Posts Tagged ‘Yanni Euterpe’

Nini Bennett. Die muse Yanni Euterpe in die poësie van De Waal Venter

Friday, December 10th, 2021

 

 

Die digter De Waal Venter maak melding van sy persoonlike muse, Yanni Euterpe in sy jongste bundel, Vrugbeginsel (Naledi, 2021). In die Griekse mitologie beliggaam die muses die godinne wat as inspirasiebron vir die skeppingsprosesse in die kunste en wetenskappe gedien het. Zeus en Mnemosune, die godin van geheue, het nege dogters gehad. Kalliope was die godin van epiese digkuns; Klio, van geskiedenis; Erato, van liriese digkuns; Euterpe, van musiek; Melpomene, van tragedie; Polumnia, van korale digkuns; Terpsichore, van dans; Talia, van komedie en Urania van astronomie. In die laat klassieke periode was Euterpe ook die godin van liriese poësie genoem.

Sommige skrywers, digters en kunstenaars is sinoniem met hulle muses. Alhoewel ’n muse binne ’n antieke konteks op ’n jong of beeldskone vrou dui, reflekteer die beskouings van muses vandag op meer as een faset van hierdie inspirasiebron. Die digter T.T. Cloete se vrou, Anna was ’n persoonlike muse en vrou: hy het talle gedigte óór en vir haar geskryf. ’n Tweede muse by Cloete is waarskynlik die Goddelike muse wat in onder meer Karnaval en Lent gestalte vind as “die Onbegryplike”; die “Onnoembare”; die “Aanwesige Afwesige Krag”; die “kosmiese argitek”; die “Onbemande Krag” en die “Ontoeganklike”. Ook Breyten Breytenbach staan bekend vir sy muses. Een voorbeeld hiervan is sy bundel, Lotus (1970) met ’n foto van sy vrou, Hoang Lien voor in die betrokke bundel. Hoang Lien beteken “goue lotus” en die bundeltitel asook die inhoud maak aanspraak op die muse as ’n reële en herkenbare vroulike persoon. Die skrywer en digter, Jeanne Goosen word begelei deur musiekmuses byvoorbeeld Frédéric Chopin wat as teringagtige, tenger of lydende figuur gestalte vind dwarsdeur haar oeuvre tot in die nagelate Het jy geweet ek kan toor? (2020). Goosen se oeuvre eggo dus ’n klankbaan, musikale intertekste waarin atmosfeerskepping deel van hierdie inspirasieprosesse vorm. En van komponiste gepraat: Hector Berlioz se muse was ’n jong meisie wat hy as twaalfjarige seun tydens ’n vakansie vir die eerste maal gewaar het. Haar naam was Estelle Fornier. In die komponis se Symphonie Fantastique sinspeel die leitmotief op die verlange en nostalgie na hierdie eternal feminine. Berlioz het selfs vyftig jaar nadat hy vir die eerste maal oë op Estelle gelê het, na haar verlang; sy het gedien as bron van inspirasie vir talle van sy komposisies. Neruda, op sy beurt se muse was sy vrou, Matilde Urrutia. Beatrice Portinari, weer, staan bekend as Dante se muse. Vandag kan muses, in die wydste sin van die woord dui op ’n persoon, meesal ’n vrou; ’n voorwerp of plek, ’n spirituele of Goddelike krag en ten laaste, ’n simboliese of meditatiewe beginsel soos om te reis.

In De Waal Venter se oeuvre en meer spesifiek in sy jongste bundel, Vrugbeginsel figureer die spreker-digter se muse genaamd Yanni Euterpe. Venter doen moeite om sy muse werklikheidsgetrou en selfs driedimensioneel aan die leser te verbeeld. “Euterpe” in dié muse se benaming skakel met die antieke Griekse muse van liriese poësie, terwyl die voornaam “Yanni” hierdie muse vir die spreker-digter verpersoonlik.

