Blogs

Marlies Taljard. “Waar is jou Pa nou?”

Thursday, January 16th, 2020

 

Boekbespreking: Met my hand op my hart – Cas Vos

 

“Ek het my lewensmaat verloor, my kinders en kleinkinders wil my nie meer ken nie, en nou keer my enigste vriende my ook nog die rug toe … al wat ek oorhet, is my gebroke gemoed en my depressiewe gedagtes.”

Hierdie argetipiese versugting in moderne taal uitgedruk, verwoord ʼn essensiële aspek van die menslike kondisie. Daarmee gepaardgaande word dikwels die vrae gevra: Leef God? As God leef, is hy Goed? Waarom laat God slegte dinge met goeie mense gebeur?

Die Bybelboek Job is ʼn poëtiese teks wat handel oor hierdie algemeen-menslike worstelinge. Die teoloog dr. Gerben Heitink skryf:

“Job is een uitzonderlijk poëtisch geschrift in de Hebreeuwse Bijbel. Het hele dichtwerk draait om de vraag of er een God is die deze wêreld rechtvaardig bestuurt. Dat is een nooit verstommende vraag die alle mensen aangaat en die iedere gelovige van tijd tot tijd de adem beneemt” (Vos, 2019:v).

Hoewel die boek Job soos ons hom vandag ken, ongeveer 400-500 jaar voor die geboorte van Christus iewers oos van Israel in sy finale vorm ontstaan het (die basisgegewe kan tot 1000vC teruggevoer word), is die Job-verhaal vir moderne mense van die 21ste eeu net so relevant as toe dit geskryf is.

Cas Vos, internasionaal bekende teoloog en digter van verskeie Afrikaanse bundels, het hierdie stof vir ʼn moderne Afrikaanse gehoor verteerbaar gemaak in Met my hand op my hart: Waar is God? Die boek bestaan uit vier dele. Deel I is ʼn toeligting by die boek Job, wat onder andere handel oor die ontstaan en komposisie van die boek Job, die narratiewe bou daarvan en literêr-kritiese aksente, wat die aktualiteit van die verhaalgegewe benadruk. Deel II is ʼn vers-vir-vers analise van die boek Job wat sowel op literêre aspekte as op eksegese gemik is. Deel III handel oor die universele betekenis van die teks, terwyl Deel IV ʼn dosyn oorspronklike en vertaalde gedigte bevat wat op die Job-teks gebaseer is. Die 40 bladsye “Aantekeninge” dui op die deeglike navorsing wat die skrywer gedoen het en verskaf waardevolle addisionele bronne vir die belangstellende leser.

Ek wil in hierdie bespreking fokus op die relevansie van Vos se boek vir poësielesers en die wyse waarop die skrywer inskryf teen die interpretasie van die teks wat deur baie teoloë gehuldig word.

Job is ʼn fiktiewe karakter uit die land Us wat, aldus Vos, waarskynlik Kanaän is. Tematies is die verhaal verwant aan Midde-Oosterse tekste, hoewel dit “ʼn unieke antropologie, kosmologie en teologie” bied en die “samehang van skuld, straf en vergewing” deurbreek, soos dit in die vroeë wysheidsboeke voorkom (Vos, 2019:1). Job kom egter tot die besef van die misterie van God en Sy handelinge. Sy swaarkry is nié die direkte gevolg van sy sondes nie.

Wat die styl van die Job-teks betref, skryf Vos:

“Die Job-gedig is in die vorm van ʼn literêre kunswerk geskryf wat die tradisionele wysheid uitdruk. Dié manier van skrywe behoort nie tot die vroeëre wysheidsliteratuur met sy doen-gevolg-samehang nie. Hierteen is die boek Job juis ʼn protes” (Vos, 2019:1). Dit vertoon ʼn tweeledige struktuur, naamlik ʼn proloog en epiloog in prosavorm en ʼn poëtiese middeldeel (Vos, 2019:2).

Die tema van die verhaal is (soos ons weet) “Job wat protes aanteken teen die onverdiende lyding rondom hom. (…) Wie is die God wat onskuldige kinders laat omkom en aan sy troue dienaar ondraaglike laste oplê om ʼn weddenskap met die Satan te wen? Watter godsdiens is dit wat blinde gehoorsaamheid eis sonder protes teen die onreg wat hom aangedoen is?” (Vos, 2019:2).

Ook in moderne tye kom hierdie tema algemeen voor – en in modernistiese, postmodernistiese en sekularistiese tye dalk meer eksplisiet as voorheen. Ek dink byvoorbeeld aan ooreenkomste met die bekende en argetipiese Faust-gegewe. Soos Goethe se Faust, is ook die weergawe van die Job-verhaal wat in die Bybel opgeneem is, geskoei op volksverhale. Vos wys daarop dat die “finale” vorm van die Job-teks op teenstellende wyse afwyk van die volksverhale waarop dit gebaseer is, moontlik om te impliseer dat albei lewenshoudings algemeen voorkom: Waar die volksverhaal op aanvaarding en berusting berus, berus Job op die tema vertwyfeling en berusting. Wat die skrywer van Met my hand op my hart egter wil beklemtoon, is dat God die bondgenoot van die mens is. In sy uitvoerige verklaring van die hele boek Job na aanleiding van die Hebreeuse bronteks, kom die skrywer aan die hand van ʼn intense stiplees en herevaluering van bestaande interpretasies van die Job-gegewe by die gevolgtrekking uit dat God die bestryder van die oerchaos is, en nie die bron daarvan nie:

“Job 42:6 kan en moet anders verstaan en verklaar word as wat byna alle kommentare dit doen. Alles maak sin as dit soos volg vertaal en verstaan word:

‘Daarom wil ek daarmee ophou,
stof en as agter my laat.’

Alle lyding is daar; onverdiende lyding, waar geen enkel eie skuld as ‘oorsaak’ aangewys kan word nie. Ons God is nie die bron van chaos en lyding nie, maar die Bestryder daarvan. Hierin is Hy ons Bondgenoot vir die lewe” (Vos, 2019:104).

Cas Vos is ʼn bekende en gerespekteerde teoloog en eksegeet. Wat die interpretasie en uitleg van die Job-teks betref, het hy homself uitmuntend van sy taak gekwyt. Hy is ʼn kenner van Bybelse retoriek, simboliek, verstegniek en literêre strategie. Hierdie afdeling van die boek (Deel II) is verpligte leeswerk vir enige voornemende (én praktiserende) literêre kritikus wat stiplees van literêre tekste aanbetref – iets wat blykbaar vinnig uit die mode gaan …

Dele III en IV is bedoel as teologiese en kreatiewe kommentaar op die Bybelse Job-teks. Van die 12 gedigte wat in Deel IV voorkom, is 3 vertalings van bestaande Nederlandse tekste en kerkliedere. Die 9 oorspronklike gedigte is gebaseer op die Job-teks as geheel, of op spesifieke dele daarvan. Soms gaan die digter intertekstueel te werk, maar hy aarsel nie om die antieke gegewe in moderne idioom te klee nie. Stilisties herinner die gedigte aan Vos se onlangse werk en steun sterk op die Bybelse register. Persoonlik kan ek my vereenselwig met die keuses wat die digter gemaak het. Een van my gunstelinge is die beskrywing van Job se vrou as diaboli adiutrix in “Jobsvriende” wat op Job 2:7-13 gebaseer is:

Op die rand van die doderyk daag Job se vrou,
die diaboli adiutrix, op. “Jy oorskat jou vroomheid.
Ek weet, jy hou jou doof, dalk tref my woordeskerf jou.
Slinger vloeke na God toe en gee jou droewige lewe prys.”

Die gedigte wat op Job 37 en 38 gebaseer is, “Die wonder van die skepping” en “Wie? Wie? Wie?” met hulle sterk polsende, byna ekstatiese ritme gee die intensiteit van die vriende se argumentvoering die beste weer. In die laasgenoemde gedig word die Bybelgegewe met moderne beelde afgewissel:

Wie het die aarde se lyf
met ʼn maatband gemeet?
Wie het asem goddelik
in haar neus geblaas?
Wie hou haar knus in sy handholte?
Wie het skares van alle uithoeke
genooi om met vlae en feesklere
sonder vloeke en gewere tot nanag te dans?
Wie het die hemelruim opgehang
soos ʼn spieël wat in die nag vlam?
Wie versluier dáár raaisels
en wie laat sterre saans smeul?
Wie het die duisternis
soos ʼn lyk in doeke toegevou?
Wie het klokke vir eerste lig gelui?
Wie het die rooidag met harp en fluit
agter die berg se hange wakker gemaak?

Die dele van die boek Job wat waarskynlik vir die leek die bekendste is, word saamgevat in die gedig “Troos in stof en as” waarin die beskrywing van die perd, die aasvoël, die seekoei en die krokodil voorkom, maar ook – weer eens – ʼn verwondering aan die heelal:

As ek ʼn tafeldoek oor die heelal gooi
en die goddeloses soos krummeltjies
probeer afskud, gebeur daar niks nie.
As ek aan die web van u raadsbesluit vat,
voel ek soos ʼn vlieg, ʼn spinnekopprooi.

Met my hand op my hart is ʼn unieke boek in dié sin dat dit sowel eksegese as praktykgerigte én kreatiewe toepassing bevat. Die akademiese verdienste van dié werk kan kwalik oorskat word, terwyl dit ook vir die gelowige Christen van die tergendste vrae waarmee mense te doen kry, in stylvolle leketaal probeer beantwoord. Dit is in sy wese ʼn post-sekulêre werk, aangesien dit bewys lewer daarvan dat die moderne mens steeds met spirituele vrae worstel, ten spyte daarvan dat ons sogenaamd in ʼn sekulêre wêreld leef.

Die boek is by Protea Boekwinkel in Pretoria beskikbaar. Dit kan ook by eddington@proteaboekwinkel.com bestel word.

Bronverwysing

Vos, Cas. 2019. Met my hand op my hart: Waar is God? Pretoria: Cordis Trust Publikasies.

