Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba

Nuwe Bundels 2025

Nuwe Bundels 2025

Ander digbundels in die jaartal:

2024, 2023, 2022, 2021, 2020, 2019, 2018, 2017, 2016 , 2015, 2014, 2013, 2012, 2011 & 2010

Indeks van Afrikaanse Poësiepublikasies: 2000 – 2012

Kyk ook na ander lyste op hierdie webtuiste. Resensies van digbundels verskyn gereeld.

 


 


waar daar eens ’n see was

Jennifer Pape

Omslag

op hierdie plek hier waar ek nou staan

tussen bitterbosblomme en stapels klip waarlangs

’n skaaphond waak oor kaalgeskeerde skape

was daar eens ’n see

ek weet dit want onder my voete

is die fossiel van ’n vis en twee verdrinkte vroue

teen die heuwel is oorblyfsels van hul huis

gebou met skulp en klei

en daar is ’n waterigheid in die verte

soos sweet op jou vel

toe jy nog bokke gejag het saam met !kweiten-ta-//ken

oor hierdie karooveld

waar daar eens ’n see was

 

Oor die digter

Jennifer Pape is gebore op Hennenman in die Vrystaat. Sy verwerf ’n BSc-honneurs in Geologie aan die UOVS en later ’n MSc in Geochemie by Wits. Sy skryf sedert haar studentejare gedigte, maar begin eers ernstig dig nadat sy die Stomme Jonge-digklub in Stellenbosch gestig het. Sy publiseer ’n handvol gedigte in Ons Klyntji en behaal die tweede plek in die Afrikaanse afdeling van die 2022-Avbobpoësiekompetisie. Sy is die webontwerper vir New Contrast Literary Magazine, en versamel graag boeke en plastiekdinosourusse. Jenny bly in Fisherhaven saam met haar lewensmaat, Susan, en kunstenaardogter, Maya.

 

[Turksvy Publikasies 2025. FORMAAT: A5. AANTAL BLADSYE: 70. PRYS: R260.00 (BTW ingesluit). ISBN:  978-1-83492-811-1]

 


Ek’t Act 

Klara du Plessis

Omslag

TO ACT I S TO DO. TO ACT I S TO ADOPT A ROLE. This slippage between agency and being, on the one hand, and performance, on the other, is amplified in Ek’t Act’s homophonic play across languages. Expanding on Klara du Plessis’s earlier translingual poetry, critically acclaimed in Canada, this collection flows seamlessly between English and Afrikaans. In dié bundel verskyn ’n spreker en ’n kind. Hulle is verweef in taal, landskap, liggaam en digkuns. Ek’t Act se reeks lang gedigte wil voorgedra word, om in ritme en klank, ‘van liggaam tot lig,’ te resoneer.

‘Ek’t Act is eietyds, meesleurend, onweerstaanbaar eroties en beeldskoon. Die gedigte is opwindend vars en geanker in ons oomblik, maar die emosionele strominge waarmee die werk beweeg is veel ouer. Du Plessis verken met kenmerkende presisie en konseptuele sofistikasie maar ook in ’n diep persoonlike register hoe kuns te staan kom teen die liggaam, hoe die liggaam te staan kom teen kuns, en wat dit beteken om te skep vanuit ’n vroulike lyf.’
– A Z I L L E COETZEE

‘A delicate, lyrical collection, Ek’t Act sings of the grand yearnings and desires of the body. With imagery that is at times candid, at times veiled, but always adventurous, the poet reveals herself as someone who maps out a world with an open, multilingual gaze.’
– ALFRED SCHAFFER

‘In Ek’t Act plaas Klara du Plessis haar transtalige poëtika sentraal, ’n werks-wyse wat sy sedert haar debuut Ekke (2018) op intrigerende wyse oopskryf. Deur Afrikaanse en Engelse teksfragmente te vervleg, as deel van langer gedigsiklusse, ontstaan gedigte wat mekaar weerspieël én verruim, met veelvlakkige betekenislading. Temas soos taal, liggaamlikheid, begeerte en moederskap staan voorop. Met Ek’t Act vestig sy haarself as ’n grensverskuiwende nuwe stem in die Suid-Afrikaanse letterkunde.’
– ALWYN ROUX

Oor die digter

KLARA DU PLESSIS is known for her contributions to long-form and translingual poetics. In Canada, she has published five books of poetry and literary essays. Her debut collection, Ekke (Palimpsest Press, 2018), won the Pat Lowther Memorial Award and her critical writing received Arc Poetry Magazine’s Critic’s Desk Award. The book-length narrative poem, Hell Light Flesh (Palimpsest Press, 2020), was adapted and produced as a mono-opera film, composed by Jimmie LeBlanc, and premiered at the International Festival of Films on Art in 2023. Klara’s recent publications include Post-Mortem of the Event (Palimpsest Press, 2024), poetry that mobilises audiovisual media, transcription, waveform visualisation, and digital humanities methods, and I’mpossible collab (Gaspereau Press, 2023), a prose collection that posits essay-writing as a collaboration between author as subject and author as object of study.