In April 2020 het Yanni Euterpe ’n draai op Versindaba gegooi in ’n vorm van virtuele teater, ’n ekshibisionistiese vertoon van Venter se muse op ’n digitale platform. Die digter en sy muse het heerlik gekorswel en gemeenplase uitgeruil in die kommentaarkolom:   https://versindaba.co.za/2020/04/09/de-waal-venter-gesprekke-met-yanni-euterpe/?fbclid=IwAR2PwyNBb-kge6Vd_U-ci6y78HngNLrmkFvISiORNbv76rDDuehg-CREkis

Yanni Euterpe, die Griekse nimf van liriese poësie beweeg dus anachronisties op die tydlyn antiek – modern, wat aan haar ’n tydlose kwaliteit verleen. In die gedig, “Gesprekke met Yanni Euterpe” (83) stel die spreker vir Yanni bekend aan die leser:

 

“Ek het, tot my verbasing, ontdek dat ek ’n muse het. Sy help my poësie skryf…wel, ek moet eerlik erken, sy dikteer dit eintlik vir my.”

 

Die betrokke deel 4 wat oor Yanni Euterpe handel bevat prosaïese segginge afgewissel met verse, dié wat Yanni dan aan die spreker dikteer.

Die muse is ’n beeldskone jong vrou en as inspirasie tot liriese poësie word sý self in liriese digterlike taal beskryf. Sy besoek die spreker waar hy in die bad sit en ’n erotiese aantrekkingskrag blyk dadelik:

 

Haar naakte liggaam

weerkaats die sonlig,

amandelwit,

sagte kurwes, krulle van appelskille,

sagte katjiemondjies,

getint met ’n polsende rooi.

[…]  (83)

 

In die bekendstellingsvers word daar verwys na Yanni se kleding as “chiton”, ’n tuniek wat haar binne ’n antieke Griekse konteks posisioneer. Verdere beskrywings op p. 87 bevestig die historiese herkoms van hierdie muse:

 

“Haar hare is vasgevang agter haar kop in ’n soort bolla en sy dra ’n string Venesiese glaskrale met lewendige kleure wat mekaar uitdaag in ’n goedige gestoei. Ek kan sweer sy het ’n paar druppels Chanel aangetik.”

 

Die verwysing na bovermelde parfuum suggereer dat Yanni nie bloot ’n antieke muse beliggaam nie, maar dat sy as tipe transfigurasie tussen die moderne en die mitologiese optree.

Die ruimtelike inkleding in die reeks gedigte wissel van binnenshuise tot landskapstonele.

 

“Die walvisrug van Robbeneiland is vandag taamlik wasig, seemis is besig om toe te trek. Ek gaan sit oorkant haar.” […] (90).

 

Yanni Euterpe word nie beperk deur lokaliteit nie: sy beskik oor magiese eienskappe soos om vrymagtig deur mure en deure te beweeg. Die beskrywings van dekor in die verse resoneer met antieke Griekeland en Venter werk outentiek met die inkleding van sy detail.

 

“Yanni sit by ’n tafeltjie en kyk uit oor die see. Voor haar staan ’n beker met rooiwyn. Dit is ’n ornamentele beker gemaak van piouter. Figure van atlete en gode word daarop uitgebeeld.” (90).

 

In bykans alle verse beveel Yanni Euterpe die spreker om dít wat sy sê, neer te skryf. Die magsdinamiek is een van ’n mitologiese godin wat aan ’n sterflike (digter) liriese poëtiese segginge dikteer. Hierdie oordrag van poësie geskied egter nie sonder humor nie. In “Elektriese voëls rook nie sigare nie” (85 – 6) maan Euterpe die spreker om sekere inligting, wat hy nie verstaan nie, te “Google”. Met ander woorde ’n antieke Griekse nimf verwys ’n moderne menslike digter na hipermoderne tegnologiese soekenjin.

Die kantelende magsverhouding tussen muse en man word vervolgens verbeeld in “Afskryf van ’n gedig is nie maklik nie” (87 – 8), die slot:

 

“Hoekom nie? vra sy en staan op. Want ek is ’n mens! Antwoord ek verleë.

Dis nie ’n verskoning nie, gooi Yanni terug en stap na die muur.”

 

Venter se muse is eg menslik, soos die vroulike ydelheid, wat gestalte vind in die vers “Wyk Louw se vaas” (98 – 9) getuig:

 

“Yanni stap in en kyk vir haarself in die spieël. Sy lek haar wysvinger se punt en begin haar een wenkbrou gladstryk.