Wicus Luwes: Die nege lewens van Schrödinger se kat

Thursday, December 19th, 2019

 

Ons buurvrou het laat weet dat ons kat smiddae in haar sitkamer kom slaap. Die kat kies natuurlik ook die bank waarop niemand mag sit nie vir haar middagslapie. Katte wil nou maar net nie voorgesê of opgelei word nie. Ek hoor ook dikwels grappe oor die vraag of katte ons troeteldiere is en of dit nie miskien dalk andersom is nie. Die vraag is dus: is die katte nie moontlik in beheer van sake by die gesin wat vir hom of haar huisvesting gee nie?

Schrödinger se kat is een van daardie gesprekspunte wat dikwels genoem word. Die kat is nou al deel van populêre kultuur, maar ek het gewonder watter ander teenstelling of kwasi-paradokse nog rondom die kat gebou kan word.

Ek bespreek daardie teenstellings as die 9 teenstellings of lewens van Schrödinger se kat.

Die eerste lewe (teenstelling): Schrödinger se kat:

Erwin Schrödinger het in 1935 ‘n denkbeeldige eksperiment uitgevoer. Volgens die eksperiment kan ‘n kat in ‘n boks toegemaak word saam met iets wat die kat kan skade aandoen. Schrödinger het ‘n radioaktiewe atoom in gedagte gehad, maar ‘m mens kan seker die atoom met iets anders vervang vir die doeleinde van die eksperiment. Die eksperiment maak die stelling dat ‘n mens eers kan bepaal of die kat moontlik dood of lewendig is wanneer jy die boks oopmaak om te sien in watter toestand die kat verkeer. Die denkbeeldige eksperiment was eintlik bedoel as kommentaar op die Kopenhagen interpretasie van kwantum-fisika, maar dit is al deur die jare in ander velde gebruik, aangesien dit ‘n goeie illustrasie is. Die eerste teenstelling of paradoks rondom die kat is dus: die kat is beide lewendig en dood terwyl die houer toebly.

 

prieel

die kat sit op die dak

om die lente op te snuif.

sy loer deur stergroen blare

aan ’n gekromde wingerdstok.

 

hoog, rankhoog teen die blou. versigtig

tussen takke nou. oor die houtbalke

van die droomprieel. een sprong

tot op vaste grond.

 

in die geut lê die moeë

skelet van ’n wintervoël.

 

[Uit: Grondwater – Marlise Joubert (2019)]

 

Die tweede lewe (teenstelling): Die pil

Ek is seker nie die eerste persoon wat al ‘n pil vir ‘n kat probeer voer het nie. Medikasie is ‘n probleem vir die skerp sintuie van die kat en dit lei gewoonlik tot vindingryke (maar ongeslaagte) planne van die dier se eienaar. Die eerste poging behels gewoonlik om die pil binne-in die katkos in te druk. Of dit nou maalvleis of tuna is: die kat kry gewoonlik snuf in die neus en jy kan maar verwag dat die pilletjie op die bodem van die bak gaan agterbly.

‘n Tweede poging behels somtyds ‘n stuk botter of ander toebroodjie-smeersel waarin die pil versteek is. Die kans vir sukses is groter, maar steeds nie gewaarborg nie. Sodra die pil weg is, wonder jy of die pil geëet is of net iewers uitgespoeg gaan word. Die tweede teenstelling is dus: die pil wat jy vir ‘n kat voer, is beide geëet en ook nie geëet nie.

Die derde lewe (teenstelling): Die droom

Sommige interpreteerders van drome reken dat ‘n droom oor ‘n kat beteken dat jy moontlik iets glo waarvoor daar nie bewyse is nie. Die tema word somtyds beinvloed deur die gebruike van verskillende kultuurgroepe, maar die tema van ‘n illusie is ‘n moontlike opsie wanneer jy probeer dink oor wat jou onderbewussyn vir jou probeer sê. Die derde teenstelling kan soos volg opgesom word: jou brein soek bewyse vir iets waaroor jy dink, maar miskien is die enigste rede waarom jy oor katte droom, die kat wat jou plek op die bed opgeneem het en verseg om te skuif.

 

Die vierde lewe (teenstelling): Bast en Sekhmet

Bast of Bastet was ‘n godin wat in dele van Egipte vereer is. Bast het somtyds die kop van ‘n kat en ander kere die kop van ‘n leeu. Die verskillende koppe het blykbaar met verloop van tyd verander in geskrifte, maar die ooreenkomste kon steeds deur ontleders bepaal word. Die godin, Sekhmet, het ook die kop van ‘n leeuwyfie. Sy is in ander dele van Egipte vereer. Bast en Sekhmet het heelwat in gemeen, maar Sekhmet het meer agressiewe karaktereienskappe. Dit is veral die katkop wat die vierde kat-teenstelling vir my geskep het: ‘n mens wonder of die karaktereienskappe na twee afsonderlike gode verwys of moontlik dieselfde godin voorstel.

halleluja

werk want die dag kom nader

’n duisend katte loer deur die venster

die sterre spin soepel komete

krieke kriek by die donker heining

 

’n kat spring ligvoets

van die vensterbank

en hang dan teen die plafon

 

die kers flikker wild

en val soos ’n fakkel

in die bottel

 

in ’n leë huis huil ’n vrou

 

[Uit: Nuwe vrese. Willem S van der Merwe (2019]

 

Die vyfde lewe (teenstelling): Die kat in die pad

Duiwe en katte beweeg gewoonlik eers wanneer jy reg by hulle is. Die gevolg is dat jy somtyds voel of jy met jou motor moet uitswaai om hulle mis te ry. Ek het al dikwels gewonder of dit beter is om hulle net te ignoreer, maar my oog hou hulle tog dop wanneer ek by hul verbyry. Die teenstrydigheid van die kat in die pad is slegs dit: ek kompenseer vir ‘n kat wat gelyktydig oor die pad kan hardloop of net stil kan sit.

 

Die sesde lewe (teenstelling): Die geslag van ‘n kat

Die Duitse taal heg geslag aan woorde. Die Duitse woord vir ‘n kat is ‘die Katze’, wat ‘n vroulike lidwoord (‘die‘) het. ‘Die Katze’ kan na ‘n mannetjie of wyfie verwys. ‘n Mannetjieskat word egter ‘Der Kater’ genoem (met die manlike lidwoord). Ek kry wel die gevoel dat selfs mense uit my omgewing eerder na ‘n kat as vroulik sou verwys. Hierteenoor verwys mense, volgens my, ook makliker na honde as manlik. Die teenstelling oor die geslag van ‘n kat is dus die uitvloeisel van taal: Elke ‘Kater’ is ‘n ‘Katze’, maar nie elke ‘Katze’ is ‘n ‘Kater’ nie.

 

Die sewende lewe (teenstelling): Liefde en haat

My huidige kat is ‘n ongelooflike jagter. Sy kruip onder groot blare of die kinders se glyplank weg wanneer sy haar prooi bekruip. Sy klim teen die muskietnet voor ons deur op in ‘n poging om by die swaeltjies se nes uit te kom. Die ergste is dan wanneer sy dit regkry om ‘n voëltjie te vang. Sy hardloop dikwels huiswaarts om die prooi op te eet. Op daardie stadium is die prooi gewoonlik nog nie dood nie en probeer ek dan om die duif of mossie uit haar kake te kry. Ek het haar al agter die nek gegryp om haar kake te probeer oopkry, maar my pogings is die meeste van die tyd onsuksesvol. Die voël het gewoonlik al te seer gekry teen die tyd dat ek haar kake oopkry. Die teenstelling is soos volg: ek is lief vir my kat of troeteldier. Op die stadium dat sy haar prooi vang, is ek lief vir haar, maar ek haat haar natuur op ‘n ander vlak. Katte help die mensdom al eeue lank om ontslae te raak van muise, kakkerlakke en ander diere wat siektes versprei. ‘n Mens moet seker die soet saam met die suur eet, maar dit is nie altyd lekker nie.

in memoriam: Strooi

sonder die veld se geur

van wit lelies in ’n vuis

of die trae note van gesang en gebed

sonder ’n graf of ’n woord van eerbetoon

sterf hy op die vaal handdoek

op ’n skoongeskropte tafel

eerloos

en ek onthou Lucebert:

alles van waarde is weerloos

 

sonder ’n sug en sonder protes

sterf hy stil en donker

terwyl die bloed oor die lip

bly stoot

terwyl die pyn die gapende wond verlaat

en elke pupil al groter rek

om verlossing in te laat

terwyl my kind se hand

die troetelkop bly troos bly troos

en ek onthou Lucebert:

alles van waarde is weerloos

 

sonder dat hy weet dat ons hom groet

word sy lyfie riemslap onder die naald

lê die swart pels in ’n boog gestol

half verleë die wit sokkies

van sy pote oor mekaar gevou

die bors se wit ster

gevlek en rou

en ek onthou van Lucebert

 

so moes ek hom verlaat

sonder ’n lied of die veld se geur

en ek onthou terwyl ek huil

teësinnig teen die misreën op die ruit

my vingers om die stuur geklem en koud

dat ook hy, ja tog,

soos ’n mens van waarde was

’n keelronde warmte kon gee

met kromgeskuur teen jou kuit

weerloos in sy dierlikheid

en onvoorwaardelik elke dag

veertien jaar lank

getrou op ons tuiskoms kon wag

 

[Ut: Lyfsange. Marlise Joubert, 2001]

 

 

Die agtste lewe (teenstelling): Nege lewens of net een lewe

Die kat het volgens oorlewering nege lewens. Die nege lewens het sekerlik iets te doen met die gevaarlike plekke waar hul met gemak kan loop. Die reaksie om meestal op hul voete te land, speel ook ‘n rol. Daar is kommentators wat die nege lewens na die Egiptiese god, Ra of Atum-Ra terugspeur. Daardie kommentators reken dat Ra agt ander gode voortgebring het en dus nege lewens saamsnoer. Ra het die gestalte van ‘n kat aangeneem wanneer hy die doderyk moes besoek. Die paradoks bestaan wanneer ‘n mens die een lewe van die kat as nege lewens sou beskryf.