Ek’t Act is Klara du Plessis se Suid-Afrikaanse debuutbundel. Ekke (Palimpsest Press, 2018) en G (Palimpsest Press, 2023)—’n samewerking met Khashayar “Kess” Mohammadi wat Afrikaans, Engels en Persies in transtalige vergelyking tot mekaar stel—is plaaslik by Poetry In McGregor, Tuin van Digters, Vrystaat Kunstefees en Woordfees bekendgestel. Dié bundels is ook met lof in Die Beeld en op LitNet geresenseer. ’n Keur van Klara se gedigte verskyn in Alfred Schaffer se Nederlandse vertaling in DW B se “Stemmen uit Zuid-Afrika” uitgawe (2024). Klara werk graag interdissiplinêr. Haar beeldende kuns en klank installasies is in Suid-Afrika uitgestal by die Johannes Stegmann Galery (Dead Air, Post-Mortem of the Event series, 2024) en by die Gallery @ Glen Carlou (Hell Light Flesh series, 2023). In Kanada, stal sy by Artexte (Incipit. Scree. Explicit., 2023), Centre Clark (Scree/n, 2023) en OBORO (Event Chambers, 2024) uit.

Klara woon in Montreal en vir dele van die jaar in Kaapstad.

 

[Karavan Press 2025. ISBN: 978-1-0370-9370-8]

 


Kolam

Fourie Botha

Omslag

In Tamil – een van die amptelike tale van Indië – beteken “kolam” “vorm” of “skoonheid”. Dit verwys na ’n tradisionele kunsvorm waarin ingewikkelde geometriese patrone met rysmeel op die grond geteken word. Kolams is veel meer as bloot dekoratiewe ontwerpe; hulle het ’n diep kulturele en spirituele betekenis in Suid-Indië, en word dikwels met voorspoed, seën en godsdienstige rituele verbind.

In hierdie bundel verweef Botha uiteenlopende temas (die bundel sluit reisbeskrywings, erotiese gedigte, gedigte oor argitektuur, familie, diere, die belewenis van die spreker van die Covid-pandemie, die omgewing, ensovoorts in) op ’n vernuftige wyse.

Die gesaghebbende akademikus en literêre kritikus Karen de Wet, beskryf die werking van die kolam-motief in Botha se bundel as volg:

“Om die dele van die geheel hieruit te isoleer, sal altyd verminderend wees, en daarom ook verkieslik onnodig. Die oomblik dat die aanbod van die bundel uitmekaar gehaal moet word om te verwys na gedigte met beskrywings van en besinnings oor wonings en huise, woonbuurte, reise, diere, ’n ma, ’n pa, ’n spreker, ’n gesel (troeteldier, maar sonder hierdie verminderende woord), ’n geliefde, erotiek; ook verwerping, verval en verlies; antieke beskawings en tekste (gedigte, digters, kunswerke en -objekte) bly dit nog goeie gedigte, maar verloor mens die geheel van die komplekse, interafhanklike, ineengevlegte patroon. Al hierdie genoemde elemente kan wel in die bundel geïdentifiseer word as (aspekte van die) materiaal wat die digter gebruik wanneer hy dit tesame met getemperde, dog intens gefokusde waarnemings en perspektiewe (op werklikhede, gebeure, kuns(tenaars), taal en beskawings) deur sy poëtiese instink én geslypte (geslepe!) versvaardigheid tot teks bewerk en vir die leser aanbied – soos ’n maal, soos ’n kunswerk. Hierdeur, en so, maak hy die kolam.”

Oor die digter

Fourie Botha is ’n uitgewer en digter. Hy is die skrywer van die bundels Donkerkamer (2011), benoem vir die Ingrid Jonkerprys, en Krap uit die see (2017). Van sy werk is opgeneem in Nuwe Stemme 4, Versindaba 2010 en Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Hy woon in die Swartland.

 

[Protea Boekhuis 2025. PRYS: R250 (BTW ingesluit). FORMAAT: 137 x 213 mm. HARDEBAND/SAGTEBAND: Sagteband. AANTAL BLADSYE: 80. ISBN: 978-1-4853-1604-6]

 


I Wish I’d Said… Vol. 8

(Johann de Lange / NCP Golele, Reds.)

Now in its eighth year, the AVBOB Poetry Competition has produced another excellent and moving poetry anthology, I Wish I’d Said… Vol. 8. This beautifully curated collection of South African poetry introduces a compelling new theme – New Beginnings. It explores themes of resilience, renewal and the quiet courage it takes to start over.

The top six poems in each official language appear alongside three specially commissioned works by leading poets. English translations accompany each poem, offering shared understanding across South Africa’s richly diverse linguistic landscape.

The natural world is vividly present – seeds stir, birds take flight, rivers swell. This mirrors the emotional and spiritual renewal captured in these verses. Familiar themes of love and grief are joined by meditations on hope, healing and the possibility of growth.

This is more than a competition anthology; it is a sanctuary of reflection and a celebration of poetry’s enduring role in fostering connection, community and meaning.

