Posts Tagged ‘William Blake’

Nini Bennett. Die Tarot as literêre muse

Saturday, May 29th, 2021

 

 

 

Vir eeue reeds wend skrywers en digters hulle tot Tarot-lesings as bron van inspirasie. Tydens die inperking het daar ’n hernieude belangstelling ontstaan in dié kaarte: Mense soek bemoedigende insigte oor werk, gesondheid en finansies. Die lees en bestudering van Tarot-kaarte is immers ’n aktiwiteit wat oorwegend solitaire beoefen word. In onlangse artikels op literêre webwerwe word daar opnuut gefokus op die terapeutiese waarde van Tarot-lesings. Die kaartspeletjies het inderwaarheid baie min te doen met toekomsvoorspelling of “waarsêery” – ’n Tarot-pak beliggaam ’n komplekse voorstelling van antieke simboliek.

Die herkoms van Tarot is onbekend. Volgens  historiese rekords is die eerste gedokumenteerde Tarot-pak tussen 1440 en 1450 in Milaan opgeteken. Die volgelinge en belangstellendes het in die geheim (in salons) speletjies soos die Italiaanse Tarocchini, die Franse Tarot en die Oostenrykse Königrufen gespeel. Eers in die laat 1800’s is wiggelary en toekomsvoorspelling beoefen. Alhoewel die kerk hierdie speletjies as duiwelskuns bestempel het en verwys het na die kaarte as “die prente/boeke van die duiwel”, het Tarot danksy die boekdrukkuns oorleef.

’n Pak Tarotkaarte bestaan uit 78 simboliese prentkaarte met filosofiese en kosmologiese korrelasies. Die pak word verdeel in twee dele: die Groot Arkana met 22 primêre kaarte, die hoofgeheimenisse, en die Klein Arkana se 56 kaarte met die sekondêre kaarte wat die subgeheimenisse voorstel. Die Groot Arkana simboliseer die oertipes van die verskillende paaie, kragte, aksies en strategieë van die mens. Die Klein Arkana verbeeld die verskillende toestande waarin die mens hom kan bevind. Die 56 kaarte bestaan uit die 4 hofkaarte van die 4 verskillende reekse, naamlik die Tarotstawe (Wands); Tarotswaarde (Swords); Tarotbekers (Cups) en Tarotskywe (Pentacles), wat dui op grade van menslike bevoegdheid. Die hofkaarte, weer, is die Boodskapper (Page); die Ridder (Knight); die Koningin (Queen) en die Koning (King). Aansluitend tot die hofkaarte is daar 10 kaarte in elke reeks wat begin by Ace I. en eindig by kaart X. Die 4 reekse verteenwoordig die volgende elemente en menslike eienskappe:

Stawe – vuur – motivering en wilskrag.

Swaarde – lug – denke en kognitiewe prosesse.

Bekers – water – emosies en gemoedstoestande.

Skywe – grond – materiële bates; fisiese toestande en belewenisse.

Die Tarot toon ook korrelate met ’n gewone pak speelkaarte, byvoorbeeld:

Stawe = Klawers

Bekers = Hartens

Swaarde = Skoppens

Skywe = Ruitens

Volgens sekere denkskole beskik die Tarot oor esoteriese skakels na die antieke Egipte, die Kabbala, die Indiese Tantra of die Yijing – en selfs die Torah, aangesien elke kaart in die Groot Arkana met ’n karakter van die Hebreeuse alfabet beskryf word, wat op sy beurt die 22 paaie in die Boom van die Lewe voorstel. Volgens die spirituele goeroe, George Gurdjieff is dit belangrik om Tarot as ’n eenheid van simboliek, astrologie en towerkrag (magie/magick) te verstaan. Ongelukkig assosieer die meeste mense Tarot met ’n vorm van fortuinvertellery wat met die New Age-beweging geassosieer word. Hierdie siening word versterk deur amateurs wat hulle kliënte “se kaarte lees” en só kwansuis “die toekoms voorspel” (meesal bewapen met ’n Tarot-boek om die uitleg na te slaan). Hierdie mense vra dan geld vir sulke lesings. Na my mening is sulke praktyke oneties en teenstrydig met die ware gees van Tarot.

Alhoewel die simboliek van die 78 kaarte sedert die middeleeue dieselfde gebly het, het die visuele vertolking of interpretasies daarvan by die onderskeie kunstenaars en mistici bly verander. Daar is tans ’n legio stelle kaarte om van te kus en te keur. Tarot volg ook die tendense van die populêre kultuur – daar is selfs Harry Potter– en My Little Pony-pakke beskikbaar!

