Posts Tagged ‘Willem Fransman’

Willem Fransman blog binnekort

Wednesday, May 26th, 2010

 

Willem Fransman

Willem Fransman

Willem Fransman jr. skryf in feitlik elke genre en is al beskryf as ’n Renaissance-man. In 1997 is hy die eerste wenner van die RSG/Sanlam radiodrama-kompetisie met Om te bedel is ’n kuns. Ander opdrag-radiodramas is Die belofte in ’n skilpaddop (die verhaal van Sarah Baartman in die vreemde) en Martelaar van Calvinia (verhaal van die bruin versetleier, Abraham Esau, gedurende die Anglo-Boereoorlog.) Die volgende dramas uit sy pen is al by kunstefeeste opgevoer: Om te bedel is ’n kuns (1999), Die mense van Langesaan (2000), Leipoldt soos nog nooit vantevore (2004-opdragwerk), Ma se melk (2005) en Paljas van Dirk Ligter (2006-opdragwerk). Fransman is ook ’n grafiese kunstenaar, rubriekskrywer vir Die Burger en Kaap Rapport, kortverhaalskrywer, digter en storieverteller. Hy was ’n stigterslid en gewese nasionale voorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging. 

Kom ons praat hieroor …

Monday, May 25th, 2009

Bepaalde aspekte in die gesprek met Alfred Schaffer, asook Daniel Hugo en Charl-Pierre Naudé se reaksie daarop, dwing ’n mens tot ’n bestekopname. Persoonlik het ek net waardering vir die openhartige en insiggewende manier waarop Alfred op my vrae gereageer het. Vanweë sy ingeligte kontak met die Afrikaanse digkuns, sowel as sy meer onlangse betrokkenheid by ’n uitgewery in Amsterdam, is hy ideaal geposisioneer om ’n binnekyk op die Nederlandse digkuns te kan gee, asook ’n buitekyk op ons eie digkuns. Daarom dat my vrae aan hom hoofsaaklik rondom dié temas gesentreer het. Pas het ons ook ’n gesprek met Antjie Krogwat vanjaar die gekose digter vir Poetry International se Gedichtendag op 29 Januarie was – geplaas. Met opset is veral die aanvanklike vrae só gerig dat dit in ’n mate aansluiting kon vind by enkele van Alfred se waarnemings; weereens ’n binne- en buiteblik, maar nou van die ander kant van die draad af.

 

Nietemin, die vraag ontstaan egter: waarom spesifiek ’n vergelyking met die Nederlandse digkuns probeer tref? Uiteraard vanweë die historiese band, veral weens die taalverwante kwessies, maar in hoofsaak omrede die Nederlandse digkuns een van die mees aktiewe en dinamiese digkunste ter wêreld is en ons derhalwe heelwat van hul suksesse, in welke mate dit ook al nageboots kán word, kan leer. Daar is egter een radikale verskil: die Nederlandse digkuns funksioneer in ’n hoofsaaklik mono-linguale kultuur waarbinne die staat ’n enorme rol speel ten opsigte van behoud en uitbreiding van hul letterkunde. Boonop is die deursnee Nederlandse leser ’n geskoolde leser met ’n gevestigde tradisie jeens vertaalde werk. Voeg daarby die hoër lewenstandaard (as Suid-Afrika s’n, byvoorbeeld), gepaardgaande met ’n sterk lojaliteit jeens hul taal (ook maar weens die insypeling van Engels as “wêreldtaal”) en jy seil meteens met die wind van agter. Die konteks waarbinne die twee digkunste funksioneer, verskil dus radikaal en daarom is die spesifieke uitdagings wat elke digkuns moet aanspreek, óók verskillend.

 

Enige vergelykende kommentaar wat hierdie realiteit negeer, is futiel.

