Posts Tagged ‘Zandra Bezuidenhout Derde Gety resensie’

Resensie: Derde gety (Zandra Bezuidenhout)

Wednesday, November 3rd, 2021

 

Derde gety deur Zandra Bezuidenhout. Human & Rousseau, 2021.

Resensie: Stefan van Zyl

 

Presies 20 jaar nadat sy die Ingrid Jonkerprys vir haar debuutbundel, Dansmusieke (2000), in 2001 ontvang het, verskyn digter, vertaler en literêre kritikus Zandra Bezuidenhout se derde digbundel, Derde gety (2021). Die motto voorin die bundel kom uit die Nederlandse digter Maria van Daalen se verssiklus “Het gebed: Rozenkrans, of het gebed voor een goede dood” in haar digbundel Het geschenk/De maker (1996):

Één is de samensmelting, twee de deling,
drie de onophoudelijke herhaling
die weglegt wat materie wordt en opnieuw maakt.

Gelees teen die Rooms-Katolieke agtergrond van Van Daalen se vers wat op die struktuur van die rosekransgebed geskoei is, verkry die titel van Bezuidenhout se bundel ʼn gelaagde betekenis: die derde gety (oftewel terts) verwys na die derde van die sewe kanonieke ure wat met Pontius Pilatus se vonnis van Jesus, asook die uitstorting van die Heilige Gees tydens Pinkster, verband hou. ʼn Rosekransgebed is ʼn besinning oor die lewe, lyding en opstanding van Jesus, en vanuit hierdie perspektief is Derde gety ʼn soort getyboek oor die sikliese aard van die lewe en gepaardgaande swaarkry, maar veral ook hernuwing, herskepping en herontdekking.

Die bundeltitel aktiveer ook die eindelose kentering van die see en die verstegniese saamsnoering van hierdie twee betekenissisteme vorm die tematiese onderbou van die bundel. In die laaste strofe van die titelvers (p. 11) word hierdie samevoeging vervat:

ʼn Derde gety spoel aan.
Op my drumpel word ek
deur wind en water herskep,
geroep tot varende wolk.

Die bundel bevat 64 verse wat in ses afdelings verdeel is: “Kontreie”, “Sinneryk”, “Vrou-beeldig”, “Dinkgoed”, “Die makers”, en “Lament”. Die verse in die eerste afdeling is ʼn huldeblyk aan die Kaap en omgewing met heelwat verwysings na die see. Die see as poëtiese agtergrond is ʼn wederkerende verskynsel in Bezuidenhout se oeuvre, soos gesien in die vers “Moeder en kind” in haar debuutbundel:

Moeder en kind

Smiddags as die ma wat slaap
die kind die see belet
dan hét die kind
onder die pawiljoen gaan speel
waar branders sagte boë spoeg
en later met hoogwater
maalkolk om die fondament
se dik pilare.

Dan moes die kind
haar tone om die skulpebedding krul,
van dryfskuim om die enkels ril
en gil in die gety
met die breek en terugtrek
van die see se asem,
soos ʼn grot wat sug

In die stil en gladde tellings,
terwyl die nat sand voortjies trek
en krappatroontjies in die sagte spieël bly lek,
begin die kind soos seegras sleep
oor rotse, gly oor geel-groen mos;
swik in die wind oor warm sand,
oor teer wat brand.

Tingerige kind
met die pap, wit strik,
terug na die hoekhuis, nommer 15,
waar die ma, as sy wou,
in die kind se kykers al kon sien
dat sout en sand aan twee dun beentjies klou.

In Derde gety sit sy hierdie beeldende tradisie voort, en veral die ses kort verse in “Spoelgoed” (pp. 16-17) is klein seeskappe in digvorm, tekenend van die digter se vermoë om fyn, gedetailleerde waarnemings te verwoord:

3. Kunskamer

Komme van witblink perlemoer lê leeg;
swart en indigo traseer
mossels se gepolyste binneblou
in die styl van art nouveau
Neffens kruike en rooi krewe op ʼn kas
word glansskulpe met fyn krake
opgestel vir pronkstillewes en vanitas.

