kuhn begin het (kyk Sardar, 2000), hou baie hulle nog dom.

Net soos die literêre teks bestaan die wetenskaplike teks nie geïsoleer nie. Deur die ontvangs wat ’n wetenskaplike se werk te beurt val en die status wat ander wetenskaplikes of meningsvormers (d.w.s. hekwagters) op ’n bepaalde tydstip in die geskiedenis aan die werk toeken, word die waarde van sowel die gepubliseerde resultate as dié van die wetenskaplike self bepaal.

 

III

 

Uit die voorafgaande bespreking is dit duidelik dat wetenskaplike kennis na veralgemenings of universele geldigheid strewe, sodat die “kennisresultate die kritiese toetsing en oordeel van ander ter sake kundiges sal kan ontmoet en sal kan deurstaan” (Rossouw, 1993: 96). In aansluiting by die strewe na universele geldigheid is die ideaal om op rasionele wyse verantwoordbaar te wees, sodat “rekenskap gegee kan word teenoor medesubjekte” (Rossouw, 1993: 96).

In die verwesenliking van hierdie ideale in verband met wetenskaplike kennis is kommunikeerbaarheid ’n bepalende faktor. Die kommunikasie met “medesubjekte” geskied “in terms of some language, verbal or mathematical, common to the members of his cultural group” (Huxley, 1963: 8), veral deur middel van boeke, verslae, referate, lesings en artikels. In al hierdie tekste is die geskrewe en/of gesproke woord belangrik. Reisjoernale, briewe, en veld- en laboratorium-aantekeninge kan eweneens by die voorafgaande lys gevoeg word. Hierdie tekste sal noodwendig ’n eie karakter openbaar, wat dit ’n integrale deel van die wetenskapsbeoefening sal maak. Die tekste sal daarbenewens noodwendig kenmerke vertoon wat eie aan die aard van die wetenskap is. Maar watter kenmerke het wetenskaplike tekste? Is daar byvoorbeeld bepaalde strukturele kenmerke wat die wetenskaplike teks van ander tekste onderskei?

Deur na enkele voorskrifte in algemene handleidings vir die skryf van wetenskaplike tekste te kyk, kan ’n aantal tradisionele, hoofsaaklik modernistiese kenmerke uitgesonder word. Volgens Michael Alley (1987: 13) is daar “three elements of style in scientific writing: language, illustration, and structure”. Alley (1987: 15) maak ook ’n duidelike onderskeid tussen wetenskaplike en literêre skryfwerk:

 

Scientific writing is not the same as literary writing. In scientific writing, you have a single defined purpose, that being to inform a particular research project. Literary writing, on the other hand, has no single purpose. There can be any number of reasons behind the writing of a poem or story: anger, love, depression, even boredom.

 

Dat wetenskaplikes terdeë bewus is van die belangrikheid van goed geskrewe kommunikasie blyk uit Hans I. Ebel, Claus Bliefert en William E. Russey (1987: 5) se uitspraak: “Only the researcher who is competent in the art of written communication can play an active role in contributing to science” (hulle beklemtoning).

Oor die sleuteleienskap van wetenskaplike skryfwerk, naamlik die ondubbelsinnige oordrag van inligting, skryf Robert A. Day (1998: 1) soos volg:

 

The key characteristic of scientific writing is clarity. Successful scientific writing is the result of a clear mind attacking a clearly stated problem and producing stated conclusions. Ideally, clarity should be a characteristic of any type of communication; however, when something is being said for the first time, clarity is essential. (Sy beklemtoning.)

 

Die voorafgaande skrywers gaan van die standpunt uit dat wetenskaplikes hulle bevindinge bekend moet stel deur veral duidelik daaroor te skryf. In sulke tekste moet die taal op so ’n manier gebruik word dat onnodige “oop plekke” (Eco, 1985) soos dié in literêre tekste nie van die leser sal vereis om as dekodeerder op te tree nie. Die volgende woorde van Day (1998: 2) is ’n sprekende bewys hiervan:

 

Scientific writing is the transmission of a clear signal to a recipient. The words of the signal should be as clear and simple and well ordered as possible. In scientific writing, there is little need for ornamentation. The flowery literary embellishments – the metaphors, the similes, the idiomatic expressions – are very likely to cause confusion and should seldom be used in research papers.

