Posts Tagged ‘Zandra Bezuidenhout gedig’

Zandra Bezuidenhout. Digterslaboratorium

Monday, February 28th, 2022

 

Digterslaboratorium 

 

Volgens die fisici word poësie

allermins deur muses ingegee.

Verskonstruksie geskied verstandelik

deur ‘n bewuste koppeling

van boustof en beweging;

die swaartekrag van woorde,

soos die vloei, word geskoei

op verhoudings en formules.

Oorsaaklik dus, logies en berekend

kry die gedig beslag.

 

‘n Gepeuter aan die teks

versit die steunpunt,

maar die hefboomwet word toegepas

vir ‘n sinvolle verplasing

van mag en las; versreëls word verdig

of uitgebrei vir ewewig.

Selfs rympatrone of eggo’s

is ‘n beheerde klontering van klank

om ‘n bepaalde pool.

 

Die prosessering van ‘n vers

bly ‘n serebrale eksperiment,

maar is die prosodie geaard

in bloedlose analoë uit die fisika?

Die wetenskap se onbewoënheid

noop die muse om in te gryp:

sonder tabelle of grafieke

ontgrendel sy die onbewuste.

Uit ‘n beeldestroom

word taal voorwetenskaplik

tot artefak omvorm.

 

© Zandra Bezuidenhout, 28 Februarie, 2022

 

Zandra Bezuidenhout. Milano, per favore! 

Sunday, January 30th, 2022

 

Milano, per favore! 

 

Mediolanum was haar naam

voor die Romeine haar gegryp het.

Vandag is sy Milano,

die liefling van Lombardye,

maar op vreemde tonge

word sy van ‘n lettergreep beroof

en heet sy Milan of Milaan

sonder haar sagte, warm “o”.

 

Maar in ‘n middeleeuse klooster

straal Leonardo se “Laaste avondmaal”

steeds teen die binnemuur

van ‘n godverlate eetvertrek,

en aan die stadsplein

steek bidders steeds kerse aan

in ‘n ornate katedraal.

 

Meer glansryk bly musiek

en mode stadsbesit.

Op trapportale in Teatro alla Scala

swier Milanese bella donnas

soos modelle van Versaci of Armani

voor hulle aan die arm

van ‘n welgeklede metgesel

plaasneem  in die ouditorium.

Ná ‘n bekende ouverture

dra die stemme van soprane

hoog en helder tot in die losies,

donker note tuimel laer, dieper

om die passie te verinnig

in die weeklaag van ‘n koor.

 

Dié wat hulle versadig het

aan beelde van Rome en Firenzi

ontdek die elegansie van Milano,

stad van terloopse estetika

in die gange en oorgange

van dag en nag.

 

© Zandra Bezuidenhout, 2021

 

Zandra Bezuidenhout. Oktoberfest

Sunday, January 30th, 2022

 

Oktoberfest

 

In die hart van die herfs

gooi München haar feestente oop

vir ‘n rasegte Duitse gefuif.

Dorstiges sit bankvas om lang tafels

al singende wieg die rye

op die maat van oempa-orkeste.

 

Die biere uit Beiere staan skuimkop

en bekers loop oor van plesier

koues en goues word by die armsvol aangedra

deur blosende Mädchens in volksdrag,

hul vlasblonde hare onskuldig

in outydse vlegsels gebind.

 

Die gees is gemütlich

en die sedigste damen und herren

word lewensgenieters.

‘n Kermiswiel draai in die naglug

met liggies soos dansende torre,

‘n gejil hits die statige Mösl aan

om astrant teen die oewers te klits.

 

Op podiums ruil die orkeste.

‘n Nuwe brigade tree aan

in halfmas-leerbroeke,

kruisbande, wit hemde en kniekouse,

elk met ‘n vrypostige veer in die hoed.

Dan skal die musiek:

trompet, klarinet, tuba en tromboon

gaan hulle lustig te buite

tot lof van die oempa.

 

Die oudstes van dae gee hulle oor

aan die nou en die hier –

nog ‘n kans, dalk die laaste,

om die lewe tot op sy droesem te vier!

 

© Zandra Bezuidenhout, 2022

 

Zandra Bezuidenhout. Relatiwiteit

Monday, June 28th, 2021

 

Relatiwiteit – MC Escher

 

 

Relatiwiteit

Litografie van Martin Escher, 1953.       

 

Waarom lei die Escher-trappe

eindeloos van bo na onder,

of andersom, en wat is die doel

met so ‘n surreële ordening?

 

Moontlik speel die litograaf

gewoon met spieëlbeelde

van elke dag se op-en-af,

tog nooi die ruimtelike wenteling

jou om te reflekteer

oor waar jy jou tans bevind,

en waarheen ‘n bepaalde trap met jou,

of jy met die trap, op pad is.

 

Die kyker wring sy nek,

sy oë fokus telkens anders

om in die oomblik

oor posisie en rigting te besin,

tot hy in waansin vra

wat bo is, en wat onder,

en waar hy moet begin.

 

Wat kompleks was,

is meteens verhelderend:

die kyker vertrek

uit ‘n persoonlike perspektief

en oriënteer hom

dienooreenkomstiglik.

Styg of daal bly relatief,

soos einde en begin.

Wie kon dit aanskouliker as Escher sê?

 

© Zandra Bezuidenhout, 2021

 

Zandra Bezuidenhout. In beeld, vlugtig

Monday, August 3rd, 2020

 

In beeld, vlugtig

 

In die afloop van ‘n bestemde dag

sal ons aan die planeet ontheg,

met vlerkgeklap in die laatson

verby die beurtsange

van lig en skaduwee aanbeweeg.

 

Soos swerfskulpe sal ons

in die ruim

die gesels van seë optel

en ons al wentelend

instem op die akkoorde

tussen sfere.

 

Ons sal asem word,

in somernagte

‘n sweem van wind,

en op die gevonde ritme

van lugstrome

mekaar vind en weer

in mekaar verloor

tot dit om ons lig word

soos die eerste dag.

 

 © Zandra Bezuidenhout, 2020