Nini Bennett is in 1972 in Pretoria gebore. Sy behaal die MA-graad in Skeppende Skryfkuns (met lof) aan die Universiteit van Kaapstad (2001). In 2002 debuteer sy met ’n bundel kortverhale Stoornis, wat bekroon word met die UJ-debuutprys (voorheen die RAU-Mardéne Marais-prys). In 2008 wen sy die internasionale Room to Read-prys in die kategorie Afrikaans, en die jeugverhaal, “Die storie van Vusi se orkes”, sien die lig in elf amptelike landstale. In 2011 verskyn haar debuutdigbundel, Kodeks. Bennett se derde bundel Donkerwerk verskyn in 2019 by Naledi uitgewers. Sy is tans besig met voorbereiding vir doktorale studie in ekokritiek, werksaam as skrywer en vryskutresensent, en is ’n bekende digmentor. Sy woon in Kaapstad.
Zandra Bezuidenhout was ná haar studies aan die Universiteit Stellenbosch en UNISA werksaam as vertaler, onderwyser en deeltydse dosent. Sy het later haar studies in die letterkunde voortgesit aan die Universiteit Stellenbosch en Universiteit Leiden, waarna sy in 2005 ‘n doktorsgraad verwerf oor die eietydse poësie van Afrikaans- en Nederlandstalige vroue. Tans is sy ‘n vryskuttaalpraktisyn en -resensent. Haar debuutdigbundel dansmusieke (2000) is met die Ingrid Jonkerprys bekroon en `n tweede bundel Aardling het in 2006 by Protea Boekhuis verskyn.
Neil Cochrane het sy grade in die uitgewerswese en Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Pretoria met lof behaal. In 2013 voltooi hy ‘n nagraadse diploma in onderrigtegnologie en e-leer met lof aan die University of Maryland University College in die VSA. Hy doseer Afrikaanse letterkunde aan UP en Unisa. Hy was vanaf 2006 tot 2007 as besoekende dosent verbonde aan die Adam Mickiewicz Universiteit in Poznan, Pole. Hy is tans ’n lektor in Afrikaanse letterkunde aan Unisa. Sy navorsingsbelangstellings is queer letterkunde, Mediese Geesteswetenskappe asook Letterkunde en Medisyne. Hy lewer gereeld bydraes tot akademiese vaktydskrifte asook nasionale en internasionale kongresse (onder meer in Italië, Oostenryk, Hongarye en België). Hy is ‘n ervare boekresensent vir verskeie publikasies. Tot op hede verskyn meer as 70 resensies uit sy pen. Van sy gedigte en kortverhale verskyn onder meer in Nuwe stemme 5 (2013), LitNet, Tydskrif vir Letterkunde en ’n aantal versamelbundels. Benewens akademiese bedrywighede is hy versot op sy Franse bulhonde (Jojo en Ozzie) en hou hy van Griekse cuisine (eintlik alles wat Grieks is) en reis. Sy gunsteling Afrikaanse digters is Sheila Cussons, Johan Myburgh en Wilma Stockenström.
Marius Crous is in 1965 gebore. Hy debuteer met die bundel Brief uit die kolonies (2003), waarvoor hy die Universiteit van Johannesburg se debuutprys ontvang. In 2006 verskyn sy tweede digbundel Aan ‘n beentjie sit en kluif. Benewens ‘n doktorsgraad in Afrikaans en Nederlands verwerf hy ook MA-grade in Afrikaans-Nederlands en Engels. Hy het die Kreatiewe Skryfkundekursus onder leiding van prof. Marlene van Niekerk voltooi. Sy derde digbundel, Vol draadwerk, verskyn in 2012 by Protea Boekhuis. Hy is dosent in Afrikaans aan die Nelson Mandela Universiteit.
Wian Erlank
Ihette Jacobs-Senekal
Dewald Koen is in Port Elizabeth gebore en woon tydens sy jeugjare in Pretoria en Kaapstad. Hy matrikuleer in 2002 aan die Hoërskool Andrew Rabie in Port Elizabeth. Hy studeer aan die Nelson Mandela Universiteit en behaal die MA in Afrikaans/Nederlands onder leiding van prof. Marius Crous. Sy verhandeling fokus op die reispoësie van Joan Hambidge in Visums by verstek. Sy DLitt et Phil-studie aan die Fort Hare-Universiteit (2017-) fokus op ’n ekokritiese lees van Marlene van Niekerk se Kaar. Hy onderrig Afrikaans by verskeie Oos-Kaapse hoërskole en was tot en met Augustus 2016 Afrikaans-departementshoof aan Kingswood College in Makhanda (Grahamstad) waarna hy Afrikaans en Nederlandse letterkunde eers aan die Fort Hare-Universiteit se Oos-Londenkampus doseer. Sedert April 2019 is hy verbonde aan die Nelson Mandela Universiteit se opvoedkundefakulteit waar hy Afrikaanse taal- en letterkunde doseer. Hy skryf gereeld resensies vir Afrikaanse dagblaaie, Litnet en Versindaba. Twee akademiese artikels is in Stilet gepubliseer en sy eerste kortverhaal “‘n Nuwe begin” is in Die perfekte brander en ander verhale opgeneem. Dewald is ’n ywerige boekversamelaar, het ’n liefde vir tuinmaak en kyk graag films in sy vrye tyd.