Science is simply too important to be communicated in anything other than words of certain meaning.

 

Die standpunt dat die wetenskaplike diskoers bowenal gekenmerk word deur die vermyding van dubbelsinnigheid en veelvoudige betekenisse is, onder andere, deur Aldous Huxley in Literature and science (1963) gehuldig. Huxley (1963: 13–14) skryf soos volg:

 

The aim of the scientist is to say only one thing at a time, and to say it unambiguously and with the greatest possible clarity. To achieve this, he simplifies and jargonizes. In other words, he uses the vocabulary and syntax of common speech in such a way that each phrase is susceptible of only one interpretation; and when the vocabulary and syntax of common speech are too imprecise for this purpose, he invents a new technical language, or jargon, specifically designed to express the limited meaning with which he is professionally concerned. At its most perfectly pure, scientific language ceases to be a matter of words and turns into mathematics.

 

Van die grootste wetenskaplikes, soos Charles Darwin (kyk Bulhof, 1988), Konrad Lorenz (kyk Nisbett, 1976) en Richard Dawkins (kyk Sexton, 2001), het hulle nie aan hierdie “voorskrifte” gesteur nie, en die implikasies daarvan het helaas by baie wetenskaplikes verbygegaan. Die meeste skrywers van handleidings vir die skryf van wetenskaplike tekste laat byvoorbeeld na om die paradigma-verskuiwings van die onlangse verlede in ag te neem, en dra sodoende ’n eendimensionele siening van die wetenskap voort.

 

IV

 

Op die vraag wat “literatuur” is, is daar ook nie ’n maklike antwoord moontlik of selfs wenslik nie. Die belangrikste rede hiervoor is die veranderlikheid van definisies van die konsep “literatuur”. Opvattings oor dié eienskappe wat op ’n bepaalde tydstip op die oog af wesentlik gelyk of as essensiële kenmerke van die literatuur beskou is, verander mettertyd sodat daar dan nie meer op algemene geldigheid aanspraak gemaak kan word nie.

Die konsep “literatuur” kom oorspronklik van die Latynse woord “litteratura”, wat van “littera” afkomstig is en “letter” beteken. Aanvanklik het die konsep “’n kulturele ontwikkeling as gevolg van ’n algemene belesenheid, ’n gekultiveerdheid deur die omgang met boeke en geskrifte van allerlei aard” (Cloete, 1984: 3) aangedui. Daarbenewens het “literatuur” eeue lank ’n wye korpus tekste ingesluit en is die konsep wyd geïnterpreteer. T.T. Cloete (1984: 1) stel dit soos volg:

 

Baie werke is vroeër tot die literatuur gereken sonder dat die vraag gestel is of dit werklik literatuur is of nie: historiese, politieke, moralistiese werke, teologiese en filosofiese geskrifte, selfs natuurwetenskaplike geskrifte, werke van allerlei beskoulike aard, reisbeskrywinge, (outo)biografieë, briewe, allerlei leerdigte, memoirs, polemiese geskrifte.

 

Hierdie siening van die literatuur het dwarsdeur die Renaissance en tot ongeveer die agtiende eeu bly voortbestaan, sodat die betekenis van “literatuur” eers sedert die middel van die agtiende eeu tot skeppende verbeeldingswerk beperk geraak het. Die konsep “estetika” is in 1750 deur die Duitse filosoof A.G. Baumgarten (1714–1762) in die filosofie ingevoer (kyk Kuypers, 1973: 26). Immanuel Kant (1724–1804) het in sy invloedryke Kritik der Urteilskraft (1790) verder oor die estetika uitgewei en daartoe bygedra om dié konsep vir die skoonheidsbelewing te vestig.

Sedert die middel van die negentiende eeu het “literatuur” ’n verdere kwalifikasie bygekry, naamlik dat dit “goed” en van blywende waarde moet wees. “Die skrywer én leser kom al meer in die 19de eeu na vore as individu en word ’n al minder sosiaal gebonde wese, wat die literêre werk al meer na vore bring as ’n besondere soort maaksel van ’n besondere soort mens” (Cloete, 1984: 4). Tot hierdie gedagterigting het die Duitse filosoof Wilhelm Dilthey (1833–1911) ’n rigtinggewende bydrae gelewer. Hierdeur is daar ’n enger siening van die aard van die literêre kunswerk gevestig, wat daartoe bygedra het om aan die literêre kunswerk se eiesoortigheid naas die nieliterêre werk beslag te gee.