 

Die negende lewe (teenstelling): Mak of nie mak nie

Ek dink weer terug aan die grappie wat vra of die kat vir die mens luister en of dit nie eerder andersom is nie. ‘n Kat is eintlik nooit mak nie. Die teenstelling is soos volg: Die kat is mak genoeg om in die huis te bly, maar nie mak genoeg om dieselfde inter-aksie as ‘n hond met die mens te hê nie. Die troeteldiere het elkeen ‘n rol te speel in die huishouding. Die mens besef ook dat diere elk ‘n eie persoonlikheid het wanneer jy met die huiskat en ander troeteldiere te doen kry.

Die paradoks wat Schrödinger uitgedink het, is vir my ‘n goeie voorbeeld van ‘n metafoor. Poësie help ons om hierdie paradokse te verstaan of te interpreteer. Die digkuns weet dat die reën ‘n dans is en dat die digkuns beide beiteltjies en lugdrukbore kan wees. Lank lewe Schrödinger se kat.

 

Bronne:

  1. Internet: https://www.britannica.com/topic/Bastet
  2. Internet: https://fashionjitsu.com/tag/crystal-ball/
  3. Internet: https://www.sciencefriday.com/segments/something-deeply-hidden-book/

Octavio Paz. Essay: Vertalings in Afrikaans. (De Waal Venter)

Wednesday, December 18th, 2019

Die Meksikaanse Nobelpryswenner (1990  ) Octavio Paz, is gebore in 1914 en het geleef tot 1998. Hy het ’n wêreldwye reputasie verwerf as voortreflike digter en essayis.

Jascha Kessler, skrywer verbonde aan die Los Angeles Times, het Paz beskryf as “waarlik internasionaal”. Manuel Duran van World Literature Today het gesê: “Paz’s exploration of Mexican existential values permitted him to open a door to an understanding of other countries and other cultures”. Duran het verder gesê dat Paz universele aanklank gevind het sonder om sy unieke eienskappe prys te gee.

Die Nobelprys in Letterkunde 1990 is aan Paz toegeken vir: “Impassioned writing with wide horizons, characterized by sensuous intelligence and humanistic integrity.” (Poetry Foundation)

In poets.org word die volgende gesê: ” His later work shows an ever-deepening intelligence and complexity as it investigates the intersection of philosophy, religion, art, politics, and the role of the individual. ‘Wouldn’t it be better to turn life into poetry rather than to make poetry from life?’ Paz asks. ‘And cannot poetry have as its primary objective, rather than the creation of poems, the creation of poetic moments?’”

In feitlik al sy werk vind mens die versmelting van teenoorgesteldes. Magte wat mekaar teenwerk word in sy gedigte vereenselwig. Die bundel “Air Born/Hijos del Aire” is byvoorbeeld in Engels en Spaans geskryf. Dit is ’n tweetalige reeks sonnette wat Paz saam met die digter en vertaler Charles Tomlinson geskryf het.

Indien ’n gedig nasionale en linguistiese grense wil oorskry, moet dit heen en weer oor die grense kan “vloei”. Paz en Tomlinson het geïllustreer hoe dit gedoen kan word met die skryf van ’n gedig “House”. Tomlinson het die eerste vers in Engels geskryf wat toe deur Paz vertaal is. Paz het die tweede vers in Spaans geskryf en dit4 is deur Tomlinson vertaal.

’n Gedig in Spaans en Engels

 Hier is die eerste deel van die gedig:1

La casa se construye con lo ahí encontramos           One builds a house with what is there

(con crin ligaban la argamasa – había caballos)         (horsehair bonded the plaster when horses                                                                                                    were)

y con lo que traemos (la rima anda escondida):        and of what one brings (the rhyme concealed):

para su tiempo, espacio – tiempo para su                  space into its time, time to its space

espacio.

Mas nacemos en casa que no hicimos.                     Yet we are born in houses we did not make.

(Terloops, ek vind die tweede Engelse reël ’n bietjie onsamehangend. Ek sou dit vertaal het as: “Die pleister is met perdehare gebind – daar was perde”)

Volgens ’n medewerker van World Literature Today, Frances Chiles, het Paz probeer om ’n gevoel van “gemeenskap” te bewerkstellig in sy gedigte, iets wat hy gemis het in die hedendaagse wêreld. Paz het die Neustadtprys in 1982  ontvang. In sy ontvangstoespraak het hy sy beklemtoning van botsende gedagtes soos volg verduidelik: “Pluraliteit is Universaliteit, en Universaliteit is die erkenning van die bewonderenswaardige diversiteit van die mens en sy werke … Om die verskeidenheid visies en benaderings te erken, is om die rykdom van die lewe te bewaar en sodoende dit te laat voortleef.”

Octavio Paz in Afrikaans

Hier volg ’n paar gedigte van Paz wat ek uit Spaans vertaal het. In die eerste gedig merk mens duidelik die teenstrydighede en botsende idees wat hy in sy poësie met mekaar versoen. Byvoorbeeld:

“Alles is sigbaar en alles is ontwykend,

alles is naby en alles is onaanraakbaar.”

Uit: “Árbol adrento”

 Entre irse y quedarse

 Entre irse y quedarse duda el día,

enamorado de su transparencia.

Tussen gaan en bly

 Tussen gaan en bly huiwer die dag,

verlief op sy deursigtigheid.

Die sirkelvormige namiddag is nou ’n baai:

waar die wêreld in stilte heen en weer wieg.

Alles is sigbaar en alles is ontwykend,

alles is naby en alles is onaanraakbaar.

Papier, ’n boek, ’n glas, ’n potlood

rus in die skadu van hulle name.

Die klopping van die tyd in my slape herhaal

dieselfde koppige sillabe van bloed.

Die lig verander die onverskillige muur

in ’n spookagtige teater van weerkaatsings.

Ek bevind myself in die middel van ’n oog;

hy sien my nie, ek sien my in sy staring.

Die oomblik verdwyn. Roerloos,

Ek bly en ek gaan: ek is ’n pouse.

In die gedig word dit duidelik dat die digter die werklikheid  as een groot geheel sien. Die mens is deel van die natuur en die aarde en alles wat daarin is. Die mens is selfs een met die tyd:

“Ek bly en ek gaan: ek is ’n pouse.”

Franse invloed

 Paz het baie geleer by Franse digters soos Arthur Rimbaud en André Breton. Paz het gemeen dat die kern van Breton se poëtika daarin geleë was dat Breton gedink het dat “die natuur taal is”. Om hierdie taal te herwin, moet ons terugkeer na die natuur, voor die val en die geskiedenis. “Volver a la naturaleza, antes de la caída y de la historia.”

In Breton se geskrif “Alchimie du verbe” stel hy dit dat poëtiese visie direk oorgedra moet word, nie beskryf word nie. “Le poète devra faire sentir, palper, écouter ses inventions …cette langue sera de l’âme, résumant tout, parfums, sons, couleurs”

“Die digter moet dit moontlik maak dat sy werk gevoel, gehoor kan word … hierdie taal is van siel tot siel, en dit verstaan alles – geure, klanke, kleure.”2

 Terloops, hierdie gedig hierbo is ook deur Joan Hambidge vertaal met die titel “Tussen gaan en bly.” Die gedig kan op haar blog “Woorde wat weeg” gelees word.

Die volgende gedig het ’n paar onderafdelings:

Uit: “Árbol adentro”

 Al vuelo (1)

 Naranja

Pequeño sol

quieto sobre le mesa,

fijo mediodía.

Algo le falta:

noche.

IN VLUG (1)

 Lemoen

 Klein son

stil op die tafel,

ewigdurende middag.

Iets kom kort:

nag.

Dagbreek

 Op die sand

voëlgeskrifte:

memoires van die wind.

Sterre en kriek

 Die ruimte is ontsaglik groot.

Daar bo is wêrelde gesaai.

Onversteurd,

sonder vrees vir soveel nag

die onversetlike kriek.

Non-visie

 Leë uur, reservoir

waar my gedagtes

hulleself drink.

Vir een geweldige oomblik

het ek my naam vergeet.

Bietjie vir bietjie raak ek ongebore,

deurskynende aankoms.

Kalmte

 Maan, horlosie van die sand:

die nag loop leeg,

die uur is verlig.

Treffend in hierdie gedig is die teenstellings wat versmelt word om nuwe konsepte te skep:

ewigdurende middag/nag

Die ruimte is ontsaglik groot/die onversetlike kriek

Bietjie vir bietjie raak ek ongebore

Paz het heelwat liefdesgedigte geskryf. Waar Pablo Neruda se liefdesgedigte vol vurige, byna onbeteuelde hartstog is, is Paz se hartstog verfynder en ietwat meer abstrak.

Uit Arbol adentro (Octavio Paz)

Noche, día, noche

 1.

 Chorro de luz: un pájaro

cantando en la terraza.

En los valles y montes

de tu cuerpo amanece.

(Fragment)

Nag, dag, nag

 Stroom lig: ’n voël

singend op die terras.

In die valleie en berge

van jou liggaam ontwaak dit.

2.

Vuur slaap in die nag,

water wat laggend wakker word.

3.

Onder die blaredak

van jou hare

jou voorkop:

bome,

helderheid tussen die takke.

Ek dink aan tuine:

om ’n wind te wees wat ritsel deur jou herinneringe,

om die son te wees wat tussen jou fyn takkies deurbeweeg!

4.

Aan die voet van die palm,

lank soos ’n barbaar

golwend groen teen die aanvallende son

rus jy.

’n Poel

– water in die skadu’s – jou liggaam.

Stilte. Enorme namiddag klop

byna onopsigtelik.

Tussen jou bene vloei die koppige tyd.

5

’n Aar van sonlig, lewende goud,

gleuwe, kruise, spirale,

groen sterrestelsels:

die driehoekige insek

vorder deur die gras

drie of vier millimeter per uur.

Vir ’n oomblik het jy

dit in die palm van jou hand gehou

(waar die noodlot sy arabeske geheime afteken):

dit is ’n lewende juweel, ’n kreatuur

wat miskien uit Titania geval het

en jy laat dit met groot respek

teruggaan na die Groot Al.

6

Die dag, volkome blom,

brand uur na uur.

’n Ander blom, swart, ontvou.

Ongemerk steek jy

die skadu oor

en kom binne, dame van die nag.