Die pak wat verreweg die meeste gebruik word, is die Rider-Waite-Smith-Tarot: dit is die ‘standaard’ stel kaarte. Die Navigators Tarot of the Mystic Sea Tarot van Julia A. Turk is ook in aanvraag. In 1973 het die vervaardigers van die Bond-film, Live and Let Die vir Salvador Dalí gevra om ’n pak kaarte te skilder, spesiaal vir die film. Ongelukkig het die transaksie deur die mat geval omdat Dalí onredelike finansiële eise gestel het en te veel “lenings” teen die ooreengekome kommissie aangegaan het. Dalí het wel sy eie eksotiese, surrealistiese galery Tarot-kaarte in 1984 voltooi. En, tiperend van die surrealistiese maestro, het hy verras met sy aweregse  humor. Hy het homself verbeeld as die Magiër (Magician). Roger Moore, wat op daardie tydstip die rol van Bond gespeel het, se voorganger, Sean Connery, het ’n kameevertoning as die Keiser (Emperor) gemaak! Baie slim: 007 moes in sy pasoppens wees … Dali se vrou, Gala, was die Keiserin (Empress). Die Dalí-Tarot is ’n ware juweel: surrealisme en die esoteriese ontmoet en die groot meesters se werk word geparodieer met kitsch en Christelike ikonografie. Die digter William Blake se stel, The William Blake Tarot of the Creative Imagination is, soos Dalí se pak, ’n stel kaarte vir die fynproewer. Die invalshoek is ’n digterlike een, gebaseer op Blake se visuele interpretasies en poëtiese insigte rondom Tarot. Die kaarte is egter verfrissend vry van intellektuele bagasie, en Blake nooi die leser op ’n speelse wyse uit om die reis deur die geheimenisse met hom mee te maak.

Digters was maar altyd lief vir Tarot. Die Nobelpryswenner, William Butler Yeats was in die laat 1800’s lid van die okkulte organisasie, The Hermetic Order of the Golden Dawn waar die volgelinge seremoniële toorkuns beoefen het; die aanleer van Tarot was een van die inisiasierites. Blake het die illustreerder van die Rider-Waite-Smith-pak, Pamela Smith, raad gegee met die visuele vertolking van die mistieke simboliek – m.a.w. digters en digkuns het die interpretasie van die kaarte beïnvloed, op soortgelyke wyse wat Tarot digters beïnvloed het in die skryf van poësie. Vervolgens ’n uittreksel uit Yeats se gedig, “The Tower” (die Toring XVI. is ’n kaart in die Groot Arkana):

 

[…]

Good fellows shuffled cards in an old bawn;

And when that ancient ruffian’s turn was on

He so bewitched the cards under his thumb

That all but the one card became

A pack of hounds and not a pack of cards,

And that he changed into a hare.

Hanrahan rose in frenzy there

And followed up those baying creatures towards –

[…]

 

Die Toring verwys na die prosesse van veroudering en die Ego wat in die slag bly. “Hanrahan” dui waarskynlik op die die Dwaas / The Fool 0., die heel eerste kaart van die Groot Arkana, ’n kaart met ’n nulwaarde: die begin van die (jeugdige) dwaas se reis.

 

[…]

Before that ruin came, for centuries,

Rough men-at-arms, cross-gartered to the knees

Or shod in iron, climbed the narrow stairs,

And certain men-at-arms there were

Whose images, in the Great Memory stored,

Come with loud cry and panting breast

To break upon a sleeper’s rest

While their great wooden dice beat on the board.

[…]

 

Die verwoesting van die Toring-kaart word beskryf – die kaart simboliseer ook die Toring van Babel. “Great Memory stored” reik moontlik na die kaart wat ná die Toring volg, naamlik die Ster: Verligting en openbaring via die kollektiewe onbewuste.

Ook in T.S. Eliot se “The Waste Land” verwys die digter na Tarot-kaarte:

 

[…]

Madame Sosostris, famous clairvoyante,

Had a bad cold, nevertheless

Is known to be the wisest woman in Europe,

With a wicked pack of cards. Here, said she,

Is your card, the drowned Phoenician Sailor,

(Those are pearls that were his eyes. Look!)

Here is Belladonna, the Lady of the Rocks,

The lady of situations.

Here is the man with three staves, and here the Wheel,

And here is the one-eyed merchant, and this card,

Which is blank, is something he carries on his back,

Which I am forbidden to see. I do not find

The Hanged Man. Fear death by water.

[…]

 

Kenners beweer die “drowned Phoenician Sailor” sinspeel op die Tien van Swaarde, terwyl die “Lady of the Rocks” dui op die Koningin van Bekers / Queen of Cups. Dan is daar die Drie van Stawe (“man with the three staves”), die Wiel van die Noodlot (“The Wheel”), (Ses van Skywe / Six of Pentacles – “the one-eyed merchant”), en die Gehangde Man (“The Hanged Man”). Laasgenoemde kaart word astrologies beïnvloed deur Neptunus, wat gerig word deur die element water.