Volgens Van Gorp (1991: 230) word daar vandag in die praktyk ’n onderskeid tussen literêre en nieliterêre tekste binne ’n gegewe kulturele stelsel gemaak. Dit gebeur meestal op grond van twee eienskappe, naamlik die funksie en die interne organisasie van die tekste wat ter sprake is. Op grond hiervan waag Van Gorp (1991: 230) sy hand wel aan ’n definisie van literatuur:

 

Een definitie van literatuur impliceert aldus zowel een specifieke functionering van bepaalde teksten binnen een systeem van teksten die tot een gegeven cultuur behoren, als een eigengeaarde structurering. De relatie tussen beiden wordt bepaald door het type van cultuur waaronder de teksten ressorteren […].

 

’n Stap verder is die sosiale konsepsie van die literatuur, wat gedurende die tweede helfte van die twintigste eeu prominensie geniet het. Hierdie benadering is veral deur die Franse filosoof Jean-Paul Sartre (1905–1980) in sy werk Que’est-ce que la littérature? (1948) en ander geskrifte gepropageer. Volgens Cloete (1984: 6) gaan die “sosiale konsepsie van die literatuur […] uit van die standpunt dat die literêre werk ’n sosiale instelling is en dat die literariteit van ’n teks nie onafhanklik van die leser(s) bestaan nie”. Die literêre werk kan dus nie tot sy reg kom indien hy geїsoleer bestaan nie.

In aansluiting by die voorafgaande wys J. Hall in The sociology of literature (1979) op die rol van hekwagters in die literatuur. Die konsep “hekwagter” is ontwikkel om die persoon/instansie aan te dui wat die soort kommunikasie selekteer wat die leser/ontvanger bereik. Volgens Hall (1979: 101) kan hierdie konsep ook in die literatuursosiologie toegepas word, waar hekwagters op twee maniere kan optree:

 

Publishers can prevent manuscripts reaching the market, as can censorship of the type which demands pre-publication licensing. On the other hand, gatekeepers may have some influence on the book once it has been published; the fate of the book depends in part upon critics, libraries, distributors and, again, censors – though this time of the post-publication variety.

 

Volgens genoemde siening van die literêre kommunikasieproses kan die ontstaan, publikasie, verspreiding en ontvangs van die literêre werk as beplande en dus verklaar- en verstaanbare gebeure gesien word. Ewe belangrik is die leser se rol in die ontvangs en konkretisering van ’n literêre werk (kyk o.a. Malan, 1983).

In die twintigste eeu het dit egter ook duidelik geword dat die grense tussen literatuur en nieliteratuur nie altyd duidelik is nie. Talle skrywers het selfs doelbewus probeer om hierdie grense af te breek en om die eksklusiwiteit van die literatuur te bevraagteken. Dit het volgens Cloete (1984: 1) gelei tot “’n groeiende literêre relativisme en twyfel aan distinktiewe en spesifieke literêre kenmerke”. Dit lei onder meer daartoe dat die drie literêre genres (nl. poësie, prosa en drama) allerlei tussenvorme ontwikkel het. Volgens die pan-estetiese of literêr-imperialistiese benadering bestaan die tussenvorme of grensgevalle egter nie. “Alles wat sogenaamd mooi en goed en vlot geskrywe is, selfs wetenskaplike werke en joernalistieke geskrifte, word tot die literatuur gereken” (Cloete, 1984: 2).

Om op te som kan daar, in navolging van Jonathan Culler (1997: 27–33), gesê word dat die siening van “literatuur” met verloop van tyd, en veral sedert die agtiende eeu, sodanig ontwikkel het dat dié konsep ’n besondere vorm van kommunikasie definieer, wat dit redelik duidelik van ander vorme van kommunikasie onderskei. Literariteit word veral bewerkstellig deur die wyse waarop taal gebruik word (die sg. “foregrounding”). Literatuur is daarom taal waarin die onderskeie komponente van die teks in ’n verwikkelde verhouding verkeer. Literatuur is ook fiksie en skep ’n fiksionele wêreld waarmee die leser hom/haar op ’n besondere manier kan vereenselwig. Daarom is literatuur ’n estetiese objek en ’n intertekstuele en selfrefleksiewe konstruk.