Ek maak keelskoon en vra: Wat moet ek skryf?

Sy antwoord nie dadelik nie, maar vra na ’n rukkie: Lyk ek soos Frida Kahlo?”

 

Dit blyk voorts dat hierdie muse gekonfyt is in die spel van intertekstualiteit. In bovermelde vers word “X.” in “Tristia, elegiese verse” soos dit verskyn in Louw se bundel, Tristia, betrek.

 

“[…] antwoord Yanni en gaan dadelik voort – skryf:

Wyk Louw wou die vaas

ongeskonde deur die skare dra.”

[…]

 

Venter se vers verestetiseer die vaas as erotiese vroulike artefak teenoor Louw se elegiese beskouing:

 

“Bruin asters staan aan’t verwelk word in ’n vaas

wat blou is, erd, – aarde –; en ek weet:

hierdie woord sal nooit geweet word en nie bly nie:”

[…]

 

Afgesien van Yanni Euterpe se bevele om digterlike segginge áf of neer te skryf, inspireer sy die ouer manlike spreker ook op erotiese wyse. In “Sleuring van die minnaar” word die spreker liggaamlik so meegevoer deur ’n druppende kraan in die wasbak dat hy en Yanni saam ’n metamorfose beleef:

 

“Haar lyf

is stewig soos ’n jong wilgerboom

teen myne.

Sy buig effens

en haar hande is koel blare

om my kop.

 

Die hitte is nie net van die son nie,

dit is ’n kernreaksie

êrens in my lyf;

miskien is my hele liggaam

besig om oor te gaan in energie.

 

Sy het in ’n rivier verander.”    (94)

 

In die daaropvolgende gedig, “Water” (96) besing die muse vervolgens die oseane van die aarde.

In die laaste vers in hierdie reeks bevestig Yanni Euterpe haar simultane beweging deur tyd en ruimte en ek haal aan uit “Leë hand” (100):

 

“Ek hou van jou rok, sê ek. […]

Sappho hou ook daarvan, antwoord sy. Ek was nou net daar.”

 

Die woord “afskryf” binne die register digter : muse verkry ’n verdere ironiese betekenis – dit is Yanni wat dié keer “afskryf” van die digter Paul Celan. Soos reeds genoem is sy intertekstueel geletterd.

 

“Skryf nou, sê sy.

 

Die jong minnaars se liefde

bloei soos rooi papawers, dikteer sy.

Ek kyk op: Maar dit klink soos ’n reël

uit ’n Celan-gedig!

[…]               (100)

 

Die gedig waarna die spreker verwys is inderdaad “Corona” van Paul Celan. Intertekstualiteit as die ruie substrata van tekste (of sitate) kom ter sprake. Die spreker, wat die interteks herken en effens gekwel is oor die duplisering van digterlike idees, open sekere kwelvrae onderliggend aan intertekstualiteit – byvoorbeeld dié van literêre bevoegdheid of literary competence: waar eindig ’n bestaande digterlike segging en wanneer begin ’n nuwe digterlike idee, of vorm dit deel van die teksgerigte produksieproses? Daar is inderdaad niks nuut onder die son nie. In die slot van die vers blyk dit dat die spreker ten volle aangewese is op sy muse vir digterlike inspirasie. Die reeks eindig:

 

“Yanni staan op, kyk na my en wys my haar oop palm. Daar is niks in nie. Skryf, beveel sy en stap weg deur die muur. Verder kan ek niks skryf nie, behalwe dat haar palm leeg was.” (101).

 

Die muse, die geleier van kreatiwiteit sinjaleer die onoorbrugbare versperring tussen mens en mitiese godheid. Die leë palm kan bes moontlik dui op onvoltooide digterlike skeppingsprosesse. Die spreker se afhanklikheid van Yanni Euterpe blyk bloot ’n reproduksie van bestaande digterlike idees, soos ingegee deur die muse, te wees. Of, soos Ray Bradbury tereg gesê het: I’m not in control of my muse. My muse does all the work.”