Amanda Marais behaal haar DLitt aan die Universiteit van Pretoria met ‘n proefskrif oor die kanonisering van die vroulike outeur in die Afrikaanse literatuursisteem. Sy is tans dosent (Afrikaanse letterkunde en redigering) in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch, en is ook verantwoordelik vir die koördinering van slypskole oor verskeie fasette van taalpraktyk wat deur die departement aangebied word. Sy is mede-outeur van Wetenskaplike skryfvaardighede [Scientific writing skills].
Jean Meiring
Charl-Pierre Naudé werk as vryskutjoernalis. In 1995 publiseer Tafelberg sy debuut, Die nomadiese oomblik, waarvoor hy die Ingrid Jonker-prys ontvang. Sy tweede digbundel In die geheim van die dag, waarvoor hy die MNet- en Protea Poësieprys ontvang, verskyn in 2005 by Protea Boekhuis. ‘n Bibliofiele uitgawe van sommige van sy gedigte, Sien jy die hemelliggame, verskyn in 2009 by SlibreeksGroot in Nederland. Hierdie beperkte uitgawe bevat die Afrikaanse sowel as die Nederlandse weergawe van elke gedig. Naudé woon en werk in Johannesburg.
Bernard Odendaal is op 15 Desember 1955 gebore en word as een van vyf broers op die hoewe Harmonie op die Bainsvlei/Waterbron-vlakte buite Bloemfontein groot. Ná studie aan die Universiteit van die Vrystaat gee hy Duits en Afrikaans by skole in en om Bloemfontein. Nadat hy 18 maande lank dosent in Afrikaans en Nederlands aan die toenmalige Durbanse Onderwyskollege was, word hy in 1990 in dieselfde vakgebied aangestel aan die Universiteit van die Vrystaat, waar hy in diens bly as medeprofessor tot einde 2011. In 2012 word hy die direkteur van die ATKV-Skryfskool aan die Noordwes-Universiteit op Potchefstroom. Tussen 2000 en 2010 was hy subredakteur van Stilet, lyfblad van die Afrikaanse Letterkundevereniging. As liedteksskrywer en -vertaler het hy meegewerk aan verskeie CD’s oor Jacques Brel. Sy debuutdigbundel, Onbedoelde land, het in 2007 by Tafelberg verskyn, en was op die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys. Gedigte daaruit is opgeneem in die bloemlesings Groot verseboek en Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte.
Marlies Taljard is verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus waar sy klasgee binne die Skool vir Tale. Sy behaal ‘n MA in Afrikaans-Nederlands met ‘n fokus op psigoanalise en kreatiewe skryfwerk en promoveer met ‘n proefskrif in Literêre Teorie soos toegepas op die poëtika van Antjie Krog. Sy is die outeur van verskeie artikels wat in vaktydskrifte verskyn het. Sy is die mede-outeur van die Toets van Akademiese Geletterdheidsvlakke wat deur verskeie Suid-Afrikaanse universiteite as plasingstoets gebruik word. Sy skryf gereeld resensies oor Afrikaanse literêre werke, dien as keurder van LAPA-boeke, asook redakteur van die tydskrif Woord en Daad. Marlies Taljard is die inhoudsbestuurder van Versindaba sedert 1 Augustus 2019.
Gisela Ullyatt is in Bloemfontein gebore en wen die Nasionale De Kat/ATKV-poësieprys vir hoërskoolleerlinge in 1995. Sy behaal ‘n MA in Duitse Letterkunde in 2001 en ‘n MA in Toegepaste Linguistiek (Engels) in 2007 aan die Universiteit van die Vrystaat. In 2013 promoveer sy aan NWU met ‘n studie oor die Amerikaanse digter, Mary Oliver, se oeuvre vanuit ’n Boeddhistiese perspektief. Haar gedigte verskyn onder andere in Litera, Nuwe Stemme 5 en in Woordfeespublikasies (2016) soos onse mense twee (samesteller: Marié Stander) en Break the Spell/Spreek die woord (samesteller: Louis Jansen van Vuuren). Gisela was ook in 2015 betrokke by literêre projekte van die Vrystaatse Kunstefees (voorheen bekend as die Vryfees). Sy en haar man, Tony, spesialiseer in literêre vertaling en van hul vertalings verskyn onder andere in In a burning sea (samesteller: Marlise Joubert, 2014) en Die ongewapende man: Wilhelm Knobel op 80 (samesteller: Deon Knobel, 2015). Gisela se resensies verskyn in Volksblad, Beeld en Die Burger en in publikasies soos Woord en Daad. Sy was ‘n senior navorsingsgenoot by Fort Hare se Departement van Afrikaans en het ook Engels daar doseer.
Mariëtte van Graan
Stefan van Zyl is ‘n boorling van die dorpie Kuruman in die Noord-Kaap. Ná matriek studeer hy aan die Noordwes-Universiteit te Potchefstroom waar hy ‘n BA met Kommunikasievakke, ‘n BA Honneurs in Afrikaans en Nederlands (letterkunde), ‘n BA Honneurs in Sielkunde, ‘n MA in Afrikaans en Nederlands (letterkunde) en ‘n PhD in Afrikaans en Nederlands (letterkunde) verwerf. Hy is sedert 2016 werksaam by die Departement van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie as taalpraktisyn, en het ook onder andere vir die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) as taalnavorser en vir Boekdiva Uitgewers as redakteur gewerk. Hy is tans ‘n navorsingsgenoot aan die Nelson Mandela Universiteit en ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Stefan is ‘n SAVI-geakkrediteerde taalpraktisyn wat spesialiseer in die redigering van akademiese tekste. Hy is ook webmeester van Versindaba.
Terug na Resensies: Inhoud