Gedurende die twintigste eeu is die mening sterk gepropageer dat literatuur ’n produk van die samelewing is en dus ’n sosiale konstruk is wat deur ’n gemeenskap van lesers bepaal word. Sonder verskillende rolspelers en sonder interaksie met en in die samelewing het die literatuur bykans geen manier (en reg) om te bestaan nie. Deur hierdie siening is die standpunt gevestig dat die literêre teks nie geïsoleer behoort te word nie.

 

V

 

In die literatuur beklee die poësie as talige, estetiese en buitengewone vorm van uitdrukking ’n besondere posisie. Wat in die voorafgaande afdeling ten opsigte van die aard van die literatuur geskyf is, geld ook grootliks vir die poësie. Desnieteenstaande is die poësie ook ánders.

’n Gedig is herkenbaar op grond van hoe dit in geskrewe of gedrukte vorm aangebied word waarin die visuele aanbod, reël- en strofelengte/-indeling, opvallende wit ruimtes en selfs titel die aandag trek. In die teks word woorde onder meer ekonomies, beeldryk of vir suggestie gebruik om ’n ervaring, idee of indruk weer te gee. Deur middel van die inhoud, klank of ritme word ’n emotiewe, estetiese of intellektuele indruk gemaak. Sodoende bewerkstellig die poësie, wat talle style, vorme, strukture en soorte kan aanneem (bv. die epos, kwatryn, sonnet, villanelle en haikoe), ideaal gesproke ’n unieke voorstelling van die werklikheid.

Die poësie soek as ’t ware na dieperliggende essensies.

 

VI

 

Die impak van die mens het sedert die Industriële Rewolusie en veral die afgelope dekades groot geword, sodat die Aarde tans volgens wetenskaplikes en persoonlike waarnemings ’n klimaats- en omgewingskrisis beleef. Dit gaan gepaard met aardverhitting, temperatuurskommeling, die smelt van die pole, lang droogtes, onverwagse reën en oorstromings. Menslike handeling het dramatiese invloed op die seelewe wat aan oorbenutting en besoedeling onderwerp word, die vernietiging van inheemse woude waar habitatte onder druk verkeer en talle spesies vir goed verdwyn.

Die mens se afhanklikheid van fossielbrandstowwe en misbruik van die Aarde se hulpbronne dra daartoe by om die planeet stelselmatig op die pad van vernietiging te plaas. Die Covid-19-pandemie en konflik op talle plekke in die wêreld bring uitdagings vir internasionale organisasies, owerhede en humanitêre hulporganisies. In hierdie kontekste is daar enorme verwagtinge ten opsigte van die rol wat wetenskaplike kennis, tegnieke, metodes en bevindings kan speel om verligting vir die geteisterde mense en ander lewe op Aarde te bewerkstellig.

Dié wat toegang tot die media het, word deurlopend met nuus, opinies en propaganda gebombardeer en gedwing om deur sekere kleure brille te kyk.

Wetenskap en tegniek word nietemin nog steeds gesien as die noodsaaklike hulpmiddel/kundigheid om positiewe wendings vir die omgewing te bring. Bewindhebbers, besluitnemers, groot ekonomiese magsblokke en burgerlike organisasies se vermoë om die klimaatskrisis effektief aan te pak en die noodsaaklike verandering aan te bring, word wel toenemend bevraagteken deur omgewingsgroepe, burgerlike organisasies en groot groepe jongmense wat ontnugter is deur die slakkepas waarteen byvoorbeeld die klimaatskrisis en armoede aangepak word.

Daar is die gevaar dat die skrywer en digter nie genoeg ingelig en betrokke is by verskuiwings soos dié in verband met die omgewings- en klimaatskrisis nie. Toe ek in 1990 die Groen Kongres oor die mens, die kunste en die omgewing by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) gereël en aangebied het, het dr. Charles Malan, die destydse hoof van die Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundenavorsing (SENSAL), die omgewing as ’n “persoonlike belangstelling” beskou. Selfs lede van die RGN se bestuur het dit betwyfel of die geesteswetenskappe en die omgewing met mekaar in verband staan.