In Afrikaans skryf Joan Hambidge op ’n gereelde basis oor Tarot-kaarte in haar verse, onderhoude en artikels op haar blog, Woorde wat Weeg. Maar tog is daar ’n opvallende afwesigheid, ’n leemte t.o.v. Tarot in die Afrikaanse letterkunde. Van die redes is moontlik die rol van die kerk wat die kaarte as “duiwels” gebrandmerk het, gebore uit onkunde en gedryf deur ’n vrees vir die okkulte. Ek verkies om die woord “esoteries” te gebruik, want “okkult” kom met baie bagasie saam; dis pejoratief. Esoteries beteken “verborge kennis” en dra nie ’n ingeboude waarde-oordeel en beletsel soos sy okkulte eweknie nie. Voor die koms van aanlynbesteldienste was Tarot moeilik bekombaar – waarskynlik slegs by enkele boekwinkels of ander esoteriese winkels. Tog het Tarot-kaarte hulle opwagting gemaak in boeke se omslagkuns.

 

 Isis Isis Isis, 1969, Human & Rousseau

 

Etiene Leroux se roman, Isis Isis Isis, se voorblad toon ses Tarot-kaarte uit een van die oudste Tarot-pakke, die Tarot de Marseilles wat reeds in sirkulasie was in die 15 de eeu in Italië. Dié roman vorm deel van die 18-44-trilogie: 18-44, Isis Isis Isis en Na’va. In Isis Isis Isis maak Leroux gebruik van die Egiptiese mite waarvolgens die god van die doderyk, Osiris, deur sy broer Set in 14 stukke opgekap is en weer deur die vrugbaarheidsgodin Isis aanmekaar gesit is nadat sy al die stukke behalwe die fallus gevind het. Die knolskrywer, as die verkapte Osiris, reis deur Europa om sy gefragmenteerde self byeen te bring, en in die proses loop hy 14 vroue raak wat die rol van Isis sou kon speel.

 

 Omdat ons alles is, 1998, Tafelberg

 

Omdat ons alles is, is ’n kortverhaalbundel van die bekroonde digter, H.J. Pieterse. Die kaart op die voorblad toon die Gehangde Man XII., soos dit voorkom in die Groot Arkana. Die betekenis is onder meer opoffering; die oorgawe van die Self aan hoër beginsels. In ’n motto voorin die bundel haal Pieterse ’n vertaalde weergawe van die offergod, Odin, aan. Die verwysing kom uit die Hávamál, ’n Yslandiese gedig wat skakel met die oud-Noorse filosofie.

 

I know that I hung

in the windy tree

for nine full nights.

Wounded by the spear,

consecrated to Odin,

an offering to myself

on the tree

whose roots are unknown.

 

’n God (Odin) geoffer aan homself, ’n god  verwond met ’n spies herinner aan die hang (kruisiging) van Christus. Odin het gehang aan die Wêreldboom, ’n opoffering om die mistieke Runes te ontdek en te verstaan. Die bundel kortverhale handel oor die verteller se verwerking van pyn en verlies na sy vrou se selfdood.

 

 Stoornis, 2002, Tafelberg

 

Die kortverhaalbundel van Nini Bennett toon die Drie van Swaarde, ontleen uit die verhaal “Die besoeker”, waar ’n liefdesteleurstelling onder die soeklig kom. ’n Fotobeeld van ’n (‘ware’) Keltiese Kruis-lesing verskyn in die verhaal. Drie swaarde deurboor ’n hart en in die agtergrond val daar reën uit die wolke; trane wat later simbolies lei tot genesing en nuwe groei.

In oorsese lande word die lees van Tarot-kaarte al vir jare aangebied as deel van skryfkunskursusse. Met die koms en evolusie van moderne tegnologie met die gepaardgaande vervlakking wat dit meegebring het, het daar ’n hernieude belangstelling in Tarot en sy deelgenoot, esoteriese selfontdekking, ontstaan. Tarot en skeppende skryfwerk se gemene deler is om die kompleksiteit van die menslike kondisie te verwoord. Tarot word as deel van opleiding in skryfkuns ingespan om o.m. skrywersdroogte te oorkom, of om die kreatiewe sone te help ontwaak. Tarot deel in geheimenisse, óók die spirituele syn van die leser van die kaarte wat verborge bly. Die kaarte “sien” dit wat al reeds waar is; nie noodwendig die toekomstige uitspeel van situasies nie. Met ander woorde: Tarot beliggaam die spirituele praktyke van die leser-skrywer wat verpersonifiseer word. ’n Skrywer of digter is gewoond aan lees: só ‘n persoon lees alles, van resepte, pamflette, koerante, sosiale media en boeke, tot die konkrete detail in die leefwêreld rondom hom. Voeg die lees van Tarot-kaarte by, en die leesproses word ’n resonante ervaring waar alles ’n “interkonneksie” vorm – alles is verwant aan mekaar. In die gedig van die wêreld verbind alle konkrete detail met abstrakte temas en argetipes om ’n betekenisvolle narratief te skep. Die meesternarratiewe van die lewe is reeds geskryf, dit herhaal, dit vorm patrone; en Tarot help skrywers om deur die donker portale van die onderbewuste te navigeer waar beeld en woord ontmoet. ’n Skrywer soos Alexander Chee (skrywer van The Queen of the Night en Edinburgh), gebruik die Keltiese Kruis-metode om te “sien” wat sy karakters volgende gaan doen. Tarot is dus ’n bouprogram, ’n karakterontwerp of -verhoog wat die skrywer lei tot insig in die narratief wat hy besig is om te skryf. Digters, op hulle beurt, put ook ryke inspirasie uit Tarot se digte substrata van antieke en esoteriese simboliek. ’n Pak soos The Lover’s Path Tarot maak byvoorbeeld gebruik van karakters in folklore, mitologie en sprokies as karakterverhoog om die leser insig te gee in die geleefde weë en argetipes van die liefde. Veral liefhebbers van poësie sal hierdie pak kaarte as verrykend ervaar.