About the compilers

The late Johann de Lange (1959–2025) made his debut in 1983 with the Ingrid Jonker Prize-winning Akwarelle van die dors. In 2011, he was awarded the Hertzog Prize for Die algebra van nood. His final volumes include Die meeste sterre is lankal dood (2020) and Miniatuur (2024).

Dr Agnes Mawela holds a PhD in Linguistics from the University of Limpopo, with a specialisation in terminography. She served as Head of Language Services in Limpopo Province and retired as Director of Language Services in the Department of Sport, Arts and Culture in 2016.

 

[Naledi 2025. SOFT COVER. 210 x 148 mm. 320 PAGES. R240.00. ISBN: 9781067234843]

 


Poëme

Wium van Zyl

Omslag

Kommer

Om ’n wyle te skuil

in ’n hokaai

in die buig van ’n komma

te hoor hoe tier dit

in vokale

kraak konsonante

en dan tog nog

onverskrokke tot die punt te kom.

 

Standaardtaal

Eensaam die digter

stuiptrekkend

aan sy eie stamboom

opgehang.

 

Oor die digter

Wium van Zyl is ’n boorling van Doornkraal in die Duiwenhoksvallei. Sy jeugkontrei lê teen die Langeberge met Grootvadersbos en Boosmansbos aan die bo-lope van die rivier wat deur alles vloei. Hiervandaan brei hy sy wêreld langsaam uit na Heidelberg, Witsand, die Strandveld en tot van die mees afgeleë dele van Suid-Afrika en Namibië, die Lae Lande, die res van Wes- en Oos-Europa, verskillende streke in Afrika, Indonesië. Sy eerste bundel, Oggendvuur, verskyn in 1991. Van sy poësie is opgeneem in Groot Verseboek en verskeie ander bloemlesings, ook in die Nederlande.

 

[Turksvy Publikasies 2025. FORMAAT: A5. AANTAL BLADSYE: 96. PRYS: R260.00 (BTW ingesluit). ISBN: 978-1-0370-8959-6]

 


Feesmaalgang

Dietloff van der Berg

Omslag

Feesmaalgang is die debuutbundel van Dietloff van der Berg. Hy het al meer as vyftig jaar gelede begin gedigte publiseer in tydskrifte soos Standpunte en Tydskrif vir Letterkunde, asook in versamelbundels tot vanjaar in flikker-gram. Sy heg-gestruktureerde bundel getuig van sy sensitiewe én geslypte woordvernuf en skeppingskrag.

Oor die digter

Van der Berg het as akademikus die kursus Skeppende Skryfwerk ingestel aan die universiteit in Pietermaritzburg waar hy 40 jaar lank Letterkunde doseer het.
Hy het ook boeke oor letterkunde geskryf en vir meer as 20 jaar Die Skrywerskring in Maritzburg gelei. Sedert 2010 kon hy hom net op sy digkuns toespits, eers met Rumi: Liefdesverse en aanhalings deur Naledi gepubliseer en nou Feesmaalgang wat ’n unieke beeld van die ontwikkelingsgang van ’n digterslewe bied, om saam te val met die eeufees van Afrikaans as amptelike taal.

 

[Naledi 2025. Prys: R275,00. Bladsye : 79. Formaat: 137mm x 213mm. Bindstyl: Sagteband. ISBN-13: 9781067234553]

 


Waterman

Herman Wasserman

Omslag

‘n Toeganklike, innemende bundel waarin die digter in soepel, gevoelige taal sy persoonlike ervarings verwoord én in gesprek tree met digters wat hom voorafgegaan het. Die verse skroom nie om eerlik én openhartig om te gaan met sowel diep persoonlike belewenisse of maatskaplike en politieke kwessies nie, en telkens te verras met vernuwende perspektiewe. Water dien deurgaans as ’n metafoor vir vloei, verandering en aanpasbaarheid – die noodsaaklike element vir lewe in ’n digterlike heelal.

Oor die digter

Herman Wasserman is hoof van die Departement Joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het reeds wyd gepubliseer oor mediasake in Afrika. Voorheen was hy professor in mediastudies aan die Universiteit van Kaapstad. Hy is ook bekend vir sy fiksieskryfwerk, hoofsaaklik kortverhale. Waterman is sy debuut-digbundel. Hy woon in Pinelands.

 

[Queillerie 2025. Prys: R250,00. Bladsye : 96. Formaat: 152mm x 234mm. Bindstyl: Sagteband. ISBN-13: 9780795803048]

 


Atrium: Gedigte (1970–2025)

Marlise Joubert

Omslag

Dit is vanjaar die bekroonde digter Marlise Joubert se 80ste verjaarsdag. Om die geleentheid te herdenk, het Karen de Wet ’n keuse uit Joubert se digbundels saamgestel. Die bundel bevat gedigte uit haar elf gepubliseerde bundels (gepubliseer tussen 1970 en 2023), asook ’n aantal nuwe, voorheen ongepubliseerde gedigte. Atrium is ’n versamelaarsitem wat op elke poësieliefhebber se boekrak hoort.  