Die afgelope vier, vyf dekades het die siening oor die wyse waarop die mens met die Aarde omgaan dramaties verander, terwyl die konsep ”Antroposeen” gemunt is om te verwys na die era waarin die mens as ’t ware op die Aarde ingegraveer is. Vir my is dit voor die hand liggend dat die hedendaagse digter bewus moet wees van die situasie waarin lewe op Aarde sigself bevind. Wigte en teenwigte moet na my mening definitief in meer digters se skeppende skryfwerk gereflekteer word.

 

Bibliografie

 

Alley, Michael. 1987. The craft of science writing. Englewood Cliffs, N.J.: Prentice-Hall.

 

Bulhof, Ilse N. 1988. Darwins Origin of Species: Betoverende wetenschap: Een onderzoek naar de relatie tussen literatuur en wetenschap. Baarn: Ambo.

 

Castelyn, H.C. 1989. Wat soek die literêre verwysing in die wetenskap? – Oor die beroep op funksionele tekste in die pedagogiek (didaktiek). In: Gilfillan, Rouston & De Vries, Abraham. Op die weg van die taal: Huldigingsbundel ter geleentheid van prof. Merwe Scholtz se 65ste verjaarsdag, 8 Julie 1989. Kaapstad: Vlaeberg.

 

Chalmers, A.F. 1999 (1978). What is this thing called science? Third edition. Buckingham: Open University Press.

 

Cloete, T.T. 1984. Wat is literatuur? Potchefstroom: Departement Sentrale Publikasies, Potchefstroomse Universiteit vir CHO.

 

Culler, Jonathan. 1997. Literary theory: A very short introduction. Oxford: Oxford University Press.

 

Day, Robert A. 1998 (1979). How to write and publish a scientific paper. Third edition. Phoenix and New York: Oryx.

 

De Vos, H. 1972. Inleiding tot de wijsbegeerte. Zevende druk. Nijkerk: G.F. Callenbach.

Eco, Umberto. 1985 (1979). The role of the reader: Explorations in the semiotics of texts. London: Hutchinson.

Hall, J. 1979. The sociology of literature. London: Longman.

Huxley, Aldous. 1963. Literature and science. London: Chatto & Windus.

Kuypers, K. 1973. Elseviers Filosofische en Psychologische Encyclopedie. Amsterdam en Brussel: Elsevier.

Luijpen, W. 1973 (1969). Nieuwe inleiding tot de existensiële fenomenologie. Utrecht en Antwerpen: Het Spectrum.

Malan, Charles (red.). 1983. Letterkunde en leser: ’n Inleiding tot lesergerigte literêre ondersoeke. Durban en Pretoria: Butterworth. (SENSAL-publikasie nr. 4.)

 

Marais, Johannes Lodewyk. 2001. ‘n Ondersoek na die aard van en opvattings oor Eugène N. Marais se wetenskaplike prosa. Pretoria: Universiteit van Pretoria. (Ongepubliseerde DLitt-proefskrif.)

 

Nisbett, Alec. 1976. Konrad Lorenz. London: J.M. Dent & Sons.

Rossouw, H.W. 1993. Universiteit, wetenskap en kultuur: Opstelle oor die krisis, uitdagings en geleenthede van die moderne universiteit. Kaapstad: Tafelberg. (Saamgestel en ingelei deur Anton van Niekerk.)

Sardar, Ziauddin. 2000. Thomas Kuhn and the science wars. Cambridge/New York: Icon/Totem.

Sexton, Ed. 2001. Dawkins and the selfish gene. Cambridge: Icon UK/Totem USA.

Stoker, H.G. 1969. Beginsels en metodes in die wetenskap. Tweede onveranderde druk. Johannesburg: De Jong.

Van Gorp, H. 1986. Lexicon van literaire termen. Derde, herziene en aanzienlijk vermeerderde druk. Vierde volledig herziene druk. Leuven/Groningen: Wolters-Noordhoff.

Nini Bennett. Goethe en Howard: die poëtika en wetenskap van wolke

Wednesday, March 2nd, 2022

 

Luke Howard

 

Wanneer ons vandag die weervoorspelling op ons televisiestelle of slimfone volg, aanvaar ons dit as vanselfsprekend – en vergeet dat dit tydens die begin van die negentiende eeu nog ondenkbaar sou wees om aan só ’n voorspelling, gebaseer op wetenskaplike modelle, te dink.