Vervolgens, ’n Tarot-vers deur Franci Niewoudt:

 

the Fool (Major Arcana)

gekke weet dat die aarde behoort

aan eenvoudiges

so ook die uitspansel

binne elke dwaas

swerf ’n Groenman

wat dans met drie boontjiepitte

en ’n slakdop

waaruit ’n roos spiraal

’n gids hou immers wag

by die stomp afheinings

van donker flits

by ongekettingde hekke

sotte weet dat die lewe ’n sterpad is

wat wit geklip

en oop lê

(Vlerkslag van kleur, 2016, Cordis Trust Publikasies)

 

 

Verwysings:

https://lithub.com/why-are-writers-particularly-drawn-to-tarot/?fbclid=IwAR3hCYwJTvyfpKPAxFnx8WKfYy08Z-oFIvuczUJSqjz62Oj19mjmM6iMRZ8

https://blog.bestamericanpoetry.com/the_best_american_poetry/2014/02/poets-and-the-tarot.html?fbclid=IwAR3EJA6R5yc3LNgbwybiQto8MYQMV81MxjiiX3Vuoc8_5LaASkqX8XJFpbg

https://www.smithsonianmag.com/smart-news/see-surreal-tarot-cards-designed-salvador-dali-james-bond-movie-

https://en.wikipedia.org/wiki/Tarot?fbclid=IwAR2hQtm6kKnuFLvexz0V9ctKs2gB5WHPrcE94Zx22nefzi_s0fQ3DGtyjLI

 

Nini Bennett. Voetstoots

Sunday, August 19th, 2018

 

1.

 

Die reuk van vrees is altyd bekend.

Die diere het dit eerste geweet. Hulle het begin hardloop met platgetrekte ore en neusvleuels wydgesper. Dae voor die ramp was die waarskuwing daar: ’n subtiele verandering in lugdruk. Lae frekwensieklank was duideliker hoorbaar as normaalweg. Niemand weet presies hoe diere dit weet nie, maar diere is fyner gekallibreer.

Die aarde se magneetveld het opgelaai, prikkelbaar soos ’n lading statiese elektrisiteit. Daar is foutlyne en frakture in die aardkors.

Huiskatte het dit ook vermoed, en soos die diere van die veld, dae vantevore reeds verkas – uiteindelik getrou aan hulle wilde natuur. Net honde, die mens se beste vriend, het by hulle eienaars gewag en gewaak, hulle gesigte gelek en getjank; bondgenote tot die dood.

Ook die voëls was hiervan bewus. Hulle het laat spaander met ’n gekrys en die skerp kringfluit van fladderende veerstof; ’n brokkeling vlerke wat die lug, die wolke, en later die son sou klad. Die drang om te lewe is brutaal.

Tydens ’n aardbewing word alle menslike kapasiteit opgeskort. Tyd ontspil. Iets verskrikliks is op pad, die zero-uur is op hand.

In sy oerste wese herken iedereen ’n natuurramp. Strate spleet oop, afgryslik en swart soos ’n adder of rolgolf wat reg onder die oppervlak kronkel. Monde gaap oop in gille maar nié die getjank van sirenes en alarms, nié die geskreeu uit stembande maak enige verskil nie.

Geboue steier; tuimel op mekaar in soos domino’s. Die stad sneuwel voor hierdie aanslag, nietig soos ’n diorama; tragies, soos ’n kind se geografieprojek by die skool.

Die kosmiese afslaer is elke oomblik van die dag bedrywig. Op wie word die hoogste bod toegestaan? Wie word tweedehands opgeveil, en wie word voetstoots uitverkoop aan die noodlot? Wié van ons het die afslaer se simpatie?

