
Uiteindelik het ek ook die pelgrimstog na die Uilhuis op Nieu-Bethesda onderneem. En soos ’n ware pelgrimsreisiger op reis gebly … weg, al hoe verder weg van my rekenaar. Ek het afgestaar in die Vallei van Verlatenheid met swaeltjies bo my kop, ’n enkele sekonde geskei van my Vallei van Vergetelheid. Om sonder vlerke of ‘n Lamborghini Diablo te vlieg, is nie moeilik nie. RIV, Rob Taylor.
Helen Martins se huis en beeldetuin was ’n reis die vreemde in.


Moontlik, peins ek by myself, was sy nie juis vreemder as die meeste ander mense nie, maar sy het haar onderskei deur haar vreemdheid skeppend uit te druk … waar talle ander alkohol, ativan, televisie, die internet, sigarette en kos gebruik om die roeringe van die vreemde in die doofpot te stop.

Die meeste besoekers voel die Uilhuis aan as beklemmend, “weird”, depressief, ontstellend. Ek het die broeiende pyn in die huis aangevoel (dalk my eie projeksie), maar ook ’n oplugting omdat die pyn kreatief beweeg en voortstu na lig en kleur en beweging – die swiepende sterte van meerminne, oop vlerke van uile, bewegende pote van kamele, ’n hele optog op pad na die groot ster in die ooste.

Waarom Miss Helen bytsoda gebruik het as stadige, pynlike transport na die groot Lig, daaroor wonder ek nog altyd. Was vandag se vinnige, gerieflike vervoer nie beskikbaar nie – ’n oordosis slaappille, uitlaatgas in ’n motorhuis, ’n gasoond, ’n vuurwapen? Of was die pyn so groot – fisieke pyn weens artritis en oë gesny deur glasstof; knaende emosionele pyn van ou dinge – so erg dat net ’n groter pyn haar uit kon lei?

- Helen se sug na lig …
Die Gautengers wat in hul weelderige wit viertrekvoertuie in ’n stofwolk voor die Uilhuis stop, vinnig die “weird” plek besoek, ’n klip- of blikuil koop en weer in ’n stofwolk vertrek, mis die hele ervaring – naamlik die dorp. Sommige Gautengers is darem meer avontuurlik ingestel – hulle jaag met hul BM’s deur die dorp, neem foto’s deur die voorruit en vergas hul vriende op verhale van hierdie lieflike, rustige dorpie wat net beleef móét word.
Die massiewe, manjifieke groen bome tref ’n mens die eerste as jy die dorp binne ry, dan die w-y-e stofstrate, die windpompe en damme in elke tweede tuin, die borrelende leiwatervore, die oop groen velde in die dorp waar waarskynlik ekstatiese skape, koeie en perde wei. Die sypaadjies is skoon – ’n rariteit in die nuwe Suid-Afrika – en saans sien jy hoe sterre eintlik behoort te skitter omdat daar geen straatligte is nie. Ongelukkig is daar heelwat inwoners wat moontlik uit empatie met die res van Suid-Afrika hul buiteligte heelnag laat brand. As ek die burgemeester was, word hulle streng beboet.

Die verval wat so sigbaar en mistroostig die meeste dorpe en dorpies in Suid-Afrika oorgeneem het, is hier heeltemal afwesig. ’n Mens besef: Dis net ’n handjievol besielde mense, dié wat nie moed opgee nie, wat die verskil maak. Hulle staar nie verlam die donker ellendes van die toekoms binne nie – hulle doen wat die hand hier en nou vind om goed te doen.

Met die verkenning van die dorp – en dit kan in niks minder as vier dae gedoen word nie om die blou lig, vet wolke, Karookoppies, vrede, fonteinwater, plaaslike bier, sterre en betowerde bome te assimileer – wurm ek my deur ’n draad langs ’n halfgeboude klipgeboutjie. ’n Mens doen sulke goed in vreemde dorpe. Ek klim ’n halfgeboude damwal op (ook de rigueur in vreemde dorpe) en bestaar die halfklaar sprokiesgebou oorkant die straat. Die bouer/eienaar in sy blou werkerspak is besig om sement op die sypaadjie te meng. Maar nou staan hy hande in die sye en bestaar my. Ek kan sommer so van ’n afstand aanvoel hy is nie op die punt om vriendelik te wuif nie en steek toe maar my kamera agter my lyf weg. Iets in sy houding laat my vermoed dat hy ’n dubbelloop-haelgeweer agter die naaste boom kan uitpluk en vulsel vir sy klipmure van my kan maak.
Sensitief soos ek altyd vir ander se delikate gevoelens is, klim ek ongrasieus van die damwal af, wurm weer deur die heining en stap aan die oorkant van die sypaadjie verby sy plek. Op my moontlik idiotiese vraag of hy alles self doen, mompel die paleisbouer iets wat op “fokof” kan neerkom. Ten minste hou sy jong Labrador van my bene en besnuif dit, maar sy baas roep hom kwaai terug. Geen mededoë met ’n nuuskierige siel nie – en ek kom nie eens van Gauteng nie, ry ’n ou Mazda en dra klere uit ’n hospieswinkel. Wie weet, dalk is hy gawer as ek eendag met ’n paar vol bottels drinkgoed vir die mure kom kuier.

Die begraafplaas, groot, goed versorg en met nog baie plek, is ‘n heerlike plek om ure lank in te dwaal en te peins oor hoe gou alles verby is. Heel per ongeluk kom ons op ‘n beskeie graffie vir Helen Martins af: ‘n uil met groot groen oë waak oor ‘n hopie grond met klippe, skulpe en pienk kunsblommetjies. Die teks op die lyf van die uil is net hier en daar leesbaar.