 

as ek tagtig word

 

wil ek ontwaak in ’n berg se hut

met net die son se oggendlamp

wat agt dekades moet verlig

teen die aand se kant sal daar sterre wees,

’n maan se skynsel troos, ook ’n kers

se flikkering met kitaar se ritmiese akkoord

 

maar dit klink té romanties vir tagtig jaar!

veel eerder moet daar waterstiltes wees

waarin naggeluide plons en brom

dan kan ek rustig slaap asof gesloop

in die windroos van ’n jare lange verblyf

en wag dat ek weer gebore word

 

Oor die digter

Marlise Joubert debuteer in 1970 met die digbundel ’N BOOT IN DIE WOESTYN. Sy het in haar leeftyd drie romans gepubliseer; Klipkus, Oranje Meraai en Ateljee van glas. Klipkus het in Nederlands verskyn as Rode granaat (1981). Sy skryf ook verskeie radiodramas en is vier keer bekroon in die RSG/Sanlam-radiodramakompetisie. Verder is sy die samesteller van In a burning sea, ’n bloemlesing met dertig Afrikaanse digters se verse wat in Engels vertaal is. Haar agtste digbundel, bladspieël, verskyn in 2015 en word genomineer vir die Elisabeth Eybers Poësieprys, asook die ATKV Woordveertjie vir Poësie. Haar bundel grondwater is in 2020 met sowel die ATKV Woordveertjie vir Poësie as die Suid-Afrikaanse literêre toekenning vir digkuns (SALA) bekroon. Sy skryf en skilder tans voltyds, was die webmeester van Versindaba en vertaal soms kinderboeke.

 

[Protea Boekhuis 2025. PRYS: R320. FORMAAT: 213 x 137 mm. HARDEBAND/SAGTEBAND: Sagteband. Aantal bladsye: 256. ISBN (gedrukte boek): 978-1-4853-1606-0]

 


Die helfte is jou nie vertel nie

Thérèse Bartman

Omslag

In die helfte is jou nie vertel nie verken Thérèse beide die noodsaaklikheid én beperkings van die geskrewe woord. Sy keer terug na die orale, klankryke tradisie van poësie – veral as dit gaan oor die ervarings van mense wat nie kon lees of skryf nie, of wat deur die gemeenskap stemloos gelaat is. Daarom het Thérèse met Jitsvinger saamgewerk om ‘klankbane’ te skep vir elf van haar gedigte. Elkeen van dié gedigte het hul eie QR kode in die bundel.

In die helfte is jou nie vertel nie gaan Thérèse die onvertelde Suid-Afrikaanse geskiedenis in. Sy besin oor die ervarings van vroue en kinders in die Suid-Afrikaanse oorlog, asook die van haar eie voorouers. “Hoekom?” word die eerste kletsrym in Afrikaans oor wit en swart kindersterftes tydens die Suid-Afrikaanse oorlog. Sy wil deur haar poësie ook die huidige traumas wat jong mense raak, sigbaar maak, en van haar persoonlike verliese merk.

Oor die digter

Thérèse Bartman debuteer as digter in Nuwe Stemme 3 (2005). Van haar gedigte is in versamelbundels opgeneem, insluitend Groot Verseboek. Onder haar ander naam, Thérèse Hulme, skryf sy verskeie kinderboeke, asook Praat jy! Idees vir die skep van ’n skryfkultuur in die klas (2022) en My Word, Ideas for creating a writing culture in the classroom (2022). Hierdie publikasies is gebaseer op haar werk oor agttien jaar om jong mense in gemarginaliseerde gemeenskappe aan die skryf te kry. Sy self-publiseer jong skrywers van Scottsville se werk in piemp (2009).

Thérèse is ook ’n narratiewe terapeut in privaatpraktyk, en ’n mentor vir onderwysers en mense wat met kinders werk. Oor dekades verwerf sy die grade BA Drama, BA Honneurs Afrikaans/Nederlands, MA en DTh in Praktiese Teologie met Spesialisasie in Pastorale terapie.
Sy woon in Houtbaai.

 

[Naledi 2025. FORMAAT: 222X148MM. SAGTEBAND. PRYS: R300.00. 260 BLADSYE. ISBN 9781067234669]

 


Die bloei van blomme

Pirow Bekker

Omslag

Die bloei van blomme is Pirow Bekker se twaalfde digbundel, ’n bundel kinderverse inbegrepe. Dit is vanjaar presies sestig jaar sedert die verskyning van sy debuutbundel Die klip sing. In Die bloei van blomme vind die leser ’n selfs hoër mate as voorheen van sy – nou op byna negentigjaige ouderdom – positiewe ingesteldheid teenoor die lewe.

Die bloei van blomme gaan hoofsaaklik oor die saambestaan van lewe en dood – so naby dat in die gedig Kritieke massa die inname van ’n dodelike gif in presies die regte dosis daartoe kan lei dat in plaas van doodmaak die uitwerking die teenoorgestelde kan wees: die slagoffer laat floreer.

Daarby kom die verwoesting van die natuur in Voorportaal aan bod met ’n ironiese huldiging waar daar ’n uitstalling plaasvind van roofdiere in die gesogte aksie van vangs.

Oor die digter

Pirow Bekker (gebore 9 Desember 1935, Smithfield) is ’n Afrikaanse digter en skrywer van romans en kortverhale.