Skaars ’n golf,

skaars ’n geur, wit,

strek jy uit op my bed.

En word weer ’n vrou.

7

Vlaktes van die laken

en nag van liggame,

gety van begeerte

en grot van drome.

8

Onder jou ooglede slaap

’n ontasbare dorp.

Gretige warrelwinde,

kinders van aanraking word beliggaam,

drink bloed, is die veranderende

vorms van begeerte

en is altyd dieselfde:

die opeenvolgende gesigte

van die lewe wat die dood is,

van die dood wat die lewe is.

Een van die temas wat Paz se werk kenmerk, is die idee van ’n rivier. Hy praat soms van die gedig as ’n rivier wat alles meevoer. Maar dit word ook aangewend om mense en menseverhoudings uit te beeld soos in die volgende gedig.

Antes del comienzo

 Ruidos confusos, claridad incierta.

Otro día comienza.

Voor die begin

 Verwarde geluide, onsekere helderheid.

Nog ’n dag begin.

Dis ’n halfverligte kamer

en twee liggame uitgestrek.

In my kop is ek verdwaal

op ’n vlakte sonder enigiemand.

Nou slyp die ure hulle knipmesse.

Maar langs my haal jy asem;

intiem en verwyder

vloei jy sonder om te beweeg.

Onbereikbaar as ek aan jou dink,

aan jou raak met my oë,

jou sien met my hande.

Drome skei ons

en bloed verenig ons:

ons is ’n rivier van polsslae.

Onder jou ooglede

word die saad van die son ryp.

Die aarde

is nog steeds nie werklik nie,

die tyd huiwer:

al wat seker is

is die warmte van jou vel.

In jou asemhaling hoor ek

die gety van bestaan,

die vergete sillabe van die Begin.

Samevattend

 Octavio Paz het diep spore getrap in die wêreldletterkunde en sy invloed word vandag nog baie sterk gevoel. Sy siening van die mens en sy plek in die natuur raak al hoe meer relevant in hierdie tyd dat ons besef dat ons gevaar loop om die omgewing waarin ons leef te vernietig, en onsself daarmee.

 Bronne

 1. Aangehaal in: Poetry Translation as Expert Action Process, priorities and networks, Francis R Jones, 2011. Newcastle University. John Benjamins Publishing, Company. Amsterdam:Philadelphia

2. Aangehaal in: “Octavio Paz: A Study of his Poetics”, Jason Wilson, 1979. Cambridge University Press.

Nini Bennett. En garde!

Monday, December 16th, 2019

 

Dis ’n swierige tradisie – een van swaardgevegte, wraak, en baie bloed en liefde. Die protagonis is ’n onverskrokke avonturier. Jy eien hom aan sy savoir-faire-houding en windmaker manier van stap. Hy is sjarmant en lag doodsveragtend in die aangesig van gevaar. Hy leef volgens ’n persoonlike etiese kode van regverdigheid en geregtigheid, maar laat hom deur niemand voorskryf nie. Reëls en wette kan gebuig word in belang van ’n groter morele ideaal, of, om Bob Dylan aan te haal: “To live outside the law, you must be honest.” Hy sal veg vir die koning en vir sy land, as idealis ontferm hy hom oor die armes en onderdruktes en hy beskerm dames se eer. Dit is ’n swashbuckler, die protagonis soos hy uitgebeeld word in Europese avontuurliteratuur. Alhoewel hierdie heroïese argetipe al vir eeue met ons is, het dit die afgelope paar jaar opnuut momentum gekry met films en televisiereekse soos Pirates of the Caribbean, The Mask of Zorro, The Man in the Iron Mask, The Count of Monte Cristo en The Adventures of Robin Hood, om enkeles te noem. Ruwe eilandbewoners, seerowers en ’n weggesteekte skat iewers bevolk die landskap van hierdie verhaalwêreld. Die vroeë spore van die genre kan reeds teruggevind word in die poësie van Homeros met die verwysing na seerowers (Hymn to Demeter, in die sewende eeu v. C.), alhoewel die bloeiperiode van die ridderlike prototipe van die 11 de eeu tot in die hede sou voortduur. In 1920 is die swashbuckler vir die eerste maal gevestig as held op die silwerdoek met die verskyning van die stilfilm, The Mark of Zorro. En hy is steeds met ons; het nooit uitgesterf nie, maar het begin migreer in die magdom funksies wat die internet bied, byvoorbeeld rekenaarspeletjies wat die genre dan ook verruim het met die inkleding van wetenskapfiksie en fantasie, asook die herontginning van folklore en mitologie. Skrywers soos Lovecraft en Tolkien het bygedra tot hierdie vernuwing. Tog, in wese het die kerneienskappe van die swashbuckler nooit verander nie. Ook vroulike swashbucklers het toenemend hulle verskyning begin maak, byvoorbeeld in Cutthroat Island speel Geena Davis die hoofrol van ’n onverskrokke seerowerskaptein. Davis is bekend vir haar tawwe rolle.

Die woord “swashbuckler” het sy ontstaan in die 1500’s gehad, en is ’n samestelling van die woorde “swash”, wat dui op die geluid wat twee swaarde wat kruis, maak, asook “buckler”, ’n klein, ronde skild. Die etimologie van die woord is onder meer te danke aan klanknabootsing. Daar is legendariese romans, soos byvoorbeeld The Scarlet Pimpernel  (Emmuska Orczy), The Three Musketeers (Alexandre Dumas), The Princess Bride (William Goldman) en Captain Blood (Rafael Sabatini) wat sinoniem is met die genre. En weer Dumas – áltyd; en sy onvergeetlike The Count of Monte Cristo. Die bekendste hedendaagse swashbuckler is waarskynlik Jack Sparrow, soos gespeel deur Johnny Depp. Dis nie net kinders wat met hierdie fantasie identifiseer tydens kinderpartytjies waar kostuums, rollespel, oogklappe en plastiekswaarde hoogty vier nie: mense van alle ouderdomme is lief vir die anti-helde, en The Pirates of the Carribean het alle finansiële rekords by die loket aan skerwe laat spat. En laat ek nie die strokiesprente vergeet nie. Die swashbuckler het lank vir vermaak gesorg in die pulp magazines. Baie van ons het ’n herinnering aan hoe ons by ’n Griek se kafee ingeglip het om die opvolg van ons gunsteling seerowerstrokiesprent te rooflees. Ek onthou die kriekende draaiwiel in Shorty se kafee in die destydse Verwoerdburg; die baie kreukels in die glansvoorblad van die vele kinderhande wat vóór my die boek hanteer het. Die kafee het drie tafeltjies gehad, die tafeldoeke in skakerings van wit en ’n egeïese blou, en teen die mure was memorabilia van ’n Griekse sokkerspan. Shorty was baie nors en het kon vir ure oor sy bakadiettelefoon praat. Dít het die rooflesers goed geweet – maar hy kon net so vinnig opvlie, blinkgesig en met sy wit voorskoot ons kom verja.

In Afrikaans is Elmar Steyn ’n bekende skrywer in die swashbuckler-genre. Sy verhale is daar om te geniet: dis ook die primêre oogmerk van hierdie subgenre – om vreugde te bring.  Die verhaalmilieu is teatraal en ’n kemerk van die protagonis is sy hope charisma. Dis oorlewing van die sterkste; die kavaliers sweet agter hulle makers, maar natúúrlik gaan die held seëvier teen die booswigte wat lewensgroot die een na die ander opdoem. Soos ’n kenner van swashbuckler iewers opgemerk het: As Robin Hood nie ’n uitdagende (en flambojante) houding en aweregse streep gehad het nie, het sy karakter waarskynlik bly vassteek in dié van ’n ouwêreldse altruïs, ’n vervelige filantroop.

’n Tipiese swashbuckler-toneel is waarskynlik die volgende: Die protagonis storm vorentoe met ’n kreet (hy is ongelooflik akrobaties); hy trek sy swaard – en die stryd tussen lewe en dood begin met die geswiep, geskuur, gefluit en geskal van staal teen staal.

Die volgende gedig van Breyten Breytenbach:

 

Die tweegeveg

 

Die vaandels roer soos flou donkies in die wind

En die son trek sy wolke stywer om sy skouers,

Want dis koud

Die man met swart oë kom sugtend oor die kweek

En hef sy swaard op, ’n versteende paling in die lig

En ek trek my swaard blink soos ’n proefbuis of ’n draaktong

 

En garde!

 

Kleng jaa tjeng tjang tjeng kleng

Ai joei tsji tsjan bik sjoeing tjôrr

Fuut tjeng wam kieng oo sssip

Hû klang klang klang tjing sssip

Hû merde tjong fuut kleng jaa

Sjoeing klub kieng konk hoender dirr

Rrruf tjang tijenk wam aaa sssip

Kak tjeng kleks zem zem ung ha

Touché

Aaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaa

aaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaa

.          .        (ek voel sy swaard soos ’n graat in my gorrel)

 

Uit: Die ysterkoei moet sweet, 1964.

Wat interessant is aan die gedig, is die mildelike gebruik van onomatopee wat op sy beurt herinner aan die klanknabootsende etimologie van die woord, “swashbuckler”.

Heelwat Engelse digters het seerowergedigte geskryf. Alhoewel hierdie verse ’n historiese, patriotiese en heroïese invalshoek het en veronderstel is om ‘ernstige’ poësie te wees, is die avontuurelement van die swashbuckler-genre onmiskenbaar teenwoordig.  Die onderstaande gedig van Kipling handel oor die onstuimige periode in die geskiedenis waartydens die Romeine onttrek het en Angel-Saksiese Engeland tot stand gekom het.

 

The Pirates in England

Saxon Invasion, A.D. 400-600

 

When Rome was rotten-ripe to her fall,

And the sceptre passed from her hand,

The pestilent Picts leaped over the wall

To harry the English land.

 

The little dark men of the mountain and waste,

So quick to laughter and tears,

They came panting with hate and haste

For the loot of five hundred years.

 

They killed the trader, they sacked the shops,

They ruined temple and town–

They swept like wolves through the standing crops

Crying that Rome was down.

 

They wiped out all that they could find

Of beauty and strength and worth,

But they could not wipe out the Viking’s Wind

That brings the ships from the North.