 

Kom ons kyk egter na ’n klompie aspekte wat uit die twee gesprekke (en die reaksies daarop) na vore kom, van naderby –

 

Verkope. Indien daar gemiddeld 100 bundels per jaar in Nederland verskyn met ’n gemiddelde verkoopsyfer van 500 in ’n potensiële mark van 16,450,000 Nederlandssprekendes, gee dit aan hulle ’n persentiel van 0.9%. Daarteenoor verskyn daar gemiddeld 20 bundels in Afrikaans, met ’n gemiddelde verkoopsyfer van 350 binne ’n mark van 6,750,000 Afrikaanssprekendes. Dit is gelykstaande aan ’n persentiel van 0,03%. Maar – ons moet, helaas, in gedagte hou dat meer as 50% van die Afrikaanssprekendes weens verskeie sosio-ekonomiese faktore nog nie as potensiële kopers gereken kan word nie, aangesien hulle – vir watter rede ook al – gemarginaliseer staan binne ons digkuns. (Lees Willem Fransman se kommentaar in hierdie verband.) Nietemin, in realiteit lê die Afrikaanse persentiel ten opsigte van verkope dus nader aan 0.2%. Dan moet daar ook in gedagte gehou word dat dit die sogenaamde “koopkultuur” ten opsigte van boeke in hoofsaak ’n onlangse fenomeen is; tradisioneel was digbundels (en ander boeke, natuurlik) deur die Openbare Biblioteekdienste verskaf. Die aankoop van boeke deur Afrikaanssprekende lesers vir eie besit en gebruik is myns insiens ’n meer onlangse verskynsel. In Nederland sal jy in bykans elke huishouding ’n uitgebreide boekversameling vind: ’n sterk gevestigde leeskultuur wat net soveel deel vorm van hul nasionale identiteit as die ouderwetse trapfietse. (Terloops, hoekom is daar nie moderne fietse in Nederland nie?!)

 

Vertalings. Interessant genoeg is die kwessie van vertalings een van die héél eerste onderwerpe wat op hierdie webblad na vore getree het. (Lees in hierdie verband Bernard Odendaal se blog van 27 April) en nou ook Antjie Krog se opmerkings oor selfvertaling, veral.) Dit is inderdaad ’n gegewe dat die statuur van ’n bepaalde taalgroep nie net geken word aan die tekste wat in daardie taal geproduseer word nie, maar ook aan die wêreldtekste wat in daardie taal beskikbaar is. En weereens bevind die Nederlandse digkuns hom in die binnebaan met só ’n sterk tradisie van vertaling dat bykans enige (belangrike) publikasie terselfdertyd in Nederlandse vertaling beskikbaar is wanneer die betrokke boek verskyn. Wat vir my persoonlik interessant was, was die rakspasie-verdeling in Nederlandse boekwinkels: by benadering 80% aan Nederlandse titels (indien nie meer nie) met 20% aan die Engelse, Franse of Duitse ekwivalent. Die probleem is egter dat die statuur van ’n taal nie net geken word aan die tekste wat na daardie spesifieke taal vertaal word nie, maar ook watter tekste in daardie taal na ánder tale vertaal word … (En presies op dié punt ontspoor die Nederlandse, sowel as die Afrikaanse digkunste. Waarskynlik is dit juis as gevolg hiervan dat daar – volgens Alfred – nie  juis potensiële Nobel-pryswenners onder hul digters is nie.) Maar hoe lyk die situasie vir Afrikaans? Weereens, die kwessie van veeltaligheid. Die Afrikaanse leser lees ’n teks in Engels dikwels net so gemaklik as in Afrikaans. As gevolg hiervan bestaan daar ’n besliste “weerstand” teen vertaalde tekste by potensiële kopers. Synde boekhandelaar moet ek gereeld die vraag beantwoord in watter taal ’n bepaalde boek oorspronklik geskryf was wanneer ’n boek gelyktydig in Afrikaans sowel as Engels verskyn. (Ek is seker dat André Brink, byvoorbeeld, al nét so moeg is om dié vraag te beantwoord …) Die redes vir dié sogenaamde “kopersweerstand” teen vertaalde tekste, is egter iets wat ’n aparte studie vereis. Die punt wat ek egter hiermee probeer maak, is dat ons wél oor indrukwekkende vertaalde tekste beskik; in dié mate dat daar al hoe meer opgemerk word dat dit haas tyd raak om al die vertaalde poësie in ’n geblikte weergawe byeen te bring. (Lees Bernard Odendaal se opmerkings hieromtrent.) En die reikwydte is nogals verblydend: Uys Krige se Spaanse vertalings, Rosa Nepgen (Montale), Wilhelm Knobel (Supervielle en ander Franse digters), Barend Toerien (Morgenstern), Dian Joubert (Seferis), MM Walters (Chinese, sowel as Japannese poësie), HJ Pieterse (Rilke), Daniel Hugo (De Coninck, Lanoye en Komrij) en HP van Coller (Gruwez), om maar de vernaamstes te noem. Ek is seker dat daar ander is wat ek op die oomblik nie onthou nie. En ja, hulle ís almal hoofstroomdigters, soos Alfred tereg opmerk, maar is dit dalk nie wat tans vanuit ’n strategiese oogpunt vereis word ten einde die genoemde “kopersweerstand” te bowe te kom nie?