Dan rammel die aarde finaal in ’n reuse grand mal – die gebeur en gekreun van skuiwende tektone. Die chaos is ontsagwekkend. ’n Kraak beitel vanself af in die pad tot by ’n vulstasie en ontvlam in ’n oogwink. Die ontploffingshitte van die brandstof se opgaartenks lig die motors op en slinger dit skuins die bruisende vure in, die insittendes soos vlermuise in ’n swart inferno.

Uit die lug vlie wrakstukke, stukke dak en puin en glas en skerp metaal en tuimel op die weerloses neer. ’n Verdwaalde skoen. Uit gebarste pypleiding pomp water, surrealisties mooi, en verdeel in kleiner fonteine. So ver as die oog kan kan sien, blits die kragdrade. Sweisvuur.

En argeloos, hoog bo die verwoesting, draal ’n kind se heliumballon steeds hoër die wolke in.

Ek is uit my seismiese diepte geruk.

Vanoggend vroeg was ek by die rivier. Dit was stil. Loodstil. Ek het vorentoe gebuk en gekyk hoe rimpels oor die wateroppervlak breek: konsentriese sirkels soos vinnig uitkringende wentelbane. Daar was geen geluid, geen stoornis. Toe het ek die hadidas hoor skree. Was dit nader, dringender as tevore? Ek weet nie. Dalk was dit die wanklank van dissonante sirenes wat doof op die menslike oor val. Maar soos ek sê, niemand weet hoe diere dit weet nie. Plotseling het ’n vrees my beetgepak en ek wou wegkom, maar ek het nie geweet waarom, waarheen nie. Ek was weerloos, net ’n mens. “Die kind is weer ongedurig vandag,” sou my ouma gesê het.

*

“Die kind is weer ongedurig vandag,” het sy ’n paar dae tevore voorspel.

Ek staan styf teen haar kamerdeur met my kinderlyf teen die raam, my oor sentimeters van die deurslot af. Dis donker; dis nag, ’n dag losgeskeur uit die somer van 1985.

Die geluid van ’n outydse vanity case wat ooprits. Ek verbeel my sy kyk in die dowwe bedlamp na die geheime goetertjies wat haar vrouwees definieer. Sakdoekies met kantpatrone, in presiese vierkante gestryk. Parfuum. Lipstiffie. Ek rek my oë in die stilte wat volg. Tjieng…kirrr. Klonk. Die fyn perkussie van ys in ’n glas. Die halfjack is oop: die goudstof stort nou oor die glas se rand.

Ek beweeg my oor nader aan die deurknop. Voor sy die eerste sluk whisky vat, is daar ’n siddering; die geluid van ’n vrou wat geluidloos huil, verdriet wat in een golfbeweging deur haar skouers breek.

Teug diep, my matriarg: drink, en laat die eufemisme oor jou spoel. Versigtig; haal versigtig asem nou. Die godedrank is sterk, dit blus jou keel, dit vlam hoog deur die sinusholtes, dit brand salig in die slukderm. Dit streel jou stembande; dit herken jou stemlose pyn. Sjuut. Die bekende lafenis is op hand.

Sekondes later volg die neweling van die brein. Die sig versag in dowwer piksels. Stiller nou, my ou moeder. Voel jy dit? Ek weet; ek weet jy huil nie voor mense nie.

*

Sy vee oor haar bolip. “My ma se dogters huil nie voor mense nie.”

Hy frons. “Jou neus bloei,” en hy leun besorg vorentoe.

Hulle is anders grootgemaak,” hou sy vol.

“Jy het nie agtergekom nie,” val hy haar weer in die rede. “Jou neus bloei.”

“Nie óns nie. Nee, ons huil nie in die openbaar nie.” Sy hou onverwags op met praat en kyk minagtend na die bloedstreep op die rugkant van haar hand.

(Bostaande fragment is geneem uit ’n groter teksgeheel.)

2.

Desember 2006 het ek die noodlot leer ken. En dis nie ’n vriend wat jy intiem wil leer ken nie: nié deur die onverwagse dood van ’n eggenoot; nié op die wyse waarop jy oornag padgee van ’n groot kleinhoewe omdat dit bloot te gevaarlik geword het om alleen daar te bly nie. Ook nie die finansiële terugslae of die aanslag op jou gesondheid nie. Ek onthou dit was kort voor kersfees en ek het in die straat gaan staan en vir ’n halfuur aaneen gelag, ’n leë lag tot net my maagspiere later geruk het en daar geen lag meer wou uitkom nie. Die naskokke van ’n noodlotsgebeurtenis besoek jou nog vir jare daarna in jou drome: dit bly herhaal in swoel en donker drome. En dit herhaal wéér wanneer jy hoor van die moord op ’n vriend; die siekte van ’n geliefde.