 

They could not wipe out the North-East gales

Nor what those gales set free–

The pirate ships with their close-reefed sails,

Leaping from sea to sea.

 

They had forgotten the shield-hung hull

Seen nearer and more plain,

Dipping into the troughs like a gull,

And gull-like rising again–

 

The painted eyes that glare and frown

In the high snake-headed stem,

Searching the beach while her sail comes down,

They had forgotten them!

 

There was no Count of the Saxon Shore

To meet her hand to hand,

As she took the beach with a grind and a roar,

And the pirates rushed inland!

 

Rudyard Kipling

 

Verwysings

https://www.poetrysoup.com/famous/poems/pirates?fbclid=IwAR1GLQNHfJLKb7nTns3kiVjS-aF-N8Srr41FnGZDUdhrP9jnYiY9aUGiuj4

https://lithub.com/at-a-sword-fight-with-a-modern-day-swashbuckler-in-a-harlem-basement/?fbclid=IwAR2AcaLoACwjcoHhJ6tnQVgUoLbmlcsrhdrZxoVw_6ZXw21oRKNcXVVVRmw

https://www.theguardian.com/film/2003/aug/02/features.philhoad?fbclid=IwAR3_uFG98xA4rtqIc2uzuO398H-JAytkzlVXc4hIpHFtNMfMFRCAObMOJ94

https://en.wikipedia.org/wiki/Swashbuckler?fbclid=IwAR0aCLpbBq7C-KR7bh0p8gR-a2vWcKZLFApR7_WAxxl9xo_IvCBTDPSfCyA

Breytenbach, B. 1964. Die ysterkoei moet sweet. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.

Nini Bennett. Die genesende waarde van die woord

Wednesday, November 27th, 2019

 

Dit is dalk nie toeval dat die god Apollo geassosieer word met digkuns en genesing nie. Inteendeel: dié Griekse en Romeinse god word gesien as die historiese landmerk in die ontstaan van poësieterapie, soos ons dit vandag ken. Of, om dr Louis Hoffman, ’n kliniese sielkundige van Colorado, aan te haal: “Before there was psychotherapy, there was poetry, which can be recognized as one of the oldest healing arts that has been utilized across many different cultures throughout history.” In The Natural and Cultural History of Tears verwys Tom Lutz na die heel eerste geskrewe rekords van ’n mens wat huil – wat ook heel waarskynlik die eerste geskrewe elegie vorm, naamlik die Ras Shamra-tekste. Hierdie Kanaänitiese kleitablette, gedateer in die veertiende eeu v.C, is in 1928 opgegrawe in Sirië. Dit het waarskynlik aan die antieke stad, Ungarit behoort en het verlore geraak tydens ’n aardbewing. Op ’n tablet is daar ’n narratiewe gedig oor die dood van Baäl, ’n aardgod wat deur verskeie antieke Midde-Oosterse kulture aanbid is. Volgens Lutz vertel een van die fragmente hoe Baäl se suster, die maagdelike godin Anat, die hartseer nuus aangehoor het en “haarself versadig het aan trane; sy het haar trane soos wyn gedrink.”

Die terapeutiese waarde in die lees en skryf van poësie lê in die verwerking van emosie. Die doel van terapie is onder meer om die pynlike ervaring te besoek, te herleef, afstand te kry daarvan, dit weer te besoek…in die proses om sin te maak daaruit op emosionele, sowel as kognitiewe vlak. Daar is dus parallelle tussen psigoterapie en poësieterapie. ’n Gedig is ’n veilige plek om in die diepste registers van verdriet te delf, sonder die inmenging van kommentaar of rede. En om te skryf is ’n daad van geloof, om Ingrid Jonker aan te haal. Om oor persoonlike trauma te skryf, skep die moontlikheid dat iemand daar buite – ’n leser – mag resoneer met die vers en sal ‘antwoord’ deur empatiese aanvaarding. Effektiewe psigoterapie bied emosionele ontlading. Pasiënte beskryf dikwels hoe “lig” hulle voel na ’n sessie; eienskappe wat inderdaad met dié van poësieterapie korreleer.

In die Chinese taal bestaan die woord “poësie” uit twee letters: die eerste een beteken “woord”, en die tweede een “tempel”. ’n Gedig is met ander woorde ’n woordtempel; of poësie is die gebruik van die sakrale woord. William Wordsworth, op sy beurt, beweer: “Poetry is the spontaneous overflow of powerful feelings; it takes its origin from emotion recollected in tranquility”. Om poësie te skryf, beteken dat jy diep in jouself moet soek na ’n outentieke stem in die strewe na selfrealisering. Ons stem is tog die beliggaming van wie ons is, hetsy gesproke of geskrewe. Ons stemme verskil in terme van ritme, tonale verskeidenheid, variasie, en die idiosinkrasie van assosiasies, beelde of ander somaties-sensoriese metafore. Om psigiatriese medisyne te drink, gee gestalte aan die wetenskap van pyn; en poësie – aan die kuns van pyn. Medisyne se verhouding met pyn is dus ’n verdowende of narkotiese een, terwyl die simbiose tussen poësie en pyn vra vir ekspressie: vir die artikulasie van die pyn. Om te genees beteken etimologies gesproke om heel te maak; om met poësie die geestelike laserasies te heg en die persoon te herenig met die wêreld om hom. En vir diegene wat eensaam of depressief is, bied poësie ‘n sensitiewe deelgenoot om, metafories gesproke, beter in die donker te kan sien. Die Ierse digter, Alice Kinsella vertel van haar belewenis met depressie tydens die skryf van haar bundel, Flower Press: “Writing these poems became a way for me to simultaneously remember and let go. I could honour the past while giving myself permission to heal. Perhaps it’s the same for many poets who write after a loss. Writing allows us to feel the consolation of memory, without feeling haunted.”

Ten spyte van individuele verskille, is ons almal uiteindelik uitgelewer aan dieselfde lot – ons is gewikkel in ’n ewige dialoog met siekte, dood en sterfgang. En ons moet konformeer; ons kan nie pal loop en kla oor die laste van die lewe nie. Poësie, egter, is die volmaakte medium om uitdrukking te gee ons pyn en verlies – woorde gelei én dit genees.

Die gewilde en hoog aangeskrewe AVBOB Poësieprojek is ’n meertalige webtuiste en platform waar digters en lesers verenig rondom die genesende krag van poësie. Besoek www.avbobpoetry.co.za as jy nog nie ’n profiel geregistreer het of gedigte ingestuur het nie. Die kompetisie sluit 30 November om middernag.

Gemeenskappe wat treur

Na die terreuraanval van 11 September 2001 het poësie van oraloor opgeskiet. In ’n artikel in die New York Times is dié verskynsel gedokumenteer: “In the weeks since the terrorist attacks, people have been consoling themselves—and one another—with poetry in an almost unprecedented way … Improvised memorials often conceived around poems sprang up all over the city, in store windows, at bus stops, in Washington Square Park, Brooklyn Heights, and elsewhere…” Gemeenskappe wat treur, begin poësie te skryf (en te lees). In ’n vorige blog beskryf ek ook die webtuistes wat oornag ontstaan het ná die aardbewing van 11 Maart 2011 in Japan (https://versindaba.co.za/2018/08/19/nini-bennett-voetstoots/). Slagoffers en oorlewendes is na ’n sosiale katastrofe stomgeslaan, letterlik en figuurlik, en reik uit na poësie om die onmoontlike, die onuitspreeklike, te probeer verwoord of te verstaan. In sommige kulture in Korea en Indië huil professionele roubeklaers by sommige oorledenes (gewoonlik mense van statuur) se begrafnisse.

Ongeag die onmoontlikheid, die pyn of angs van ’n situasie: digters het nog altyd dwarsdeur trauma geskryf. Wilfred Owen, ’n bekende Engelse digter het tot met sy dood op die slagvelde van die Eerste Wêreldoorlog sy verse in sy dagboek gepen. Hannah Szenes het op soortgelyke wyse haar gedigte vir haar ma bewaar – nadat sy gevang, gemartel en uiteindelik tereggestel is as Joodse SOE-agent. Paul Celan het sy gedigte tydens WO II in ’n Roemeense oorlogsghetto geskryf. Ook gevangenes skryf poësie as deel van hulle rehabilitasieprogramme. Terminaalsiekes, en mense wat palliatiewe sorg ontvang, lees poësie as eufemisme vir hulle lyding – en dit is iets wat doulas, hulle sterwensbegeleiers, goed verstaan; daar bestaan selfs webtuistes van hierdie begeleiers se keuse van poësie. Die meeste doulas is vroulik. Dit is vroue wat tradisioneel die liggame van geliefdes uitgelê, versorg, of gebalsem het; en dit is vroue wat blomme op grafte sit. Dit is vroedvroue wat kinders help om gebore te word, en dit is vroue wat help om die laaste uitvaart of oorgang te versag. Die ewige begeleiers van lewe en dood. Die onderstaande gedig van Arseny Tarkovsky is vir my ’n sublieme vergestalting van hierdie efemere aard van dinge:

 

And this I dreamt, and this I dream,

And some time this I will dream again,

And all will be repeated, all be re-embodied,

You will dream everything I have seen in dream.

 

To one side from ourselves, to one side from the world

Wave follows wave to break on the shore,

On each wave is a star, a person, a bird,

Dreams, reality, death—on wave after wave.

 

No need for a date: I was, I am, and I will be,

Life is a wonder of wonders, and to wonder

I dedicate myself, on my knees, like an orphan,

Alone—among mirrors—fenced in by reflections:

Cities and seas, iridescent, intensified.

A mother in tears takes a child on her lap.

 

Soos uit die Russies vertaal deur Virginia Rounding.