Wolke, of cloudspotting is die natuur se eie Rorschach-toets. Wolke is die mens se gunsteling atmosferiese verskynsel en boei digters, kunstenaars en wetenskaplikes al vir eeue lank. Die groot Griekse dramaturg, Aristofanes het tereg opgemerk: “They are the celestial Clouds, the patron goddesses of the layabout. From them come our intelligence, our dialectic and our reason.”

Tog was niemand meer gefassineer deur wolke as Johann Wolfgang von Goethe nie. Toe die chemikus en amateur-meteoroloog, Luke Howard (1772 -1864) in 1803 ’n 32-bladsye pamflet getitel On the modifications of clouds publiseer, het Goethe onmiddellik die wetenskaplike meriete van die publikasie raakgesien. As Direkteur van die Instituut vir die Kuns en Wetenskappe in Sachsen-Weimar was Goethe ook betrokke by die vestiging van weerstasies vir weerkundige observasies. Waar die lees van wolke vroeër beperk was tot die ingewyde (en verborge) kennis van seemanne, kleinboere en skaapwagters, het Howard begin om wolke vir die eerste maal volgens Latynse nomenklatuur te klassifiseer. Hy het hulle breedweg onder Cumulus, Cirrus, Stratus en Nimbus geressorteer, met enkele subklassifikasies. Die grondslag van Howard se werk word tot vandag toe erken, al het die lys taksonomieë en wolkgeslagte intussen aansienlik uitgebrei.

Cumulus beteken “stapel” en beskryf die opgehoopte, uitgepofte wolke wat ’n mens aan springmielies laat dink. Cirrus beteken “haarlok” of “veertjie” en hierdie soort wolke lyk dan ook werklik soos krulle of veertjies. Aan die wolke wat soos massiewe komberse oor die hemelruim uitgesprei lê, het Howard die naam Stratus gegee, wat “laag” (“layer”) beteken. Oor Nimbus was Howard egter nie so seker nie, behalwe dat dit op ’n reënwolk, of reënwolke verwant aan ’n donderstorm, of selfs ’n groep van hierdie reënwolke kon dui. Goethe se vertolking van Nimbus was egter dié van ’n donderwolk.

Wolke, op hulle beurt, bestaan uit waterdamp wat klein druppels of yskristalle vorm, gewoonlik 0,01 mm in deursnee. Wanneer biljoene druppeltjies of kristalle saamgegroepeer is, is hulle sigbaar as wolke.

Volgens Goethe was Howard se wolkklassifikasies ’n deurbraak. As amateur-meteoroloog het Howard sedert sy kinderdae observasies oor die weer en klimaat gedoen – en selfs ’n klein tuislaboratorium, kompleet uitgevoer met instrumente, gebruik in hierdie vroeë navorsingstadium. (Op daardie tydstip is daar nog verwys na ’n kenner van wolke as ’n “nefoloog”, ’n term wat later vervang is met “meteoroloog”.) ’n Eenvoudige, maar briljante deurbraak in die klassifikasie van wolke was inderdaad gebaseer op die vier ‘basiese’ vorms volgens hulle verskillende vertikale hoogtes. Goethe se entoesiasme rondom Howard se indelings was gegrond op sy empiries gefundeerde sistematisering van die wolke. ’n Mens moet in gedagte hou dat Howard se aanvoerwerk die toekomstige grondslag vir weerkundige en klimatologiese navorsing gelê het.

Goethe, wat sedert die begin van die negentiende eeu erkenning geniet het as intellektuele ikoon, was egter meegevoer – én geïnspireer – deur Howard se werk. Hy het ’n reeks kort gedigte oor die vernaamste wolksoorte geskryf, getitel Howards Ehrengedächtnis (In Honor of Howard) (1821). Sonder omhaal het Goethe sy onverbloemde bewondering vir Howard besing:

 

Howards Ehrengedächtnis

 

Wenn Gottheit Camarupa, hoch und hehr,

Durch Lüfte schwankend wandelt leicht und schwer,

Des Schleiers Falten sammelt, sie zerstreut,

Am Wechsel der Gestalten sich erfreut,

Jetzt starr sich hält, dann schwindet wie ein Traum,

Da staunen wir und traun dem Auge kaum;

Nun regt sich kühn des eignen Bildens Kraft,

Die Unbestimmtes zu Bestimmtem schafft;

Da droht ein Leu, dort wogt ein Elefant,

Kameles Hals, zum Drachen umgewandt,

Ein Heer zieht an, doch triumphiert es nicht,

Da es die Macht am steilen Felsen bricht;

Der treuste Wolkenbote selbst zerstiebt,

Eh er die Fern erreicht, wohin man liebt.