 

Publikasies. Ten opsigte van die aantal digbundels wat per jaar verskyn, kan ons nie anders as om opgewonde te wees nie, aangesien die situasie die afgelope jare drasties verbeter het. Ek is werklik van mening dat enige digter met ’n manuskrip wat publikasie verdien, ’n uitgewer sal vind. Ook is die toetrede van uitgewers wat histories gesien nié as uitgewers van digkuns beskou was nie (Lapa, JoHo!, Kwela, e.a.), van groot belang, aangesien dit die risiko-faktor vir die meer gevestigde uitgewers oor ’n wyer area versprei. Terselfdertyd bring dit ’n tipe “middelmoot-poësie” na vore wat, vanuit ’n strategiese oogpunt beskou, dalk júís nodig is op hierdie tydstip. Uiteraard is hierdie ’n debatteerbare punt – veral Joan Hambidge se kommentaar op LitNet is hier baie belangrik – maar  indien ons nuwe lesers wat nog nie ten volle bemagtig is in die “lees” van poësie nie, tot die digkuns wil bekeer en hulle terselfdertyd as “kopers” van digbundels wil werf, is dalk wat vereis word júís die tekste “wat nie te uitdagend is nie; (dit) wat maar net lekker gevoelens verwoord”, soos Alfred dit in ons gesprek stel. Maar – en dis ’n gróót “maar” hierdie – dan móét daar ook konstante blootstelling aan meer standaardtekste wees, met gepaardgaande lesersbegeleiding; wat my by die volgende punt bring –

 

Lesersbegeleiding. Indien ons enigsins die digkuns wil bevorder, is hierdie aspek van absolute belang; en, helaas, ’n onderwerp wat só kompleks en uitgebreid is, dat dit ’n bykans onbegonne taak is. Lesersbegeleiding, vermoed ek, begin reeds op skoolvlak waar ’n liefde en positiewe gesindheid jeens die poësie gevestig moet word. Die vermoede bestaan egter dat ons benadering tot die onderrig van poësie tans meer potensiële lesers afskrik as “wen”. Hier speel die onderwyser natuurlik ’n enorme rol, want watter ongeïnspireerde onderwyser sal ooit ’n passie jeens die poësie by sy of haar leerders kan ontlok wanneer die onderrig van poësie gewoon iets is wat die leerplan vereis?! Nietemin, aan die positiewe kant glo ek dat die dekking van die digkuns in ons media (soos die publikasies) drasties verbeter het die afgelope aantal jare. Daar verskyn gereeld resensies oor digbundels, artikels en/of onderhoude; selfs gedigte verskyn op die boekblaaie van ons vernaamste koerante. En ja, ons boekeredakteurs moet gereeld kritiek verduur, maar dan moet daar ook in alle billikheid onthou word dat daar nog so onlangs as 5 jaar gelede selde beriggewing oor die digkuns in ons media was nie. (Om die waarheid te sê, dit was juis een van die hoofredes waarom daar in 2005 met die Versindaba-inisiatief begin is. Poësieliefhebbers het gewoon nie gewéét wanneer ’n nuwe bundel verskyn het nie, want daar was bykans nooit daaroor berig nie. Versindaba wou met ander woorde die reklamepotensiaal rondom die digkuns vir die uitgewers, sowel as die breër publiek, ontsluit.) ’n Geweldige leemte is egter die afwesigheid van diepgaande analise van digbundels in ons media; aldus Antjie Krog. Die ruimte wat vir resensies beskikbaar is, is gewoon nié voldoende vir ’n indringende bespreking nie. (Hierteenoor bied die internet en spesifiek webtuistes soos LitNet met sy seminaarkamer en Biebouw-resensies waarskynlik reeds ’n heel werkbare oplossing.) Maar, die gebrek aan publikasieruimte is myns insiens nie die enigste probleem nie: sedert die akkreditasie-beginsel by universiteite ingevoer is, verskyn bykans ál die belangrike navorsingstukke en kommentare uitsluitlik in vaktydskrifte wat nié toeganklik is vir die meeste poësielefhebbers nie. Ten opsigte van “lesersbegeleiding” en die aanleer van verfynde leesstrategieë, is dié ingesteldheid ’n doodskoot. Indien ons nie daarin kan slaag om dié leemte te vul nie, sal ons nooit die aanklag van tekste “wat nie te uitdagend is nie; wat maar net lekker gevoelens verwoord” kan vermy nie.