Met die gebruik van woorde soos “traseer” en “gepolyste” dra sy ook by tot die herontdekking en bewaring van “verbleikte spoelgoed” wat nie sommer meer deur Afrikaanssprekendes gebruik word nie. Die idee van die see word verder versterk deur die skildery van Andries Gouws getiteld Stoel in ateljee, Molyvos, Lesbos, Griekeland wat vir die voorblad gebruik is. Die verskillende skakerings van blou resoneer met die digter se waarnemings gekleur deur nostalgie en melankolie wat deurentyd in die bundel teenwoordig is. Die minimalistiese plasing van die stoel verteenwoordig voorts ʼn bevrydende losmakingproses wat sommige van die verse in die bundel kenmerk, soos byvoorbeeld in “Aflegging” (p. 70).

Benewens beeldryke beskrywings van kontreie bevat die eerste afdeling ook herinneringsverse aan vervloë dae en mense (“Op skerp gestel” (pp. 20-21), “Paradys” (pp. 22-23) en “Kaap van spieëls” (p. 26)). Bezuidenhout skram ook nie weg van die kwessie van naamsverandering, sowel as die maatskaplike uitdagings en ongelykhede in die kontreie waarin sy haar bevind nie. Verse soos “In beeld, wisselend” (p. 13), “Perspektief” (p. 14) en “Die vangs” (p. 18) dien as voorbeelde van haar bewustheid van hierdie uitdagings. Dit is veral die laaste vers in die afdeling, “Dubbelvisie” (p. 27), wat verras:

Dubbelvisie

Die transgender Kaapse suster
is soos die oostewind ʼn heer
met vlaswit pruik
wat vlerksleep teen die berg.
Hy stop ʼn balrok op
om soos ʼn wolk met borste
oor Duiwelspiek te kattemaai
en snags in die dokke
amok te maak.

Bedags neem hy die geslag
van sy geboorte aan, word weer
die donker kêrel met ʼn klokpypbroek
wat vir vooraanstaande vroue hoede maak.

Hy dos die glitterati op in sjiek dotjies
met ʼn rapsie tooigoed van die Parade,
of skep breërand-sensasies
vir Saterdae se perderesies by Kenilworth.
Voor die spieël pas die vakman
sy eie skeppings op, fop homself
en wieg sy heupe soos ʼn vrou.

Op sy tuisdorp het sy moeder ʼn spesmaas
waarmee haar seun hom besig hou.
Kom sy Kaap toe met droëwors
en ʼn handgebreide kabeltrui
herken sy in die wispelturigheid
van die Swartsuidoos
haar seun se dubbelheid

Maar jy vra die wind
nie na sy Tafelbergse sluier nie,
jou Kaapse kind
ook nie na syne.

Die digter se begrip van en empatie met (queer) genderkwessies kom hier aan bod en die plasing daarvan aan die einde van die afdeling vervleg die natuurlike Kaapse omgewing treffend met die sosiomaatskaplike kwessies wat daagliks daarin afspeel. Hierbenewens is daar by Bezuidenhout ʼn bewustheid van die feit dat die lewe nie slegs uit binêre opposisies bestaan nie, maar dat daar ander moontlikhede is. Die bundeltitel kan dan ook vanuit hierdie perspektief beskou word met die skep van ʼn derde gety – dus ʼn alternatiewe gety of lewensbeskouing.

In die tweede afdeling, “Sinneryk”, word die huldeblyk aan die Kaap en ander herinneringe verder uitgebrei met sintuiglike verse wat geïnspireer is deur die streek self asook reise na ander lande. Die titel van die afdeling is tweeledig aangesien dit verwys na die rykheid wat sintuiglike ervarings meebring, sowel as die ryk of omgewing waarin hierdie sintuiglike waarnemings en belewings plaasvind. Die vers “Parfumerie” (p. 41) is een van die beste voorbeelde van hierdie tweeledige betekenis:

Parfumerie

Rondom Grasse bloei die heuwels
verby hul purper einders –
die dag gaan oop
soos ʼn vrou wat opstaan
uit lakens van laventel.

Smiddae wiek skaduwees met hoede
tussen linte sterjasmyn
onder sipresse stryk hulle aan
na die klipkoel kelders
van ʼn befaamde parfumerie.

Voor hul oë verloop die alchemie:
moderne magiërs stook olies
uit blomblare en kruie;
die aromas van Provence biggel in glas.

Van Tokio na New York
breek hande in die rookblou uur
die seël van ʼn flessie Fragonard;
parfuum stuif uit kristal,
rus in die hals en verwen die polse –
ʼn fleurige boeket met botone van speserye
berei vir die allure van die lyf.