Vandag, as ek my oë toemaak, dink ek aan daardie tyd as ’n aardbewing. Dit is die enigste metafoor, simbool, allegorie, analoog, of wat ook al wat reg laat geskied aan die impak en ontwrigting van soveel kataklismiese lewensgebeurtenisse. Vrees en respek beweeg baie ná aan mekaar. Die Moment Magnitude, noem kenners dit – die omvang van ’n aardskok.

Tog is ’n aardbewing nie ’n onderwerp waaroor digters dikwels dig nie, waarskynlik as gevolg van die gelokaliseerdheid van so ’n ramp. ’n Aardbewing word eerder geassosieer met distopiese en apokaliptiese romans en films. Of die eindtye, aldus die Bybel.

Tog is daar ’n groot voorkoms van aardbewingpoësie onder Japannese digters. Na die katastrofiese aardbewing, gevolg deur ’n seebewing wat Japan 11 Maart 2011* getref het, het verskeie digters dwarsoor die wêreld aangesluit by webtuistes as deel van ’n gemeenskapsprojek om hierdie slagoffers en oorlewendes by te staan. Die verse is oorwegend kort. Ook Twitter-poësie het oornag ’n nuwe impetus gekry, en verse, wat kwalik as poësie in die ware sin van die woord geklassifiseer kan word maar wat as “pebble poetry” bekend staan, het vir weke lank deur die Net geblits. Eenreël-verse wat poog om die skok en ongeloof oor die onlangse gebeure poëties te verwoord. ’n Mens kan iets hiervan verstaan: na ’n aardbewing is die topografie verwoes. Samehang ontbreek. Dit is moeilik om ’n lang vers oor ’n aardbewing te skryf. Japannese vertalers het op hul beurt van die verse vertaal na Engels, en uit alle tale en dwarsoor die wêreld het opkomende en gevestigde digters die Tohokoe-ramp uit een mond in versfragmente betreur.

Enkele voorbeelde, en ek haal aan vanuit die webtuistes.

The earthquake and tsunami that devastated Tôhoku last March and the nuclear crisis that followed continue to affect every aspect of Japanese life. Literature is no exception. Struggling against a despairing sense that this was no time for literature, contemporary writers have responded in a variety of ways since disaster struck on March 11.

Almost immediately, a number of poets responded with lines that were plain, poignant, and fierce. Wago Ryoichi, a Fukushima-based poet previously known for rather abstruse contemporary verse, suddenly shifted gears after the disaster, using Twitter to publish a succession of short pieces that rapidly gained a substantial following:

 

Radiation is falling. The night is quiet.

In the end, there are only tears. I want to write furiously, like a man possessed.

 

*

 

Will we meet again?

Here at your flowering grave:

two white butterflies

 

― Matsuo Basho. Vertaal deur Michael R. Burch.

 

*

 

Spring has come:

the nameless hill

lies shrouded in mist

 

― Matsuo Basho. Vertaal deur Michael R. Burch.

 

*

 

A kite floats

at the same place in the sky

where yesterday it floated …

 

― Buson Yosa. Vertaal deur Michael R. Burch.

 

*

 

We cannot see the moon

and yet the waves still rise

 

― Shiki Masaoka. Vertaal deur Michael R. Burch.

 

*

 

What indeed is Earth but a Nest

from whose rim we are all falling?

 

—Emily Dickinson.

 

*

 

To see a World in a grain of sand

And a Heaven in a wild flower,

Hold Infinity in the palm of your hand

And Eternity in an hour.

 

—William Blake.

 

*

 

Ring the bells that still can ring

Forget your perfect offering

There is a crack in everything

That’s how the light gets in.

 

—Leonard Cohen.

 

*

 

I took one Draught of Life—

I’ll tell you what I paid—

Precisely an existence—

The market price, they said.

 

—Emily Dickinson.

 

*

 

Our life here on earth:

to what shall we compare it?

It is not like a rowboat

departing at daybreak,

leaving no trace of us in its wake?

 

― Takaha Shugyo. Vertaal deur Michael R. Burch.

 

*

 

The snake slipped away

but his eyes, having held mine,

still stare in the grass

 

― Kyoshi Takahama. Vertaal deur Michael R. Burch.

 

*

 

Which plunderer’s hand

ransacked the pure gold statute of your dreams

In this horrendous storm?

 

—Nadia Anjuman, Afghaanse digter.

 

*

 

Meanwhile, Henmi Yo published a series of vivid, almost grotesque poems titled “Me no umi—Watashi no shisha tachi ni (Sea of Eyes: To My Departed)”. For the author, who grew up in one of the Tôhoku towns devastated by the tsunami, the work is at once an act of mourning, a requiem, and above all, a poet’s desperate attempt to summon the power of poetic expression and pit it defiantly against the violent forces of the universe.

 

My departed dead:

You must sing your poems alone.

Let the shore daisies keep from flowering,

Let the yellow plants that cling to the cliffs refrain

from mourning—

Until the right words have been found, each one unique

and singular,

And assigned to the lungs

Of my departed dead.

