Posts Tagged ‘Wilcocksgebou’

Desmond Painter. Die dag toe my kantoor amper afgebrand het

Tuesday, December 14th, 2010
RW Wilcocksgebou, Stellenbosch

RW Wilcocksgebou, Stellenbosch

Nou ja toe. Daar brand my kantoor amper af. Ek werk in die RW Wilcocksgebou in Stellenbosch — nie juis ‘n mooi gebou nie, maar vir sommige mense wat hier lees dalk bekend omdat dit destyds die Departement Afrikaans en Nederlands gehuisves het. Die lesingsale is nog steeds uitgerus met sulke lelike rooi sitplekke van nagebootste leer, maar die Departement Afrikaans en Nederlands is al seker tien, twaalf jaar gelede na die werklik lelike BJ Vorstergebou toe geskuif (Oeps! Ek bedoel die Lettere A-gebou, of so iets — ek praat nog steeds van die BeeJay; ou Vorster verdien die skunnige innuendo en die naam pas boonop by die fakulteit se kwasi-cool pretensies en die wydverspreide voorkoms van paai-politiek…)

Sielkunde het dus ingetrek waar Afrikaans en Nederlands voorheen was, en in daardie gebou (onthou, ou Wilcocks was selfs mos ‘n befaamde sielkundige, en een van die navorsers wat by die Carnegie Commission se verslag oor die armblankevraagstuk betrokke was) het ons lank en gelukkig saam met Geskiedenis en die Internasionale Kantoor gefunksioneer. Tot Vrydag. Die dak en die derde verdieping is totaal verwoes, en ek het nie ‘n idee watter skade daar aan my eie kantoor op die tweede vloer, en aan my boeke en papiere in besonder, aangerig is nie. Ons is nog nie toegelaat om te gaan kyk nie, maar as jy langs die gebou staan kan jy sien my kantoorvensters is baie nat van binne…

Gelukkig het ek my skootrekenaar by my gehad, want anders was ek nou by ‘n sielkundige. Ek wil eerder nie dink aan die verliese wat die historici gely het nie. Ek was ‘n paar dae gelede in Albert Grundlingh se kantoor, en dit was ‘n doolhof van jare se opgegaarde papier, dokumente en boeke. Tragies is deesdae ‘n goedkoop woord, maar nogtans: tragies. En dit het maar ‘n paar minute geneem vir daardie vuur om te vat wat hy wou vat.

  •