 

Die helende metafoor

Linguiste, sielkundiges, filosowe, skrywers en literêre kritici se bemoeienis met die metafoor is welbekend. In sy essay, The Poet, verwys Ralph Waldo Emerson na die ontwikkeling van taal as “fossielpoësie”. Idiomatiese taalgebruik en clichés is voorbeelde hiervan. Wat vandag sal deurgaan as ’n futlose segging, was eens op ’n tyd ’n vars en skerpsinnige metafoor. Afrikaanse voorbeelde is waarskynlik uitdrukkings soos “die uurglas loop leeg”, of “elke donker wolk het ’n silwer randjie”. Hierdie trope en beeldgebruik (die fossiellae van die taal) herinner ons aan die eens lewendige poëtiese oorsprong van so segging.  En dit is hoe die mens sin maak uit nuwe verskynsels – hy vergelyk dit met die bekende in sy kultuur, omgewing en identiteit. Volgens Aristoteles lê die waarmerk van goeie digterskap in die gebruik en aanwending van die metafoor: “But the greatest thing by far is to be a master of metaphor. It is the one thing that cannot be learnt from others; and it is also a sign of genius, since a good metaphor implies an intuitive perception of the similarity in dissimilars.” Tog is metafore nie beperk tot die argitektuur van taal nie; dit is intrinsiek deel van die mens se verbeelding en denke – en dis ’n verlengstuk van die bewussyn. ’n Metafoor is die knoop tussen woord en beeld; tussen taal en sensoriese ervarings; en tussen taal en narratiewe. ’n Metafoor noop ’n digter, skrywer of leser tot figuurlike rollespel; om jouself op metaforiese wyse te verplaas in iemand anders se skoene en die sensoriese en emosionele belewenis van daardie persoon te deel. Met analogisering soos hierdie loop identifikasie en empatie hand aan hand.

’n Metafoor is ook die die draer van ’n ‘storie’, byvoorbeeld in Richard Dawkings se River Out of Eden (1995) word die konseptuele metafoor van “the river of genes” gebruik. Die rivier kan vertak met verloop van tyd; óf hierdie vertakkings kan uitmekaar dryf om nuwe spesies te vorm; óf die takke kan opdroog (uitsterf); óf die takke kan herhaaldelik verdeel en bly eskaleer in die 30 miljoen takke, soos ons dit vandag ken. Wetenskaplikes maak mildelik gebruik van uitgebreide metafore om ’n konsep te verduidelik. Ook die nimlike wetenskaplike, Carl Sagan, dwing bewondering af met die gebruik van sy besonder poëtiese taal.

Narratiewe medisyne

“One sheds one’s sicknesses in books,” het D.H. Lawrence op ’n keer gesê. Tog is biblioterapie al vir eeue met ons, en is daar heelwat professionele biblioterapeute in lande soos die VSA en Kanada. In Dante se tyd is boeke in apteekwinkels verkoop – letterkunde is met ander woorde gesien as ‘medisyne’: leesstof met farmaseutiese eienskappe. “Prose not Prozac”, lui die voorskrif. Of: “Literature not lithium”, is bekende kwinkslae onder die moderne voorstanders van biblioterapie. Volgens Samuel Crothers, die man wat die konsep biblioterapie gemunt het, dui die begrip op woorde wat emosies heel; die gebruik van lektuur om mense te help met emosionele, sielkundige of sosiale probleme. Biblioterapie het sy ontstaan te danke aan die antieke beskawings van 300 v.C se biblioteke, waar inskripsies by die ingang van die geboue beloof het dat die lees van boeke genesing vir die siel inhou. Volgens Crothers bestaan biblioterapie uit drie dele: identifikasie, katarsis en insig. Die veronderstelling is dat ’n leser (sal) identifiseer met sekere aspekte van ’n verhaal, en na ’n katarsis verligting sal ervaar via die gedeelde emosies met die karakters in die verhaal; en uiteindelik tot nuwe insigte sal kom in die hantering van soortgelyke persoonlike emosies. Alhoewel biblioterapie nie altyd binne formele verband gebruik word nie, lees mense om te genees. Soldate wat aan PTSS ly, kry dikwels ’n “voorskrif” van romans of ander verhale om hulle te help met die verwerking van trauma – die transformerende krag van narratiewe terapie.

 

Verwysings

www.avbobpoetry.co.za

https://aeon.co/essays/metaphors-grow-the-mind-and-feed-the-soul-dont-lose-them?fbclid=IwAR1eHBqbfbVyGB-p8U_9Y5NjHxzUe7-sSq9tJql3lTlZmHwapFM6aTsWUb4

https://www.psychologytoday.com/us/blog/the-empowerment-diary/201904/how-poetry-can-heal?fbclid=IwAR1sCNS2Nm-wxjv6vmo1k9RwmLcXYKN4x6PIYOt1io78Uuq4JIeWDn2eWKw

https://www.goodtherapy.org/blog/can-poem-be-healing-writing-poetry-through-pain-0131185?fbclid=IwAR11lXPbybqjG8mI-ONp0vKDELULyclepwqWnxxZ7oWEZ0Kc1JncsgodUQs

https://www.theodysseyonline.com/why-poetry-heals?fbclid=IwAR0GiUINlYQBp3-MOsRTcQSck6qXqJ23g8yJjPpbImwt6JDJEvNfPKrtKsc

https://www.theguardian.com/global/2016/jun/18/poetry-can-heal-it-helped-me-through-depression?fbclid=IwAR33UEXT9z48tczEK14fbObiIEqItU3dvTvUoxDu2IpJzZELKA8Ha5gcqlo

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

.

Nini Bennett. Dankie, Leonard

Sunday, November 24th, 2019

 

The Goal

 

I can’t leave my house

Or answer the phone

I’m going down again

But I’m not alone

 

Settling at last

Accounts of the soul

This for the trash

That paid in full

 

As for the fall, it

Began long ago

Can’t stop the rain

Can’t stop the snow

 

I sit in my chair

I look at the street

The neighbor returns

My smile of defeat

 

I move with the leaves

I shine with the chrome

I’m almost alive

I’m almost at home

 

No one to follow

And nothing to teach

Except that the goal

Falls short of the reach

 

Leonard Cohen

 

“The goal” is ’n gedig wat met instrumentale dekor vir die eerste maal op 20 September 2019 op YouTube vertoon is. Wat natuurlik die vraag – en verwagting – na Leonard Cohen se postume album laat ontstaan het. En die meester het sy volgelinge nie terleurgestel nie: Thanks For The Dance is die laaste studio-album van dié Kanadese sanger en digter, en is vrygestel op 22 November 2019. Sy seun, Adam Cohen is die vervaardiger en het die CD  liefdevol byeengebring met verwerkings van topmusikante soos Daniel Lanois, Damien Rice, Jennifer Warner en Beck. Adam Cohen verdien al die akkolades wat na sy kant toe kom: as addendum tot You Want It Darker, bevat die album songs wat onmiskenbaar die Cohen-stempel dra – minder musiek, dalk, maar met ’n groter nadruk op die lirieke / poësie. Dit is een van Cohen se mees poëtiese albums nog.

 

Listen To The Hummingbird

 

Listen to the hummingbird

Whose wings you cannot see

Listen to the hummingbird

Don’t listen to me

 

Listen to the butterfly

Whose days but number three

Listen to the butterfly

Don’t listen to me

 

Listen to the mind of God

Which doesn’t need to be

Listen to the mind of God

Don’t listen to me

 

Listen to the hummingbird

Whose wings you cannot see

Listen to the hummingbird

Don’t listen to me

 

Leonard Cohen

 

Die omslag is swart, met goue letters wat aan ’n Bybel of testament herinner. Die finaliteit van afskeid resoneer in ’n dromerige, transendentale gang; die sensuele en spirituele word een.

Dis ’n sublieme testament. Dankie, Leonard.

Nini Bennett. Die bloedlyn van ’n taal

Tuesday, November 12th, 2019

 

“There is no language that is superior to another.” Dít was president Cyril Ramaphosa se boodskap aan Suid-Afrikaners op Erfenisdag, 24 September 2019. Die VN het 2019 verklaar as die jaar van die inheemse taal. Die president het ’n skare toegespreek in die Mxolisi Jacobs-stadion in Upington tydens die amptelike vieringe van dié geskiedkundige dag. Aldus Ramaphosa doen die regering alles in sy vermoë om meertaligheid te beskerm – maar verál die inheemse tale van die Noord-Kaap; tale wat kan uitsterf, soos die N|uu-, Nama- en Khwe-tale. Vyf studente gaan van 2020 af opgelei word as Nama-onderwysers aan die Universiteit van Namibië, terwyl die 23 000 openbare skole teen die einde van 2020 almal toegerus sal wees in die onderrig van Afrika-tale. Ons kulturele diversiteit moet verenig onder die kollektiewe waardes van respek, waardigheid en gelykheid, het die president aangevoer. Die taalstryder, Katriena Esau (oftewel Ouma Geelmeid) was teenwoordig tydens hierdie verrigtinge. Esau is die 2014-ontvanger van die Order of the Baobab (silwer) vir haar besondere werk in erfenisbewaring. En dit is die einste Katriena Esau wie se gedig, The bloodline of language (soos vertaal vanuit N|uu), opgeneem is in AVBOB se eerste bundel, I wish I’d said (Redakteurs: Johann de Lange en Mantoa Motinyane). Vervolgens die eerste strofe van hierdie eenvoudige, dog aangrypende gedig, soos dit opgeteken is deur David M.N. van Wyk en vanuit die Afrikaans vertaal is deur Douglas Reid Skinner:

 

I was born into the language

I drank it

I never just heard it

or learned it from someone

I drank it from my mother’s breast

Soon as I got some sense I heard language, N|uu language,

I heard N|uu from my pa and ma and my gran and grandpa,

N|uu we spoke at home

Afrikaans I learned to speak from those farmers

That language, we had a hard time of it with the white people and

that language

But N|uu was the language of the heart

(…)

Katriena Esau is een van vier mense op aarde wat N|uu praat, ’n antieke San-taal wat na beraming 25 000 jaar oud is. Die 86-jarige Esau knyp met haar maandelikse ouderdomspensioen en skenkings geld af om kinders in haar tuisskooltjie te onderrig in N|uu en Nama-gebruike. En Katriena is die volledige argivaris van die N|uu-taal; die enigste lewende digter wat die taal beliggaam.

