Woordfees 2018. Skrywersprogram
Saturday, February 10th, 2018Woordfees 2018
Stellenbosch 2 tot 11 Maart
*
Vir digters is daar vanjaar heerlike proekos!
Hieronder volg gedeeltes uit Woordfees se program wat alle
digkunsliefhebbers sal geniet. Die volledige program kan hier afgelaai word.
Besoek ook Woordfees se webwerf vir meer inligting.
AANBIEDINGS

Antjie Krog
ANTJIE KROG – SUSKE EN WISKE EN MANDELA
Met: Daniël du Plessis, Willem Samuel en Loyiso Mkize
Honderd jaar ná Mandela se geboorte kyk Antjie hoe hy – én Suid-Afrika – uitgebeeld word in twee Vlaamse comics uit die Suske en Wiske-reeks. Ná die visuele aanbieding gesels sy met drie jong plaaslike comics-kunstenaars.
7 Maart 09:30
90 min | Drostdy-teater | R50 | R60 by die deur

Leonard Cohen
DAMES EN HERE, LEONARD!
Met: Danie Marais, Kerneels Breytenbach en Andries Bezuidenhout
Die Kanadese digter-troebadoer, skepper van ‘Suzanne’ (1967) en ‘Hallelujah’ (1984), is in November 2016 op 82 dood ná ‘n verstommende oplewing laat in sy loopbaan. ‘n Deeglike evaluering van die poësie in sy lirieke, met nuwe insigte, baie bewondering en heelwat heimwee. As bonus sing Andries, nogal saam met Lise Swart, die onbekender lang weergawe van ‘So long, Marianne’.
8 Maart 17:00
75 min | Drostdy-teater | R50 | R60 by die deur
BOEKGESPREKKE