Die vrou word op verskillende maniere in ekfrastiese, erotiese, liefdes- en ander verse in die derde afdeling, “Vrou-beeldig” uitgebeeld – meestal teen die agtergrond van die natuur. Lees gerus Joan Hambidge se resensie van die digbundel waarin sy redelik uitgebreid oor hierdie tematiek skryf.

Die vierde afdeling, getiteld “Dinkgoed”, gee aan die leser presies dít: stof tot nadenke, veral in die vorm van verkennings van die verhouding tussen die mens en die aarde teen die agtergrond van reise en ontdekkings. Daar is beskouings en vrae oor identiteit en ontheemding, en die komplekse verhouding tussen ouers en kinders word ook in die laaste vers in die afdeling ondersoek. Die verwysing na die “bidsnoer” in die vers “Bagasie” (p. 67) sluit aan by my interpretasie van die bundeltitel en motto.

Afdeling vyf, “Die makers”, slaan terug op Van Daalen se bundeltitel waaruit die motto kom, en huisves ars poëtikale verse, verse oor mededigters en -skeppers, asook verse oor die skryfproses en taal. Die vers “Aan die poësie” (p. 76) is ʼn sprekende voorbeeld van die (liggaamlike) intensiteit waarmee die digter haar skryfkuns ervaar:

Aan die poësie

Met die eerste impuls
stoot asem deur die glottis –
lug op weg na ʼn gedig.

Vokale en konsonante
bengel in die mond,
in tweë, drieë
bons hulle teen die lippe
om die beiaard te verlaat.

Op die klankstroom
swerf amorfe woordbrokke
op soek na vorm-met-betekenis,
deur styging en daling
kom versvoete in beweging:
reëls en strofes kry kadans,
tot een rym of lettergreep te veel
die maatslag kelder.

Die digter herken sy oordaad
en verbrand die adders;
bo die gesis van vet en vel
styg ʼn ritmiese kartets –
uit die rook werwel die rugstring
van ʼn nuwe vers.

In pas met die afdeling “Vrou-beeldig” intensiveer die onbeskroomde vers “Vroue wat bloei” (p. 79) die skryfervaring selfs meer deur dit met die eerlike ervaring van vroue te koppel:

Vroue wat bloei

ʼn Geslag gekwetste susters
grif hul wrewel met penne in die aarde,
bloed vries oor die letterwerk
en splinter tot gedigte.

Dapperes loop die veld in
op soek na kuile en soet vleie
om hul woedende monde te lawe;
hulle slobber, die tonge klink in tale.

Snags vonk kodes in hul skedes,
deur sterre word hulle bevrug
tot draers van tekste.
Hul borste spuit voortydig
om die ongebore woorde te soog,
die oorvloed melk hulle uit
en drup dit soos toorvroue oor hul lippe,
verse wel in hul monde op.
Dit is die tweede bloeding:
al skrywende ledig die vroue hulself.

Die laaste afdeling van die digbundel, “Lament”, bevat verse gerig aan die digter se gestorwe vader, verse oor veroudering en die dood, sowel as ʼn lykdig vir Elisabeth Eybers. Die slotvers, “wensbeeld” (p. 93), getuig van die digter se nugtere beskouing van die onvermydelike:

wensbeeld

dat ons in die loop
van ʼn onvoltooide dag
stil soos distels
aan die planeet mag ontheg
verby die klou en kleef
sal aanbeweeg

mag ons die gesels van die seë optel
ingestem op die akkoorde
tussen wind en water,
tot ons self siklus word
– lewe vervat in lewe –
wanneer ons op so ʼn dag
die bekende territorium verlaat
maar lig, soos stippels lig

Derde gety is myns insiens ʼn uiters geslaagde bundel met verse wat getuig van weloorwoë digterskap. In hierdie laatwerk bied Zandra Bezuidenhout haar intense belewing van die lewe en nugtere herbesoek aan herinneringe in die mooiste meesleurende Afrikaans aan. Soos vloeiende water wissel sy tussen die uiteenlopende kontekste waarin sy haar bevind – altyd gelens deur die natuur met die seemilieu as onderliggende eb en vloed wat lesers telkens sal laat terugkeer vir ʼn herlees.

Kyk ook gerus na Ronel de Goede se onderhoud met Zandra Bezuidenhout en luister na Antoinette Kellerman se voorlesings van enkele verse uit Derde gety.