 

 

In sy ikoniese biografie, Long walk to freedom beskryf Nelson Mandela die vormende invoed van die Xhosa-digter (of imbongi), Krune Mqhayi. Die jong Mandela was in 1937 ’n leerder aan die Wesleyaanse kollege in Healdtown, ’n dorpie naby Fort Beaufort. Toe Mqhayi op ’n dag by die skool opdaag, geklee in ’n tradisionele Xhosa-karos en spies, was die jongman bekommerd oor die skoolhoof, dr. Wellington, se reaksie. Die hoof het koloniale waardes aangehang. Tot Mandela se verbasing het dr. Wellington niks gesê nie; net stilswyend na die digter se politieke relaas oor Afrika-nasionalisme geluister. Die droom dat alle mense in Suid-Afrika kan saamleef en mekaar se kultuurerfenis en diversiteit op kollektiewe wyse kan respekteer, het vir die eerste maal posgevat by die oud-staatman – asook die herinnering aan Mqhayi, wat hy vir jare in die gevangenis, en later tydens sy presidentskap, sou koester. Ook ons voorste digter, Breyten Breytenbach, het tydens sy Mandeladag-lesing aan die Universiteit van Gent aangesluit by die Mandela-nostalgie. Ten spyte van kritiek op die huidige regeringsbestel het Breytenbach beaam: Die geskiedenis verbind ons. Ons rykdom is ons diversiteit. Kuns is een van die laaste toevlugsoorde waarsonder ons nie kán nie.”

Suid-Afrikaanse poësie: ’n historiese blik

Die koloniale tydperk

Om te sê dat poësie deur swart digters sy beslag eers in die twintigste eeu gevind het, reflekteer slegs die korpus geskrewe werk en nié die ryk orale tradisie nie. Afrika-poësie het ’n lang en glorieryke geskiedenis van lofdigters (izibongo en imbongi) wat lofpoësie, gebede, tradisionele himnes, fabels en treurdigte voordra. Digters het oorwegend hulle skoolopvoeding in sendingskole ontvang, en die invloede van Engelse digters soos John Keats, Percy Shelley, Thomas Gray en Oliver Goldsmith is sigbaar in hulle werk. Herbert Isaac Ernest Dhlomo, B.W. Vilakazi en die satiriese poësie van Herman Charles Bosman staan uit as eksponente van hierdie periode.

Die post-koloniale tydperk

Vier maande nadat die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het, verskyn Alan Paton se seminale Cry, The Beloved Country – ’n roman wat op simboliese wyse hierdie tragiese tydvak in ons geskiedenis binnelui. Die poësielandskap van 1948-1990 was inderdaad ’n stormagtige een. Deur die loop van die vyftigerjare was Drum magazine ’n gewilde platform vir die publikasie van swart poësie, wat intussen ’n ryk en diverse kultuur van verstedeliking begin weerspieël het. Belangrike digters soos Peter Clarke, Richard Rive en James Matthews is met die tydskrif geassosieer. Protes teen die onderdrukkende apartheidsregime het toegeneem – ’n bloeitydperk (letterlik en figuurlik) vir struggle-digters wat dekades lank gely het onder diskriminerende wetgewing, ballingskap, huisarres, detensie en marteling.  Daar is ’n verbod op die publikasie van sekere digters se werk geplaas; ook is hulle reg tot openbare toesprake, insluitend die beoefening van orale poësie, in die ban gedoen. Hierdie digters het egter die soeklig laat val op sosiale ongeregtighede en plaaslik, sowel as in die buiteland aandag getrek met hulle gedigte in literêre tydskrifte soos COSAW (Congress of South African Writers) en Staffrider. Die sensuur op publikasies was hewig, en van hierdie digters het verkies om hulle stem eerder in buitelandse tydskrifte te laat geld. Binne die Afrikaanse geledere het die Sestigers, waarvan Jan Rabie, André P. Brink, Etienne Leroux, Breyten Breytenbach en Ingrid Jonker die vernaamste was, radikale vernuwing op sowel tematiese, sosio-politieke en linguistiese gebied gebring. Die sestigerjare het eweneens sy nuwe generasie wit Engelse skrywers opgelewer, soos byvoorbeeld Douglas Livingstone, Lionel Abrahams en Stephen Gray. Indekse soos Voices from within: Black poetry from southern Africa vermeld die Sharpeville-slagting (1960) en die Soweto-opstande (1976) as waterskeidingsoomblikke in die Suid-Afrikaanse letterkunde. Die struggle-digters het met ’n groter dringendheid as ooit geskryf; genoop tot die mobilisering van die massas teen die apartheidsregering. Poësiebyeenkomste is nou ondergronds gehou in ’n tipe versetpoësie wat gekenmerk is deur die gebruik van rewolusionêre slagspreuke. Die kataklismiese nadraai van die marteldood van Steve Biko in 1977 het nuwe momentum aan die protesbeweging gegee. Swart digters se werk was teen dié tyd heeltemal gemarginaliseer en vooruitsigte op publikasie binne die landsgrense was feitlik nul. In teenstelling hiermee het Afrikaanse uitgewershuise floreer en ’n stortvloed poësie uitgegee (dikwels van minderwaardige gehalte). In 1970 het Antjie Krog, toe 17 jaar oud, se debuutbundel Dogter van Jefta verskyn en Krog het ’n herrie in die pers veroorsaak ná die publikasie van haar gedig, My mooi land in ’n skooljaarblad: “Gee vir my ’n land waar swart en wit hand aan hand / vrede en liefde kan bring in my mooi land.”

Op sy beurt beeld die ghetto-agtige Soweto-poësie, wat sedert die sestigerjare toegeneem het, Soweto uit as ’n sosiale en metafisiese hawe – maar ook as een van verset. Dit is poësie wat geskryf is in ’n rou Engelse idioom en wat rym en vaste vorm vermy ten gunste van die ‘naaktheid’ van die vrye vers; ’n lingua franca wat Afrosentriese Engels voorstaan en wegdoen met Eurosentriese invloede. Die tagtigerjare is gekenmerk deur die versetpoësie van die werkersklas (“worker poets”), asook die lofdigte van vakbonde, byvoorbeeld Black Mamba Rising.

Post-apartheid

Met die vrylating van Nelson Mandela in 1990 het ’n nuwe demokratiese bestel aangebreek wat gekenmerk is deur “honeymoon literature”, of “the literature of celebration”, om die kritikus, Stephane Serge Ibinga aan te haal. ’n Belangrike tema van post-apartheid-poësie is dié van nasiebou, asook die herevaluering van identiteite in die verlede op pad na die ideaal om op outentieke wyse uitdrukking aan die Self te gee. ’n Inklusiewe Suid-Afrikaanse digtersgemeenskap waarbinne ons diversiteite verenig kan word, was uiteindelik in die vooruitsig: ’n gemeenskap waarin die wonde van die verlede, maar ook die ongelykhede in die hede kollektief aangespreek sou word.

Hedendaagse Suid-Afrikaanse poësie

Performance poetry het die afgelope dekade met rasse skrede toegeneem. Laasgenoemde genre het sy oorsprong te danke aan die inheemse orale tradisies van die izibongo of lithoko, asook die praattaal van die dag, soos dit neerslag vind in die populêre kultuur. Die protespoësie van die sewentiger- tot negentigerjare is dikwels begelei met musiek (of deur musikante self beoefen); en is verder kruisbestuif deur Amerikaanse hip-hop en rap (kletsrym). Professionele digters en kunstenaars kry blootstelling via poësiefeeste soos Poetry Africa of Badilisha Poetry X-Change, waar poësie verder versprei word deur potgooie, of gelees en gedeel word op literêre webtuistes soos LitNet, Poetry International – SA en die sosiale media. Hedendaagse Suid-Afrikaanse poësie is dus die assimilasie van alle diverse invloede – soos hierbo genoem – met die magdom multimediafunksies wat die internet bied. Die opkoms van onafhanklike uitgewers wat selfpublikasie moontlik maak, asook e-tydskrifte (e-zines) skep ’n verskeidenheid platforms vir ’n digter in Suid-Afrika om sy stem te laat hoor.

Suid-Afrikaanse poësie en meertaligheid

’n Mens kan seker tereg vra: met soveel invloede, style en tradisies; met só ’n heterogene register van Suid-Afrikaanse poësie – waarheen nou? Die droom om ons digterlike erfenis wat so divers is, te verenig, loop inderdaad ook die risiko van verdeling. Diversiteit kan maklik wegsplinter. Afrikaans verkeer onder druk, veral na die uitspraak van die Konstitusionele Hof wat op 10 Oktober bevind het dat US se 2016-taalbeleid, wat Engels die voorrang gee as onderrigtaal by dié instelling, grondwetlik geregverdig is. Daarteenoor toon Kaapse variëteite stadig maar seker ’n opbloei, terwyl van die Khoisan-tale op die rand van verdwyning is. Daar is genesing nodig vir die verwonding van die verlede vir al die tale in Suid-Afrika. In 2017 het die begrafnisondernemer, AVBOB, se Poësieprojek afgeskop. Naas die bevordering van skeppende poësie, is dit ook ’n vertaalprojek met ’n antropologiese fokus. Met die vertaling van poësie word die sosiale konteks van die een taal na ’n volgende taal oorgedra en vind ’n multikulturele kruisbestuiwing op linguistiese vlak plaas. Lesers ontwikkel begrip vir ander mense se kultuur deur vertaalde poësie te lees. Die doelwitte van die AVBOB Poësieprojek is, in lyn met die uitgangspunte van die bekende internasionale Creative Europe-vertaalprojek, soos volg: Dit ondersteun en bevorder kulturele en linguistiese diversiteit in Suid-Afrika; dit bevorder die verspreiding en sirkulasie van gekeurde poësie in al 11 tale; dit bevorder die literêre vertaling van tale wat minder gehoor word, of tale wat uitsterwing in die gesig staar; dit bied blootstelling en erkenning aan talentvolle Suid-Afrikaanse digters; die projek bied ’n uitstalvenster vir vertalers; dit skep die moontlikheid van publikasie in die I wish I’d said-bundels; dit lei tot bekronings in al 11 landstale; en dit bereik nuwe gehore via die Ek wou nog sê…-geselsprogram.