Hy is ’n voormalige hoof van die dokumentasiesentrum van die Instituut vir Taal, Lettere en Vertolkende Kunste van die RGN. Later boer en skryf hy. Die digbunde Stillerlewe (2002) word as ’n hoogtepunt van sy werk beskou.

Van sy gedigte word opgeneem in verskeie versamelbundels, onder andere Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Digters en digkuns, ’n Rooie met ratte, Pa, Goudaar, Miskien sal ek die wingerd prys, Voorspraak en Nuwe klein verseboek, terwyl sy verse ook in tydskrifte soos Standpunte verskyn.

Verder is hy die samesteller van die versamelbundel Digters op die toring, wat gedigte van die digters uit die twintigerjare saambundel.

 

[Naledi 2025. FORMAAT: 213 X 137MM. SAGTEBAND. PRYS: R275.00. 120 BLADSYE. ISBN 9781067234881]

 


KOORSBOOM

Jakes Möller

Omslag

Koorsboom is Jakes Möller se debuut as digter. Hy is ’n vorm- en rymvirtuoos. Dit blyk duidelik uit sy vernuftige aanwending van die haikoe, kwatryn, sonnet en villanelle. Hy skryf met die fyn waarneming van ’n wetenskaplike oor die mens, die natuur en die heelal. Die slotsom waartoe hy kom is: “die vreugde van die alledaagse my laaste sakrament”.

Oor die digter

Jakes Möller (1973) is gebore in Windhoek en werk sedert 2020 in Brits as ’n radioloog. Hartbeespoort en Brits in Noordwes is ’n omgewing wat enersyds landelik en selfs idillies van aard is, maar andersyds ook distopies en amper post-apokalipties. Die buitegewone natuurskoon van die Magaliesberg en Bosveld staan in skerp kontras met die swaar industrieë van die streek, munisipale verval en maatskaplike verbrokkeling. Koorsbome floreer in dié omgewing.

 

[Truksvy Publikasies 2025. FORMAAT: A5. AANTAL BLADSYE: 86. PRYS: R260.00 (BTW ingesluit). ISBN: 978-1-0370-7648-0]

 


tussentogte

Johan Cilliers

Omslag

In tussentogte kyk Johan Cilliers deur die bifokale bril van godsdiens én wetenskap na die mens en sy teenwoordigheid op aarde. Hy verset hom teen die formules en abstraksies van die “toga-teologie”. Op sy deurtog deur die lewe ervaar die gelowige die misterie van die Ewige juis op ’n sintuiglike wyse. Hierdie digter bring ons met sy fyngeslypte woord digter by die wonder van die hier en die Hierna. – Daniel Hugo

Oor die digter

Johan Cilliers (1954) is ʼn emeritus professor van die departement Praktiese Teologie en Missiologie aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het al as besoekende dosent opgetree by universiteite in Swede, Switserland, Nederland en Duitsland. Benewens 130 artikels in vaktydskrifte het hy ook 23 populêre en 19 akademiese boeke geskryf waarvan sommige in Duits, Koreaans en Russies vertaal is. Naas teologie het hy ʼn lewende belangstelling in astronomie, genealogie en estetika – en ʼn groot liefde vir sy plek van herkoms, die Karoo. Hy is getroud met Elna en hulle het twee kinders, Jacques en Karen.

 

[Turksvy Publikasies 2025. PRYS: R250.00 (BTW ingesluit). AANTAL BLADSYE: 130. FORMAAT: A5. ISBN: 978-1-0370-8295-5]

 


Bakeliet

Anri Botha

Omslag

Die digter se aweregse kyk op die wêreld en die mendsdom bly die leser verras. Alles is op die ou end ’n kwessie van chemie: die kunsmatigheid van ons bestaan, die pille wat ons drink om dit te verduur en die wyn wat die versmaker troos en inspireer. Met haar buitengewone woordvernuf maak sy ons deelgenote van haar metaforiese heelal.

Oor die digter

Anri Botha (1991) is ’n wynmaker wat in Ceres gebore is. Katte is haar huisgenote, haar terapeutiese komberse met snorre en waarskynlik die geheime redakteurs van haar werk. Met ’n glas wyn in die een hand en ’n pen in die ander leef sy met oorgawe vir wyn, woorde en warm verhoudings. Moet haar net nie vra vir water nie.

 

[Turksvy Publikasies 2025. PRYS: R250.00 (BTW ingesluit). FORMAAT: A5. AANTAL BLADSYE: 80. ISBN:  978-1-0370-8696-0]

 

 

 


die langste jaar

Muller Minnaar

Omslag

Op die oog af beskryf Muller Minnaar die saai bestaan van ’n staatsamptenaar, op soek na sin en die liefde. Sy skerp waarnemingsvermoë maak van sy buitestanderskap ’n deug. Die leser sien en voel saam met hom. Die digter verhef middelmatigheid tot poëtiese suiwerheid en meerwaarde.

hy klim van die bus af

stap bult-op na sy kamer

in die agterplaas van iemand se huis

hy sluit sy kamer oop

sit die rekenaar aan op my musiek

luister na iemand uit amerika

wat sing oor verlore wees

hy sit kos op die stoof

hy bad eet skeer

trek ’n nuwe jean aan

stap stadig na die hotel om die hoek

 

Oor die digter

Muller Minnaar (1967) is gebore in Kimberley, maar het grootgeword in Sishen – ’n myndorpie in die Noord-Kaap. Hy matrikuleer aan Sishen Hoërskool, gaan studeer by die UOVS, maar verwerf nie ’n graad nie. Daarna sluit hy permanent by die weermag aan en werk vir agtien jaar in Potchefstroom en Pretoria. In 2022 AWOL hy en is tans nog op vrye voet. Hy woon nou in Bloemfontein waar hy groente plant en bier drink.