Er aber, Howard, gibt mit reinem Sinn

Uns neuer Lehre herrlichsten Gewinn.

Was sich nicht halten, nicht erreichen läßt,

Er faßt es an, er hält zuerst es fest;

Bestimmt das Unbestimmte, schränkt es ein,

Benennt es treffend! – Sei die Ehre dein! –

Wie Streife steigt, sich ballt, zerflattert, fällt,

Erinnre dankbar deiner sich die Welt.

 

In honour of Mr. Howard     

 

When Camarupa, wavering on high,

Lightly and slowly travels o’er the sky,

Now closely draws her veil, now spreads it wide,

And joys to see the changing figures glide,

Now firmly stands, now like a vision flies,

We pause in wonder, and mistrust our eyes.

Then boldly stirs imagination’s power,

And shapes there formless masses of the hour;

Here lions threat, there elephants will range,

And camel-necks to vapoury dragons change;

An army moves, but not in victory proud,

Its might is broken on a rock of cloud;

E’en the cloud messenger in air expires,

Ere reach’d the distance fancy yet desires.

But Howard gives us with his clearer mind

The gain of lessons new to all mankind;

That which no hand can reach, no hand can clasp,

He first has gain’d, first held with mental grasp.

Defin’d the doubtful, fix’d its limit-line,

And named it fitly. —Be the honour thine!

As clouds ascend, are folded, scatter, fall,

Let the world think of thee who taught it all.

 

Die reeks van vier onderstaande musiekgedigte oor die vier wolksoorte is inderdaad ’n viering van die ewige dialoog tussen die kuns en wetenskap. Goethe se verbysterende kennis en bydraes strek tot in die natuurwetenskappe, byvoorbeeld sy bekende kleurteorie, of sy belangstelling in morfologie, wat die bou en struktuur van verskynsels betrek. Tog word Goethe se werk eerder gesien as geesteswetenskaplike bydraes en aanvullend tot die wetenskappe; en só word Howard se wolkklassifikasies omraam deur Goethe se poëtika van die wonders van die dampkring.

Op sy beurt was ’n jong klerk en vertaler van Londen, Johann Christian Hüttner só betower deur Goethe se gedigte dat hy dit op hom geneem het om die reeks vanuit die Duits na Engels te vertaal.

Vervolgens, Goethe se vier wolkgedigte, gevolg deur die Engelse vertalings.

 

Stratus

 

1.

 

Stratus

 

Wenn von dem stillen Wasserspiegelplan

Ein Nebel hebt den flachen Teppich an,

Der Mond, dem Wallen des Erscheins vereint,

Als ein Gespenst Gespenster bildend scheint,

Dann sind wir alle, das gestehn wir nur,

Erquickt’, erfreute Kinder, o Natur!

 

Dann hebt sich’s wohl am Berge, sammelnd breit

An Streife Streifen, so umdüstert’s weit

Die Mittelhöhe, beidem gleich geneigt,

Ob’s fallend wässert, oder luftig steigt.

 

 

Stratus

 

When o’er the silent bosom of the sea

The cold mist hangs like a stretch’d canopy;

And the moon, mingling there her shadowy beams,

A spirit, fashioning other spirits seems;

We feel, in moments pure and bright as this,

The joy of innocence, the thrill of bliss.

 

Then towering up in the darkening mountain’s side,

And spreading as it rolls its curtains wide,

It mantles round the mid-way height, and there

It sinks in water-drops, or soars in air.

 

Cumulus

 

2.

 

Cumulus

 

Und wenn darauf zu höhrer Atmosphäre

Der tüchtige Gehalt berufen wäre,

Steht Wolke hoch, zum herrlichsten geballt,

Verkündet, festgebildet, Machtgewalt

Und, was Ihr fürchtet und auch wohl erlebt,

Wie’s oben drohet, so es unten bebt.