* Op Vrydag 11 Maart 2011 het ‘n katastrofiese aardbewing, gevolg deur ’n seebewing, Japan getref. Met die episentrum diep onder in die see sowat 70 km van die Osjika-skiereiland van Tohokoe, het dit die aarde met ‘n krag van 9.0 op die MM-skaal geruk en die planeet se as na berekening met byna tien sentimeter laat skuif. Duisende mense is gedood en vermis en minstens drie kernkragreaktors is beskadig.

 

Verwysings

 

https://japan-afterthebigearthquake.blogspot.com/2012/04/poetry-after-march-2011.html

http://www.thehypertexts.com/Japan%20Earthquake%20Tsunami%20Poetry.htm

http://www.asahi.com/ajw/articles/AJ201804140021.html

 

 

 

Desmond Painter. Die dood van die flâneur

Monday, August 30th, 2010

I

Terug in my hotelkamer (in Notting Hill) na ‘n dag van baie stap. My voete en my bene pyn behoorlik. Ek het ‘n vae idee gehad van waar ek heen wou loop (van Bloomsbury na Trafalgar Square; van Trafalgar na die Tate Modern; van die Tate na die Southwark Cathedral; van Southwark met die moltrein na Islington, om dan daar redelik doelloos maar deeglik te eksploreer). Nie net het ek die afgelope twee dae groot afstande per voet deur die stad afgelê nie, maar sekerlik ook kilometers opgestapel deur van een uitstalkamer na ‘n ander te loop in die National Museum en die Tate Modern.

 

II

I wander thro’ each charter’d street,

Near where the charter’d Thames does flow.

And mark in every face I meet

Marks of weakness, marks of woe.

(William Blake, uit London)

 

III

Dit bly ‘n voorreg om die bekende skilderye van Vermeer, Rembrandt, Monet, Picasso ens. te kan sien (reproduksies in boeke is maar net nie dieselfde nie: jy moet die kwashale kan síén) maar daar is ook so baie wat vir my totaal nuut is – veral in die manjifieke Tate Modern. ‘n Stel skilderye wat my vandag besonder getref het, is die Duitse kunstenaar Gerhard Richter se post-ekspressionistiese reeks Cage (1-6). Dit bestaan uit ses groot doeke (seker amper 3mx3m) waarop die skilder laag op laag verf eers aangebring het en dan telkens weer deels afgekrap het, om sodoende verrassende en onbeplande patrone en kleurskakerings te onthul. Die reeks is na die Amerikaanse komponis John Cage vernoem omdat Richter, soos Cage, probeer werk met kans en toevallige kombinasies. Hier is ‘n interessante aanhaling deur Richter: “I don’t know what I want; I am inconsistent, non-committal, passive; I like the indefinate, the boundless; I like continual uncertainty.”

 

IV

 

Dansend in Londen

Dansend in Londen

 

 

V

Besef pas ek het nog nie ‘n geprek met ‘n ander mens gevoer sedert ek Vrydagmiddag in Stellenbosch vir Claire totsiens gesê het nie. Ek praat nou nie van interaksies met kelners en so aan nie, maar van werklike gesprekke. Dit is asof ek vastend is. Ek is besig met ‘n gespreks-detox. Almal het dit nou en dan nodig. Almal moet soms ‘n vreemde stad invaar. Of ‘n bekende stad herontdek. Laat jouself meesleur deur die skares; soek die stil strate op waar jy jou voetstappe kan hoor op die teer; hou mense dop met nuuskierigheid en ‘n vrygewige verbeelding. ‘n Stad is meer as monumente en museums. ‘n Stad is mense en mobiliteite, al die miljoene trajekte van weggaan, besoek en tuiskoms, al die vullis en  verdwaal, al die eenselwighede en al die skitterende klein verrassings.

 

VI

Op die oewer van die Teems

Op die oewer van die Teems

 

 

VII

“Not to find one’s way in a city may well be uninteresting and banal. It requires ignorance – nothing more. But to lose oneself in a city – as one loses oneself in a forest – that calls for quite a different schooling. Then signboards and street names, passers-by, roofs, kiosks, or bars must speak to the wanderer like a cracking twig under his feet, like the startling call of a bittern in the distance, like the sudden stillness of a clearing with a lily standing erect at its centre.” (Walter Benjamin)

 

VIII 

Protesaksie in Londen

Protesaksie in Londen

 

IX

In ‘n land soos ons s’n, Suid-Afrika, met sy gebrekkige openbare vervoer, dikwels onderontwikkelde (en gerassifiseerde) openbare ruimtes en endemiese geweld, is hierdie soort stappende toe-eiening van ‘n stedelike ruimte, die terugdwing van stedelike ruimte tot ‘n (mede-)menslike skaal, hoegenaamd moontlik? Of is hierdie net ‘n eurosentriese nostalgie?

