Hannalie Taute. Op soek na ‘n dieretuin.
Wednesday, November 20th, 2013Alles het seker begin by ʼn foto van Koala beertjies in ʼn Australiaanse dieretuin. ʼn Vriend het dit op ‘facebook’ geplaas en dit het my laat kriewel, want ek is nie n groot aanhanger van dieretuine nie.
Kort daarna, (toevallig?) word ek uitgenooi om aan hierdie uitstalling deel te neem:
In die brief van die “Kurators” word Lauren Beukes se boek: Zoo City genoem. Daar en dan het ek myself voorgeneem om dit te lees, maar o wee, dit was nie beskikbaar in ons kleine biblioteek nie. Die gawe dames het dit aangevra vanaf ʼn ander biblioteek in die streek. “Slangrivier” is die biblioteek se naam waar hulle toe n kopie opspoor.
Ek het die boek geniet, en wou dit nie neersit todat ek klaar gelees het nie.
Daarna het ek begin soek na gedigte wat handel oor dieretuine. In my ‘google’ soektog gooi die rekenaar die naam : SJ Pretorius vir my uit. Op hierdie blad kry ek toe twee gedigte van hom. Die eerste een: “Die Kranksinnige” kon ek onthou. Ons het dit behandel in matriek. Dit was en is my gunsteling gedig. ʼn Voorlesing daarvan is te vinde op Youtube, maar dit word verkeerdelik toegeskryf aan Koos Kombuis. Die voorlesing is ietwat emosieloos na my smaak, maar nou ja, dit het my laat wonder hoe digters voel as ander hul gedigte voorlees. Die voorleser laat my ook dink aan ʼn leeu met maanhare; en dit bring my tot by die tweede gedig:
Leeu in die dieretuin deur SJ Pretorius
Sy sien die maanhaar op die grou beton,
Sy ore stomp, sy lang stert spitsgekwas,
Geel flikkerende oë in die son,
En wonder of hy soms nie in die gras
Waar Pappie Sondag ry graag sou wou speel:
Hoe wreed om tussen mure ingeperk
Te ly….mens voel asof jy hom moet streel
En argloos vat sy aan die traliewerk.
Toe storm hy met donderende gebrul
En gryp die vinger styf van vrees gekrul
En byt deur senings sonder mededoë
En skeur die vleis en been totdat die bloed
ʼn kabbelende stroom word en ver, soet
Groen vlaktes opdans voor sy droewe oë.
Terwyl ek hierdie gedig lees kon ek dit nie verhoed om aan die Melissa Bachman sage, wat nou orals die rondte doen op sosiale netwerke, te dink nie. Ai.
Dit bring tot by hierdie volgende gedig en ʼn skets ter voorbereiding vir n nuwe werk:
Kirke se varke deur SJ Pretorius
As ons moet varke wees, laat ons dan deur
En deur vark wees: gee ons alleen vol trôe
Met hope doppe en op-hitte-sôe
En modder om ons snoete deur te sleur
En slym en slyk genoeg om met plesier
Te rol in elke wellus van die dier
En laat ons als vergeet van die verlede,
Ons huise in die groot wit marmerstede,
Tempels en gode wat ons uit die tyd
Wegroep ver na ʼn grootste ewigheid,
Wis alles uit, die laaste heimweedrange
Wat al ons lus verlam met siek verlange,
Gee ons alleen die liggaam: spier en klier,
Niks as net die genot van nou en hier.