Adam Small. Foto: Nadien Masie
Adam Small: Denker, digter, dramaturg
Met: Sandra Kotze, Cobus Rossouw, Steward van Wyk en Pieter Odendaal
Aangebied deur Protea Boekhuis
In 1974, tydens die eerste professionele opvoering van Kanna hy kô huis toe in die toe Nico Malan-teater, was die wit gehoor in vervoering oor dié poëtiese “nuwe stem”. Sandra was Makiet onder regie van Pieter Fourie en Cobus, Kanna. In ‘n gesprek met Heindrich Wyngaard onthou dié twee teatergrotes daardie vroeë verhoogdae, terwyl Steward terugkyk na Small se letterkundige nalatenskap en Pieter sy aangrypende gedig voorlees oor sy pa en Adam Small.
7 Maart 15:30
60 min | ATKV-Boektent | R50 | R60 by die deur
Jolyn Phillips. Foto: Pierre J Olivier
CONVERSE
Met: Pieter Odendaal, Adrian ‘Diff” van Wyk, Koleka Putuma, Lwanda Sindaphi, Jolyn Phillips en ander
‘n Baldadige viering van gedigte in vier tale deur die InZync-span. Om dié veeltalige poësiebundel, waarin die werk van 16 vars stemme versamel is, bekend te stel gaan ‘n tiental jong digters mekaar probeer troef met heen-en-weer vertalings tussen Afrikaans, Xhosa, Engels en Tswana.
5 Maart 20:30
90 min | Drostdy-teater | Gratis
DANA SNYMAN EN NATHAN TRANTRAAL – DIE KLEURE VAN ONS LAND
Aangebied deur Tafelberg en Kwela
‘n Reisskrywer en digter vertel elkeen skrynend eerlik die stories van hulle mense – Dana in sy reisverhaalbundel Op pad, en Nathan in Wit issie ‘n colour nie, oor die lewe in die buitewyke van die Kaapse Vlakte. Loftus Marais vra hulle uit.
9 Maart 10:30
60 min | ATKV-Boektent | R50 | R60 by die deur
Gilbert Gibson
DIGTERSPARADYS
Aangebied deur NB-Uitgewers, Naledi en Penguin Random House
‘n Jaarlikse hoogtepunt wanneer bekende en debuutdigters hulle werk deel. Gilbert Gibson, Jolyn Phillips, Pieter Fourie, Fourie Botha, Daniel Hugo, Clinton V. du Plessis en Nuwe Stemme 6 se Remona Voges en Jaco van der Merwe lees voor.
10 Maart 17:00
90 min | ATKV-Boektent | R50 | R60 by die deur
.
ELIZE BOTHA AS GESPREKSGENOOT – ‘N BRIEWEBOEK
Aangebied deur Litera
Chris van der Merwe gesels met samesteller Heilna du Plooy en wyle Prof. Elize Botha se dogter, Liesbeth, oor die briewe deur en aan dié geliefde literator en oud-kanselier van die US aan van die bekendste skrywers en letterkundiges van daardie tyd, en wil in besonder weet wat die verantwoordelikheid is wanneer ‘n mens werk met sulke persoonlike korrespondensie.
2 Maart 12:00
60 min | ATKV-Boektent | R50 | R60 by die deur
.
Ingrid Jonker
INGRID JONKER – DIE LAASTE BIOGRAFIE
Aangebied deur Penguin Random House
Petrovna Metelerkamp het al die inligting wat sy oor dié kultusdigter versamel het nou bygewerk met indringende nuwe navorsing en eksklusiewe foto’s. Sy vertel vir Karin Schimke hoe talle voorheen onbeantwoorde vrae oor Ingrid se lewe en dood beantwoord word en hoe die beeld weerlê word wat die wêreld van Ingrid het. Sy wys van die foto’s en speel ook ‘n opname van ‘n voorlesing deur Ingrid self.
6 Maart 11:30
60 min | Drostdy-teater | R50 | R60 by die deur
JOHANNES DE VILLIERS: KALMTE IN DIE MALLE GEJAAG
Met: Erns Grundling
Aangebied deur Human & Rousseau
Jy wil stilstaan by dit wat saak maak, maar dit voel onmoontlik. Kom luister hoe Johannes aan Erns vertel wat dit beteken om “bewus”, of mindful, te lewe en na sy praktiese raad. Of kom 30 minute vroeër, laat hy jou wys hoe om die stilte te ervaar en in die oomblik te lewe.
6 Maart 17:45 Mindfulness-oefening | 18:30 Gesprek
105 min | Botaniese Tuin | R40 studente | R50 | R60 by die deur (Botteltjie water ingesluit)
Bibi Slippers. Foto: Pierre J Olivier
LOFTUS EN BIBI: SLEGTE SEKS & GIN
Met: Loftus Marais, Bibi Slippers, Desmond Painter, Ryan Pedro, Annie Klopper, Andries Bezuidenhout en Charlotte van den Broeck
Daar is te min gedigte oor slegte seks in Afrikaans, en te veel oor die natuur, voëls, God en die liefde. Ses Afrikaanse digters, een Vlaming en ‘n studentedigter is genooi om as deel van ‘n Vrydagaandse gin bar ‘n nuwe gedig oor slegte seks te kom voorlees saam met ‘n paar ander.
9 Maart 18:00
85 min | Drostdy-teater | R50 | R60 by die deur
Marlene van Niekerk
MARLENE VAN NIEKERK – DIE DIGTER
Aangebied deur Human & Rousseau
Vier jaar ná Kaar verskyn twee digbundels deur dié Hertzogpryswenner vir poësie. Louise Viljoen ontsluit die beeldgedigte van In die stille agterkamer en Gesant van die mispels aan die hand van foto’s van die werk van die Nederlandse skilders Adriaen Coorte (1659-1707) en Jan Mankes (1889-1920), waarop die gedigte gegrond is. In ‘n opname kan Marlene ook gehoor word waar sy self van die gedigte voorlees.
9 Maart 10:00
60 min | Drostdy-teater | R50 | R60 by die deur
.

Philip de Vos
PHILIP DE VOS: VANDAG IS EK ‘N WINDLAWAAI
Met: Piet Grobler
Aangebied deur Protea Boekhuis
Stuitige rympies is sy kos, maar ook insiggewende radioreekse oor klassieke komponiste. Met Vandag is ek ’n windlawaai, geïnspireer deur Robert Schumann se klavierwerk Kinderszenen, kombineer Philip dié twee talente en saam met Tertia Visser-Downie se klavierspel en die vertoning van Piet Grobler se sensitiewe illustrasies, word die aanbieding ‘n speelse, maar ook dromerige hunkering na kindwees.
6 Maart 14:00
60 min | Drostdy-teater | R50 | R60 by die deur
.
SCHALK VAN DER MERWE: ON RECORD
Met: Andries ‘Roof’ Bezuidenhout
Aangebied deur African Sun Media
In On Record; Music an Society in Recorded Popular Afrikaans Music Records, 1900-2017 bekyk Schalk die geskiedenis van opgeneemde populêre musiek – van die eerste opnames van die Transvaalse volkslied tydens die Boereoorlog, tot Steve Hofmeyr se optredes die afgelope twee jaar. Hy en Andries gesels oor wat hy raakgesien het en maak daarna saam musiek.
7 Maart 17:00
85 min | Drostdy-teater | R50 | R60 by die deur
.
TANT ANNA EN DIE 25 SHAKESPEARE-SONNETTE
Met: Karin Hougaard
Op 80 het Anna Neethling-Pohl, drama-doyenne en skoonsuster van NP van Wyk Louw, 25 van Shakespeare se sonnette in Afrikaans vertaal – “om te bewys dat ek nog kan “. Dié gedigte is nou op CD beskikbaar, voorgelees deur Karin Hougaard. Karin gesels oor die ontstaan van die projek met Ingrid Glorie, koördineerder van die Week van de Afrikaanse roman, en lees van die gedigte voor met musiek wat spesiaal vir die CD geskryf is.
5 Maart 14:00
60 min | Drostdy-teater | R50 | R60 by die deur

