Posts Tagged ‘William Kentridge’

Andries Bezuidenhout. Muizenberg, Renovators Dream

Tuesday, November 15th, 2011

Muizenberg se naam kom van ʼn amptenaar van die VOC, ʼn ene Sersant Muys, wat die tolhuis daar beman het. Dit was eers “Muys Zijn Bergh”, later “Muysenbergh”. Boere wat hul produkte aan skepe in Simonstad se hawe wou gaan verkwansel moes hier tolgeld betaal. Die tolhuis – Het Posthuis – is steeds daar, een van Suid Afrika se oudste geboue. Dit was al ʼn hotel en ʼn bordeel ook, maar is in die 1980s as nasionale monument gerestoureer. Cecil John Rhodes is in 1902 in Muizenberg oorlede, in ʼn huis wat ook steeds staan. Een van William Kentridge se mooiste animasiefilms, Tide Table, speel in Muizenberg af. Soho Eckstein sit op die strand. ʼn Mens kan die kleurvolle strandverkleehokkies in die video sien, maar sonder die kleur. Ek hou van die art deco-hotel in die video.

Muizenberg is een van daardie voorstede wat Suid-Afrika se ritmes versinnebeeld. Die geboue daar verval, word dan gerestoureer. Verval, restourasie, verval, restourasie. Dis ver van Johannesburg, Kentridge se gebruiklike onderwerp, maar het nogtans so ʼn bietjie van ʼn myndorpgevoel. ʼn Land met myne dans maar op daardie “boom-bust-boom-bust” ritme. Jy sien dit orals in Suid-Afrika se argitektuur. Fanatiese bouwerk, dan staan alles weer stil.

Ek werk al vir ʼn paar weke aan die skildery hier bo. Dis ʼn gebou in Muizenberg, maar nie een van die bekendes nie. Ek weet nie of dit klaar is nie. Olieverf neem tagtig jaar om droog te word. Dalk werk ek later verder daaraan. Ek dink vir eers is die titel: “Muizenberg, Renovators Dream”.

Andries Bezuidenhout. Nostalgie in volkleur?

Monday, December 27th, 2010

"Eternal Child" deur Irma Stern

Insiggewende onderhoud deur Elmari Rautenbach met Stephan Welz in By. Hulle gesels oor hoekom Irma Stern en Pierneef so goed verkoop. Welz aan die woord:

“As daar oor ’n kunstenaar gegons word soos nou oor Irma Stern, verkoop sy net meer. Ek het onlangs ’n verkoper gehad wat besef het die Stern in sy huis is dubbel die waarde van die huis. Sulke stories dra by tot die momentum… Natuurlik het dit ook te doen met smaak. Suid-Afrikaners soek kleur. (William Kentridge het vroeg al besef hy’s nie goed met kleur nie en spesialiseer in mediums sonder kleur. Hy verkoop daarom in die buiteland veel beter as hier.) Hulle soek olie op doek… En Suid-Afrikaners is nostalgies. Sowel Stern as Pierneef het daardie element…”

Tog dink ek William Kentridge het ook ʼn sterk nostalgiese invloed in sy werk – die teruggryp na swart-en-witfilm. Dalk eerder wrang nostalgie? Muizenberg se Art Deco hotel, vol vakansiegangers en diktators, beeste op die strand, mense wat in die vlakwater gedoop word. En Soho Eckstein wat in sy seilstoel op die Muizenbergstrand sit. Gaan kyk gerus na Tide Table hier.

Uit Kentridge se "Tide Table"

Andries Bezuidenhout. Hul laaste dae in Johannesburg, skets 2b

Wednesday, November 18th, 2009

1
En die sixpack skree: Kom hier! Kom hier! Kom hier! 

2
Hy ry weer huis toe. Met Empireweg tot in Louis Bothalaan. Skuins deur Hillbrow. Draai by Yeoville in. Met Ecksteinstraat verby Sacred Heart College. Dan in Kloofstraat af tot by die woonstel. Hy luister na Battery 9 se “Kom hier!

3
ek sien hom te laat om te probeer
briek
sy lyf kraak dof en dit maak
my siek
toe ek sien hoe hy spat na die kant van
die pad
en ek kan sien sy lyf is nat
van die bloed wat gesmeer is oor
die bonnet van my kar
ek raak baie ongemaklik want sy oë
het verstar
in ‘n waas in ‘n waas soos ‘n blinde haas

4
Jos, die hoofkarakter in Harry Kalmer se “Die man met die dertien kinders”, ry ook ʼn man dood. Hy en sy vrou neem die man se kinders aan. Die Molois. Dis deels hoekom hulle dertien kinders het. Dis een van sy gunstelingboeke. Jos is ook ʼn alkoholis.

5
o my fok wat op aarde nou
wat de moer gaan ek sê vir sy kinders en sy vrou
wat sal ween sal praat en sal aanhou haat
en ek kyk oor my skouer want dis
dalk te laat
maar die vlakte gaap kaal asof
niks gebeur het
asof dit sê “so much vir jou groot probleem”

6
Soho Eckstein ry óók ʼn man raak. Hy het glad nie verwag om iets van Suid-Afrika daar raak te loop nie. Dit was in die Tate Modern. Hy onthou hoe hy “The History of the Main Complaint” van William Kentridge die eerste keer gesien het. Daar was ʼn donker kamer afgesonder vir die animasiefilm, wat oor en oor gewys het. Steenkool rofweg gekrap, uitgevee, afgeneem, film van gemaak. Tydsame proses. Hy het op die vloer gaan sit. Dit vyf keer gekyk.

7
met hierdie nuwe insig klim ek terug in my kar
maar my hande bewe en ek is in die war
wat was sy naam? waar kom hy vandaan?
ek raak paranoid dat die kar sal gaan staan
en elke sekonde ry ek verder weg
en voel bekommerd en bedonnerd
selfs die bier smaak sleg
die son brand my oë
dis heeltemal te vroeg vir nog ‘n bier
maar die sixpack skree:
kom hier! kom hier! kom hier!

8
“Die man met die dertien kinders” is in Japan te koop.

9
kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hiiiiiiieeeeeeeeeeeeeeeeerrrrrrrr!

10
Bronne:
Battery 9. 1995. “Kom hier!” Protskrog. Klankopname, Tic Tic Bang/One F Music.
Harry Kalmer. 1998. Die man met die dertien kinders. Kaapstad: Queillerie.
William Kentridge. 1996. History of the Main Complaint. Animasiefilm.

  •