 

[Turksvy Publikasies 2025. FORMAAT: A5. AANTAL BLADSYE: 72. PRYS: R250.00 (BTW ingesluit). ISBN: 978-1-0370-9069-1]

 


Nogmaals vir die bysiende leser

Redakteurs: Joan Hambidge en Marlies Taljard

Wilma Stockenström is een van die veelsydigste skrywers in Afrikaans. Sy het die Hertzogprys twee maal ontvang: vir poësie in 1977 vir Van vergetelheid en van glans en vir prosa in 1991 vir Abjater wat so lag. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het haar in 2025 met ’n huldigingsbundel vereer, getitel Met my wysvingertop. Ronel Foster was die redakteur.

Uit die verskillende reaksies op haar deur eietydse digters (bekroond, bekend en bemind) is die invloed van Stockenström steeds merkbaar. Die ekologiese tematiek, die lewe in Afrika, die liefde vir katte, die bysiende leser, die wantroue in woorde én uiteraard die aanspreek van die dood, word deur die verskillende en uiteenlopende digters in hierdie bundel aangespreek.

Joan Hambidge (digter, romanskrywer en kritikus) en Marlies Taljard (webmeester van Versindaba) is die redakteurs. Die projek is begin deur wyle Johann de Lange en op 9 Desember 2024 stuur hy die volgende e-pos aan Joan Hambidge:

Die rekwisiete van ’n vers
soos op die verhoog
mag nie net toeval wees:
elke ding het ’n doel.

Die versoek was om met Stockenström se werk in gesprek te tree en die verskillende digters gee ’n unieke en uiteraard eiesinnige reaksie op haar werk. Vyf-en-twintig belangrike en gerekende stemme in Afrikaans.

[Naledi 2025. SAGTEBAND. FORMAAT: 213 X 137mm. PRYS: R260.00. 120 BLADSYE. ISBN 9781067234904]

 


Skulpkrale: Kwatryne

Marié Heese

Omslag

Grot

Dit ruik na see. En klammigheid. En rook.

Mense was hier. Kyk, meer as een herd.

Skulpkrale, oker met patrone, skerp

implemente vir kook. Vir teken. Doodmaak ook.

Oor die digter

Marié Heese is veral bekend vir haar historiese romans in Afrikaans en Engels. Die familiekroniek Die uurwerk kantel (1976) was jare lank op skool voorgeskryf. Die jongste, Die laaste dae, handel oor die uitbarsting van Vesuvius in 79 n.C. Dit het in 2024 by Turksvy verskyn. Sy is ook ’n vaardige beoefenaar van die kort versvorms: die haikoe en kwatryn. Haar bundel, Haiku for Africa, sien in 1997 die lig.

Skulpkrale is haar debuut as Afrikaanse digter.

[Turksvy Publikasies 2025. FORMAAT: 210 x 145 mm. AANTAL BLADSYE: 80. PRYS: R250.00 (BTW ingesluit). ISBN: 978-1-0370-8124-8]

 


Ontbloot

Marthé McLoud

Omslag

Ontbloot is ’n memoir-digbundel. Dit handel oor Marthé McLoud se persoonlike, familie- en gesinservarings, maar is ook universeel relevant. Dit is ’n intieme verhaal wat strek van haar kinderdae en studentejare tot getroude vrou met ’n beroep. Die verhouding tussen ouer en kind speel ’n deurslaggewende rol. Die digter se helder taalgebruik, verrassende beeldspraak en vermoë om haarself objektief te beskou bewerkstellig die gedigte se besondere oortuigingskrag.

Oor die digter

Marthé McLoud (1964) is op Stellenbosch gebore en het daar grootgeword. Sy behaal in 1989 haar MA-graad in Maatskaplike Werk en het vyf-en-twintig jaar lank as maatskaplike werker in Pretoria en Somerset-Wes gewerk. Sedert 2018 is sy afgetree en woon in die Strand. Vanaf 2017 tot 2025 verskyn van haar gedigte in verskeie hoofstroombundels: Nuwe Stemme 6, die grendeltydbloemlesing Maskers en mure, die mediese poësieversamelbundel Flikkergram, asook die bloemlesing Merang, een van die Afrikaans 100-projekte.

Ontbloot is haar debuutbundel.