Danie Marais
TREE AAN: DIGTERS IN AKSIE!
Met: Danie Marais
Moontlik gemaak deur NB-Uitgewers, die Kaapse Forum vir Neerlandistiek, SASNEV en die Vlaamse Regering
Van die Kaapse Vlakte tot Antwerpen wys dié digters wat van ‘n gedig ‘n show maak. Die Kaapse rapper en woordtowenaar Churchil ‘Meneer Naudé’ Naudé, die Gansbaaise digter Jolyn Phillips en die veelbekroonde Vlaamse digter en verhoogkunster Charlotte van den Broeck vertel – en wys –hoe jy poësie voordra, uit jou kop lees, met die gehoor speel, kletsrym, en jou verhoogvrees beheer sónder om beheer te verloor.
10 Maart 14:00
60 min | ATKV-Boektent | R50 | R60 by die deur
VROUE IN VERANDERING
Met: Christi van der Westhuizen, Sylvia Vollenhoven, Annie Klopper en Bettina Wyngaard, in gesprek met Lou-Marie Kruger
Wat haar fassineer van ’n manlike teenwoordigheid, sê Antjie Krog nadat sy die Hertzogprys vir poësie ontvang het, is “mans gaan nooit net weg nie, mans vat ook die mag saam met hulle weg en dan bly daar nou net ’n klomp vrouens oor en skielik daal die statuur van daardie beroep”… Op Internasionale Vrouedag debatteer vier skrywers oor vroue en hulle identiteit in Suid-Afrika vandag: Hoe het dit verander, hoe kry dit in hulle werk beslag, is daar so iets soos vroue wat mekaar bemagtig, of is presies die teenoorgestelde waar?
8 Maart 15:30
60 min | Drostdy-teater | R50 | R60 by die deur
VISUEEL EN WOORD
MIGRATIONS-MIGRASIES
Met: Piet Grobler, Paddy Bouma, Dale Blankenaar en Roger Mello van Brasilië
Meer as 300 illustreerders wêreldwyd het poskaarte gemaak ter ondersteuning van vlugtelingkinders wat in dié reisende uitstalling, met Piet as kurator, versamel is. MIGRATIONS is pas terug van Bratislava in Slowakye en van die Woordfees af op pad na Japan, Engeland en die internasionale kinderboekfees in Italië in 2019. Kom kyk na die hangende uitstalling in die voorportaal van die Visuele Kunste-gebou en luister na Piet in gesprek met van die kunstenaars tydens die opening.
5 Maart 18:00 Opening
60 min | Visuele Kunste-seminaarkamer | R50 | R60 by die deur
.
ROGER MELLO: ‘KWAAI PAPEGAAI’
In gesprek met Piet Grobler
Piet, seker een van ons bekendste illustreerders en deesdae professor van illustrasie aan die Universiteit van Worcester in Engeland, gesels met dié multibekroonde illustreerder uit Brasilië. Roger, ‘n gewilde en gesogte gas by boekfeeste wêreldwyd, het in 2014 die hoogste eer vir kinderboekillustrasie ontvang, die Hans Christiaan Andersen-medalje, vir sy delikate, kleurryke werk wat in die Visuele Kunste-gebou te koop is. Piet gesels met hom oor sy lewe, visuele taal en temas.
6 Maart 10:00
60 min | Drostdy-teater | R50 | R60 by die deur
.
WILLEM SAMUEL: SKREE ALLEEN, ‘N ‘SINGENDE’ UITSTALLING
Skree Alleen is ‘n stilgebore, vroeë naughties punk band wat dié multi-dissiplinêre kunstenaar her-animeer deur ‘n samevlegting van installasie, musiek en animasie. Die lirieke is die katalisator vir ‘n singende uitstalling wat die besoeker ‘n anderwêreldse ervaring van musiek en digkuns gee en heelweek ervaar kan word. Skree Alleen tree eksklusief op tydens die openingsgeleentheid – kom luister en kyk.
6 Maart 18:00 Opening
60 min | Visuele Kunste-Seminaarkamer 1008 | R50 | R60 by die deur
<< >>