 

Ter afsluiting, ’n samevatting van die besondere uitdagings wat ons in die gesig staar:

 

Ø       Verkope. Alle aktiwiteit rondom die digkuns behoort die verbetering van verkope as oogmerk te hê, aangesien die ekonomiese beginsel immers die produksie van bykans alle poësiegerigte tekste onderlê. Ten einde hierin te slaag, moet die potensiële mark maksimaal vergroot word. En hiervoor benodig ons ’n “totale aanslag”-mentaliteit. Alle belanghebbendes moet bereid wees om betrokke te raak op welke manier dit ook al binne hul reikwydte is: hetsy as digter, vertaler, leeskring, handelaar, resensent, akademikus, fees-organiseerder, kommentator, uitgewer, bladuitlegkunstenaar, redakteur, leser … Wat ook al. Wáár ook al. Die digkuns is immers ’n dinamiese gedierte en daardie dinamika verdien om weerspieël te word in die volle omvang van ons kulturele lewe. Apatie wanneer die digkuns vir jou iets van waarde is, is ongelukkig iets wat ons tans nié kan bekostig nie. Die feit is – indien ons die gemiddelde verkope van ons digbundels kan verbeter – dit op sigself die meeste van die uitdagings of tekortkominge wat hier aangestip word, sal beredder.

 

Ø       Blootstelling. Iets wat ten nouste verband hou met bogenoemde, is om die potensiële koper (en uiteindelike leser) konstant bloot te stel aan ’n goeie produk. En hiermee bedoel ek die fisiese produk (boek) ten opsigte van uitleg, aanbod en bemarking, sowel as die inhoud. Indien iemand ’n boek koop wat hy agterna voel nié die geld werd was nie, sal hy of sy beslis nie gou weer geld wil belê in ’n volgende aankoop nie. Blootstelling behels egter ook méér as die gedigte op papier. Die publiek moet byvoorbeeld deurgaans met goeie poësie in aanraking gebring word tydens voorleesaande, én as integrale deel van die talle feesprogramme; ja, selfs met tv- en radio-programme. Ons digkuns is immers van só ’n aard dat dit verdien om prominent en met trots op ’n groter verhoog geplaas te word.

 

Ø       Vertaling. Daar moet daadwerklik gepoog word om die weerstand teen vertaalde tekste af te breek, toe te draai en in ’n donker laai weg te pak. Maar belangriker as die tekste wat na Afrikaans vertaal word, is die Afrikaanse tekste wat na ánder tale vertaal behoort te word. Die Afrikaanse stem behoort immers deel van die Suider-Afrikaanse stem te word en dáárdeur deel van die poësie se wêreldstem. Dink hier byvoorbeeld aan die prominensie wat Breyten Breytenbach en Antjie Krog op die vernaamste verhoë wêreldwyd geniet; om nie eens van die sterk teenwoordigheid van ander binne die Nederlandse-taalgebied te praat nie! Dink hier aan Ingrid Jonker, Elisabeth Eybers, Wilma Stockenström, Gert Vlok Nel, Rikku Latti, Charl-Pierre Naudé en al die digters wat al aan Poetry International se Rotterdam-fees deelgeneem het. HJ Pieterse en Danie Marais, byvoorbeeld. Die kanale is daar, ons moet dit net gebrúík.

 

Daarom – laat ons práát hieroor; met wíé ook al, wáár ook al. Dit is immers ons erns, is dit nie? En koop tog ’n boek hierdie week. Verkieslik een wat teks met korterige reëls en minder woorde bevat …

 

Louis Esterhuizen

  •