 

Cumulus

 

Still soaring, as if some celestial call

Impell’d it to yon heaven’s sublimest hall;

High as the clouds, in pomp and power arrayed,

Enshrined in strength, in majesty displayed;

All the soul’s secret thoughts it seems to move,

Beneath it trembles, while it frowns above.

 

Cirrus

 

3.

 

Cirrus

 

Doch immer höher steigt der edle Drang!

Erlösung ist ein himmlisch leichter Zwang.

Ein Aufgehäuftes, flockig löst sich’s auf,

Wie Schäflein trippelnd, leicht gekämmt zu Hauf.

So fließt zuletzt, was unten leicht entstand,

Dem Vater oben still in Schoß und Hand.

 

Cirrus

 

And higher, higher yet the vapors roll:

Triumph is the noblest impulse of the soul!

Then like a lamb whose silvery robes are shed,

The fleecy piles dissolved in dew drops spread;

Or gently waft to the realms of rest,

Find a sweet welcome in the Father’s breast.

 

Nimbus

 

4.

 

Nimbus

 

Nun laßt auch niederwärts, durch Erdgewalt

Herabgezogen, was sich hoch geballt,

In Donnerwettern wütend sich ergehn,

Heerschaaren gleich entrollen und verwehn! –

Der Erde tätig-leidendes Geschick!

Doch mit dem Bilde hebet euren Blick :

Die Rede geht herab, denn sie beschreibt,

Der Geist will aufwärts, wo er ewig bleibt.

 

Nimbus

 

Now downwards by the world’s attraction driven,

That tends to earth, which had upris’n to heaven;

Threatening in the mad thunder-cloud, as when

Fierce legions clash, and vanish from the plain;

Sad destiny of the troubled world! but see,

The mist is now dispersing gloriously:

And language fails us in its vain endeavour–

The spirit mounts above, and lives forever.

 

Die stadige en hipnotiese dans van wolke in die atmosfeer resoneer met drome en dagdrome – en die domein van die verbeelding met sy inherente vermoë tot transformasie en transendering.

Wolke boei digters al sedert die ontstaan van digkuns. En gedigte is volop: ’n mens dink byvoorbeeld aan Nijhoff se “De Wolken”, of aan die digter Mark Strand se bundel, 89 Clouds.

 

En Shakespeare:

 

Sometimes we see a cloud that’s dragonish,

A vapour sometime like a bear or lion,

A towered citadel, a pendent rock,

A forked mountain, or blue promontory

With trees upon’t that nod unto the world

And mock our eyes with air . . .

 

– Antony and Cleopatra

 

Vervolgens my nederige bydrae tot hierdie poëtika van wolke.

 

Wolke  

 

Wolke is gedagtes

wat vra om woorde te word.

Ek speel met beelde

van Kopland, Nijhoff en Strand,

sien vergesigte van reën,

die knettervuur van hael op dakke,

die son se loodlyne wat sub-tropies

die hemel deurhaal in waterpas strale.

Of die los genade as

klawers spat, vet druppels

armmansreën; die nederige Karoo

se gulhartige gee.

 

Die meteorologie staan tru.

Cirrus se veerlig,

die brandstapels in Cumulus.

Die miere, die verspieders weet

die wolke is deur digters gedoop.

 

© Nini Bennett. Donkerwerk, 2019

 

 

Verwysings:

 

https://blog.sciencemuseum.org.uk/the-man-who-named-the-clouds/?fbclid=IwAR3mENHyX9SdPn73bdsBYbl_6OCerirEQzUYHm_4PmrBl9jBJj1Yn2z1cfk

http://www.tottenhamclouds.org.uk/goethe-discovers-luke-howard.html?fbclid=IwAR3zuZyP_vSogM2RBin_fAFSUWFVRnhwvTZydhnideC0LHSfexSpSeyxUCY

http://www.klimaweg-geraberg.de/goethe-und-die-wolken.html?fbclid=IwAR1eYBY6DMkbn_11mpMiaeWcsOHaNl1JX2y8DV9Oh7wwcvCzRe4UIjnIzDA

https://versindaba.co.za/2019/11/03/nini-bennett-die-wolke-is-deur-digters-gedoop/?fbclid=IwAR10KHKbEYCEJwFTouQEIg5eAQwaoyY6Jb1s2aaGS7zMQjfqJ64ynlkqf2E