Drie jaar gelede het wenkbroue gelig toe AVBOB hulle Poësieprojek aangekondig het: hoe op aarde kan ’n begrafnisverskaffer ’n vennoot in die bevordering van poësie wees? As ’n mens daaroor dink, is dit heel logies. AVBOB ervaar daagliks smart en verlies wat te groot is vir woorde. Een van die eerste dinge wat agtergeblewenes dikwels vir AVBOB vra, is hulp met die opstel van begrafnisbriewe en -pamflette. Want gewone woorde is ontoereikend. ’n Nuwe – of ‘spesiale’ – taal is nodig. En hierdie taal is poësie, die volmaakte uitdrukking van verlies. Baie mense in Suid-Afrika is om die een of ander rede getraumatiseer. Om te dig oor die dood, impliseer ook noodwendig ontwrigting, trauma en pyn. Maar die dood is ook onlosmaak deel van sy binêre opposisie, die lewe. Om ’n gedig tussen duisende ander op ’n webwerf te publiseer, verg vertroue. Daarom is die AVBOB Poësieprojek ’n belangrike stabiliserende faktor tussen gemeenskappe en tale. Ten spyte van beloftes aan regeringskant om meertaligheid te bevorder en dan die teendeel doen, gebeur dit tog danksy die reuse-belegging van een maatskappy wat Suid-Afrikaanse poësie laat floreer.

Besoek www.avbobpoetry.co.za om jou profiel te registreer of gedigte in te stuur. Die kompetisie sluit op 30 November om middernag.

 

Verwysings

https://www.bbc.com/news/world-africa-39935150?fbclid=IwAR2VzOpDsr2g9hJmWDghSfM7H0Gl9DHFcrNDx0B3jIzfQLf67Su_kVwF1ME

https://en.wikipedia.org/wiki/South_African_poetry?fbclid=IwAR1TpFhR4Y8qXMP-nyFUsaELVpmqMNWcQjOzLZXezeMdQANxOeoQHH48_Mo

https://www.news24.com/SouthAfrica/News/there-is-no-language-that-is-superior-to-another-ramaphosa-celebrates-heritage-day-with-a-focus-on-african-languages-20190924?fbclid=IwAR0hpcxoLj0j8LNiVUPkoe3WiIFS8NYL1XikVlad2k-PfxPmKGl2tTbdQ64

Chapman, M. en A. Dangor. Voices from within. Black Poetry from southern Africa. 1986. Cape Town: Creda Press.

De Lange, J. en M. Maphumulo (reds.). I wish I’d said…Vol. 2. 2019. Kaapstad: Naledi.

De Lange, J. en M. Motinyane (reds). I wish I’d said. 2019. Kaapstad: Naledi.

Mandela, N.R. Long walk to freedom. 2013. New York: Little, Brown and Company.

 

 

 

 

 

 

 

Wicus Luwes. Kulturele ervarings danksy Lego

Monday, November 4th, 2019

 

’n Oud taalonderwyseres laat weet my ’n bietjie meer as maand gelede dat sy besig is om te trek na ’n kleiner plek en dat sy ’n paar ou digbundels het wat ek by haar kan kry as ek sou belangstel. By my aankoms vra sy uit na my kinders en vertel my van haar kleinkinders. Ons bespreek wat dit verg om ’n gebalanseerde klein mens op te voed. Daar was natuurlik die blootstelling aan akademie, sport en kultuur.

“Hoe stel jy jou kinders bloot aan kultuur?” vra sy.

Ek kon haar vertel van die kitaarlesse en die onlangse toneelstuk waarheen ons die kinders geneem het. Ek kon haar vertel van die kersopvoering waarin ons kinders deelneem. Ek het egter nie een van daardie dinge genoem nie en het, sonder om ’n oog te verroer, na die volgende onderwerp gespring.

Miskien was dit omdat my kinders se nuutste Lego-skepping in my gedagtes opgekom het, dat ek nie aan die kitaarlesse en kersopvoering kon dink nie. Lego. Hoe kan die boublokkies kultuur verteenwoordig? Op watter manier het my brein kultuur en boublokkies aan mekaar verbind? Ek het begin dink aan wat kultuur vir ons verteenwoordig en hoe ons dit miskien  kan toepas op boublokkies.

Koos van der Merwe in die galery

.

ou koos kyk rond en lyk benoud

hy staar en frons aaneen

en die kurator wil hom hulp verleen

gaan prewel sonder voorbehoud:

“neem dié portret, ie pro porsie 2 x 1

’n hier en daar, ’n hoog en wyd

beraming van ’n manlikheid

formele beide vort

en ook in toom

’n hard en sag ’n lank en kort

die x-as y-as xy-chromosoom

het u dit ook so opgelet?”

en koos sug, antwoord met

“ja danki maar uhm sê gou net

jong waar is die toilet?”

 

deur: Loftus Marais uit Jan, Piet, Koos en Jakob (Human & Rousseau: 2019)

Die aktivering van die verbeelding

Die boublokkies aktiveer definitief die verbeelding op ‘n besonderse manier. Jy moet tog seker kreatief begin dink voordat jy die kasteel of seerower-skip bou. Die kleinspier-ontwikkeling en ander vaardighede het ook ‘n belangrike rol te speel in die praktiese uitleef van verbeeldingsvlugte. As ouer lees jy van spelterapie en kinders wat moet leer kruip om hul taalvaardighede te verbeter. Die aktivering van die verbeelding is ‘n deur wat makliker en moeiliker oopgetrek word deur verskillende kinders (en volwassenes).

Die volg van instruksies

Daar is ‘n stel ongeskrewe reëls wat uitspeel in die kultuuromgewing. Die boublokkies het ook gewoonlik ’n instruksieboek wat wys hoe die Hogworths-skool of die Batmobile gebou moet word. Dit leer natuurlik die kinders ruimtelike insig en hoe om instruksies te volg. Die natuurlike kreatiwiteit kom dan ook tot die oppervlak wanneer die kind nie meer die instruksie volg nie en sy eie geboue en ruimtetuie begin bou.

Die praktyk

Daar is natuurlik ’n stukkie kuns in die goeie uitvoering van ‘n taak. Die kuns lê in die interpretasie van die verbeeldingsvlug. Die boublokkies is in ’n sekere sin eintlik sommige kinders se eerste kennismaking met die praktiese sy van verbeelding. Nuwe wêrelde word in die verstand van die kind geskep.

Invloed op die populêre kultuur

Die boublokkies het ‘n ongelooflike impak op die moderne kind se ontwikkeling. Watter kulturele invloed dit op die ontwikkeling van die kind het, is natuurlik die vraag. Dit het wel ‘n onteenseglike invloed op populêre kultuur. ‘n Mens kan maar net na al die flieks en TV-reekse kyk om te sien hoe Lego deel geword het van die samelewing.

Die verandering van kultuur

My kinders bou nie ossewaens nie. Sover as wat ek weet is daar ook nie volkspele Lego-mannetjies beskikbaar nie. Op watter manier wil jy jou kinders blootstel aan kultuur? Op watter manier wil jy die kultuur vernuwe of miskien herdink in plaas van herdenk?

Die kleure van Lego-blokkies het deur die jare ook verander om klein dogtertjies aan die wonderlike boublokkies bekend te stel. Ek is seker dat daar al ‘n groot persentasie van verkope na die vroulike mark toe gaan. Lego het die potensiaal om tradisionele manlike beroepe aan dogtertjies bekend te stel.

.

Piet X

 

hy is ‘n noord-pretoriase donder

hy toet vir learner drivers wat voor hom gaan staan

hy vloek op armes wat by verkeersligte

net voorruit was, sonder om te vra

hy dink ‘n double cab is ‘n familiemotor

sy lewe ‘n balansstruuk tussen liefde vir sy derde vrou

en irritasie met sy stiefkinders

hy is ‘n middeljarige en harige rekruut van daardie ligte

afstigting bearbei deur die solidariteit-beweging

tog: dikwels saans gaan sit hy by sy rekenaar en lees

en luister op die internet na al die “unexplained

sea sounds” – meegevoer, met stuyvesant en frons

sy gunsteling is upsweep, en ook slow down

die ongoddelike vreemdheid in die afluister van oseane

ondanks hidrofonika en spektrogramme

het die wetenskap g’n antwoord vir die spookgerase nie

– dis nie duikbote of ysberge wat kraak nie – en

soms raak sy oë byna waterig oor die patrone

in die dieptes, al die teorieë, klank so hol

wat sê dit dat ‘n wese soos piet x

geroer word deur die tjanke van verbeelde seemonsters?

 

deur: Loftus Marais uit Jan, Piet, Koos en Jakob (Human & Rousseau: 2019)

 

Die verteenwoordigers van die handelsmerk

Ek het gaan soek na die maniere waarop die Lego handelsmerk aan kinders en die groter mark oorgedra word. Ek kon nie ’n Ronald Macdonald of Kolonel Saunders kry wat Lego bemark nie.

Ek sien net oral die klein glimlaggende geel mannetjie sonder ’n naam. Die mannetjie word Harry Potter of Batman. Die geel mannetjie word ’n ruimtereisiger of ’n loodgieter. Lego verteenwoordig daarom die kultuur van ons tyd, maar op ’n sekere vlak word die kind self ook die Lego-mannetjie. Die verteenwoordiger van die handelsmerk word die kind wat daaraan deelneem.

Gevolgtrekking (Wat sal ons nou sê oor al hierdie dinge?)

Die verteenwoordiger van die kultuur is Jan, Piet, Koos en Jakob, soos die titel van Loftus Marais se nuwe digbundel dit stel. Lego is seker nie al kultuur wat my kinders nodig het nie, maar miskien is dit juis so bedoel dat kultuur, sport en akademie soos blokkies opmekaar pas. Ek het besef dat kultuur nie noodwendig die dinge is wat jy van kindsbeen af as kultuur beskou nie. Daar moet sekerlik ’n strewe na die mooi en mooier wees – hoekom sou ons dit dan anders navolg? Die plek, die tyd waarin ons leef of miskien iewers en iets waarheen ons streef. Die verteenwoordigers van kultuur is nie slegs die mense wat daarna kyk omdat dit mooi is nie. Dit is ook die mense wat daaraan deelneem.

  •