 

Vir inligting, boekbestellings en boekbekendstellings:

Marlene Malan

083 308 6305

www.turksvypublikasies.co.za

marlene.turksvypublikasies@gmail.com

Daniel Hugo

076 493 1278

danielhugo.skryf@gmail.com

 

[Turksvy Publikasies 2025. FORMAAT: A5. AANTAL BLADSYE: 80. PRYS: R250.00 (BTW ingesluit). ISBN: 978-1-0370-7439-4]

 


Klaarte

Louis Esterhuizen

Klaarte is die bekroonde digter Louis Esterhuizen se twaalfde digbundel en bevat merendeels lewensbeskoulike, besinnende verse oor die liefde tussen twee ouerwordende persone, maar ook aktualiteitsverse oor die geskiedenis, ekologie en die digkuns self.

Verrassend is die eerlike dog sardoniese wyse waarmee daar soms gekyk word na nypende kwessies soos veroudering, siekte en politiese omwentelinge te midde van die verse met ’n sterk deurlopende narratiewe lyn.
Trouens, hierdie bundel kan sekerlik beskou word as ’n memoires in versvorm en wat sterk herinner aan die Japannese lewensbeskouing wabi-sabi waarvolgens daar skoonheid gevind kan word in gebrokenheid, en vreugde in imperfeksie, transformasie en verganklikheid.

Oor die digter

Esterhuizen debuteer met die digbundel Stilstuipe (1986), waarna Op die oog af (1988), Die onderwaterweg (1996), Patzers (1997), Opslagsomer (2001), Liefland (2004) en Sloper (2007) volg.

Sy agtste digbundel, wat die water onthou, verskyn in 2010 en word met die Protea Poësieprys vir 2011 bekroon. Dié bundel was ook genomineer vir die UJ prys vir Letterkunde en die ATKV Woordveertjie vir Poësie (2011). Hierna volg Amper elders (2012),  Die afwesigheid van berge (2014) en Die gladde stiltes in glas in 2020.

Etlike van sy verse is in ’n verskeidenheid bloemlesings opgeneem, te wete Poskaarte, Die Afrikaanse Poësie in ’n 1000 en enkele gedigte, Groot Verseboek, Nuwe Verset, Maskers en mure, flikker-gram, en Merang.

Ná ’n onderwysloopbaan van 25-jaar was hy van 2002 tot 2016 bestuurder van Protea Boekwinkel op Stellenbosch.

 

[Naledi, 2025. ISBN: 9781067234546. SAGTEBAND. FORMAAT: 213 X137. PRYS: R260.00. 124 bladsye. ISBN 9781067234546]

 


Prins

Ryan Pedro

In Prins word die kompleksiteit van manlikheid ontleed; die oomblikke van teerheid word gevier en die vernietigende word gekritiseer. Alhoewel die bundel handel oor stories en karakters uit ’n bepaalde gemeenskap en agtergrond, skryf Pedro doelbewus weg van vooropgestelde idees oor coloured-laities. Hier, weerspieël dit die liminale, plofbare ruimte waarin die verteller homself bevind as digter en as coloured man.

Oor die digter

Ryan Pedro is in 1993 gebore en bring sy grootwordjare deur in Kakamas en op die Weskus. Hy woon tans in Gordonsbaai saam met sy partner, Suzanne, en hulle hond, Onyx. Sy gedigte het in Nuwe Stemme 6 verskyn. pienk ceramic-hondjies is sy debuutbundel.

[Kwela 2025. Prys (incl. VAT):R 280,00. Formaat: Sagteband, 80pp. ISBN: 9780795711169]

 


DWAALDAE

Andrea Sieberhagen

 

Digter

As jy poësie wil pleeg

moet jy woorde deeglik weeg.

Verwyder alles stram.

Reduseer van gram na milligram.

 

’n Digter dwaal maar net skynbaar doelloos deur die lewe. Elke gedig in Andrea Sieberhagen se bundel is ’n koördinasiepunt op die landkaart van haar lewe. Sy skryf oor reise, die natuur, liefde, kinders, siekte en die onvermydelike dood. Die digterlike woord is vir haar gelyktydig ’n viering én beswering van die lewe met sy vreugde en verdriet.

Oor die digter

Andrea Sieberhagen (née Du Plessis) het in Nylstroom (Modimolle) grootgeword en gematrikuleer. Sy verwerf haar BA (HOD)-graad aan die Universiteit van Pretoria. Daarna volg ’n lang loopbaan as Engels-onderwyseres. Verskeie van haar gedigte is in versamelbundels opgeneem. In 2022 is sy aangewys as wenner in die Afrikaanse volwasse afdeling van die Poetry in McGregor-poësiekompetisie.