 

X

Hy’s glo getref deur ‘n dwaalkoeël –

maar wie weet uit watter geweer?

Daar op die sypaadjie in ‘n poel

bloed lê hy: die flâneur.

Brittanje se gunstelingdigters

Monday, October 12th, 2009
TS Eliot

TS Eliot

Na ‘n maandelange veldtog en 18,000 stemme om die mees gewilde digter in die Britse digkuns te bepaal, het die BBC verlede Donderdag tydens hul Nasionale Gedigtedag bekend gemaak dat TS Eliot die meeste stemme gekry het. Hy word gevolg deur John Donne, Benjamin Zephaniah (‘n rastadigter van Birmingam), Wilfred Owen, Philip Larkin, William Blake, WB Yeats, John Betjeman, John Keats en Dylan Thomas. Opvallende name wat ontbreek in dié lys van gunstelingdigters is uiteraard eietydse digters oos Seamus Heaney en Carol Ann Duffy (tans poet laureate); asook immergewilde digters soos Sylvia Path, Ted Hughes en WH Auden.

Die 3de plek wat Benjamin Zephaniah inneem, kom nogals vreemd voor aangesien die hele fenomeen van rastafariërs met hul gepaardgaande rap poetry a la Linton Kwesi Johnson in ons eie digkuns maar skaars is … Waarskynlik is die enigste voorbeeld wat ons hiervan het, die enigmatiese Jitsvinger (Quintin Goliath) uit die Kaapse Vlakte en Yabadaka Shamah, wie se verse in My ousie is ‘n blom (2006: Snailpress, saamgestel deur Charl-Pierre Naudé) opgeneem is. (Toegegee, die verse in die bloemlesing is waarskynlik nie die suiwerste voorbeeld van Yabadaka se rasta-gerigtheid nie, maar sy impromptu optrede tydens die Versindaba van daardie jaar was beslis onverdunde rap.) Aan die Engelse kant van die draad is daar natuurlik meer voorbeelde, met Lesego Rampolokeng as die onbetwiste kroonprins van die spoegpraters; soos Andries Bezuidenhout en ander wat by die onlangse Bekgeveg by WITS betrokke was, waarskynlik sou agtergekom het. Dié man is in ‘n klas van sy eie, vermoed ek. Veral wanneer hy musiek met sy voordrag begin kombineer …

Nietemin, as voorbeeld van Benjamin Zephaniah se digkuns volg daar ‘n vers, Dis poetry, heelonder. Maar is dit?! Persoonlik wil ‘n mens amper binnebeks grom: Dis g’n poetry. Of wat praat ek nou?!

***

Ten slotte – nuwe toevoegings sedert Vrydag op die webblad is Carl-Pierre Naudé se inskrywing wat hy in reaksie op Neville Alexander en Gerrit Brand se deelname aan die pasafgelope Roots-kunstefees geplaas het; ook Andries Bezuidenhout se entoesiastiese vertelling van hoe plesierig Oopmond inderdaad was terwyl Johann Lodewyk Marais wat weer vra of die Afrikaanse digkuns dalk te moeilik is.

Mmm, lekker lees en geniet die week wat op hande is …

Mooi bly.

LE 

Dis poetry

Dis poetry is like a riddim dat drops
De tongue fires a riddim dat shoots like shots
Dis poetry is designed fe rantin
Dance hall style, big mouth chanting,
Dis poetry nar put yu to sleep
Preaching follow me
Like yu is blind sheep,
Dis poetry is not Party Political
Not designed fe dose who are critical.
Dis poetry is wid me when I gu to me bed
It gets into me dreadlocks
It lingers around me head
Dis poetry goes wid me as I pedal me bike
I’ve tried Shakespeare, respect due dere
But did is de stuff I like.

Dis poetry is not afraid of going ina book
Still dis poetry need ears fe hear an eyes fe hav a look
Dis poetry is Verbal Riddim, no big words involved
An if I hav a problem de riddim gets it solved,
Iove tried to be more romantic, it does nu good for me
So I tek a Reggae Riddim an build me poetry,
I could try be more personal
But you’ve heard it all before,
Pages of written words not needed
Brain has many words in store,
Yu could call dis poetry Dub Ranting
De tongue plays a beat
De body starts skanking,
Dis poetry is quick an childish
Dis poetry is fe de wise an foolish,
Anybody can do it fe free,
Dis poetry is fe yu an me,
Don’t stretch yu imagination
Dis poetry is fe de good of de Nation,
Chant,
In de morning
I chant
In de night
I chant
In de darkness
An under de spotlight,
I pass thru University
I pass thru Sociology
An den I got a dread degree
In Dreadfull Ghettology.

Dis poetry stays wid me when I run or walk
An when I am talking to meself in poetry I talk,
Dis poetry is wid me,
Below me an above,
Dis poetry’s from inside me
It goes to yu
WID LUV.

(c) Benjamin Zephaniah