 

Vir inligting, boekbestellings en boekbekendstellings:

Marlene Malan: 083 308 6305,  www.turksvypublikasies.co.za/marlene.turksvypublikasies@gmail.com

Andrea Sieberhagen:083 449 0709. andreasieb2@gmail.com

 

[Turksvy Publikasies 2025. FORMAAT: A5. AANTAL BLADSYE: 122. PRYS: R260.00 (BTW ingesluit). ISBN: 978-1-0370-5213-2]

 


KATEGISMUS

Daniel Hugo

Tesourus

begin by die lemma heelal

lys alle semanties verwante

woorde en eindig by mikrosel

 

daar het jy dan die samehang

en sin waarna matematici

en filosowe al so lank verlang

 

want wat jy kwalik meer kan tel

word kosmies en sekuur in

die spinnerak van taal vasgevang

 

’n Kategismus is die samevatting van ’n godsdiens se leerstellinge wat in die vorm van vrae en antwoorde aangegebied word. Die Heidelbergse Kategismus van 1563 is een van die belydenisskrifte van die Protestantse Christendom. Die eerste vraag lui soos volg: Wat is jou enigste troos in die lewe en in sterwe? Die antwoord is: Jesus Christus, die Woord van God wat vlees geword het op die aarde. In sy digbundel met die titel Kategismus probeer Daniel Hugo dié vraag op sý manier beantwoord. Wat die lewe vir hom draaglik maak en troos verskaf, is die digkuns – die woord met ’n kleinletter. In sy gedigte besing hy aardse dinge: die liefde, die natuur en die werk van ander digters wat die lewe vir hom sinvol maak. Hy doen dit met sy kenmerkende woordpresisie en tegniese vakmanskap.

Oor die digter

Die digter, vertaler en bloemleser Daniel Hugo is op 26 Februarie 1955 op Stellenbosch gebore. Hy gaan skool op Greyton en in Windhoek waar sy pa ’n predikant was. Hy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch, Pretoria en Bloemfontein, en verwerf ’n doktorsgraad oor die vernufspoësie. Nadat hy ’n jaar lank onderwys gegee het in Windhoek, word hy ’n lektor in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van die Vrystaat. In 1983 studeer hy aan die Katholieke Universiteit van Leuven in België. Daarna was hy ’n omroeper by die Afrikaanse radiodiens van die SAUK, waar hy verantwoordelik was vir die literêre programme. Daar het reeds 17 digbundels uit sy pen verskyn. Hy ontvang die ATKV-Woordveertjie vir sy digbundel Klinkklaar. Vir sy vertaalwerk uit Nederlands is hy reeds twee keer deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon. Hy is getroud met die joernalis en uitgewer Marlene Malan.

 

[Turksvy Publikasie 2025. ISBN: 978-1-0370-4213-3. FORMAAT: A5. AANTAL BLADSYE: 155. PRYS: R300.00 (BTW ingesluit)]

 


Dawerende stiltes

Caren Kearley

Penskepsels

 

dalk skryf my pen vandag meer

leesbaar

dalk vertaal sy ’n beter verstaan

iets wat nie aan tyd gebonde is nie

iets telepaties wat sy kan skryf

net soos jy dit sou dink

iets wat in die sfeer

van gewone denke kan verdwaal

of iets wat ’n paar stiltes kan skep

iets wat die seer in jou

kan verbrokkel tot ’n afsoen

iets wat met metafore

lig kan bring

na die vensters van jou siel

of sommer net iets

wat jy vir altyd sal onthou

 

Oor die digter

Caren Kearley dra haar debuutdigbundel op aan haar twee dogters, want hulle is die grootste dryfkrag in haar lewe. Die digter ken geluk, ook groot tragedie … waarna sy elke keer opgestaan en sterker as tevore voortgegaan het. Dis egter saam met haar geliefde dat sy nuwe plekke ontdek en nuwe onthoudae skep … tydens hul reise die land vol, veral na haar heimat, Namibië, waar sy grootgeword het – die plek waarvan die stof en sterre ons leer hoe klein ons eintlik is.

 

[Turksvy Publikasies 2025. ISBN: 978-1-0370-3454-1. FORMAAT: A5. AANTAL BLADSYE: 85. PRYS: R260.00 (BTW ingesluit)]

 


 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Don’t Hesitate! – AVBOB Poetry Mini-Competition winners
  • Miel Vanstreels. Voorlopig
  • Marthé McLoud. Repka
  • Rainer Maria Rilke. Almal wat Jou soek, beproef Jou (vert.)
  • Daniel Hugo. Plaagbeheer

Nuutste kommentaar

  1. Bernie on Rainer Maria Rilke. Almal wat Jou soek, beproef Jou (vert.)29 July 2026

    Kan die vertaler dalk verduidelik waarom hy hoofletters gebruik in sy vertaling terwyl Rilke kleinletters gebruik.

  2. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Plaagbeheer28 July 2026

    Ja, hoe beheer ‘n mens die plaag waarvan in die slotreël gewag gemaak word …?

  3. STEPHANUS JOHANNES MARAIS on Margaret Cordier-Biermann. Wekroep van die verlostes28 July 2026

    Die gedig verbeeld 'n fase in die mens se lewensverloop waar hy ingehok voel en die omstandighede die uitsig beperk…

  4. hannes visser on Joan Hambidge. Ook elders aan diens nou27 July 2026

    Wat 'n treffende vers.

  5. Prof M Labuschaigne on Nini Bennett-Moll.  Brood van die engele26 July 2026

    Aangrypend, uitstekende analise en toepassing, Nini! Jou eie gedig staan bo alles uit. Welgedaan!

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d